Terwyl hierdie gehawende land sukkel om te herstel, bly daar ’n paar knellende vrae oor: Waarom laat God lyding toe? Wanneer sal tragedies eindig? Daar is ’n antwoord!


Op 12 Januarie 2010 is die eiland-nasie van Haïti geskud deur die ergste aardbewing wat daardie streek in twee eeue getref het. Die ramp het onbeskryflike lyding veroorsaak. Meer as 300,000 mense het omgekom, met derduisende beseerdes, en meer as ’n miljoen dakloos.

Die Nasionale Paleis – Haïti se “Wit Huis” – het in puin ineengestort. Die Parlement, die Verenigde Nasies se hoofkwartier en feitlik elke regeringsgebou was onbewoonbaar verklaar. Kerke, skole en banke is vernietig, sowel as die mees eksklusiefste hotel in Haïti se hoofstad. Hospitale en polisiestasies wat moes omsien na slagoffers, het in plaas daarvan in puin verander.

Soos die redaksie van die tydskrif TIME dit gestel het: “In Haïti het orde, veiligheid, gerief, alles verlore gegaan. Die eerste wat egter gesterf het, was waardigheid” (Haiti: Tragedy and Hope, 2 Maart 2010, bl. 16). Lyke van afgestorwenes was langs die paaie opgestapel, waar sukkelende oorlewendes verbygegaan het, sommige op soek na vermiste familielede, terwyl ander in skok doelloos rondgedwaal het.

Selfs ’n jaar later, te midde van ’n cholera-epidemie wat reeds vroeg in Desember 2010 byna 2,000 lewens in Haïti geëis het, is dit steeds moeilik om volkome te begryp presies hoe oorweldigend die ramp was, en wat die omvang van die skade aangerig is, aan ’n reeds beproefde nasie.

Waarom Haïti?

Waarom het só ’n ramp ’n nasie getref wat reeds lamgelê is deur armoede, werkloosheid en korrupsie? Toe die 12 Januarie 2010 aardbewing Haïti tref, was sommige mense vinnig om blaam vir die ramp te bedink. Sommiges het gesê dit was God wat Haïti gestraf het vir ’n beweerde voodoo-beïnvloede “sameswering met die duiwel” wat gemaak is om die koloniale Franse aan die einde van die 18de eeu te verdryf. Skrywer Jeanne Pocius merk op dat sommige godsdienstige leiers vinnig was om ander gelowe te blameer. “Ongelukkig het ’n paar van die kleiner godsdienstige sektes die weg gevolg van ‘beskuldigende evangelisme’. Die uitbasuin van misleidende bewerings dat dit ‘hulle skuld is, nie ons s’n nie’, met verskeie sektes wat beskuldig ... wie ookal God se toorn opgewek het om sondaars via die aardbewing te straf. Hulle vergeet natuurlik dat elke deel van die samelewing verliese gely het: Elke denominasie moes ineengestorte geboue van aanbidding in die gesig staar, lidmate wat vermis is, en lyding verduur as gevolg van die aardbewing en die nagevolge daarvan” (Shaken, Not Stirred: A Survivor’s Account of the January 12, 2010 Earthquake in Haiti, bl. 190).

Dit is baie maklik om blaam rond te gooi wanneer slegte dinge in die wêreld gebeur. Mense wil verstaan waarom dinge is soos hulle is, veral wanneer dinge verkeerd gaan. Dus: Waarom het die ramp in Haïti voorgekom? Meer uitgebrei gestel: Waarom vind rampe op baie plekke plaas, in elke uithoek van die wêreld?

Byna 2,000 jaar gelede, het Jesus Christus hierdie selfde vraag aan Sy dissipels gestel. Sy antwoord is veral vandag van nut, terwyl ons sukkel om antwoorde te vind in tye van groot verlies. Neem kennis: “En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle ... Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het – dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle ...” (Lukas 13:1-5).

