Vertroue kan beskou word as die gom wat verhoudings saambind en mense wil graag hulle vertroue in hulle leiers en nasies plaas. Wanneer ons ander mense vertrou, ervaar ons gemoedsrus. Wat gebeur egter wanneer ’n nasie vertroue in sy leiers verloor? Wat gebeur wanneer leiers die nasie se vertroue skok?

’n Skokkende meningsopname van 2017 het getoon dat slegs 17 persent van die Britte hulle politici vertrou het (“Why British people don’t trust the government any more – and what can be done about it,” The Conversation, 31 Januarie 2018). Hierdie navorsing was gedoen ná Brexit maar vóór die COVID-19-pandemie nog groter wantroue uitgelok het in ’n regering wat wyd bespot was vir sy betrokkenheid by gesondheidsverwante toesmeerdery. Tussen ’n groep deelnemers aan ’n intensiewe tweedaagse groep “demokratiese forums” regoor Europa – in Kopenhagen, Berlyn, Oslo en Ljubljana, sowel as in Birmingham, Engeland – het Engelse deelnemers uniek uitgestaan tydens onderhoude. “Die VK-deelnemers het uitgestaan vir hulle algemene wantroue – elders het mense vertroue gehad in die vermoë van die regering om die uitdagings die hoof te bied”. Volgens die 2023 Britse regeringstatistieke vertrou minder Britse burgers hulle politieke partye (12 persent) as hulle nuusmedia (19 persent), parlement (24 persent) of die VK regering self (27 persent).

 

’n Agteruitgang van moraliteit

Meer as 20 jaar gelede het die Britse geskiedskrywer Niall Ferguson, ’n ontnugterende waarneming gemaak: “Die Britse Ryk is lankal dood en al wat oorbly is die opdrifsels. Dit wat gebaseer was op Brittanje se kommersiële en finansiële oorheersing in die sewentiende en agtiende eeue en haar industriële oppergesag in die negentiende eeu, sou verbrokkel sodra die Britse ekonomie gebuk gegaan het onder die opgehoopte laste van twee wêreldoorloë” (Empire, 2002, bladsy 303).

Ferguson het ook die ekonomiese geskiedskrywer David Landes, aangehaal, wie ’n lys saamgestel het van maatreëls wat “ideale groei-en-ontwikkelde-regerings” geskiedkundig besit het. Dit sluit die voorsiening van stabiele en eerlike regerings in wat regverdig, onpartydig en deur “openbaar-bekende reëls” beheer word (bladsy 307).

Jim Nelson Black het in sy boek When Nations Die, aandag gevestig op drie aspekte van nasionale verval: sosiale verrotting, morele en kulturele verval. Morele verval is nie beperk tot die verval van die moraliteit van burgers nie; dit word dikwels deur regerings gelei. Wanneer ’n regering se moraliteit nie vertrou kan word nie, lei dit direk tot die morele verval van die nasie. Ervaring en gesonde verstand dui daarop dat dit nodig is vir mense om hulle regerings te kan vertrou om hulle te beskerm en vir hulle algemene welsyn te kan voorsien. Wanneer daar nie meer vertroue is nie, twyfel burgers aan hulle regerings, verloor respek vir daardie regerings en beleef groter onstabiliteit en onsekerheid in hulle lewens.

Eenvoudig gestel, wanneer vertroue misluk, word mense bang. Sou dit wees dat een rede vir die agteruitgang van Groot-Brittanje die gebrekkige moraliteit van sy leiers is?

 

Vergoeding verontskuldig nie korrupsie nie

Twee onlangse skandale het onder beduidende publisiteit deurgeloop. Dit het gelei tot ’n verdere verlies aan vertroue in die VK regering. Die eerste is die besmette bloed-skandaal. Die besmette bloed navraag wat deur die Britse regering van stapel gestuur is, het bloedoordraagbare infeksies ondersoek wat oorgedra is as gevolg van nalatigheid deur die Nasionale Gesondheidsdiens (NHS) en daaropvolgende VK regerings tussen 1970 en 1991 (“Infected blood inquiry: Five things we have learned,” BBC, 3 Februarie 2023). Hierdie optrede – of gebrék aan optrede – het gelei tot die infeksie van meer as 30,000 mense en kan tot dusver aan 3,000 sterfgevalle gekoppel word. “Die vyf jaar lange ondersoek het bevind dat veiligheid nie die heel belangrikste in die besluitnemingsproses was nie en vestig die aandag op die risiko van die oordrag van virale infeksies (met inbegrip van MIV) in bloed en bloedprodukte wat bekénd was aan die Nasionale Gesondheidsdiens se stigting in 1948” (“PM apologises after infected blood scandal cover-up,” 20 Mei 2024).

