Feitlik enigiemand wat aan Christendom blootgestel is, weet dat Jesus Christus in 'n milieu grootgeword het wat deurdrenk was met Ou Testamentiese skrifture; Hy het dit geken, aangehaal en daarvolgens geleef.

Of het Hy? Party mense glo dat Jesus die Wet onderhou het sodat niemand ná Hom dit hoef te doen nie. Ander mense sê dat Hy nuwe betekenis onthul het deur ou Wette. Baie mense glo egter dat Jesus “weggebreek het” van die ou Wette en in Sy oortreding van die Wet 'n nuwe lewenspatroon vir Sy volgelinge vasgestel het.

Deesdae sê selfs baie van diegene wat hulself vriende van Jesus noem, dat Hy die Wet oortree het. Dit was egter aanvanklik – gedurende Sy leeftyd op aarde – Sy vyande wat daardie aantyging gemaak het.

Omdat Jesus wonderwerke van genesing op die Sabbat gedoen het, het sommige Fariseërs Hom daarvan beskuldig dat Hy die Sabbatsgebod oortree (Mattheus 12:10; Markus 3:2, Johannes 9:14-16). Johannes teken aan dat Jesus iemand genees het gedurende een van die feeste in Jerusalem. Die evangelie volgens Johannes teken aan wat volgende gebeur het, toe Jesus sy aanklaers konfronteer: “En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het” (Johannes 5:17-18). Hieruit neem baie mense aan dat die Fariseërs se aantygings – dat Jesus die Sabbatsgebod oortree het – korrek was en dat dit Christene gevolglik vrystaan om dit te doen.

Die Bybel teken ook aan dat Jesus se dissipels op die Sabbat deur gesaaides geloop het toe hulle koringare gepluk en geëet het. Toe hulle dit sien, vra van die Fariseërs: “Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie?” (Lukas 6:2). Baie mense aanvaar dat die Fariseërs se aantyging korrek is en dat Jesus en Sy dissipels deur hul optrede nie die Sabbat onderhou het nie.

Om te verstaan waaroor hierdie vertellings gaan, is dit nuttig om meer te verstaan van die rabbynse tradisie wat onderliggend was van die klagtes oor Sabbatsoortreding wat teen Jesus en Sy dissipels aanhangig gemaak is. In Jesus se tyd het die Fariseërs se tradisie ontwikkel tot 'n verskeidenheid onbeduidende reëls wat te doen gehad het met die kleinighede van die Wet. Dit het gefokus op fisiese werke wat min te doen gehad het met die gees en bedoeling van die Wet en wat die Wet trouens dikwels oortree het (Mattheus 15:1-9; Markus 7:1-13; Johannes 7:19; Gal.6:13).

Die skrifgeleerdes onder die Fariseërs het die Fariseïese rabbynse tradisies geskep en oorgedra. Die versameling van tradisionele wette wat hulle opgetrek het, naamlik die Halakah (wat in die Mishnah bewaar word), is bygevoeg tot die Bybel. Hoewel dit gesaghebbend is vir die Jode wat die Fariseïese tradisies navolg, word groot dele van die Halakah nie regstreeks deur die Bybel gerugsteun nie, maar is bedoel as 'n “verskansing” óm die Wet, om enige moontlike oortreding van die Wet te voorkom.

Ironies genoeg, in 'n poging om wetsonderhouding te verseker deur 'n “verskansing” óm die Wet te plaas, het die Fariseërs die Wet oortree, want God sê: “Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die Here julle God mag onderhou, wat ek julle beveel” (Deuteronomium 4:2; ook 12:32). Deur die gewig van hul tradisie agter die Wet van God te gooi, het hulle “pakke saam[gebind] wat swaar en moeilik is om te dra, en dit op die skouers van die mense [gesit]” (Mattheus 23:4).

Die Fariseërs het die gesag van hul tradisies bo dié van die Bybel self gestel, dus het hulle teen die Woord van God opgetree. Die Bybelgeleerde, Joachim Jeremias, bevestig dat die mondelinge tradisie vir die Fariseërs “verhewe was bo die Tora” en dat die geheimsinnige geskrifte wat die leringe van skrifgeleerdes bevat het, as geïnspireer geag is en dat dit die kanonieke boeke “in waarde en heiligheid” oortref het (Jerusalem in the Time of Jesus, bl. 236, 238-239). Alfred Edersheim dui ook daarop dat die tradisionele wet van “selfs groter verpligting was as die Bybel self” (The Life and Times of Jesus the Messiah, Boek I, 1.98).

