My vrou het onlangs vir jong volwasse vroue ’n klas aangebied oor hoe om hulle huise skoon huis te hou. Dit mag dalk vir sommige mense seksisties klink, maar die waarheid is dat wanneer ’n huis netjies en ordelik is, dit waarskynlik ’n vrou is wat leiding geneem het om dit te doen. Ek wil ’n bietjie van die inligting gebruik wat my vrou in haar klas aangebied het: ’n Wetenskaplike wat navorsing doen by die Universiteit van Indiana “het gevind dat mense met skoon huise gesonder is as mense met wanordelike huise”. Ander navorsers het ontdek dat vroue “wat hulle leefruimtes as ’n ‘warboel’ of vol ‘onvoltooide projekte’ beskryf”, meer geneig is om depressief en moeg te wees as vroue wat hulle huise as ‘rustig’ en ‘opbeurend’ beskryf het. Die navorsers het ook gevind dat daar by vroue met wanordelike huise hoër vlakke van die streshormoon kortisol teenwoordig is (“The Powerful Psychology Behind Cleanliness,” Psychology Today, 11 Julie 2016).
Heel moontlik het ons moeders meer geweet as wat ons gedink het toe hulle vir ons gesê het: “’n Rein liggaam is naaste aan ’n rein hart”. Alhoewel baie mense aangeneem het dat hierdie spreekwoord in die Bybel gevind word, is dit nie so nie. Nietemin word die algemene beginsel van ordelikheid wel in die Bybel gevind. Adam was in ’n pragtige tuin geplaas en daar is van hom verwag om dit te “bewerk en te bewaak” (Génesis 2:15) – hy moes die pragtige tuin in stand hou. “En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek” (Exodus 13:18). Hulle het ook op ’n ordelike wyse kamp opgeslaan (Númeri 2:1-2).
By ons somerkampe vir tieners, maak die Lewende Kerk van God gebruik van ’n beginsel van die apostel Paulus, wat die lidmate by Korinthe geleer het om orde te handhaaf en om verwarring te vermy. Hy het opdrag gegee: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.” Paulus sluit af: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Korinthiërs 14:33, 40). Die onderwerp waarmee hy dadelik begin het was hoe hulle hul dienste gehou het, maar hierdie is ’n beginsel wat van toepassing is op alle aspekte van die lewe: Regdenkende mense verkies orde in plaas van verwarring.
Dit laat egter ’n vraag ontstaan: Waarom sien ons sulke godsdienstige chaos “want God is nie ’n God van wanorde nie”.
Die chaos van “Christelikheid”
Ons samelewing is uiters verward oor sy Skepper. Miljoene mense buig voor ’n verskeidenheid van hout-, metaal-, klip- of plastiekbeelde omdat hulle dink dit verteenwoordig gode. Baie ander miljoene mense aanbid afgode van die hart – denkbeeldige gode wat hulle in hulle eie denke as gode aangeneem het.
Volgens vooruitskattings van Pew Research is daar ongeveer 2,4 miljard christene in naam wêreldwyd, 1,9 miljard Moslems, 1,2 miljard Hindoes en honderde miljoene mense in ander gevestigde godsdienste (“Religious Composition by Country, 2010-2050,” Pew Research Centre, 21 Desember 2022). Selfs binne hierdie godsdienste is daar kwalik eenvormigheid. Daar is groot en kleiner verdeeldheid binne Islam en Judaïsme. Dit is egter binne die belydende Christendom waar die grootste verwarring heers. Daar is nie eers ooreenstemming oor hoeveel “Christelike” denominasies daar is nie! Volgens die Bybel is God egter nie die Skepper van wanorde nie! Hoe het ons dan by sulke wanorde uitgekom?
Van die begin af het die mensdom geweier om God se heerskappy oor Sy skepping te aanvaar. Adam is die keuse gegee om sy Skepper te vertrou of homself te vertrou om reg en verkeerd te bepaal, maar hy het laasgenoemde gekies en ons het daardie voorbeeld gevolg regdeur die menslike geskiedenis. Die Bybel boekstaaf die mensdom se selfvertroue en die gevolge daarvan. Rigters is byvoorbeeld een van die bloedigste boeke in die Bybel en die laaste vers beskryf die oorkoepelende probleem: Wanneer daar geen oorheersende gesag is nie, doen elkeen net wat hy wil. “In dié dae was daar geen koning (geen sentrale gesag) in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25).