Kortliks, die Nasionale Gesondheidsdiens het vir dekades lank, bewustelik hoë-risiko en besmette bloed aan pasiënte binne die Britse gesondheidsorgstelsel voorsien. Die destydse Eerste Minister Rishi Sunak het dit betreur en gesê: “Vandag se verslag toon ’n dekadelange morele mislukking in die hart van ons nasionale lewe”. Sir Brian Langstaff, wat die voorsitter van die Infected Blood Inquiry was, het opgemerk: “Die ramp was nie per ongeluk nie en moes nooit gebeur het nie, terwyl hy ’n ‘skrikwekkende’ toesmeerdery deur die Nasionale Gesondheidsdiens en vorige opeenvolgende regerings oopgevlek het” (“Day that shames the British state: Tainted blood scandal report blasts ‘horrifying’ failures that led to over 3,000 deaths – but families fear no one will ever face justice,” The Daily Mail, 20 Mei 2024). Volgens die Britse regering sou die eerste slagoffers en hulle families teen die einde van die jaar vergoeding ontvang het (“What is the infected blood scandal and what compensation is there?,” BBC, 16 Augustus 2024). Finansiële vergoeding mag nogtans ’n stap in die regte rigting wees vir ’n regering wat sy burgers in die steek gelaat het, maar die verlore vertroue kan nie teruggekoop word nie.

Let ook op na die onlangse Poskantoor-skandaal wat landwye ontwrigting veroorsaak het. Rekenaarsagteware is slegs so goed soos die programmering daarvan en daar is gevind dat rekeningkundige sagteware vir die Britse posstelsel erg foutief was. Dit het die valse voorkoms van wangedrag deur poskantoor-werkers veroorsaak. Dit het nie slegs gelyk of geld verkeerdelik verdwyn het danksy sagteware-foute nie – dit het honderde werknemers hulle werk gekos as gevolg van die foutiewe sagteware! “Meer as 900 assistent-posmeesters is vir diefstal vervolg weens die verkeerde inligting van die Horizon-rekenaarstelsel” (“Post Office Horizon scandal: Why hundreds were wrongly prosecuted,” BBC, 30 Julie 2024). Baie van hulle is selfs gevange geneem weens hulle vermeende “valse boekhouding en diefstal” en ander werkers is finansieel geruïïeer.

Die Poskantoor se leierskap – wat gesteun was deur politici en kabinetslede – het tog vir jare lank geweier om die foute te erken. Uiteindelik, in 2017, het 555 voormalige werknemers die Poskantoor gedagvaar en die saak gewen. Baie van die £58 miljoen van die vergoeding is egter deur regskostes verbruik. Teen Maart 2024 was slegs 102 van die meer as 900 sake teruggetrek. Wetgewing is uiteindelik in Mei 2024 ingestel om slagoffers se name in ere te herstel en hulle het vergoeding ontvang. Die regering het £1  miljard vir vergoeding begroot. Dit word egter algemeen gesien as “te min en te laat” en ervaring leer ons dat finansiële vergoeding nie vertroue in die regering sal herstel nie.

 

’n Betroubare regering sal binnekort kom

Ongelukkig het jare se toesmeerdery en ontkenning deur regeringsagentskappe en kabinetslede – mense wie se woorde en dade voorbeeldig behoort te wees om die nasie se vertroue te verdien – gelei tot ’n verbrokkeling van die nasie se vertroue in sy leiers. Die Bybel profeteer aangaande hierdie werklikheid.

God waarsku dat baie van die leiers – “herders” – van die eindtydse Israelitiese afstammelinge [nasies van Britse afkoms], net vir hulleself sal sorg, in plaas daarvan om te sorg vir diegene wat hulle beweer hulle wel dien (Eségiël 34:1-4). Hy het ook teen verdorwenheid van geregtigheid gewaarsku (Deuteronómium 24:17) en Hy betreur dit dat in hierdie nasies: “waarheid struikel op die mark” (Jesaja 59:14). God het nogtans ook gewaarsku dat diegene wat sondig nie hulle sondes vir ewig geheim sal hou nie (Númeri 32:23). Nasionale leiers stel die voorbeeld vir moraliteit in hulle nasies (Jesaja 3:12). Dit behoort dus nie verbasend te wees om die jammerlike toestand van so baie burgers se moraliteit te sien nie.

Die Bybel maak dit duidelik dat mense wat gelei word deur onregverdige, leuenagtige en selfdienende leiers kreun onder sulke onregverdige leierskap (Spreuke 29:2). Wanneer regverdige, opregte leiers regeer, “is die volk bly”. Terwyl ons Westerse demokrasieë op die pad van onsedelikheid en selfgesentreerde heerskappy voortsnel, kan ons vertroosting vind in die werklikheid dat ’n beter toekoms aan die kom is. Die Bybel voorspel dat Jesus Christus na die aarde sal terugkeer en in geregtigheid oor die nasies sal heers (Psalm 9:8, 9). “Want die woord van die Here is reg, en al sy werk is met trou” (Psalm 33:4).

Daardie opwindende toekoms is aan die kom. Indien u meer te wete wil kom, lees ons inspirerende boekie Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees? U kan u gratis gedrukte eksemplaar bestel by die streekkantoor naaste aan u. Die lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif of lees dit aanlyn by wvm.co.za.