Op 5 November 2024 het die Verenigde State vir Donald J. Trump beslissend verkies om die president te wees deur beide die Electoral College asook die meeste stemme. Baie van mnr. Trump se ondersteuners sien hom as ’n messiaanse figuur – ’n redder van die land. Hoewel meningspeilings getoon het dat driekwart van die Amerikaners voel dat hulle land op die verkeerde pad was, was baie Trump-kiesers nie noodwendig tevrede met hulle eie keuse nie. Gebaseer op anekdotiese bewyse, het ’n hele paar kiesers figuurlik “maar oë toegeknyp” toe hulle hom gekies en gestem het vir wat deur hulle beskou is as “die kleinste van twee euwels”.
Wat kan ons dus oor die volgende vier jaar verwag? Kan die Trump-administrasie Amerika se probleme oplos? Een probleem wat géén president kan oplos nie, is Amerika se morele agteruitgang wat die kern van al die ander probleme is. Hebsug en ’n gebrek aan selfbeheersing is verantwoordelik vir ’n verbysterende nasionale skuld. Teen die tyd dat u hierdie artikel lees, sal die Amerikaanse nasionale skuld meer as $36 biljoen wees, ’n syfer wat teen ’n duiselingwekkende tempo aanhoudend klim.
Dit is maklik om politici te blameer en albei partye is skuldig hieraan maar dit is die kiesers wat politici beloon deurdat hulle mense met hulle eie geld omkoop. ’n Nasie wat veg vir die reg om sy babas dood te maak (die verskil tussen die twee partye kom dikwels neer op wanneer dit reg is om dit te doen) is nie reg volgens God nie en ook nie ’n nasie wat verslaaf is aan pornografie, owerspel, leuens, diefstal, geweld en elke ander soort sonde nie.
Die profeet Jesaja het meestal die huis van Juda aangespreek – die Jode van sy tyd gedurende die agtste eeu v.C. Sommige van sy profesieë was egter van toepassing op die noordelike huis van Israel en selfs heidense volke. Sy profesieë het ook ’n tweeledige aspek met ’n vorige vervulling asook ’n toekomstige eindtyd vervulling. Deur te verstaan hoe daardie profesieë deesdae op ons van toepassing is, kan ons uit die verlede leer hoe om die denke van God te verstaan.
God se verstand en oordeel
Baie mense beweer dat die V.S. ’n Christelike nasie is, maar dink egter daaraan hoe God deur Sy profeet ons hedendaagse wêreld akkuraat beskryf: “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ’n aangeleerde mensegebod is” (Jesaja 29:13). Beskryf dit nie ook die Verenigde Koninkryk en die Britse afstammelinge van Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika nie?
“Gaan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die Here nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jesaja 30:8-11).
Jesaja wys dan op God se denke en oordeel oor so ’n volk, tensy hulle hulle denkwyse verander:
“Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ’n los stuk wat wil val, wat oorhang in ’n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom. Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van ’n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie” (Jesaja 30:12-14).
Ons hoop almal dat die volgende vier jaar beter sal wees as die onlangse vier jaar en ons hoop dat ons nasies hulle in opregtheid en waarheid tot God sal wend – dit moet egter nog gesien word. Dit lyk deesdae asof die V.S. sy vertroue eerder in ’n mens as in die Skepper van die heelal sal plaas. Dit herinner ons aan die nadraai van 9/11, toe Amerikaners patriotisme met bekering vervang het. Dit het nogtans ’n tydelike voordeel ingehou, maar is ons wêreld vandag veiliger as wat dit in 2001 was? Baie mense glo ons is nader aan die Derde Wêreldoorlog as ooit tevore. Al wat dit sal neem, is een misrekening vir die kernbomme om te vlieg.
Voorspellings wat u kan vertrou
Wat kan Amerikaners en ander burgers van ons wêreld dus verwag vir 2025 en die jare onmiddellik daarna? Waar moet ons die antwoord soek?
Baie voorspellers voorspel wat in die nabye toekoms voorlê. Sommige van hulle baseer hulle voorspellings op hulle begrip van geopolitiek. Daar is diegene wat, soos Nostradamus, kriptiese uitsprake en vae stellings gemaak het waaruit volgelinge iets uit niks probeer maak. Ander voorspellers maak wilde afleidings van skrifture wanneer hulle hul eie geliefde teorieë in die Bybel inlees. By die Wêreld van Môre weet ons dat ons ons tog na die Bybel moet wend om die toekoms van ons wêreld te verstaan – en hoewel ons nie die presiese tydsberekening van die meeste Bybelprofesieë kan weet nie, kan ons die algemene tydraamwerk weet van dit wat voorlê.
Sommige mense kom verkeerdelik tot die gevolgtrekking dat ons geen idee kan hê wanneer Christus sal terugkeer nie – “Hy kan vanaand of duisend jaar van nou af kom”. Selfs bekende TV-evangeliste maak sulke onkundige bewerings om hulle idee te bevorder dat Hy dalk “vanaand of ’n duisend jaar van nou af” kan terugkeer. Baie mense haal Christus se stelling verkeerdelik aan dat “van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen” (Matthéüs 24:36). Om hierdie gedeelte egter uit konteks te neem, doen groot skade aan die begrip van Jesus se woorde.
Die stelling is natuurlik waar – niemand weet watter dag of uur nie. Ons moet egter kyk na die konteks waarin Hy daardie stelling gemaak het wat ons gedetailleerde tekens gee wat lei na die einde van die tyd en Sy Wederkoms. Twee vrae aan die begin van hierdie profesie – wat dikwels die Olyfbergprofesie genoem word vanweë die plek waar Christus dit gegee het – het die toneel voorberei vir wat volg: “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, [die vernietiging van die tempel in Jerusalem, vers 2] en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matthéüs 24:3).
Ja, daar wás ’n vorige vervulling in 70 n.C. toe die Romeine Jerusalem en die tempel vernietig het en daar sal ook ’n eindtydse vervulling wees. Sommige tekens wat Christus gegee het is op albei vervullings van toepassing. Aangesien Hy nie in 70 n.C. teruggekeer het nie, moet verse 32-33 ook van toepassing wees op die tyd van Sy Wederkoms. Nadat Jesus talle tekens gegee het, het hy hierdie waarskuwing gegee: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur” (Matthéüs 24:32-33). Hierdie is die konteks daarvan dat “dié dag en dié uur” nie geken sal word nie en dit klink nouliks na die proklamasie van ’n onbepaalde tydraamwerk vir die einde van die tyd.
Ons by die Wêreld van Môre neem hierdie waarskuwing ernstig op: “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).
Dit is waarom ons by die Wêreld van Môre ons na Bybelprofesieë wend en dit met ons intekenare deel. Ek hoop u sal my artikel elders in hierdie tydskrif lees, waarin drie Bybelse profesieë bespreek word wat almal van ons in die komende jare sal raak. Vergeet ook nie Wallace Smith se artikel in verband met wat die wêreld van Amerika nodig het nie – ook in hierdie tydskrif te vind. U sal self sien hoe Bybelprofesieë nie ’n totale raaisel vir Jesus Christus se getroue volgelinge is nie en hoe dit in werklikheid ’n groot invloed op die lewens van u en u geliefdes sal hê in die jare wat voorlê.


