Konings, koninginne, farao’s en diktators het regdeur die grootste deel van die geskiedenis die aarde regeer. Die meeste burgers van die wêreld het geen sê gehad oor die wette van die land of wie dit gemaak en afgedwing het nie. Gemiddelde burgers is op hulle werk belas, opgeroep tot diens en in alle opsigte onderwerp aan die heersers van die land – dit wil sê tot die opkoms van moderne demokrasie. Deesdae kan mense in soveel lande regoor die wêreld hulle eie leiers kies.

Hoe goed kies ons egter? Is ons leiers besig om ’n regverdige, onpartydige en godvresende samelewing te bou? Wat sê ons keuses van leiers oor onsself?

Israel se keuse

Die verhaal van koning Saul voorsien ons van ’n interessante les. Ons lees dat Israel swaargekry het onder die leiding van Samuel se seuns. “En toe Samuel oud was, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel ... Maar sy seuns het nie in sy weë gewandel nie: hulle het onregverdige wins agterna geloop en omkoopgeskenke aangeneem en die reg verdraai” (1 Samuel 8:1, 3). Hierdie manne het hulle posisie misbruik en die mense uitgebuit. In plaas daarvan om hulle na God te wend vir leiding, het die Israeliete aangedring op ’n menslik-georienteerde oplossing vir die probleem en vir Samuel gesê: ... “stel nou ’n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies” (vers 5).

Samuel het tot God gebid vir die antwoord op hierdie dilemma en God het geantwoord: “Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie” (1 Samuel 8:7). Samuel het vir baie jare gedien as ’n verteenwoordiger van God. Wanneer mense wou weet wat God se wil is, het hulle na Samuel of ’n ander ware profeet gekom. Daardie reëling het die mense egter nie tevrede gestel nie. Hulle wou die gebruik van die nasies rondom hulle volg – hulle wou ’n menslike heerser hê wat hulle sigbaar in die geveg kon lei, hulle hoofregter kon wees en wette kon instel soos hy goed gedink het. Dit was die soort leier wat hulle gedink het die “situasie kon red”. Geïnspireer deur God het Samuel hulle gewaarsku wat die gevolge van hulle keuse sou wees en gesê: “En in dié dag sal julle roep vanweë jul koning wat julle vir jul verkies het, en die Here sal julle in dié dag nie verhoor nie” (vers 18).

Die Israeliete het daarna die leier gekry wat hulle verdien het.

Die verhaal van die verkiesing van Saul het ’n paar interessante kinkels. Saul was alles wat goed gelyk het in ’n koning. “En daar was ’n man van Benjamin met die naam van Kis, ... ’n vermoënde man. En hy het ’n seun gehad met die naam van Saul, ’n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk” (1 Samuel 9:1-2).

Saul het die regte stamboom gehad – sy vader was ’n magtige leier. Hy was groot en aantreklik, met die uiterlike eienskappe wat ons geneig is om te begeer in diegene wat ons lei. Ja, God het Saul se troonbestyging georkestreer, maar Hy het aan die mense gegee wat Hy geweet het hulle wou hê. God het vir Samuel geïnspireer om tydens Saul se kroning te sê: “Hier is dan nou die koning wat julle uitgekies het, wat julle begeer het, en kyk, die Here het ’n koning oor julle aangestel” (1 Samuel 12:13).

Wat het dus gebeur toe God vir hulle gegee het wat hulle wou hê?

Namate die verhaal ontvou, leer die Israeliete dat voorkoms bedrieglik kan wees. In plaas daarvan om dapper te wees, was Saul oorweldig van vrees voor die reus Góliat: “Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees” (1 Samuel 17:11). Dit was nie net die gewone soldate wat bang was vir die reus nie – Saul, hulle koning, die grootste en indrukwekkendste voorbeeld van ’n man in die land, was verskrik. In plaas daarvan om soos ’n kampioen en held op te tree, was hy heel gewillig om ’n onervare jong man, wat nie eers in die weermag was nie, toe te laat om sy skoene vol te staan – eintlik sy uniform. “En Saul het Dawid sy klere laat aantrek en ’n koperhelm op sy hoof gesit en hom ’n pantser laat aantrek” (1 Samuel 17:38). Ons lees natuurlik dat Dawid die wapenrusting van Saul verwerp het en op God vertrou het om hom te beskerm en te versterk en God het aan hom die oorwinning oor Góliat gegee.

Namate Saul sy ware kleure geopenbaar het, het die burgers van Israel agtergekom dat hulle nuwe monarg meer as net moed kortkom. Hulle het verwag dat hierdie man, wat die voorkoms van ’n koning gehad het, hulle verstandig sou oordeel. Hulle het vir Samuel gesê: “Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ’n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies” (1 Samuel 8:5). Die koning wat hulle gekry het, het egter sy dwaasheid getoon. Terwyl hulle voorberei het om teen die Filistyne te veg, het Samuel vir Saul gesê om vir hom te wag sodat hy ’n offer aan God kan bring om Sy seën te vra, maar Saul het in sy ongeduld, Samuel se opdrag geïgnoreer en sélf die offer gebring. Samuel was woedend oor sy dwaasheid en het gesê: “Wat het jy gedoen?” Saul se reaksie was soos volg:

“Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die Here nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring. Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie” (1 Samuel 13:11-13).

