Wie is die geheimsinnige “Hoer” van Openbaring 17?

Dit is vir miljoene mense – selfs vir baie teoloë ’n raaisel. Tog bestee die Woord van God die grootste deel van die ganse hoofstuk – insluitende baie verwysings elders, aan hierdie noodsaaklike onderwerp.

Wie ookal hierdie groot “hoer” is, sy is baie magtig. Sy het, en sal in die toekoms, tallose miljoene mense MARTEL. Sy is bestem om die lewens van elkeen van u wat hierdie artikel lees, dramaties te VERANDER! Hierdie hoer sit wydsbeen oor ’n stelsel wat talle nasies en menigtes saamsnoer: “En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale” (Openbaring 17:15). Hierdie hoer bestaan deurlopend tot en met Christus se wederkoms! God se Woord verduidelik die “tien horings” of tien KONINGS (vers 12) wat teen daardie tyd na vore sal tree: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou … En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (verse 14,16).

Hedendaagse teoloë en Bybelkommentare probeer om “polities korrek” te wees in hul verwysings na die groot Hoer. Let byvoorbeeld op hierdie verduideliking uit die “Expositor’s Bible Commentary,” Volume 12, bll. 553-554: “In groot opsigte beheer die vertolking van hierdie hoofstuk die vertolking van die hele boek Openbaring. Vir die meeste Bybelverklaarders verteenwoordig Babilon die stad Rome. Die dier verwys na die Romeinse Ryk met sy onderdanige provinsies en mense as geheel. Die sewe koppe [berge] (vers 9) is die sewe verkose vorstehuise van Romeinse heersers van Augustus tot Domitianus. Die tien konings is hoofde van kleiner en onrustige state wat angstig is om te ontsnap uit die slawerny onder koloniale mag. Johannes se voorspelling van die val van Babilon is sy aankondiging van die dreigende verbrokkeling van die Romeinse Ryk in alle aspekte.”

Hoewel hierdie geleerdes baie opreg mag wees, is dit verbasend dat hulle òf onwillig òf nie in staat is om te sien dat die “vrou” – die groot hoer – die Dier (hedendaagse Babilon) “RY” nie. Sy word duidelik uitgebeeld as een wat onmiskenbaar APART van die Dier is – die ryk van tien finale konings wat hul mag en krag oorgee aan die een superdiktator genaamd “die Dier.” Dit is dus duidelik dat die vrou nie die Dier kan “ry” én terselfdertyd die Dier kan wéés nie!

Talle geleerdes besef egter wel dat die Dier van Openbaring 17, die Romeinse Ryk en sy “herlewings” in verskeie vorme is. Vir ’n boeiende en deeglike verduideliking aangaande die identiteit van hierdie “Dier” van Openbaring 17, kan u gerus skryf om ’n eksemplaar van ons boekie genaamd “Die Dier van Openbaring” te ontvang. Dit sal GRATIS aan u gestuur word indien u dit versoek.

Wie IS hierdie “Vrou”?

Verstaan asseblief mooi. Regdeur die Nuwe Testament word die term “vrou” deurgaans gebruik as simbolies vir ’n kerk. Die apostel Paulus skryf byvoorbeeld aan die Kerk van God in Korinte: “Ag, as julle my net ’n bietjie in my dwaasheid wou verdra! Verdra my tog maar! Want ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Korintiërs 11:1–2). Die ware Kerk word hier beskryf as “verbind” tot Jesus Christus, in die posisie van ’n verloofde vrou aan haar aanstaande, wat Jesus Christus is.

In Efesiërs 5:23–24 skryf Paulus: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.” Dié vergelyking identifiseer weer die ware Kerk in die posisie van ’n vrou – een wat onderdanig is aan haar man, Christus. In Openbaring 12:1–5 lees ons ook die besielende verhaal van die “vrou,” dié keer as antieke Israel, die “VERGADERING [kerk] in die wildernis” (Handelinge 7:38), wat deur God gebruik is om die Messias voort te bring: “’n manlike kind …, wat al die nasies met ’n ystersepter sou REGEER.”

Vers 6 hervat die vertelling oor die “vrou,” nou die ware Nuwe Testamentiese Kerk, wat vlug na die woestyn na “’n plek wat deur God gereedgemaak is.” Die daaropvolgende verse maak dit selfs nog duideliker dat hierdie “vrou” inderwaarheid die ware Kerk van God is wat deur God Self beskerm word teen die woede van Satan.

