Wat het geword van die oorspronklike Christelikheid van Jesus en Sy Apostels? Dit het bykans heeltemal van die aardbol af verdwyn, maar dit bestaan wel – en u kan dit ontdek.


Indien Jesus van Nasaret vandag na die planeet Aarde sou terugkeer, sal Hy die godsdiens herken wat deesdae Sy naam dra? Sal Hy geskok wees om uit te vind dat mense wat voorgee om Sy volgelinge te wees, voortdurend met mekaar oorlog gevoer het die afgelope 1,900 jaar? Die meeste van Sy verklaarde volgelinge vandag glo heeltemal teenoorgestelde leerstellings as dit wat Hy onderrig het, onderhou verskillende dae van aanbidding, en volg heeltemal verskillende gebruike na. Die meeste van hulle het ’n totaal ander konsep van God en Sy doel, as dit wat Jesus en Sy Apostels gehad het.

Jesus mag wonder: “Waarom koppel hulle My naam aan al hierdie snert?”
Die meeste opregte godsdiensgeleerdes erken dat enorme veranderings belydende Christelikheid omskep het in iets heeltemal anders as dít wat Jesus en Sy Apostels geglo en beoefen het! Die gerespekteerde hoofstroom Protestantse geleerde, Jesse Lyman Hurlbut, beskryf wat hy “’n tydperk van skadu’s” noem, wat die oorspronklike Kerk skei van dit wat later gekom het: “Vir vyftig jaar na die dood van Paulus hang ’n gordyn oor die kerk, waardeur ons tevergeefs poog om te kyk. En wanneer daardie gordyn uiteindelik lig, so om en by 120 n.C., vind ons in die geskrifte van die eerste kerkvaders ’n kerk wat in baie opsigte heeltemal anders is as wat die kerk in die dae van Petrus en Paulus was” (Story of the Christian Church, bl.41).

Indien die leiers van die “tydperk van skadu’s” waarna Hurlbut verwys, gevul was met en gelei was deur God se Gees, waarom sou die Kerk dan skielik “heeltemal anders” wees? Die Bybel vertel ons tog immers: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Tog is die belydende Christenkerk van vandag nie eens naastenby dieselfde as die een wat Jesus gevestig het nie.

In sy beskrywing van dieselfde periode, toe al die oorspronklike Apostels en hul opvolgers reeds gesterf het, skryf Hurlbut: “Die eredienste het toegeneem in praal, maar was minder geestelik en hartlik as vroeër. Die kerkgebruike en seremonies van die heidendom het geleidelik die aanbiddingsdienste binnegesypel. Sommige van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met ’n verandering van naam en aanbidding. Teen 405 n.C. het beelde van heiliges en martelaars in die kerke begin verskyn; eers net ter gedagtenis, om later vereer en aanbid te word. Die aanbidding van die Maagd Maria was die plaasvervanger vir aanbidding van Venus en Diana; die laaste Avondmaal het ’n offerande in die plek van ’n herdenking geword, en die ouderling het ontwikkel van prediker tot priester” (ibid., bl. 79).

Voor-Christelike feeste is in “kerkfeeste” verander want, net soos God voorspel het, bose mense en vals leiers het die grootste deel van die kerk oorgeneem! Onthou hierdie geïnspireerde waarskuwing wat die apostel Paulus aan die ouderlinge in Efese gegee het: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Handelinge 20:29-31).

Toe Paulus die omvang besef het van die geloofsversaking wat uiteindelik die grootste deel van die Kerk sou bereik, het dit hom emosioneel geraak. Hy het toe “dag en nag nie opgehou om elkeen met trane te vermaan nie”. Min mense is egter vandag besorg genoeg oor dié groot geloofsversaking om enigsins daaraan te dink om trane te stort oor hierdie geweldige verandering!

HOE kon dit gebeur het?

Hierdie groot geloofsversaking het gebeur omdat mense toe, net soos nou, nie ywerig daarna gestreef het om vir hulleself te bewys waar God se waarheid verkondig word nie. Dit is waarom die Lewende Christus die Christene wat teen die einde van die Apostel-era geleef het, só vermaan het: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openbaring 2:4-5).

Wat van vandag? Hoe kan ons rekenskap gee van die etlike honderde kerklike denominasies en sektes wat hulself “Christene” noem? Almal van hulle het verskillende opvattings, tradisies en benaderings, nogtans maak hulle daarop aanspraak dat hulle dieselfde Jesus Christus volg.

