Baie jare gelede het my dogter wat op daardie stadium nege jaar oud was my gevra waarom ons gesin anders is. Sy het opgemerk dat ons ons anders gedra as al die ander gesinne in ons omgewing en sy wou weet waarom ons nie “normaal” is nie.
Die meeste mense wil deur hulle tydgenote aanvaar word. Dit is ’n natuurlike en kragtige menslike eienskap en dit is waarskynlik belangriker vir ons kinders. Hulle wil beskou word as ’n normale deel van die “groep”. Grootmense kan volwasse raak om die waarde daarvan om anders te wees te erken, maar vir kinders kan dit baie moeilik wees.
Ek het my dogter se vraag gehoor en het dadelik deernis gehad vir hoe sy voel. Omdat ek in ’n Sabbat-onderhoudende gesin grootgeword het, was ek van ’n relatief jong ouderdom deeglik bewus daarvan dat ek “anders” was as die meeste ander kinders om my. Nadat ek die openbare skool begin bywoon het, het ek vinnig geleer dat dit “nie normaal” was om op ’n Saterdag kerk toe te gaan nie. Vir die meeste van my skoolmaats het “kerk” outomaties Sondag beteken, nie Saterdag nie.
Dit was ook nie “normaal” dat ons gesin nie Kersfees gevier het nie – ’n vakansiedag wat nie in die Bybel gevind word nie – soos lesers van hierdie tydskrif sal erken. Indien u meer hieroor wil weet, lees ons gratis boekie Die Heilige Dae – God se meesterplan. Dit was ook nie normaal dat ek laat in September of vroeg in Oktober weggeglip het om vir agt dae saam met my gesin ’n geleentheid deur te bring by iets wat die “Loofhuttefees” genoem word nie. Die Fees was vir my wonderlik, maar vir my klasmaats het dit net vreemd geklink – dalk selfs gewaagd.
Weens onderhouding van die sewende-dag Sabbat het ek nooit op ’n Saterdag aan klein liga-wedstryde deelgeneem nie. Ek sou om dieselfde rede ook nie na Vrydagaand sokkerwedstryde gaan nie. Hierdie aktiwiteite het vir my skoolmaats na niks anders as “normaal” gelyk nie.
Wanneer ek egter terugkyk en ek daaroor nadink hoe drasties die Amerikaanse samelewing oor die afgelope 30 of 40 jaar verander het, besef ek dat ek en my klasmaats baie dinge as vanselfsprekend aanvaar het. Baie dinge wat ons almal destyds as “normaal” beskou het, is deesdae ver van normaal.
Die “nuwe normaal”
Terwyl ek ’n tiener was, het enkelouer-gesinne al hoe meer algemeen geraak, maar niemand het die ideaal van die ongeskonde gesin met twee ouers, met ’n ma en ’n pa aan die hoof, ernstig bevraagteken nie. Deesdae probeer mense wat hulleself as kampvegters van sosiale geregtigheid beskou om ’n nuwe agenda te bevorder – om ’n “nuwe normaal” op die samelewing af te dwing.
U hoef nie net my woord hiervoor te neem nie. Kyk byvoorbeeld na die Amerikaanse spitstyd televisiereeks. Modern Family, vir elf seisoene (2009-2020), wat ’n homoseksuele paartjie uitbeeld wat kinders grootgemaak het asof dit ’n prysenswaardige leefstylkeuse was. Daar was selfs ’n kortstondige 2012-reeks op NBC, The New Normal, wat soveel aspekte van die probleem saamgevat het. Die reeks was as ’n komedie bestempel, maar dink aan die uitgangspunt daarvan: Twee homoseksuele mans en ’n surrogaat-moeder besluit dat hulle ’n familie is. Een van hulle kinders het “twee pappas” en ’n surrogaat-mamma; die ander het twee aangenome-pappas, plus ’n afwesige vader wat ons nooit sien nie. Te midde hiervan het die reeks een karakter vertoon – die ouma – wat NBC-joernaliste “bekrompe” genoem het omdat sy waardes voorgestaan het wat die grootste deel van die samelewing – net ’n generasie tevore – as vanselfsprekend sou aanvaar het.