Wanneer ons dus kom by die “vrou” van Openbaring 17, behoort dit voor die hand liggend te wees, as ons die Bybel toelaat om sy eie simbole uit te lê, dat hierdie vrou inderdaad ’n kerk is! Hierdie kerk, wat “op ’n skarlakenrooi dier sit” (vers 3), is egter waarlik ’n geestelike “hoer.”

Sy het gehoereer met die leiers en konings van hierdie wêreld (vers 2) en die bewoners van die aarde het geestelik “dronk” geword vanweë haar valse leerstellings. Sy is die “moeder” kerk, wat geboorte skenk aan geestelike “hoere” (vers 5). Soos aangedui, word sy vereenselwig met “verborgenheid,” soos ook die antieke heidense gelowe voor haar.

’n VERVOLGINGSKERK

Hierdie “vrou” is ook ’n kerk van groot VERVOLGING. Die apostel Johannes is geïnspireer om te skryf: “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien” (vers 6).

Dink asseblief hieroor na!

Wie is hierdie groot gevalle vrou – ’n magtige kerk – wat dronk was en weer eens “dronk sal wees van die bloed van die HEILIGES”? Sy vervolg klaarblyklik die ware Christene – die ware “heiliges” van God. Hulle word beskryf in Openbaring 14:12: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof van Jesus bewaar.”

In teenstelling met die gebodsonderhoudende Kerk van God, VERWERP hierdie groot afvallige kerk en haar “dogter” kerke die nodigheid om die Tien Gebooie te onderhou as ’n LEWENSWYSE! In hul geestelike dronkenskap redeneer hulle op die een of ander wyse rondom die eenvoudige en duidelike leringe van Jesus: “Maar AS jy in die lewe wil ingaan, ONDERHOU die gebooie” (Mattheus 19:17).

Lees ons geskiedkundig van ’n groot kerk wat miljoene mense gedurende die Middeleeue vervolg het? Het so ’n kerk weliswaar bestaan?

In sy behoorlik nagevorsde boek, A Woman Rides the Beast (bll. 243-244) beskryf skrywer Dave Hunt wat die “vrou” vir honderde jare gedurende die Middeleeue gedoen het:

“So het die Rooms-Katolieke geloof ‘die mees vervolgende een geword wat die wêreld nog ooit gesien het … [wat aangedring het daarop] dat die troon die Christen [Katolieke] geloof afdwing op al sy onderdane. Inno-centius III het talle meer Christene vermoor in een agtermiddag … as wat enige Romeinse keiser gedoen het tydens sy ganse heerskappy.” Will Durant skryf openlik: ‘Vergeleke met die vervolging van dwaalleer in Europa van 1227 tot 1492, was die vervolging van Christene deur die Romeine gedurende die eerste drie eeue na Christus ’n matige en menslike prosedure’.

Deur die nodige toegewings te maak wat van ’n historikus verwag kan word en wat toegelaat word deur ’n Christen, moet die Inkwisisie, tesame met die oorloë en vervolgings van ons tyd, geklassifiseer word as een van die donkerste vlekke opgeteken in die geskiedenis van die mensdom, wat ’n brutaliteit onthul ongekend in enige dier.’”

Toe Johannes dus hierdie “vrou” of afvallige kerk “dronk met die BLOED van die heiliges” gesien het, het hy beslis nie oordryf nie. Selfs menige Katolieke skrywers was al besonder verleë oor dit wat hul kerk vir honderde jare beoefen het. Met die uitgebreide argiewe wat nou bekend is – priesters wat jong manne gesodomiseer het, talle pouse wat openlik minnaresse aangehou en buite-egtelike kinders dwarsoor Italië verwek het en hoë poste wat in die kerk aangebied en verkoop is vir geld – blyk dit vir baie objektiewe historici dat hierdie magtige kerk die onomwonde verpersoonliking van boosheid in bykans elke opsig was.

Daniël se “ander horinkie”

Die profeet Daniël is geïnspireer om hierdie smerige godsdienstige stelsel as ’n “ander horinkie” te beskryf. Ná die vier groot heersende koninkryke van die Heidense wêreld – Babilon, Medo-Persië, Alexander se Grieks-Macedoniese Ryk en uiteindelik Rome – beskryf Daniël ’n “ander horinkie” wat tussen die vorige oplewings van die Romeinse Ryk opkom: “Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ’n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ’n mond wat groot dinge spreek” (Daniël 7:8).