’n Deel van die antwoord lê in die feit dat uiters min belydende Christene werklik die Skrif bestudeer, dus “bewys” hulle nie wat hulle glo deur dit noukeurig in die Bybel na te vors nie! Hulle mag wel ywerig boeke en artikels oor gesondheid, oor selfverbetering, of oor beleggings en hoe om meer geld te maak, bestudeer, maar om een of ander rede dring dit nie tot hulle deur om die belangrikste van alle onderwerpe deeglik te bestudeer nie: “Is daar ’n ware God? Indien wel, wat is Sy doel met die skepping van mense en hoe kan ons daardie doel verwesenlik”? Die Bybel beveel ons immers: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Die meeste mense “aanvaar” eenvoudig net die godsdiens wat deur hulle familie aan hulle deurgegee word. Het u eenvoudig net “saamgegaan” met die geloof en tradisies wat aan u as kind geleer is?

Die Los Angelos Times se godsdiensskryfster, Teresa Watanabe, stel dit só: “Volgens een godsdiensnavorsingsfirma, lees twee-derdes van Amerikaners nie gereeld die Bybel of ken die name van die vier Evangelies nie. Meer as die helfte van die Amerikaners wat ondervra is, kon nie eens vyf van die Tien Gebooie opnoem nie. Die meeste sê hulle vind die Goeie Boek ontoepaslik ... ‘Ons skryf die Bybel steeds hoog aan, maar om werklik tyd daaraan te spandeer deur dit te lees, te bestudeer en toe te pas – dit is iets van die verlede’, sê [godsdiens meningspeiler] George Barna. Die redes wat daarvoor aangevoer word strek van veranderings in die Amerikaanse kultuur, tot die moeilikheidsgraad van die teks self. Godsdienstige organisasies wend nou ’n grootse poging aan om die antieke Skrif se wankelende beeld op te kikker. Bybelpubliseerders produseer nou ’n verbysterende verskeidenheid produkte, met vertalings en uitgawes gerig op elke denkbare markgroep, om mense te oortuig dat die Boek nóg outyds, nóg ontoepaslik is” (Los Angelos Times, 23 Julie 1999).

Natuurlik is die werklike onderliggende oorsaak vir hierdie groot godsdienstige geloofsversaking, die feit dat dit Satan se wêreld is en dat hy die oorgrote meerderheid van die mensdom totaal mislei het. In die gerieflike omgewing van ons Westerse samelewing, faal die meeste van ons in Noord-Amerika en Europa [en ook in Suid-Afrika] om te besef dat die oorgrote meerderheid mense nog nooit in enige vorm van “Christelikheid” geglo het nie – laat staan nog die ware Christelikheid van Christus en Sy Apostels!

Indien u u eie Bybel bestudeer en glo, sal u vind dat Satan, die Duiwel, beskryf word as die een “wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). U sal ook vind dat Satan beskryf word as “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Satan “saai” ’n selfsugtige, rebelse gesindheid dwarsoor die wêreld “uit”. Hy is die een wat misleide mense beïnvloed om enorme hoeveelhede ongeoorloofde seks, geweld en ’n algemene gesindheid van minagting en wetteloosheid in ons sogenaamde “vermaak” in te sluit wat u en u kinders elke dag sien en hoor op die televisie, in rolprente en oor die radio. Dit kom ook voor in die verwronge rekenaarspeletjies wat amper onbeskryflike dade van perversie en geweld naboots. Weet u wie lag eintlik oor al hierdie “pret”? Satan!

Deur die mens se natuurlike belangstelling in seks en opwinding te verdraai en om op ’n sluwe wyse verwronge humor in so baie “situasie-komedies” in te sluit, slaag Satan op slinkse wyse daarin om die mensdom te mislei om hulself te misbruik, te verkleineer – en uiteindelik te vernietig – as God nie op die laaste nippertjie sal ingryp om dit te voorkom nie (Mattheus 24:21-22). Satan is waarlik die “god” van hierdie huidige wêreld! Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).

Die belangrikste van alles is dat Satan ’n hele reeks absoluut vals begrippe in die hoofstroom-“Christendom” ingepomp het, rakende die oorsprong en lotsbestemming van die mens, hoe God is, wat God se ontsagwekkende doel is en hoe ons daardie groot doel kan verwesenlik. Satan het die waarheid “verdoesel”. Daarby het Satan die mens so in die war gebring oor profesie, dat die meeste belydende Christene en selfs die meeste Christelike predikante en priesters eenvoudig tou opgooi en Bybelprofesieë feitlik heeltemal ignoreer. Nogtans het ons Skepper ongeveer een kwart van die hele Bybel “aan die profetiese woord wat baie vas is” gewy (2 Petrus 1:19).

