Maak dit saak watter dag u u Sabbat noem? Wat sê die Skrif?


Die wêreld se godsdienste het verskillende dae opsygesit as vakansiedae en tye van aanbidding. Terwyl die meeste van die wêreld se 2,1 miljard belydende Christene op Sondag aanbid, hou 1,3 miljard Moslems Vrydag as hul weeklikse dag van aanbidding. Miljoene Jode onderhou die Sabbat – hul dag van rus en aanbidding – vanaf sononder op Vrydag tot sononder op Saterdag.

Maak dit saak watter dae ons onderhou? Gee God om wanneer ons Hom aanbid, solank ons Hom wel aanbid? Die meeste belydende Christene aanvaar net wat hulle ouers of kerk hulle geleer het as tradisie. Totdat ek ’n jong volwassene was, was dit wat ek ook gedoen het. As ’n jong seuntjie het ek my ma gevra: “Waarom hou ons Sondag, terwyl die vierde gebod in die Bybel ons leer om die Sabbat, die sewende dag, te hou”? Sy het my ’n vae antwoord gegee wat ek op daardie tyd aanvaar het. Kan u egter hierdie vraag beantwoord? Watter dag is die Christelike Sabbat?

Waar kry vandag se belydende Christene die idee vandaan dat Sondag die Christelike dag van aanbidding is? U mag geskok wees om te verneem dat sommige godsdienstige sektes leer dat hul kerk se tradisie meer gesag dra as die Bybel! Let op hierdie stelling van die Anglikaanse teoloog, Isaac William: “Waar word ons in die Skrif aangesê dat ons die eerste dag moet onderhou? Ons word beveel om die sewende te hou, maar ons word nêrens beveel om die eerste dag te hou nie ... Die rede waarom ons die eerste dag van die week heilig hou in plaas van die sewende, is vir dieselfde rede waarom ons baie ander dinge onderhou, nie omdat die Bybel maar die kerk dit beveel het” (Plain Sermons on the Catechism, vol. 1, bll. 334, 336).

Is William reg? Dra die Bybel – die woord van God – minder gesag as die kerklike tradisie? Watter voorbeeld het Jesus Christus gestel? Let op wat die Bybel sê oor Jesus se eie gewoonte aan die begin van Sy bediening. “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees” (Lukas 4:16).

Ja, dit was Jesus se gereelde gewoonte om op die Sabbat te aanbid! Watter dag van die week was dit? Sedert die tyd van Jesus, asook eeue voor dit, het die Joodse gemeenskap baie noukeurig hul onderhouding van die sewende-dag Sabbat, vanaf sononder Vrydag tot sononder Saterdag, gedokumenteer. Ons weet uit duisende noukeurig aangetekende rekords dat die siklus van sewe dae in die week sedert Jesus se tyd nie verbreek is nie. Diegene wat vandag op die sewende dag aanbid, aanbid op dieselfde dag as wat Jesus gedoen het!

Vra uself: Het Jesus die voorbeeld gestel om op die Sabbat te aanbid en al die Bybelse voorskrifte te hou, sodat ons nie nodig het om dit te doen nie? Skokkend soos dit is, dit is wat baie predikers vandag verkondig! Het Jesus egter selfs een keer aan Sy volgelinge gesê om Sy voorbeeld te ignoreer? Nee! Jesus het nie net die gebooie onderhou nie, Hy het ander mense opdrag gegee om dlt ook te onderhou, deur te sê: “Maar as jy die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Jesus se antwoord toon duidelik dat Hy gepraat het van die Tien Gebooie.

Paulus se voorbeeld

Ons het gesien dat dit Jesus se gewoonte was om die Sabbat te onderhou. Het die apostel Paulus – die “apostel van die heidene” – die Sabbat onderhou, of het hy ’n voorbeeld gestel om te toon dat Heidense Christene dit nie hoef te doen nie? Onthou, Paulus was opgelei as ’n Fariseër, en het die Skrif baie goed geken. Terwyl Paulus in Griekeland was, in die stad Thessaloníka, het hy vir drie Sabbatte in ’n ry vir die Jode in die sinagoge gepreek. Let op dat dit Paulus se gewoonte was – hy het gereeld op die Sabbat gepreek. “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus” (Handelinge 17:2-3).