Wat was die aard van hierdie tradisionele vieringe? “Die Halakah toon met die kleinste en pynlikste nougesetheid [aandag aan besonderhede] elke wetlike verordening met betrekking tot uitwaartse onderhouding ... Maar daarbenewens het dit die innerlike mens en die oorsprong van optrede onaangeroer gelaat”. In herhaling van wat Jesus sê (Markus 7:5-13), gaan Edersheim voort: “Israel het die Wet nietig verklaar deur sy tradisies. Onder 'n las van uitwaartse verordeninge en vieringe, is die gees daarvan vernietig” (Boek I, 1.106, 1.108).

Die soms absurde teenstrydighede binne die Fariseïese wet is veral duidelik in die reëls van Sabbatviering. Edersheim skryf: “Oor geen ander onderwerp is Rabbynse leringe meer pynlik noukeurig en klaarblyklik meer onverenigbaar met sy verklaarde doelwit nie”. Edersheim beskuldig die skrifgeleerdes van “vreeslik oordrewe sienings oor die Sabbat” en “grenslose beswarende reëls waarmee hulle alles belas wat met die heiligheid daarvan te doen het” (ibid., Boek II, 2.52, 2.53). “In nie minder nie as vier-en-twintig hoofstukke [van die Mishna] word aangeleenthede dringend bespreek [betreffende die Sabbatsviering] as van noodsaaklike godsdiensbelang, wat 'n mens jou skaars sou indink iemand met regdenkende intellek met erns sou bejeën”. Tog “is daar in al hierdie vermoeiende besonderhede nie 'n enkele beduidenis van enigiets geestelik nie – nie eens 'n woord om dieper denke oor God se Heilige Dae en die viering daarvan voor te stel nie” (ibid., 2.778-779).

Die wet sluit byvoorbeeld gedetailleerde regulasies in oor wat 'n “las” sou behels wat nie op die Sabbat gedra kon word nie; byvoorbeeld, stukke papier, perdehare, was, 'n stukkie gebreekte erdeware of dierekos. Oor die algemeen was 'n las enigiets so swaar soos 'n gedroogde vy of 'n hoeveelheid wat genoeg is vir enige praktiese gebruik (byvoorbeeld 'n stuk papier groot genoeg om te gebruik vir 'n nota of om iets mee toe te draai). Dit skryf voor wat gered mag word en wat nie, sou jou huis aan die brand slaan. Slegs die absoluut noodsaaklike kledingstukke, kon gered word. 'n Mens kon egter 'n uitrusting aantrek, dit red, dan teruggaan en iets anders aantrek. 'n Mens kon nie 'n Griek [heiden] vra om die vlamme te blus nie, maar indien hy dit uit sy eie sou doen, moet hy nie verhinder word nie. 'n Mens kon kos wettig op die Sabbat eet, mits dit spesifiek op 'n weekdag vir die Sabbat voorberei is. As 'n hen 'n eier op die Sabbat gelê het, mag dit nie geëet word nie, maar indien die hen aangehou is om vet te voer en nie vir lêdoeleindes nie, mag die eier geëet word omdat dit dan beskou is as deel van die hen wat afgeval het! Hierdie regulasies beskou studie van die Mishna op die Sabbat belangriker as Bybelstudie. Die Hagiographa (die Ou Testamentiese “Skrywes”) moes nie op die Sabbat gelees word nie, behalwe in die aand. Daar is ook baie ander soortgelyke voorbeelde.

Vir ons is die wette betreffende oes en genesing op die Sabbat van besondere belang. Selfs die geringste aktiwiteit wat die pluk van graan behels – verwydering van die doppe, vryf van die are, skoonmaak of kneus van die are of om hulle in die hand op te gooi – was verbode. Tog, wanneer 'n mens 'n gerf van sy gesaaides wou verwyder, moes hy net 'n lepel daarop neerlê; dan, ten einde die lepel te verwyder, kon hy ook die gerf verwyder waarop dit gelê het!

Daar moet kennis geneem word dat, anders as die Fariseërs (wat redelik min in getalle was), het die meeste van die Jode van Jesus se tyd min aandag aan hierdie nietige reëls geskenk.

Toe die Fariseërs gekla het oor Jesus se dissipels wat op die Sabbat koringare pluk en eet, kon Jesus (soos Hy dikwels gedoen het) die teenstrydighede in die Fariseïese wet uitwys. Jesus noem hoe Dawid en sy volgelinge, toe hulle uitgehonger vir hul lewens gevlug het, die toonbrode geëet het toe daar geen ander kos beskikbaar was nie, hoewel dit normaalweg net vir die priesters beskore was (Mattheus 12:3-4; Markus 2:25-26; Lukas 6:3-4; 1 Samuel 21:1-6). Selfs die Fariseïese wet stem op hierdie punt ooreen met die oorspronklike geskrewe Wet, wat Dawid se besluit toe sy lewe in gevaar was, regverdig (Edersheim, Boek II, 2.58). Jesus sê bloot: “En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat” (Mattheus 12:6-8).