Sleutelfeite om te oorweeg

Die eerste punt waaraan ons dus moet aandag skenk is dat die mensdom werklik mislei is. Ons sien dat ons die “pad heeltemal bystergeraak het” wanneer ons moderne belydende Christendom vergelyk met die godsdiens van Jesus en die Apostels. Soos een bekende professor in Godsdiens skryf: “Indien Christus Self deur Sy latere volgelinge as die model en voorbeeld van die nuwe weg geneem is en daar ’n ernstige poging aangewend was om Sy lewe en leerstellings as norm en standaard vir die Kerk te stel, sou Christelikheid iets baie anders gewees het as wat dit nou is. Dan sou kettery wees wat dit nie nou is nie, dit sou ’n afwyking wees van Sy weg, Sy leerstellings, Sy Gees, Sy koninkryk” (Rufus M. Jones, “The Church’s Debt to Heretics”, bl. 15-16).

Die waarheid is duidelik. Moderne “Christelikheid” het iets heeltemal anders geword as die Christelikheid van Christus!

Sommige van u mag wel sê: “Nou wat daarvan?” Dit is egter geen nietige saak waaroor ons hier praat nie. Eerlikwaar, ons praat aan die een kant van die weg na die ewige lewe en aan die ander kant van die ewige dood (Romeine 6:23). Indien u dus nie die Christelikheid van Christus het nie, het u absoluut geen Christelikheid nie!

Jesus Self waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Mattheus 7:21-23, Nuwe Vertaling). Dit is belangrik om te besef dat Christus aan diegene sal sê wat in gebreke gebly het om Sy Vader se wil te doen: “Ek het julle nooit geken nie”. In eenvoudige taal, daardie misleide kerkgangers sal vertel word dat hulle in werklikheid nooit bekend was met die Christus wat hulle beweer hulle gedien het nie. Hulle was nooit werklik bekeerd nie. Hulle was nooit werklik “Christene” nie!

Jesus sê weer ’n keer: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). ’n “Heer” en “meester” is iemand aan wie mens gehoorsaam is. Die meeste belydende Christenleraars en hul aanhangers wil nie die duidelike leerstellings en voorbeelde van Jesus en die Apostels navolg nie. Die meeste van hulle doen nie eens die moeite om diep in hul Bybels te delf om uit te vind wat daardie leerstellings en voorbeelde is nie!

Ontdek weer oorspronklike Christelikheid

Die sleutelkwessie is dus ons begeerte en gewilligheid om terug te keer tot die ware Christelike geloof “wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Is u gewillig om waarlik te probeer om die Christelikheid van Christus na te volg? Of sal u eerder Christus se woorde ignoreer en “’n kans vat” in u verhouding met God en u strewe na die ewige lewe?

Die “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) – die ware Kerk van God – het nog altyd die noodsaaklikheid verstaan om te handel volgens die leerstellings en voorbeelde van Christus en die Apostels. Alhoewel baie min mense ernstig probeer het om hierdie patroon na te volg, verstaan baie geleerdes en godsdienshistorici die konsep van die “Jerusalem-Kerk van God”. Dit is ’n lewensbelangrike konsep om te verstaan as ons opreg belangstel om te stry vir daardie geloof “wat eenmaal ... oorgelewer is”.

Die apostel Paulus is geïnspireer om aan dié in Thessalonicense te skryf: “Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa, omdat julle ook dieselfde dinge gely het van julle eie stamgenote net soos hulle van die Jode” (1 Thessalonicense 2:14). Die boek Handelinge maak dit duidelik dat die aardse “hoofkwartier” van die Kerk van God vir baie dekades die Jerusalem-Kerk was. Dit was in Jerusalem waar die Heilige Gees oorspronklik uitgestort was op die ware Christene (Handelinge 2). Dit was in Jerusalem waar Petrus, Jakobus en Johannes vir baie jare die meeste van hul bediening gedoen het (Handelinge 4:1-4; 8:1; 11:1-2). Later het Paulus en Barnabas na die leierskap in Jerusalem gegaan om die belangrike kwessie van besnydenis vir die heidene en ander verwante vrae, uit te klaar (Handelinge 15:4-6). Soos die befaamde historikus Edward Gibbon skryf: “Die eerste vyftien biskoppe van Jerusalem was almal besnede Jode en die gemeentes waaroor hulle aangestel was, het die Wet van Moses met die leerstellings van Christus versoen. Dit was natuurlik dat die primitiewe tradisie van ’n Kerk wat gevestig was slegs veertig dae ná die dood van Christus en vir net soveel jare onder die direkte beheer van Sy apostel was, aanvaar sou word as die standaard van ortodoksheid. Die afgeleë kerke het hul gereeld beroep op die gesag van hul geëerde Ouer” (The Decline and Fall of the Roman Empire, hfst. 15, afd. 1, bl. 389).