Ons sien dus dat Paulus gereeld op die Sabbat vir die Jode gepreek het. Het hy egter ook vir die Heidene op die Sabbat gepreek? Let op wat hy gedoen het in die heidense stad Korinthe in Griekeland. “En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig” (Handelinge 18:4)! Ja, Paulus het op die Sabbat vir die heidene gepreek!

Indien Paulus verwag het dat Christene Sondag moes onderhou in plaas van die sewende-dag Sabbat, kan ons verwag dat hy met die Christene – of ten minste dan met die heidene – op die Sondag moes praat. Is dit wat u Bybel toon hy gedoen het? Let op Paulus se voorbeeld in Antiochië, wat vandag in die land Turkye is. Wat het gebeur na Paulus se gewone Sabbatpreek vir beide Jode en toegewyde heidene in die sinagoge? “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word” (Handelinge 13:42).

Indien Jesus of die Apostels beveel het dat die dag van aanbidding verander is na Sondag was hier ’n ideale geleentheid vir Paulus om aan die heidene te sê: “Nee, julle hoef nie te wag tot volgende Saterdag nie, ons Christene aanbid nou op Sondag. Ontmoet ons môre”! Hy het dit egter nie gedoen nie! Wat sê u Bybel? “En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor” (Handelinge 13:44). Paulus het die heidense Christene op die Sabbat geleer! Hy het ook die heidense Korinthiërs beveel om sy voorbeeld te volg. Onthou Paulus se opdrag: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1), of, “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg” (NV). Ja, Paulus, Jesus en die Apostels het ’n voorbeeld gestel vir alle Christene deur die Sabbat te onderhou!

Waarom die verandering?

Die voorbeeld van Christus en die Apostels is duidelik, daarom mag ons wonder: Wanneer het die “hoofstroom” Christendom begin om Sondag in plaas van die sewende-dag Sabbat te onderhou as ’n dag van rus? Let op: “Tertullianus (202 n.C.) is die eerste skrywer wat uitdruklik van die Sondagrus melding maak: ‘We, however (just as tradition has taught us), on the day of the Lord’s Resurrection ought to guard not only against kneeling, but every posture and office of solicitude, deferring even our businesses lest we give any place to the devil’” (artikel: “Sunday”, Die Katolieke Ensiklopedie). Dit was nie tot 202 n.C. nie, meer as 170 jaar na die dood, begrafnis en opstanding van die Messias, Jesus Christus!

Was Sondag dan in werklikheid die dag van Christus se opstanding? Nee! Kyk na die weergawes van die Evangelies. Wanneer Maria Magdaléna op die Sondagoggend by Jesus se graf kom, vind sy dit leeg. Sy het daar gekom toe dit nog donker was (Johannes 20:1) en Jesus was alreeds weg! Hy is net voor sononder op Woensdag begrawe, net voor die aanvang van die groot Heilige Dag, die begin van die Fees van Ongesuurde Brode. Christus het beklemtoon dat die sleutelteken van Sy Messiasskap die volgende is: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheüs 12:39-40). Christus het belowe dat Hy vir 72 uur in die graf sou wees, wat beteken dat Hy kort voor sononder die Saterdag opgestaan ​​het!

Die Romeinse keiser Konstantyn was’n heidense sonaanbidder. Gedurende sy bewind, in die vierde eeu n.C. het hy Sondagaanbidding dwarsdeur sy Ryk afgedwing. Hy het die volgende edik in 321 n.C. uitgevaardig: “Op die eerbiedwaardige dag van die Son moet alle magistrate en mense ... rus” (artikel: “Sunday Legislation”, Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge).

Ongehoorsaamheid aan die keiser se bevel kon die dood beteken vir Sabbatonderhoudende Christene. Slegs dekades later het die Roomse Kerk dan ook ’n verrassende dekreet uitgevaardig by die Raad van Laodicea. Dit verklaar: “Christene moet nie verjoods deur op die Sabbat te rus nie, maar moet op daardie dag werk en eerder op Sondag rus. Indien enige iemand egter gevind word wat verjoods [deur die Sabbat te onderhou] laat hulle anatema [vervloek en afgesny] van Christus verklaar word” (A History of the Councils of the Church, bl. 316). Christelike Sabbatonderhouers was gebrandmerk as ketters.