In verse 25–27 van dieselfde hoofstuk is Daniël geïnspireer om die optrede van hierdie verwaande “ander horinkie” te beskryf en hoe dit sal voortduur tot en met die wederkoms van Christus en Sy HEERSKAPPY oor die nasies: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd. Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig. Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”

Let daarop dat hierdie “ander horinkie” anders is as die heidense ryk (vers 24), aangesien dit eintlik ’n GODSDIENSTIGE ryk is! Let ook daarop dat hierdie smerige stelsel se menslike leier “groot dinge” spreek teen God, ware Christene vervolg en beplan om TYE en die WET te verander. Dit is ’n regstreekse verwysing na die feit dat die Katolieke Kerk die idee koester dat die Tien Gebooie opgeneem is onder kerkgesag en dat hulle God se beveelde sewendedaagse Sabbat (Eksodus 20:8–11; Hebreërs 4:9–11) VERANDER het. Hulle het God se Sabbat vervang met die heidense “dag van die son.”

Die welbekende eietydse historikus, Will Durant, skryf: “Die ernstige stemming van die Joodse Sabbat is verplaas na die Christelike Sondag wat dit vervang het in die tweede eeu” (The Story of Civilization, volume 3, 1972, bl. 599). Hoe het dit gebeur? ’n Rooms-Katolieke studiekursus vertel ons dat “die [Roomse] Kerk die verpligting verplaas het van Saterdag na Sondag” (Father Smith Instructs Jackson). Die Catholic Mirror stem saam: “Die Katolieke Kerk … uit hoofde van haar Goddelike missie, het die dag van Saterdag na Sondag verander” (23 September 1893). Indien u meer inligting verlang aangaande die ware Bybelse Sabbat, skryf asseblief vir ons kragtige en insiggewende boekie, “Watter dag is die Christelike Sabbat?”

Die pousdom voorspel

Soos ons gesien het, is die “ander horinkie” van Daniël beskrywend van die valse kerk en veral haar segsman, die pous, wat “groot dinge” teen God spreek. In die Nuwe Testament inspireer God die apostel Johannes om die “herlewing” van die laaste Dier, die Romeinse Ryk, te beskryf (Openbaring 13:1–10). Dan, in verse 11–14, word “’n ander dier” beskryf wat opkom, wat soos ’n “Lam” of soos Christus lyk, maar soos ’n “draak,” Satan die duiwel, praat (Openbaring 12:9). Hierdie uitsonderlike slim en onheilspellende VALSE PROFEET oefen al die mag van die eerste dier [die herleefde Romeinse Ryk] in sy teenwoordigheid uit en veroorsaak dat die aarde en die wat daarop woon die eerste dier, waarvan die dodelike wond genees is” aanbid. Met ander woorde, hierdie groot valse profeet is in staat om die meeste van die mensdom te oorreed om die herleefde Romeinse Ryk te eer en GEHOORSAAM!

Dan lees ons: “Hy doen ook groot TEKENS, sodat hy selfs VUUR uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy VERLEI die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (verse 13–14).

Namate hierdie stelsel ontwikkel sal ’n “man van sonde” geopenbaar word; iemand wat vermetel genoeg is om vir homself die titels en gesag toe te eien wat slegs aan GOD behoort. Hy sal as ’n ware “god” in die tempel van God sit – en sommige van die titels van God gebruik. Trouens, hoewel Jesus vir God “Heilige Vader” noem, noem die Rooms-Katolieke die pous “Mees Heilige Vader” en “die Plaasvervanger van Christus” – wat letterlik beteken “in die plek van Christus.”

Dave Hunt beskryf die godslasterlike aansprake van die pousdom:

“Die algehele onderdanigheid wat Rome vereis, is deur vele pouse uitgespreek, maar geeneen het dit duideliker gestel as Nicholas I (858–67) nie:

‘Dit is duidelik dat die pouse nòg gebind nòg ontbind kan word deur enige aardse mag, nie eens deur dié van die apostel [Petrus], as hy sou terugkeer na die aarde nie, aangesien Konstan-tyn die Grote erken het dat die pouse die plek van God op aarde beklee, waarvan die godde-likheid daarvan nie geoordeel kan word deur enige lewende wese nie. Ons is dus onfeilbaar, en wat ook al ons optredes is, is ons voor niemand daarvoor aanspreeklik behalwe onsself nie’” (A Woman Rides the Beast, bll. 153–154).

Sodoende het die pouse aanspraak gemaak daarop dat hulle “die plek van God op aarde” beklee! En wat selfs meer angswekkend is, is dat hulle voortgaan om sulke aansprake te maak – en selfs daarmee wegkom in ons sogenaamde “moderne” wêreld. Omdat die Rooms-Katolieke Kerk so ’n alomteenwoordige en magtige entiteit is, is die media gewoonlik versigtig om selfs die mees verregaande en godslasterlike aansprake van die moderne pouse en geestelikes aan te val.