God, is natuurlik die ware Koning, maar Hy is die laaste gesag aan wie die mens gewillig is om homself te onderwerp. Soos Paulus in Romeine 8:7 verduidelik: “... omdat wat die vlees bedink vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” Die natuurlike mens, met inbegrip van die persoon wat beweer dat hy Christus volg, verwerp God se gesag oor sy lewe. Daarom is die eerste teken wat Jesus met betrekking tot die einde van die eeu gegee het, dié van valse Christenskap (Matthéüs 24:3-4). “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (vers 5). Daar sal diegene wees wat in Sy Naam kom – wat aanspraak maak op Sy gesag – wat sal erken dat Jesus die Christus is, maar baie mense sal mislei word deur hulle boodskap.
Geestelike verwarring
Al hierdie teenstrydige idees oor God en wat Hy van ons verwag, kan nie reg wees nie, alhoewel sommige mense hulleself mislei deur wel so te dink. Net soos fisiese rommel sy tol van die individu eis, so eis geestelike wanorde sy tol van die mensdom, wat spanning, verwarring, oorloë en lewens wat kortgeknip word, verlies meebring. Wanneer God ons opdrag gee om Hom nie te aanbid soos wat die heidene dit doen nie (Deuteronómium 12:29-32), redeneer mense: “Solank ons een dag uit sewe dae hou, maak dit nie saak wátter dag ons hou nie” of “solank ons dit vir Jesus doen, is dit reg dat ons ’n ‘Christelike’ heilige dag vier wat na ’n heidense vrugbaarheidsgodin vernoem is”. Daar is nog ’n menigte ander redenasies deur diegene wat probeer om duidelike leerstellings wat in die Skrif gevind word, te omseil.
Die Bybel gebruik dikwels ’n vrou om ’n kerk te simboliseer (Efésiërs 5:31-32) en daar word na God se Kerk verwys as ’n rein maagd en die bruid van Christus (2 Korinthiërs 11:2; Openbaring 19:7-9). Openbaring 17 stel ons egter bekend aan ’n heel ander soort vrou – ’n gevalle vrou waarna verwys word as die “groot hoer”. Daar word gesien hoe sy op ’n dier ry wat sewe koppe en tien horings het. Haar kleure is rooi en pers (vers 4), sy is verantwoordelik vir die doodmaak van die ware dienaars van God (vers 6), sy bestaan onder “volke en menigtes en nasies en tale” (vers 15) en sy is sinoniem met “die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (vers 18). Asof dit nie genoeg is om haar te identifiseer nie, het sy ook ’n naam wat op haar voorkop geskryf staan: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:1-5).
Die naam Babilon kom van die stad Babel, waar die opstandige mensdom selfs vir God probeer uitdaag het en in reaksie daarop het Hy hulle tale verwar om hulle rebellie te onderdruk en sodoende is veroorsaak dat hulle regoor die aarde verstrooi is (Génesis 11:1-9). Babel was ook waar Nimrod regeer het en waar hy ’n geheimsinnige godsdiens begin het. Dit is waar bogenoemde titel vandaan kom. Let verder mooi op dat hierdie gevalle vrou ’n moederkerk is – ’n “moeder van die hoere”. Dink aan wat dit beteken! Sy het dogters wat uit haar voortgespruit het. Hoe verstommend is dit dat sommige mense die groot hoer kan identifiseer, maar nie besef wie haar dogters is nie – en hoe hulle sélf met een van daardie dogters geassosieer kan word!
Daarteenoor is die ware Kerk van God nie ’n groot, wêreldveranderende organisasie nie, maar ’n klein (Lukas 12:32) en vervolgde Kerk. Die nag waartydens Jesus in hegtenis geneem is om die volgende oggend gekruisig te word, het Hy sy dissipels gewaarsku: “Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar” (Johannes 15:20). Christus sê ook vir ons: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matthéüs 7:13-14).
Die dag sal kom wanneer Jesus Christus dramaties in wêreldsake sal ingryp, wanneer Hy die wanorde, die verwarring en die chaos van godsdiens, politiek en twis tussen bure en nasies sal tot niet sal maak. Dit is die boodskap wat ons by die Wêreld van Môre verkondig!