Jesus Christus het dit duidelik gemaak dat groot lyding nie noodwendig veroorsaak word deur groter sonde nie. Soms is ongelukke eenvoudig net die gevolge van “tyd en lotgeval” (Prediker 9:11). Ons behoort sekerlik elke dag van ons lewens te vra vir God se beskerming en leiding. Ons behoort uit Christus se voorbeeld te leer om nie ander te veroordeel wanneer onheil hul oorval nie, want “met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Mattheüs 7:2). God is ons Regter – en ook ons naaste s’n (Romeine 14:4).

Let egter op ’n ander belangrike aspek van Christus se woorde in Lukas 13. Na die verduideliking dat die manne wat Hy genoem het nie groter sondaars was as die ander nie, het Hy hierdie kragtige waarskuwing bygevoeg: “... maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (vers 5). Die Galiléërs of die slagoffers van die toring van Siloam – of die inwoners van Haïti wat gely het in die 2010 aardbewing – is nie groter sondaars as die res van ons nie. Tensy ons almal tot bekering kom, sal ons almal netso vergaan!

Wat is die les uit Haïti? Wat kan ons leer uit die groot verwoesting wat hierdie klein Karibiese nasie verduur het? Om die waarheid te sê, wat is daar vir ons om te leer uit al die lyding wat die mensdom verduur het sedert die begin van die skepping? Die ramp in Haïti was nie die eerste in die geskiedenis nie en dit sal ook nie die laaste wees nie. Waarlik, 6,000 jaar van menslike geskiedenis was al te dikwels die verhaal van pyn, smart en lyding. Hoekom dan? Waar het dit alles begin? Waar sal dit alles eindig?

Die werklike oorsprong van lyding

Toe God die eerste mens gemaak het, het Hy hom in die tuin van Eden geplaas. God het aan Adam, en later aan sy vrou Eva, vertel hoe om suksesvol te wees in die wêreld wat God vir hulle geskep het. Ons lees: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword ... Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:7, 15-17).

Dit was God se baie eenvoudige reëls. Satan, die duiwel het toe egter in die prentjie gekom. Hierdie geestelike wese was voorheen die groot aartsengel Lucifer, maar het Satan geword – die “Teenstander” – toe hy teen God in opstand gekom het (Jesaja 14:12-14; Esegiël 28:14-17). Satan het Eva in die versoeking gelei om God se waarskuwing te ignoreer en van die vrug te eet. Deur haar sonde, en haar man se besluit om haar te volg in hierdie uittartende optrede, het sonde die menslike gesin binnegedring. As gevolg van hul keuse, het hulle oor hulself pyn, smart en lyding gebring. Kyk wat het God aan Eva gesê: “Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Aan Adam het Hy gesê: “Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:17-19).

Adam en Eva het die lyding gesmaak wat sonde meebring, en die doodstraf verdien (Romeine 3:23, 6:23). Sedertdien het die hele mensdom dieselfde paadjie gevolg, en maai ongelukkig dieselfde gevolge (1 Korinthiërs 15:21-22). Dit is die oorsprong van die patroon van lyding wat al vir duisende jare aan die gang is – en steeds voortgaan tot vandag toe.

Die oorsprong van sonde

Indien God almagtig, mensliewend en goed is, kon Hy nie ’n einde maak aan die pyn nie? Waarom het Hy toegelaat dat geslag na geslag verskriklike smart verduur? Hierdie vraag raak die kern aan van waarom daar so baie lyding in die wêreld is – en die antwoord is dat hierdie nie ons Hemelse Vader se wêreld is nie. Lank gelede het God die Vader heerskappy oor die aarde aan die aartsengel Lucifer toevertrou, die wese wat Satan, die duiwel, geword het deur rebellie. Die Skrif noem Satan – wat diegene verblind wat nie die Evangelie glo nie – die “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:3-4). Hy is ook bekend as “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Dit is Satan wat die mens beïnvloed tot haat, wellus, afguns en begeerlikheid, en om derhalwe die gevolge van sonde te maai. Die apostel Johannes maan ons om nie Satan se lewenswyse of sy wêreld lief te hê nie, sodat ons nie dieselfde gevolge sal maai soos die ander nie: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17).