Beide die regering en die kerk het teen Christelike Sabbatonderhouers opgetree. Nogtans het die ware Christenskap van die eerste eeu – wie nooit opgehou het om Christus se voorbeeld te volg deur die vierde gebod te onderhou nie – voortgeduur tot vandag, ten spyte van vervolgings deur die eeue. Die meeste mense in Amerika vergeet deesdae dat baie van die eerste Amerikaanse setlaars die Atlantiese Oseaan in die 17de eeu oorgesteek het, op soek na godsdiensvryheid in die kolonies van Noord-Amerika. Duisende het na Rhode Island gestroom om voordeel te trek uit die “Royal Charter” wat in 1663 toegestaan is deur Koning Charles II van Engeland, wat godsdiensvryheid in die kolonie gewaarborg het. Tot vandag toe word daardie handves vertoon in die Providence, Rhode Island se staatshuis.

Sewende-dag Sabbatonderhouers was onder diegene wat na Rhode Island gekom het, op soek na godsdiensvryheid. Stephen Mumford en sy vrou, wat in 1665 na Newport, Rhode Island gekom het, was die eerste gedokumenteerde Christelike Sabbatonderhouers wat hul in Rhode Island gevestig het. Ander het gevolg en teen 1729 het die groep so gegroei dat dit ’n groter vergadersaal benodig het. Daardie saal, wat in 1729 gebou is, word steeds deur die Newport Historiese Vereniging bewaar.

Indien u ooit in Newport, Rhode Island kom, sal u dalk graag daardie historiese gebou wil besoek. Binne-in die saal is ’n verhoogde preekstoel. Agter die kansel is twee groot gedenkplate, met die Tien Gebooie daarop gegraveer. Aan die onderkant van die tweede gedenkplaat is die apostel Paulus se kragtige uitspraak: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet” (Romeine 3:31). Ja, hierdie Nuwe-Testamentiese Christene bevestig hulle trou aan Christus se stelling: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie”. Hierdie Christene het reg verstaan dat Jesus se leerstellings daarop aangedring het dat Sy volgelinge die Tien Gebooie moet hou en gehoorsaam!

Sabbatariër kerkrekords wat in die Newport Historiese Museum bewaar word, bevat die lede se name en hul bydraes. Dit is insiggewend dat die kerk homself in daardie rekords beskryf as “hulle wat die gebooie van God en die geloof van Jesus bewaar, en in die besonder die Here se Sewende-dag Sabbat”.

Sommige Sewende-dag Sabbatonderhouers was in die 18de eeu vooraanstaande inwoners van Rhode Island. Twee van die kolonie se goewerneurs – Richard Ward en sy seun Samuel – was Sewende-dag Sabbatonderhouers. Selfs die eerste president van Brown Universiteit – James Manning – was ’n Sabbatariër!

Die Sabbat voor Moses?

Sommige mense glo vandag die Sabbat is ingestel as ’n Joodse gewoonte by die berg Sinai, toe Moses die tafels met die Tien Gebooie daarop ontvang het. Is dit so? Nee! Let op hoe u Bybel, wat die “skeppingsweek” genoem word, beskryf. Ons lees dat God man en vrou op die sesde dag geskep het. Wat het dan op die sewende dag gebeur? “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Genesis 2:1-3).

Ja, die Sewende-dag Sabbat is ’n herdenking van die skepping – en dit verwys na die ware God en ware Skepper van die heelal. Dit het van die begin van die skepping af betekenis gehad, dit het vandag nog steeds diepe betekenis vir Christene wat die Sewende-dag Sabbat erken as ’n voorafskaduwing van Jesus Christus se duisendjarige heerskappy op die planeet Aarde, gedurende die Millennium.

Waarop het Jesus aanspraak gemaak aangaande Sy verbintenis met die Sabbat? Het Hy gesê Hy is Here oor Sondag – dat Sondag die dag van die Here is? Nee! Jesus het gesê: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28). Indien Jesus die Here van die Sabbat is, watter dag is dan die Here se dag? Sondag? Nee! Die Sabbat is die Here se dag – Jesus Self sê so! Trouens, die uitdrukking “die Here se dag” kom nie in een van die Afrikaanse Bybels voor nie, en slegs een keer in die Engelse NKJ, en wel in Openbaring 1:10. Daar verwys dit na die profetiese tydperk bekend as die Dag van die Here, wat lei tot die wederkoms van Christus. Dit verwys nie na ’n dag van die week nie.

