Een man se antieke vasberadenheid weerklink steeds regdeur die hedendaagse samelewing.

Stoei is ’n fassinerende sport wat fisiese krag, vaardigheid en deursettingsvermoë behels. Stoeiers streef daarna om hulle teenstanders vas te “pen”. Professionele stoeigevegte geniet al geslagte lank gewildheid en dit het meer as ’n miljard dollar se inkomste in 2023 gegenereer. Hierdie vorm van stoei word egter eerder beskou as vermaak in plaas van ’n sportsoort, maar stoei op kollege-vlak is ’n wettige sport waaroor die NCAA toesig hou; 395 kolleges regoor die Verenigde State neem daaraan deel en dit is ’n gewilde soort sport by die Olimpiese Spele.

Terwyl die vertoning van vaardigheid by die sportsoort die aandag van miljoene toeskouers trek, is die meeste mense onbewus van ’n stoeikompetisie wat lank gelede in antieke Edom plaasgevind het. Jakob, die seun van Isak en kleinseun van Abraham, het as ’n ryk man met familie, kleinvee en beeste na sy vaderland teruggekeer nadat hy vir 20 jaar by sy skoonvader, Laban, gebly het. Op hierdie reis het hy verwag om sy broer Esau te ontmoet, van wie hy vervreemd was as gevolg van ’n geskil met betrekking tot sy eersgeboortereg, wat Esau geglo het Jakob van hom gesteel het (Génesis 25:29-34).

In reaksie hierop het Jakob ’n plan in werking gestel om versoening te bewerkstellig tussen hom en sy broer om sodoende sy gesin te beskerm (Génesis 32:3-23; 33:1-2). Nadat Jakob sy gesin en diensknegte weggestuur het, het sy storie ’n baie interessante wending geneem:

“Maar Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered” (verse 24-30).

Van hierdie oomblik af kom die naam van Israel opvallend in die Skrif voor. God het met Jakob/Israel gewerk en die nageslag van sy twaalf seuns het die volk Israel geword. Hulle is deur God gekies om ’n voorbeeld van Sy lewenswyse vir die wêreld te wees.

 

Beloftes wat deesdae van toepassing is

Waarom sou God met Jakob “stoei”? Hy verduidelik: “Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge” (Jeremia 17:10). Waarom? “... want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie Hy behae het” (Spreuke 3:12). Jakob het fisiese beproewings en toetse verduur. Op hierdie kwesbare oomblik in sy lewe, vind daar toe ’n worsteling met God plaas. Dit het simbolies sy volhardende karakter geopenbaar, wat God sou gebruik in die uitvoering van Sy plan vir die mensdom.

Dit alles was deel van God se belofte aan die regverdige Abraham: “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Génesis 12:2-3).

In die Skrif word die verhaal vertel van God se interaksie met Israel en die gebeure wat gelei het tot die geboorte van Jesus Christus as die Verlosser van die mensdom. Die fisiese stryd in die wildernis tussen Jakob en die Een wat die Messías geword het, was ’n belangrike gebeurtenis in die vestiging van Israel as die instrument wat God sou gebruik om Sy plan uit te voer.

Nasies is families wat magtig geword het. Die nasies wat nou die Midde-Ooste beset, is onder die afstammelinge van daardie antieke families, wie se konflikte en twispunte tot vandag toe voortduur. Hierdie onoorkombare probleme sal nie opgelos word voordat Jesus Christus in krag en heerlikheid terugkeer as die Koning van die konings en Prins van vrede om Sy Koninkryk te vestig nie.