Na die groot Jerusalem-konferensie soos hierbo genoem reis Paulus en Silas deur Klein-Asië en besoek die kerke: “En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou” (Handelinge 16:4).

Paulus het Jerusalem se leiding gevolg

Dit is duidelik dat die oorspronklike Apostels en die Jerusalem-Kerk van God die geïnspireerde “patroon” vir ware Christelikheid gestel het, nie slegs vir daardie tydperk nie, maar vir alle tye! In teenstelling met die ketterse Protestantse opvattings dat God later die apostel Paulus gebruik het om Christelikheid te “herontwerp”, het die ware apostel Paulus van die Bybel voortdurend diep respek aan die oorspronklike Apostels betoon en hom in alle belangrike sake aan die leierskap in Jerusalem onderwerp. Dit was ook die apostel Paulus wat aan die hoofsaaklik heidense kerk in Korinthe geskryf het: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Korinthiërs 7:19).

Die bekende historikus, Carl von Weiszäcker, het in 1895 geskryf: “Paulus het sy belangstelling nie slegs beperk tot die Christenkerk wat hy onder die heidene gestig het nie. Sy gedagtes was te verhewe om die Joodse Christelikheid aan sigself oor te laat. Hy het nie slegs geswoeg vir sy eie werk nie, maar vir die Kerk van God ... vir die hele Kerk. Hy het nooit vir een oomblik die ware geboorteplek van die evangelie vergeet nie. Vir hom was die Christene in Jerusalem altyd die [heiliges] ... Hy het nie slegs ’n verhewe beleid van kerklike eenheid daarop onderhou nie, maar sy eerste en deurlopende gedagte was dat die primitiewe Kerk die belangrikste goddelike instelling was onder die Evangelie ... In die vroeë Apostels sien ... hy die Apostels van die Here. Van hulle af het die getuienis van die opstanding uitgegaan (1 Korinthiërs 15:1, ff). Hulle was altyd die Apostels wat God aan die hoof van Sy Kerk geplaas het, die eerste van daardie goddelik-aangestelde mans wat die leierposisies in die Liggaam van Christus beklee het” (The Apostolic Age of the Christian Church, bll.12-13).

Later in Paulus se bediening reis hy weer na Jerusalem: “En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig” (Handelinge 21:17-18). Let daarop dat Paulus hom aangemeld het by Jakobus, die Here se broer, wat toe ongetwyfeld die leidende apostel in Jerusalem was – Petrus het toe heel moontlik na die “verlore skape” van Israel in noordwestelike Europa en die Britse Eilande gegaan.

Nadat hulle almal verheug was oor Paulus se goeie nuus aangaande God se Werk onder die heidene, het die leierskap in Jerusalem aan Paulus gesê: “U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet” (vers 20). Die uitdrukking “duisende” verwys letterlik na “tienduisende”. Om nie hierdie groot getal Joodse Christene te ontmoedig of te verwar nie, vra die Jerusalem-Kerk dat Paulus ’n offer-seremonie moet uitvoer om in die openbaar te bewys dat hy gladnie iets in stryd met God se wette verkondig nie. Soos daardie Jerusalem leiers dit aan Paulus verduidelik: “Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat ’n gelofte gedoen het; neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou” (verse 23- 24).

Indien Paulus enigiets in stryd met God se wet verkondig het – veral God se geestelike Wet soos vervat in die Tien Gebooie – sou hy seer sekerlik nie hierdie seremonie volgens die wet van Moses uitgevoer het nie. Daardie spesifieke seremonie – moontlik ’n dankoffer na afloop van ’n Nasireër-eed – was nie nodig vir ’n Nuwe-Testamentiese Christen nie, maar dit was ook nie “sonde” nie! Paulus se diepe respek vir God se wette, vir die oorspronklike moederkerk asook vir die patroon van gehoorsaamheid aan God se Wet, het hom gelei in sy besluit om met die seremonie voort te gaan. Hierdeur toon God aan ons dat Paulus se benadering een van gehoorsaamheid aan die wet was, nie om God se geestelike wette af te skaf of “daaróm te redeneer” – soos so baie Protestantse teoloë nou verkondig nie!