U Bybel beloof dat ’n beter wêreld sal kom wanneer Jesus Christus terugkeer om oor die aarde te regeer. Daardie tyd is egter nog nie hier nie. Onthou Sy woorde aan Pilatus: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het ... Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Ons wêreld is nog nie God se wêreld nie. Dit is onder die invloed van Satan, wie deur Christus “die owerste van hierdie wêreld” genoem word (Johannes 14:30).

Toetse en beproewings

Moet nie verkeerd verstaan nie – God is nog steeds magtiger as Satan. God is lief vir mense (1 Johannes 4:8, 16), wat Hy geskep het om Sy letterlike kinders te word. Dus, waarom laat God toe dat Satan soveel skade aanrig? Die Bybelse verhaal van Job kan nuttig wees wanneer ons worstel om die doel van lyding te verstaan.

Vroeg in die verhaal van Job, vind ons dat Satan homself voor God stel saam met die ander hemelse wesens. In die gesprek wat volg, gee God aan Satan toestemming om Job te beproef – binne sekere perke. Satan se doel was om Job teen God te draai en hom te vernietig, maar God se plan was om Satan se toorn in ’n toets vir Job te verander – ’n geleentheid om te groei in geloof en geestelike krag.

Wat het dus gebeur? Rowers het Job se osse en donkies gesteel (Job 1:14-15), weerlig het sy skape en hulle herders doodgeslaan (Job 1:16). Bendes Chaldeërs het ’n trop van sy kamele gesteel en hul wagte vermoor (vers 17). Job was daarna vertel van ’n groot tragedie: “U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, toe daar meteens ’n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel” (Job 1:18-19).

Stel u Job se verdriet voor! Wat ’n vreeslike tragedie! In een dag verloor Job die meeste van sy rykdom en baie lede van sy huisgesin. Sy lyding het egter maar pas begin. God het Satan toegelaat om Job verder te teister, maar aan hom bevel gegee om nie sy lewe te neem nie. “En die Satan het weggegaan van die aangesig van die Here, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel ... Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! Maar hy antwoord haar: Soos ’n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie” (Job 2:7, 9-10).

Job se smart was so oorweldigend dat hy gewens het dat hy nooit gebore was nie (Job 3:1) en dat God sou voortgaan om daardie dag tot niet te maak (6:9). Hy het geworstel met die pynlike vraag: Hoekom? Was God onregverdig? Sy stryd was ’n verskriklike stryd. Hy wou “God voor die hof daag” omdat Hy toegelaat het dat al hierdie euwels plaasvind (Job 9:19, 32-33) en hy was bitter omdat hy God nie kon dagvaar omdat Hy al die onreg toegelaat het nie!

Waarvoor was God op die uitkyk? Hoekom het Hy Job se lyding toegelaat? Hy het hierdie groot beproewing toegelaat om Job se hart te versag, en hom na dieper bekering te lei.

Job het uiteindelik besef dat hy God onregverdig en blindweg blameer het. Hy het begin verstaan dat God altyd regverdig is, en dat Hy altyd ons uiteindelike welsyn in gedagte het. Alhoewel ons dit nie altyd mag verstaan terwyl ons swaarkry nie, is dit God se doel om al ons ervarings te gebruik om ons tot bekering te lei. Job het God uiteindelik geloof vir Sy wysheid en regverdigheid. Hy het God bedank omdat Hy hom gehelp het om in meer diepte oor sy sondes berou te hê: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (Job 42:5-6).