Maar hoe is dit alles bestem om u lewe te raak?

Die Dier en die Vrou – weereens saam

Min mense besef dat die sogenaamde “Heilige” Romeinse Ryk besig is om reg onder ons neuse te herleef! Dwarsdeur die grootste deel van kontinentale Europa is daar groot druk vir algehele Europese eenheid. Een van die grootste rolspelers in hierdie geo-politiese skaakspel is – reg geraai! – die pous self.

In sy gedetailleerde en onthullende boek, The Principality and Power of Europe (bll. 36–37), verduidelik Britse skrywer Adrian Hilton wat besig is om te gebeur:

“Met sy besoek aan Oostenryk in 1983 het die pous hom téén nasionale en kunsmatige grense dwarsoor Europa uitgespreek. Hy het bygevoeg:

‘Europeërs moet die dreigende internasionale konfrontasies van state en alliansies oorkom en ’n nuwe verenigde Europa skep wat strek vanaf die Atlantiese Oseaan tot by die Oeralgebergte.’

In 1988 gaan hy voort met hierdie tema toe hy die Europese parlement in Strasbourg toegespreek het; ’n geleentheid waar talle mense gevra het waarom ’n pertinente geestelike leier, sake van politieke eenheid bespreek het. In 1991 som die Sunday Telegraph die pous se planne vir die ‘evangelisasie’ van Europa soos volg op:

‘Hy is stadig besig om die dekmantel aan te neem wat hy ernstig beskou as sy Goddelike Reg – as nuwe Heilige Romeinse Keiser, wat heers vanaf die Oeralgebergte tot by die Atlantiese Oseaan’.”

Hoewel die Bybel definitief nie aandui dat die laaste pous die “keiser” van hierdie herleefde Heilige Romeinse Ryk sal wees nie, dui dit egter duidelik daarop dat hy die “mag agter die troon” sal wees. Soos God duidelik aan ons toon, “veroorsaak” die komende valse profeet dat almal wat nie hierdie stelsel aanbid nie, “GEDOOD word” (Openbaring 13:15). Dus, soos baie pouse in die Middeleeue gedoen het, sal hy die mag van die staat – die “Dier” – gebruik om sy wil op die ganse westerse wêreld af te dwing!

Onthou u wat onder Adolf Hitler gebeur het? ’n Klop aan die deur en ’n ma of pa word gegryp en deur die staatspolisie in ’n trok geboender omdat hulle die een of ander “polities verkeerde” ding gedoen of kwytgeraak het! Dink u dit kan NIE wéér gebeur nie? Indien wel, kan u nie meer verkeerd wees nie!

Die God wat aan ons lewe gee, beskryf duidelik hoe die vrou weer eens die Dier “ry.” Die meeste mense besef nie dat die valse leringe en gebruike van hierdie gevalle “vrou,” die HELE wêreld deurtrek het nie. Dit is presies wat Johannes geïnspireer was om te skryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die HELE WÊRELD verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Selfs opregte Protestante en Luthersgesindes is onwetend geestelik DRONK gemaak deur die heidensheid van hierdie stelsel: “en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openbaring 17:2). Wat elke leser moet besef is dat SATAN die onsigbare “god” van hierdie huidige wêreld is (2 Korintiërs 4:3–4) en dat “alle nasies” geestelik DRONK is.

Ter beskrywing van hierdie volledige stelsel en die “hoerdogters” wat uit die “moeder” Rome voortgekom het, sê die gerespekteerde Critical and Experimental Commentary die volgende:

“Nie slegs Rome nie, maar die Christendom as geheel het, net soos Israel as geheel, ’n hoer geword … Eksterne omvangrykheid regoor die wêreld, en interne meegaandheid daarmee saam – wêreldsgesindheid by uitstek en inhoud – word gesimboliseer deur die wêreldstad se naam, ‘Babilon’” (Volume 6, bl. 710).

Wat u moet DOEN

Onlangse nuusberigte uit baie lande dui aan dat Rooms-Katolieke vervolging van godsdiensminder-hede voortgaan. Hoewel die Rooms-Katolieke Kerk geleer het om te glimlag en welgevallig op te tree teenoor nasies waar Protestante of ander godsdienste in die meerderheid is, kom die ou duiwels van haat en outoritarisme vinnig na vore wanneer hulle in beheer is.

