Waarom is die Bybel vandag vir die meeste mense 'n raaisel? Waarom ontwikkel belydende Christene, wat almal tog dieselfde Bybel lees, soveel verskillende idees oor die  leerstelling? Waarom faal predikante om te verkondig wat die Bybel so duidelik sê? Waarom is moderne “Christelikheid” so opvallend verskillend van apostoliese Christelikheid? Die antwoorde op hierdie belangrike vrae word gevind in 'n reeks Bybelprofesieë wat vandag besig is om in  vervulling te kom!

Wydverspreide Bybel-onkunde

Histories was Amerika, Kanada, Australië, 'n groot deel van Europa, Suid-Amerika en dele van Afrika “Christelike” kulture genoem. Vele studies het egter getoon dat ons moderne “verbruikers Christelikheid” baie oppervlakkig is, dat “aanhangers [daarvan] swak onderrig is in die geloof” en dat wydverspreide onkunde oor die Bybel en die Christelike leerstelling hoogty vier (The Empty Church, Reeves, bl. 61-63). Meningpeilers beskryf Amerika as 'n “nasie van Bybelongeletterdes” waar “net vier uit tien Amerikaners weet dat Jesus die Bergpredikasie gelewer het; minder as die helfte van alle volwassenes die name van die vier Evangelies van die Nuwe Testament ken; slegs drie uit tien tienderjariges weet waarom Paasfees gevier word ... Meer as die helfte van alle Amerikaners die Bybel minder as een maal per maand lees ... insluitend 24 persent wat sê dat hulle dit nooit lees nie” (ibid.). Studies toon dat minder as 30 persent van Amerikaners in enige gegewe week kerk bywoon en onder Europeërs val daardie syfer tot onder 10 persent. In baie Westerse nasies verloor die “hoofstroom Christelike” kerke reeds vir dekades lank lidmate. Gegewe hierdie syfers, is dit geensins verrassend dat baie belydende Christene weinig kennis van die Skrif het en baie min weet van die geskiedenis en ontwikkeling van hulle eie geloof se leerstellings.

Een van die redes vir hierdie verval is die wyse waarop die kerke hulle toekomstige leiers oplei. Waarnemers merk op dat kweekskole wat predikante oplei “as 'n reël deur linksgesindes oorheers word” (Reeves, bl. 19). Deur 'n linkse leerplan word nuwe predikante dan geradikaliseer en word hulle gevorm deur 'n intellektuele atmosfeer “oorspoel met anti-bonatuurlike aannames” (ibid.). Baie moderne teologiese studente “ken nie die name van die helfte van die boeke in die Bybel nie; of Calvyn voor of na Augustinus geleef het nie; wat dit beteken om te sê dat Christus na die dood neergedaal het of 'volgens die Skrif' opgetree het nie, wat God se toorn beteken, of hoe om die laaste oordeel oor die lewende en dode te verstaan nie” (ibid.).

Onder die invloed van moderne Bybelkritiek, “word Jesus se wonderwerke versinsels van die vroeëre kerk. Beskrywings van God se ingryping ter wille van die volk van Israel word legendes en mites. Betuigings van hoop in die Wederkoms van Christus as 'n toekomstige gebeurtenis in die verlossingswerk van God, word verlangende projektering van die onvervulde verwagtings van Jesus se vroeëre volgelinge” (ibid.). As gevolg van hierdie wan-opleiding van toekomstige geestelike leiers, “sien ons dat  studente gradueer met min geloof in die egtheid van die Skrif, 'n minimale begrip van kerkgeskiedenis en ortodokse teologie en armvragte vol van polities-korrekte standpunte oor maatskaplike en politieke aangeleenthede” (ibid.). Een bekommerde teoloog het opgemerk, “Ons het die Skriftuurlike en doktrinale onderskraging” in die Christelike geloof “verloor”(ibid.).

Afwykende leerstellings

In ag genome die verskillende invloede wat mense vir soveel jare  van die Waarheid af vervreem het, is dit nie verbasend dat moderne “Christelikheid” so grootliks verskil van die apostoliese Christelikheid van die Bybel nie – hoewel meeste belydende Christene hierdie feit deesdae nie besef nie. Die Skrif toon duidelik dat Jesus, Sy dissipels en die vroeëre Kerk die sewendedag Sabbat en die Bybelse Heilige Dae onderhou het (Lukas 4:16; Johannes 7:1-10, 37; Handelinge 17:2; 18:21), nogtans woon die meeste belydende Christene eredienste op Sondae by – en onderhou Kersfees en Paasfees [Easter] as godsdienstige vakansiedae, alhoewel daar geen Bybelse gebod daarvoor bestaan nie – die Skrif veroordeel inteendeel praktyke wat met hierdie vakansiedae verband het, wat geskiedkundige bronne daarop wys dat dit uit die heidendom ontleen is.