Die Sabbatsgebod is natuurlik in 'n afsonderlike kategorie as die verordeninge oor die offers. Tog, omdat die Joodse wet toegelaat het dat 'n mens op die Sabbat kos en water vir jou diere gee om onnodige lyding te verhoed, sou hierdie beginsel logies gesproke en vanselfsprekend van toepassing wees op mense ook – in hierdie geval, Jesus se dissipels – wat die enigste kos geëet het wat geredelik beskikbaar was op daardie tydstip.

Hierdie strydpunt sou nooit moontlik gewees het, was dit nie vir die Fariseërs se oordrewe sienings oor optrede wat verbode of toelaatbaar was op die Sabbat nie. Die priesters in die Tempel het op die Sabbat gewerk, tog was hulle onskuldig (Mattheus 12:5). Die skrifgeleerdes het dit geweet, maar blykbaar nie duidelik verstaan waarom dit so was nie. Op die een of ander wyse het hulle die punt gemis dat God die Sabbat ingestel het, nie net om mense rus te gee van fisiese werk nie, maar ook om hulle tyd te gee om aan God te wy deur Sy werke te doen en Hom te dien. Die dissipels se optrede was “duidelik nie 'n oortreding van die Bybelse Wet nie, maar van die Rabbynse wet” (Edersheim, Boek II, 2.56). Jesus sê dat die Fariseërs, wat nie die Wet verstaan nie, die “onskuldiges ... veroordeel” (Mattheus 12:7). Dit is duidelik dat die dissipels vals beskuldig is en nie skuldig was aan oortreding van die Sabbatsgebod nie.

Omdat genesing werk kon behels, het Fariseïese wet dit slegs op die Sabbat toegelaat as dit gedoen moes word om 'n lewe te red of die dood te voorkom. 'n Pleister mag dus op 'n wond geplaas word as die doel daarvan was om te verhoed dat dit vererger, maar nie om dit te genees nie. Tog, daarenteen, mag 'n splinter uit die oog verwyder word of 'n doring uit die vlees, hoewel dit geen onmiddellike lewensgevaar ingehou het nie. Verder kon 'n dier uit 'n put verwyder word of na water gelei word op die Sabbat.

Toe die Fariseërs Jesus beskuldig het dat Hy die Wet oortree het deur op die Sabbat te genees, kon Hy weer hul geveinsdheid onthul deur hul eie teenstrydige reëls te gebruik. Eerstens sal ons Jesus se erkenning dat Hy op die Sabbat gewerk het, ondersoek. Die Sabbatswet is, deels: “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie” (Eksodus 20:9-10). Let daarop dat die werk wat op die Sabbat verbode is, “jou werk” is. Die Wet verbied nie werke van diens aan God nie. Inderdaad, die einste rede waarom ons gebied word om ons van ons eie werk te weerhou op die Sabbat, is sodat ons ons tyd kan wy aan die werk om God te eer en dien; sodat “jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat 'n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie” (Jesaja 58:13). Hier is dit duidelik dat dit ons eie werke is – die verloop van ons daaglikse sake – wat ons op die Sabbat moet vermy. Aan die ander kant moet ons God op die Sabbat eer. Om aan God eer te gee, behels dikwels werk – “goeie werke”.

'n Noukeurige studie van die Bybel onthul dat ons ons gewone of ongewyde werk op die Sabbat moet staak, sodat die tyd aan God se heilige doel gewy kan word, maar implisiet tot die Sabbatsgebod is dat ons werk doen wat nodig is om die geestelike mikpunt en betekenis van die Sabbat te vervul. Op die eerste Sabbat het God gerus van Sy werk van die fisiese skepping, maar Hy het die werk gedoen om die Sabbat te skep, dit te seën en te heilig (Genesis 2:2-3; Markus 2:27). Die weeklikse en jaarlikse Sabbatte is verklaar as “heilige samekomste” – bevole vergaderings met die doel om saam te kom om onderrig in God se Woord te ontvang en as gemeente te aanbid (Levitikus 23:2, 4). Dit sluit die “werk” in wat vereis word om na die plek van samekoms te reis en om te luister, te leer en deel te neem aan die aanbiddingsdiens. Diegene wat opdrag gegee is om onderrig te gee, het die werk gedoen om God se Woord te lees en te verduidelik. Op sulke geleenthede het mense gewoonlik die werk gedoen van eet en drink, met mekaar gedeel en hulle verheug in die heilige dag en die waarheid van God se Woord (Nehemia 8:1-12). Ander vanselfsprekende werk in die gebod is ook verrig. Selfs op die mees gewyde dag van die jaar – die Versoendag – het die priesters die werk gedoen om die diere te slag en offers voor God te bring, volgens die vereistes van die wet (Levitikus 16).