Die boek Hebreërs beeld die Sabbat uit as ’n voorafskaduwing van die aarde se duisendjarige rus, sowel as ’n herdenking van God se rus tydens die skepping. Met betrekking tot antieke Israel se ongehoorsaamheid op hul pad na die beloofde land, lees ons: “Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:8-9). Die oorspronklike Griekse woord vir “rus” in vers 9 is sabbatismos, wat beteken “om ’n Sabbat te hou” (sien Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words). Beide die Ou Vertaling en die Nuwe Vertaling vertaal vers 9 as “’n sabbatsrus”.

Ja, daar bly ’n sabbatsrus oor vir die volk van God, selfs tot op hierdie dag! Is dit dan bloot ’n simboliese rus, of is dit ’n letterlike Sabbatsrus? Indien u toegang het tot ’n afskrif van die Anchor Bible Dictionary, kan u vir uself sien dat in ander kontekste, insluitend sekulêre Griekse geskrifte wat nie afhanklik is van hierdie vers uit Hebreërs nie,sabbatismos duidelik en letterlik “Sabbatonderhouding” of “Sabbatviering” beteken. Daar bestaan geen twyfel dat hierdie vers ’n Nuwe-Testamentiese stelling is aangaande ’n letterlike Christelike onderhouding van die Sabbat, nie!

Indien Christene sou ophou om hul werk te doen, net soos God opgehou het met Sy werk (Hebreërs 4:10), behoort ons te vra: Hoe het God opgehou om Sy werk te doen? Die Skrif gee ons die antwoord: “Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus” (Hebreërs 4:4).

Daar is geen raaiery hier nie! Nuwe-Testamentiese Christene is veronderstel om te rus, net soos God gerus het op die sewende dag! Beide die Ou Testament en die Nuwe Testament gee Christene die duidelike voorbeeld en opdrag om die Sabbatdag heilig te hou! Indien u die Bybel beskou as u gesag, eerder as sommige kerktradisies wat beweer dat hulle die Bybel oorheers, het u geen ander keuse nie! Dus, wat is u gesag?

Die Skrif of tradisie?

Vroeër in hierdie artikel lees ons van een Anglikaanse teoloog se duidelike erkentenis dat dit tradisie van die kerk was, eerder as die Skrif, wat ’n Sondag-nakoming ingestel het in die plek van die sewende-dag Sabbat. Ander teoloë stem saam. Die bekende Rooms-Katolieke teoloog, James Cardinal Gibbons, maak in sy boek, Faith of Our Fathers, die volgende sterk stelling: “U kan maar die Bybel lees van Genesis tot Openbaring, en u sal nie ’n enkele reël vind wat die heiliging van Sondag magtig nie. Die Skrif dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af, ’n dag wat ons nooit heilig nie”. Gibbons erken dat as die Bybel ’n mens se gesag is, het jy geen basis vir die onderhouding van Sondag nie. Die Skrif, soos hy skryf, dwing die “godsdienstige onderhouding van Saterdag af”. Gibbons erken dat dit die Raad van Laodicea was in die vierde eeu n.C. – nie die bladsye van u Bybel nie – wat veroorsaak het dat die belydende Christelike wêreld die onderhouding van die sewende-dag Sabbat verander het na Sondagonderhouding.

Net so skryf die vooraanstaande Suidelike Baptiste predikant, Harold Lindsell, ’n voormalige redakteur van die tydskrif, Christianity Today: “Daar is niks in die Skrif wat van ons vereis om Sondag eerder as Saterdag as ’n heilige dag te hou nie” (“Consider the Case of Quiet Saturdays”, Christianity Today, 5 November 1976, bl. 42).

Wat behoort u te doen? U behoort u Bybel te bestudeer en besluit of u wil leef volgens “elke woord van God” soos Jesus ons in Mattheüs 4:4 en Lukas 4:4 vermaan. Jesus sê Hy is Here van die Sabbat. Hy het gereeld die sewende-dag Sabbat onderhou, en hy het nie die wet oortree nie. Hy sê: “... net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar” (Johannes 15:10). Sal u die voorbeeld van Jesus Christus en die opdragte in u Bybel volg? Of sal u in opstand kom teen hulle, ten einde die tradisie van mense te volg?

In God se Koninkryk sal almal die sewende-dag Sabbat onderhou (Jesaja 66:22-23). Wat ’n wonderlike wêreld sal dit wees. Selfs vandag nog is Jesus Christus die Here van die Sabbat (Markus 2:28). Hy het nie verander nie. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Ware Christene streef vandag in hulle lewens daarna om die voorbeeld wat Hy gestel het, na te volg. Wat gaan u doen?