Baie belydende Christene glo dat hulle hemel toe sal gaan, maar die Bybel sê egter, “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens [Jesus] wat in die hemel is” (Johannes 3:13; sien ook Handelinge 2:29, 34; 13:36). Baie mense dink die evangelieboodskap is slegs “aanvaar Jesus en u sal gered word,” maar die Skrif toon egter “Jesus [het] in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” (Markus 1:14). Die Skrif toon dat Hy Sy Koninkryk op die aarde gaan vestig met Sy Wederkoms (Openbaring 11:15-18), dat die heiliges saam met Hom op hierdie aarde sal heers (Openbaring 5:10) en dat God se Wet aan elkeen geleer sal word (Jesaja 2:2-4; 9:6-7; 11:9).

Hoewel apostoliese Christelikheid hierdie besielende aspekte van Jesus se ware evangelie verkondig het, het teoloë wat later gekom en beïnvloed was deur heidense filosofie, hierdie leerstelling bevraagteken en uiteindelik veroordeel as dwaalleer (sien The Decline and Fall of the Roman Empire, Gibbon, hoofstuk 15). Die meeste belydende Christene is vandag “blind” vir hierdie belangrike historiese en Bybelse feite, omdat moderne predikante en teoloë óf nie van hierdie sake weet nie óf nie daaroor preek nie. Maar waarom is hierdie blindheid so wydverspreid onder mense wat bely dat hulle in die Christendom glo?

Blindheid voorspel

 Die Bybel openbaar dat wanneer God se mense aan Hom ongehoorsaam is, Hy sal toelaat dat daar 'n gees van blindheid oor hulle kom, “... omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie ... [het] die HERE ... julle nie 'n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie” (Deuteronomium 28:45; 29:4). Moses het voorspel dat Israel se neiging om teen God in opstand te kom (en die gevolglike geestelike blindheid wat dit sou meebring) tot ernstige gevolge sou lei “in die laaste dae” (Deuteronomium 31:27-29). Satan speel ook 'n rol om hierdie blindheid te bevorder onder diegene wat nie die Skrif glo nie (2 Korinthiërs 4:3-4).

Die Hebreeuse profete het hierdie selfde tema oor en oor herhaal en dit benadruk dat om teen God te rebelleer en Sy weë te verwerp, tot geestelike blindheid lei. Jesaja skryf: “Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree ... Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie” (Jesaja 1:2-3; 6:9-10).  Jeremia skryf: “Hoor dit tog, o dwase en verstandelose volk, wat oë het, maar nie sien nie; wat ore het, maar nie hoor nie ... Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die HERE is vir hulle 'n smaad, hulle het daar geen behae in nie” (Jeremia 5:21; 6:10). Jeremia waarsku ook omdat die mense God se woord verwerp, sal “julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie ... die profete profeteer vals ... en my volk wil dit graag so hê” (Jeremia 5:31; 16:11-13). Esegiël waarsku dat ongehoorsaamheid lei tot geestelike blindheid en na vals onderwysings wat mense verlei om leuens te glo (Esegiël 12:2; 13:2-19). Hierdie tema kom regdeur die Ou Testament voor.

Jesus verduidelik dat Jesaja se voorspelling (Jesaja 6:9-10) ook die geestelike blindheid van die Jode van Sy dag voorspel het, hulle wat hom nie as die Messias erken het of Sy boodskap kon verstaan nie (Mattheüs 13:10-15). Die apostel Paulus openbaar dat hierdie selfde profesieë ook die geestelike blindheid van die moderne Israelitiese nasies voorspel (Romeine 10:1-3; 11:7-8; 2 Korinthiërs 3:14-15). Indien u uit die geestelike blindheid wil ontsnap wat so baie belydende Christene vandag kwel, begin dan om u Bybel noukeurig te bestudeer en vra God om u verstand te open om te kan begryp wat u lees. Vra ook die gratis  Wêreld van Môre Bybelstudiekursus aan. Dit sal u help om die Bybel te verstaan, en ook die honderde profesieë wat in hierdie dae besig is om  vervul  te word.