Net soos met Job, wil God hê dat elkeen van ons Hom moet gehoorsaam en vertrou en innige berou moet begeer. Langs die pad laat Hy soms toe dat ons die gevolge verduur van om in Satan se wêreld te leef, sodat ons Satan sal wil teenstaan en verwerp! Ons behoort te verstaan dat ons huidige menslike lewe ’n blote “laboratorium” is waarin God ons geplaas het om lesse van karakter en onderwerping aan Sy wil te leer. Wanneer ons deur groot beproewings gaan, kan ons leer om Hom steeds meer ten volle te vertrou (Jakobus 1:2-4).

Die profeet Jesaja skryf: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7). Ons natuurlike menslike gedagtes is nie God se gedagtes nie. Die weë wat vir ons reg lyk, is nie Sy weë nie (vers 8). God laat dus die menslike samelewing toe om vir 6,000 jaar sy eie pad te volg, om eerstehandse ervaring op te doen dat die lewe sonder God – ’n lewe volgens Satan se selfsugtige weë – net pyn, spyt en berou meebring. Tog, selfs te midde van Satan se wêreld, kan ons gered word as ons ons met ons hele hart tot God wend! “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).

Voorbereiding vir die Koninkryk

Ja, daar is ’n beter wêreld aan die kom – na Jesus Christus se wederkoms om Sy Koninkryk te vestig. So skokkend as wat dit mag klink, sal ’n rebelse mensdom egter ’n massiewe aanval teen Christus loods wanneer Hy na die aarde terugkeer in Jerusalem. Onreine geeste sal “uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God ... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Openbaring 16:14, 16). Hierdie versamelde leërs sal probeer om die terugkerende Christus te verslaan. Hulle sal natuurlik nie slaag nie, want “die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog” (Sagaria 14:3). Christus sal almal wat Sy weë teenstaan en poog om Satan se despotiese heerskappy oor die aarde te verleng, heeltemal verslaan.

Jesus Christus se voete sal op die Olyfberg staan, en dit “sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal” (vers 4). Daar sal so ’n massiewe aardbewing wees soos daar nog nooit op aarde gewees het nie – een wat selfs die tragiese skudding in Haïti in vergelyking klein sal laat lyk. Die stede van die nasies sal val, eilande sal verdwyn, en berge sal gelyk gemaak word (Openbaring 16:18-20). Hoekom? Om eens en vir altyd te bewys dat die menslike samelewing sonder God nie kan bly staan nie, en nie sal kan voortbestaan nie.

Selfs na hierdie verskriklike plaag sal party mense – onverklaarbaar – nog steeds vir ’n tyd lank God laster (vers 21). Wanneer die stof egter gaan lê, sal die puin opgeruim word om plek te maak vir ’n wêreldwye herbouingsprogram. Oorlewendes sal vertroos en versorg word en God se weë geleer word: “En die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; maar kommer en gesug vlug weg” (Jesaja 35:10).

’n Vreedsame en harmonieuse nuwe samelewing sal ontstaan, met sy grondslag gebaseer op God se wette en weë. God se Gees sal uitgestort word oor die hele mensdom (Joël 2:28-29). ’n Nuwe wêreld sal gebou word, gevul met vreugde en geluk. Dink net daaraan! Bure sal besorgd wees oor bure. Mans sal hul vroue liefhê, en vroue sal hul mans liefhê. Ouers sal hul kinders opvoed “in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Vrede sal heers, en die wilde diere “sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Ja, ’n wonderlike wêreld is aan die kom!

U kan nou voorberei vir daardie Koninkryk. U kan God vra om aan u bekering en begrip te skenk, sodat u waarlik, soos nog nooit tevore nie, in sy weë kan wandel. U kan ook help bou aan hierdie nuwe gemeenskap wat binnekort sal kom! Die profeet Jesaja sê aan diegene wat God waarlik soek: “En die Here sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak ... En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak” (Jesaja 58:11-12). Die tyd is aan die kom wanneer die lyding en verwoesting wat ons nou rondom ons sien – in Haiti sowel as reg rondom die aarde – slegs ’n herinnering sal wees. Mag God daardie dag bespoedig!