Die werk om God te eer en te aanbid is nie verbied op die Sabbat nie. Dit is inderdaad die doel van die Sabbat. Dit is waarom die priesters op die Sabbat kon werk en nie skuldig was nie. Hulle werk was 'n noodsaaklike deel van die Sabbatsverpligting van die gemeente om God te eer en te dien. Dit was, in daardie sin, nie hulle werk nie, maar God se werk wat gedoen is. Vroeg in Sy bediening, een Sabbatdag, het Jesus kortliks aangekondig watter werk Hy gestuur is om te doen. Sy werk was om die evangelie te verkondig, te genees (beide fisies en geestelik) en om te bevry van onderdrukking (Lukas 4:18-19). Die werk wat Jesus gedoen het, was nie Sy werke nie, maar God se werke waarvoor Hy gestuur is om te doen (Johannes 4:34; 9:4; 17:4). Genesing was 'n integrale deel van Christus se bediening. In volmaakte harmonie met dít wat die Sabbatsrus uitbeeld – en in harmonie met die evangelieboodskap – het Jesus se genesings die fisiese en geestelike genesing uitgebeeld wat Christus tydens die Millennium sal doen, wanneer die Koninkryk van God op die aarde gevestig is (sien Jesaja 35:5-6; 57:16-20; Jeremia 30:10, 17; Esegiël 47:8-10).

Toe Jesus op die Sabbat genees het, het Hy nie die Sabbat verbreek nie, maar dit vervul, want 'n mens rus nie wanneer jy bedroef, onderdruk of onder siekte of swakheid gebuk gaan nie. Soos baie teksverse aantoon, verheug dit God om diegene wat bedroef is, te verlos en te genees en om hulle die rus te gee waarvan Sy Sabbat 'n voorbeeld is. God “[hoor] die geroep van ellendiges. En gee Hý rus, wie durf Hom dan veroordeel?” (Job 34:28-29). Gebonde deur hul vals tradisies, het die Fariseërs probeer moeilikheid maak vir die Messias, deur Hom te verdoem omdat Hy vir diegene wat Hy genees het, rus gegee het van hul smarte.

Hulle moes Hom eerder geprys het. Waar die psalmis praat van diegene wat bedroef is en op die rand van die dood staan, skryf hy: “Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red. Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel” (Psalm 107:19-22).

Jesus antwoord diegene wat Hom van Sabbatskending beskuldig: “As 'n mens die besnydenis op die sabbat ontvang, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek 'n mens op die sabbat heeltemal gesond gemaak het? Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel” (Johannes 7:23-24).

Soos ons gesien het, toe Johannes skryf dat Jesus “die sabbat gebreek het” (Johannes 5:18), het Hy Jesus se optrede vanuit die Fariseërs se oogpunt beskryf (vergelyk 9:14-16). Diegene wat sê dat Jesus wel die Sabbat gebreek het, stem saam met Christus se vyande – Sy aanklaers – dat Jesus se wonderwerke van genesing 'n oortreding was van die Sabbatswet. Hulle stem saam met Jesus se aanklaers dat Hy 'n Sabbatskender was. Om konsekwent te wees, moet hulle ook met die Fariseërs saamstem toe hulle van Christus gesê het: “Ons weet dat hierdie man 'n sondaar is” (vers 24). Die blinde man wat genees is, het van beter geweet en gesê: “En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy” (vers 31).

Toe Jesus op die Sabbat genees het, het Hy nie God se Wet oortree nie. Deur Sy optrede het Hy die ware toepassing van God se Wette – eerder as die Fariseïese wette – getoon, dat dit “dan geoorloof [is] om op die sabbat goed te doen” (Mattheus 12:12). Die “wet” wat Jesus oortree het, was 'n mensgemaakte reël wat op sigself teen die beginsels van God se Wet was.

Onthou: As Jesus Christus in der waarheid die Sabbat gebreek het, sou Hy gesondig het, maar die Skrif sê dat Hy “geen sonde gedoen het nie” (1 Petrus 2:22). As Hy gesondig het, sou Hy nie ons Verlosser kon wees nie, maar omdat Hy onbesmet en afgesonder van sondaars was, kon Hy Homself sonder gebrek en vlekkeloos vir ons redding tot God offer (Hebreërs 7:26; 9:14; 1 Petrus 1:18-19). Nee, Jesus het nie die Sabbatsgebod oortree nie. Hy het die Sabbat deurgebring deur te preek, te onderrig, te genees, God te eer en die goeie werk van Sy bediening te doen – die werk van God.

Die rekord van die Skrif is dat Jesus die Sabbat getrou onderhou het, soos God bestem het dit onderhou moes word. Daarin het Hy vir ons 'n voorbeeld gestel. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6).