Hierdie “komedie” het die spot gedryf met Bybelse gesinswaardes, terwyl dit die idee bevorder het dat mense ’n familie op enige manier wat hulle wil kan definieer. So ’n aanval op die gesin is nie snaaks nie. ’n Dekade later is dit egter algemeen aanvaarbaar.
Alles in ag genome, kon ek my dogter help om die gevolge van om “normaal” te wees in vandag se samelewing te verstaan. Selfs in ons klein straatjie was dit normaal vir die bure se kinders om net een ouer te hê as gevolg van egskeiding of verwerping. Dit was normaal dat kinders laat in die nag sonder toesig rondhardloop en in allerhande moeilikheid beland omdat daar nie ’n moeder of vader of grootouer is wat genoeg omgee oor wat die kinders doen nie.
Sommige mense mag dalk verbaas wees om te hoor dat God hierdie probleem lank gelede voorsien het. Hy het die apostel Paulus geïnspireer om ’n brief aan die jong leraar Timótheüs te skryf, waarin hy die gedrag beskryf wat as “normaal” beskou sou word in die jare wat tot Jesus Christus se Wederkoms sou lei. Vra uself af hoe goed dit die tipiese gesindheid rondom ons vandag beskryf:
“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:1-5).
Paulus het verstaan dat mense in die laaste dae selfsugtig en arrogant en vinnig sou wees om oor hulle eie belangrikheid te spog. Kinders sou oneerbiedig teenoor hulle ouers wees. Mense sou nie dankbaar wees nie en sou ondankbaar wees vir die goeie dinge in hulle lewens. Hulle sou ’n gebrek aan selfbeheersing hê en baie trots wees op hulleself. Hulle sou net hulleself liefhê en ’n samelewing skep waarin uitreikende Christelike liefde en gehoorsaamheid aan God absoluut abnormaal sou wees. Die begeerte om die etiket van “normaal” wees in ons tyd te begeer, is om te begeer om die soort persoon te wees waarmee die meeste van ons, as ons eerlik met onsself is, nie daarvan sal hou om met hulle te wees nie.
Die ware normaal
In hierdie huidige tydperk is dit nie normaal om die sewende-dag Sabbat of die Huttefees en die ander jaarlikse Heilige Dae te onderhou nie. Dit is nie normaal om daarna te streef om God te gehoorsaam en te leef volgens die voorbeeld wat Jesus Christus vir Sy volgelinge gestel het nie. In die nabye toekoms gaan hierdie wêreld egter dramaties verander.
God het die profeet Jesaja geïnspireer om ’n wonderlike profesie op te teken: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:5-6). Let ook op hierdie woorde van Sagaría: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaría 14:16).
Sáám skets hierdie Skrifgedeeltes ’n wonderlike prentjie: God sal binnekort oor die hele wêreld regeer en Hy sal van almal verwag om te doen soos wat Hy sê. Die onderhouding van Sy weeklikse en jaarlikse Sabbatte mag dalk nie vir die meeste hedendaagse mense normaal lyk nie, maar die tyd kom binnekort wanneer alle nasies die Loofhuttefees, die sewende-dag Sabbat en al God se Wette sal onderhou. Jesus Christus het nie gekom om dit af te skaf nie, maar om dit te vervul (Matthéüs 5:17). Selfsugtige menslike eienskappe sal vervang word deur nederigheid, respek, dankbaarheid en hoflikheid teenoor ons naastes.
Diegene wat nóú kies om te staan téén dit wat vandag as normaal beskou word – met inbegrip van die onderhouding van die sewende-dag Sabbat en die onderhouding van die Heilige dae – is in die voorhoede van diegene wat die mensdom gaan onderrig wat is wérklik normaal. Ek versoek u dus om ernstig vir God te vra om u die moed en die krag te gee om stroom-op te swem, deur te weier om saam te stem met dit wat hierdie samelewing as normaal beskou en eerder nóú die lewenswyse te begin volg wat God as normaal beskou.