Wanneer hy die algemene gebruik van die vroeëre Christene beskryf, haal kerkgeleerde Samuele Bacchiocchi in sy boek, From Sabbath to Sunday, bl.151, vir historikus W. D. Davies aan: “Oral, veral in die Ooste van die Romeinse Ryk, was daar Joodse Christene wie se sigbare lewenswyse nie merkbaar verskil het van die Jode nie. Hulle het dit as vanselfsprekend aanvaar dat die evangelie ’n voortsetting was van die [godsdiens van Moses]; ... vir hulle het die Nuwe Verbond, wat Jesus tydens die Laaste Avondmaal met Sy dissipels ingestel het ... nie beteken dat die verbond tussen God en Israel nie meer van krag is nie. Hulle het steeds die Pasga-, Pinkster- en die Huttefees gevier; hulle is nog steeds besny en het die weeklikse Sabbat en die Mosaïse voedselwette nagekom. Volgens sommige geleerdes moes hulle so sterk gewees het dat hulle tot en met die val van Jerusalem in 70 n.C., die hoof-element in die Christelike beweging was [Judeo-christianisme, “Paul and Jewish Christianity”, 1972, bl. 72]” (uit Sabbath to Sunday, bl.151).

Dus, vir ongeveer die eerste veertig jaar, toe die Christendom deur die Heilige Gees gelei was, het die “hoof-element” in die Kerk van God steeds Christus se voorbeeld gevolg in die onderhouding van die weeklikse en jaarlikse Sabbatte, net soos God dit beveel het. Hulle het nog steeds die voorbeeld gevolg wat deur die Jerusalem-Kerk van God gestel is!

Wie het durf waag om dit alles te verander?
Soos ons reeds gesien het was dit nie die apostel Paulus nie. Dit was beslis ook nie een van die oorspronklike twaalf Apostels nie. Veel eerder, toe die periode – wat gepas die “Donker Eeue” genoem word – op dreef gekom het, het misleide Katolieke biskoppe en pouse begin om bykans alles te verander wat die Christelike godsdiens iets heeltemal anders gemaak het as die heidense kultusse van die Romeinse Ryk.

Dit is belangrik dat ons lesers ten volle besef dat ons in hierdie Werk, almal toegewy is aan die taak om die oorspronklike Christelikheid te hervestig! Wanneer u ons artikels en boekies lees of indien u na die Tomorrow’s World se TV-beeldsendings kyk, is dit uiters belangrik dat u insig het oor waar ons vandaan kom. Ons streef egter daarna om dieselfde boodskap te preek en te verkondig wat Jesus en die eerste Apostels gedoen het. Ons poog om – in alle geestelike aspekte – die lewenswyse wat Jesus en die Apostels geleef en verkondig het, te beoefen. Ons sal ook, gelei deur God se Gees, die geïnspireerde profesieë van die Bybel verkondig – om almal wat gewillig is om te luister, te waarsku oor wat voorlê. Indien u denke geopen is en u graag meer wil leer aangaande die oorspronklike Christelikheid van Christus en die Apostels, skryf dan gerus aan ons of skakel ons en vra om u gratis kopie van ons insiggewende boekie: Hervestig die CHRISTENSKAP van die APOSTELS. Dit is belangrik dat u die Waarheid aangaande ware Christelikheid verstaan – en dan volgens daardie Waarheid handel! Mettertyd as God se ingryping in menslike aangeleenthede en die Groot Verdrukking – wat net om die draai lê – naderkom, is dit absoluut noodsaaklik dat u en u geliefdes seker maak dat u werklik aan Jesus Christus behoort – die ware Christus van die Bybel. En, dat u God in “gees en in waarheid” aanbid (Johannes 4:23), asook dat u deel is van die ware Kerk van God wat oorspronklike Christelikheid verkondig en dit beoefen – die Christelikheid van Jesus Christus en Sy Apostels. Indien u meer te wete wil kom of selfs ’n verteenwoordiger van daardie ware Kerk wil ontmoet op ’n tyd en plek wat vir u gerieflik is, skakel of skryf dan aan ons streekskantoor naaste aan u, soos aangegee op bladsy 2 van hierdie uitgawe. “Wie ’n oor het, laat hom hoor ...” (Openbaring 3:13).