’n Onlangse artikel in die Christianity Today tydskrif (Augustus 2000, bl. 30) doen verslag: “In Maart is ongeveer 70 Protestante gesinne uit die Mexikaanse nedersetting Plan de Ayala, in die staat Chiapas, gesit deur die dorp se Rooms-Katolieke meerderheid. ‘Veertien huise is deur ’n skare verwoes toe die Protestante na die heuwels gevlug het vir beskerming,’ vertel Sewendedag Adventiste se pastoor Isias Espinosa.” Hierdie is slegs ’n klein voorsmakie van die soort godsdiensverdrukking wat deur hierdie magtige kerk beoefen word! En haar leiers beklemtoon steeds dat hulle die ENIGSTE ware kerk is, dat andere in effek slegs “tweederangse Christene” is. Let op hierdie verslag van 5 September 2000 deur Victor Simpson van die Associated Press:

“In sy beskuldiging van sekere Katolieke teoloë dat hulle die fundamentele waarhede van die kerk manipuleer, het die Vatikaan Dinsdag, wat genoem word toenemende pogings om alle godsdienste as gelyk uit te beeld, verwerp … die Vatikaan verwys ewenwel na die ‘persoonlike waardigheid’ van individue en nie van leerstelling nie. Dit is die tweede onlangse dokument deur die gemeente [die Rooms-Katolieke ‘Gemeente vir die Leerstelling van die Geloof’] wat waarsku teen misbruik deur Katolieke in hul handelswyses met ander gelowe en denominasies. Die Italiaanse media berig dat die gemeente ook waarsku teen die term ‘susterskerke’ en sê dat dit die Katolieke Kerk se identiteit as ‘MOEDER’ VAN ALLE KERKE weerspreek. Daardie dokument is nog nie vrygestel nie. Kardinaal Joseph Ratzinger het herhaaldelik tydens ’n nuuskonferensie verwys na ’n neiging in die rigting van GODSDIENSTIGE RELATIWITISME.

“Die gebrek aan eenheid tussen Christene is sekerlik ’n wond vir die kerk,” lees die dokument, en dit noem dat sodanige gebrek aan eenheid “DIE ALGEHELE VERVULLING VAN HAAR UNIVERSALITEIT IN GESKIEDENIS” verhinder.

Die verklaring wat ’n komplekse teologiese dokument is, is getiteld “On the Unity and Salvific Universality of Jesus Christ and the Church.”

Dus erken die Rooms-Katolieke Kerk nie slegs dat dit die “MOEDER” van alle belydende Christenkerke is nie, dit dring selfs daarop aan! En hul dring ook daarop aan dat sy alleen die “sleutels” tot God se Koninkryk besit!

Dit is waarlik tyd om WAKKER TE SKRIK!

Dit is tyd vir almal wat in God glo om terug te keer en te BEWYS of hul godsdiensgelowe en -gebruike werklik uit die Bybel kom – of uit “Babilon.” Want God die Skepper vertel almal wat wil luister: “omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het ’n ander stem uit die hemel gehoor sê: GAAN UIT haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar PLAE ontvang nie” (Openbaring 18:3–4).

Ek wil u in Christus se naam aanspoor: begin asseblief om u Bybel te BESTUDEER soos nog nooit tevore nie! Doen uself ook die guns en skryf in vir ons absoluut GRATIS bemoedigende en hulpvaardige Bybelstudiekursus genaamd Die Wêreld van Môre Bybelstudiekursus. Bestudeer hierdie kursus en volg Paulus se geïnspireerde vermaning: “BEPROEF alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Ek spoor u weer aan om dadelik te skryf en u GRATIS eksemplaar van ons onthullende boekie genaamd Die Dier van Openbaring aan te vra. Hierdie boekie – tesame met hierdie artikel wat u nou lees – sal vir u die volle prent skilder en die aard van die magtige en dreigende magte wat nou in Europa vorendag kom, BEWYS.

Soos Jesus gesê het: “Waak.” Hou u oë op die herlewing van die Heilige Romeinse Ryk. “Waak” en sien hoe dit stadig maar seker begin om algehele mag in die grootste gedeelte van Europa te bekom en dan na Sentraal en Suid-Amerika versprei om uiteindelik oor feitlik die hele wêreld te heers. “Waak” en sien hoe ander kerke bietjie vir bietjie, geflikflooi, oortuig of uiteindelik gedwing word om terug te keer na die “moeder” kerk. Om die waarheid te sê sal u teleurgesteld wees om te sien hoe baie sogenaamd toegewyde Protestante en evangelistiese leiers slim gemanipuleer word om soveel van dit waarin hulle altyd geglo het, prys te gee wanneer werklike DRUK op hulle toegepas word.

Sal U ook u rug op die God van die Bybel keer?

Vir u eie ewige welstand, bid vir ware begrip, geloof en moed. Gehoorsaam Jesus se opdrag: “Waak dan en BID altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).