Net een hoofstuk later sien ons dat Saul wéér dwaas optree en die weermag opdrag gee om gedurende ’n dag van geveg te vas in ’n dwase poging om sy vasberadenheid te toon om Israel se vyande te oorwin. Ons lees dat “die manne van Israel dié dag aangedryf word, het Saul die manskappe besweer en gesê: Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek. Daarom het al die manskappe aan niks geproe nie” (1 Samuel 14:24). Die dag het in ’n fiasko ontaard, met Saul se seun Jónathan wat onwetend sy vader se opdrag verbreek het en ’n gedoopte heuningkoek wat hy gevind het geëet het.

Jónatan kon dit nie glo toe hy later verneem het van sy vader se belaglike bevel wat die manne verbied het om te eet, terwyl hulle teen die Filistyne geveg het nie. Die dag het in chaos geëindig: “En die manskappe het op die buit afgestorm, en kleinvee en beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag, en die manskappe het dit met bloed en al geëet” (1 Samuel 14:32). Saul se irrasionele besluite het om elke hoek en draai slegte resultate opgelewer. Die wyse koning wat die Israeliete verwag het, was besig om ’n bedreiging vir sy volk te word.

 

Wat hulle verdien het

In plaas van die kragtigheid wat sy volk verwag het, het Saul lafhartigheid getoon. In plaas van wysheid het hy dwaasheid getoon. In plaas van barmhartigheid en welwillendheid het hy ’n streep van jaloesie en wraaksugtigheid geopenbaar. In wese het die Israeliete die koning gekry wat hulle verdien het. Hulle het op die harde manier geleer dat mense nie die vermoë het om werklik die hart van ’n ander persoon te sien nie en dat ons deur voorkoms beïnvloed kan word.

Ná Saul se dood het God vir Dawid as koning aangestel. Wat voorkoms betref, was David nie die man vir die posisie nie. “Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Alhoewel Dawid se eie familie dit nie kon sien nie, het God gesien dat Dawid ’n man na Sy hart was, ten spyte van sy gebreke. Eeue later is hierdie kontras tussen Saul en Dawid in die boek Handelinge bespreek. Ons lees: “En van toe af het hulle ’n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank. En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind ’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen” (Handelinge 13:21-22).

’n Heerser wat die Israeliete verdien het, wat slegs die voorkoms van ’n goeie en godvresende leier gehad het, het totaal misluk – terwyl ’n waarlik goeie en godvresende man – alhoewel hy aan baie van die oppervlakkige eienskappe ontbreek het wat skynbaar ’n leier aandui – die grootste menslike koning in Israel se geskiedenis geword. Wat is die les vir ons?

 

Wat ons verdien

Met die opkoms van moderne demokrasie het ons onder die indruk verkeer dat ons die beste leiers vir onsself kan kies. Ons soek mense wat aanneemlik vir ons beeld van wat leiers behoort te wees. Het hulle aanvaarbare persoonlikhede? Kom hulle aantreklik genoeg voor vir mense om hulle te volg? Spreek hulle die kwessies aan wat vir ons persoonlik belangrik is? Sal hulle opkom vir ons waardes?

Burgers van demokratiese lande stem vir kandidate wat skynbaar die beste eienskappe het. Die meeste mense weet egter diep in hulle harte, dat elke keuse ’n hoopvolle kompromie met hulle gewete is. Hulle het stilweg ’n vermoede dat hulle nie regtig hulle leiers kan vertrou nie.

Neem ’n onlangse opname onder Amerikaanse burgers wat deur die Pew Research Center gedoen is in ag. Die volgende is wat deur die opnames bevind is: “Verlede jaar het 16% van mense gesê dat hulle die regering byna altyd of die meeste van die tyd vertrou, wat een van die laagste peilingmaatreëls in byna sewe dekades van opnames was” (“Public Trust in Government: 1958-2024,” Pew Research Center, 24 Junie 2024). Ons sê elke keer vir onsself: Hierdie keer sal dit anders wees. Hierdie verkiesing sal anders wees. Net soos antieke Israel tog geleer het, is dit wat ons in ons toekomstige leiers sien gewoonlik ’n illusie van ons eie wensdenkery.

Waar laat dit ons?

In ons hedendaagse samelewing is die lewe op baie maniere en vir baie mense – veral in die Westerse samelewing – ongetwyfeld ’n verbetering in vergelyking met die lewe van die gemiddelde man of vrou regdeur die grootste gedeelte van die geskiedenis. Terwyl sommige mense daardie verbetering aan die mens se wysheid en bekwaamheid toeskryf, weet Bybelkundiges dat die ware rede vir die voorspoed van die Verenigde State en die nasies van Britse afkoms gevind word in die belofte wat God baie jare gelede aan Abraham gemaak het. Daardie belofte het rykdom en voorspoed ingesluit wat ongeëwenaard is in die menslike geskiedenis. (Indien u meer te wete wil kom, lees ons gratis boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?). Hierdie nasies het ’n raamwerk van hoofsaaklik Bybelse waardes geërf en ten spyte van voortdurende opstand teen daardie waardes, gaan dit voort om diegene wat daarvolgens lewe te bevoordeel.

In plaas daarvan om ons na die God wat ons geseën het te wend en Hom te smeek om ons nasies en leiers te lei terwyl hulle in Sy weë volg, het ons ongelukkig as ’n volk ons rug op Hom gedraai. Die Skrif verduidelik aan ons God se denke aangaande ons nasies: “Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel. Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel! Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek” (Psalm 81:12-15).

Mense spandeer deesdae geweldig baie tyd om een of ander politieke leier te bevorder en hulle argumenteer oor kandidate se vermoëns om oplossings vir ons lande met probleme te kry. Ons hoor hoe politici verkondig hoeveel goeie dinge hulle vir ons land sal doen – hoeveel beter hulle as hulle opponent is. Ons hoor hoe hulle mekaar kritiseer en bespot, terwyl ons tevergeefs hoop op iets beters en probeer om ’n blinde oog te gooi vir die maniere waarop hulle eenvoudig nie goedheid, waarheid en wysheid weerspieël nie. Ons hoop dat die besluite wat hulle in hulle kantoor neem, op een of ander wyse in ooreenstemming met Goddelike waardes sal wees, selfs al weerspieël hulle karakter dit nie. Ons sien medeburgers wat passievol verdeeld is oor watter kandidaat die beste is, net soos ons sien hoe die verdeeldheid verdiep met betrekking tot waardes, klas, kultuur en sosio-ekonomiese status. Ons dink nogtans in ons naïwiteit dat ons kan bepaal wat die beste vir ons nasie is – watter politieke leier die beste resultate tot gevolg sal hê.

Vra enigiemand egter: “Wat is God se opinie?”

Ons kan lees van wat God dink oor ons dwaasheid: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik” (Psalm 2:2-5).

 

Wat ons nodig het

Die tyd sal binnekort aanbreek wanneer hierdie wêreld ’n heerser sal hê wat nie hulle keuse sal wees nie – Hy sal uiteindelik die oplossings vir die mensdom se probleme bring. Hy sal die Een wees wat antieke Israel se koning na Sy eie hart gekies het. Ons lees:

“Maar daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here. En Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die Here; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja ... Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jesaja 11:1-6, 9-10).

Uiterlike voorkoms kan misleidend wees – dus, as Koning van die konings sal Jesus Christus nie oordeel volgens die uiterlike nie, maar volgens die harte. Hy sal lei in opregtheid en waarheid, met liefde, barmhartigheid en goedheid. Sy heerskappy sal die mensdom leer om die vleeslike ingesteldheid wat lei tot die verwerping van Hom tersyde te stel – Hy sal op so ’n wyse regeer dat die mensdom eerder sal kies om Hom te gehoorsaam en hulle aan Hom te onderwerp.

 

’n Bekende refrein

Sedert Adam en Eva se tyd het die mensdom dieselfde storie oor en oor herhaal. Die seëninge wat God voorsien, is as vanselfsprekend aanvaar en ons het hardnekkig ons rug op Hom gekeer. Adam en Eva het omdat hulle van die boom van die kennis van goed en kwaad geneem het, die eerste paartjie gewees wat verklaar dat hulle op hulle “eie kon voortgaan”, sonder om God vir Sy leiding te vra. Die mensdom het gevolglik onder ontelbare menslike stelsels gely wat vir ons “beter” lyk as God se wyse.

Sommige van daardie mensgemaakte stelsels word selfs aan ons voorgehou in die naam van iemand se verkeerde idee van “Christelikheid”. In die Verenigde State sien ons die opkoms van ’n filosofie wat dikwels “Christelike Nasionalisme” genoem word, wat daarop aanspraak maak dat dit Christelike waardes in politiek en die regering toepas. Ongelukkig, soos u in hierdie uitgawe se artikel “Gevaarlike Christelikheid” sal sien, kom sommige van die gevaarlikste misleidings ook by ons uit met ’n valse etiket van “Christenskap”. Wanneer ons egter terugkyk na die voorbeeld van antieke Israel, behoort ons versigtig te wees vir diegene wat vir ons ’n menslike koning – of president of eerste minister – as ’n bevredigende plaasvervanger vir God en Sy volmaakte heerskappy sou bied.

Die voorbeeld van antieke Israel voorsien vandag aan ons, ’n tydige illustrasie soos ons gesien het. Die Israeliete het versoek dat hulle ’n menslike leier in plaas van God wou hê, toe het Hy vir hulle ’n leier gegee wat hulle verdien. Indien ons na die huidige stand van die politieke verkiesingstelsel kyk, kan ons enigsins ontken dat ons hulle rebellie deesdae volg?