Die geheim van die “Verlore Tien Stamme” van Israel het vir eeue  mense se nuuskierigheid geprikkel. Wie is hulle? Waar is hulle? Selfs Amerika se President Thomas Jefferson het in sy opdragte aan die Lewis en Clark ekspedisie, die navorsers gevra om te kyk vir ooreenkomste tussen die verlore stamme en die Amerikaanse Indiane van die Groot Vlaktes. Sindikaatskrywer Charles Krauthammer vertel hierdie storie in ’n rubriek wat die 60ste jaar van die staat van Israel herdenk het dat Lewis en Clark nie die verlore stamme onder die Indiane gevind het nie. Hy voeg dan die algemene siening oor die onderwerp by: “Hulle is nêrens nie” (Washington Post, 16 Mei 2008). Krauthammer, soos baie ander, neem aan dat die “Verlore Tien Stamme” eenvoudig in die mis van die geskiedenis verdwyn het.
            
’n Paar maande later het nuusberigte melding gemaak van die Bnei Menasche – ’n groep mense wat in Indië woon en en masse na Israel wil immigreer. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle “afstam van die verlore stam van Manasse, een van die tien stamme wat meer as 27 eeue gelede deur die Assiriese Ryk uit die land van Israel verban is”. Die Bnei Menasche hou die Sabbat, die kosjer dieet-wette en aanbid in sinagoges (New Jersey Jewish Standard, 13 Augustus 2008).  
            
Oor die jare heen was daar  berigte van ander beweerde oorblyfsels van die “Verlore Tien Stamme” in afgeleë dele van die wêreld. Die meeste geleerdes beskou deesdae hierdie berigte as mites en verwys neerhalend na wat hulle beskou as ’n gebrek aan betroubare bewyse dat hierdie stamme vandag bestaan. Wat van die idee dat die volke van Westelike Europa en die Britse Eilande deel is van die Verlore Tien Stamme? Professor Tudor Parfitt van die Universiteit van Londen sê die idee is “nie geseënd met selfs ’n sweempie van bewyse nie” en weerspieël die “onkunde” van “swak opgeleide volgelinge van die beweging” (The Lost Tribes of Israel: The History of a Myth, bll. 53, 62).    
            
Die sienswyse van Professor Parfitt en sy kollegas sien egter belangrike Bybelse leidrade oor die hoof, en ignoreer heelwat historiese bewyse wat dit wel moontlik maak om die identiteit en ligging van die hedendaagse woongebiede van die stamme van Israel vas te stel. Dit lyk of min mense verstaan dat dosyne profesieë wat verband hou met hierdie belangrike onderwerp, vandag besig is om gestalte aan te neem!

Nie werklik verlore nie!

Alhoewel baie moderne geleerdes tred verloor het met die Israelitiese stamme, het die identiteit en ligging van die stamme van Israel nie werklik verlore geraak nie! Jesus het aan Sy dissipels gesê om “na die verlore skape van die huis van Israel” te gaan (Mattheüs 10:6). Die “huis van Israel” verwys na al twaalf stamme van Israel, wat van die twaalf seuns van Jakob afstam (Genesis 35:23-26). Beide die Bybel en die geskiedenis wys dat Christus se dissipels hulle missie uitgevoer het. Jakobus rig sy sendbrief aan “die twaalf stamme wat in die verstrooiing is” (Jakobus 1:1). Josephus, ’n Jood wat in die eerste eeu n.C. geskryf het, boekstaaf: “die tien stamme is anderkant die Eufraat tot vandag toe, en is ’n baie groot menigte” (Antiquities of the Jews, 11:5:2). Die frase “anderkant die Eufraat” openbaar dat die tien stamme in Parthië was – ’n gebied suid van die Kaspiese see – waarheen die Israeliete eeue tevore in ballingskap weggevoer is. Professor George Rawlinson van Oxford, skryf dat die Parthers deel was van die Skithiërs, hulle naam “Parthers” beteken “bannelinge”; en dat hulle onder die heerskappy van die Assiriërs en die Meders was (The Sixth Great Oriental Monarchy, bll. 19, 26) – ’n beskrywing wat die Israeliete pas! Parthers het Petrus in Jerusalem hoor praat op Pinksterdag (Handelinge 2:9). Die vroeëre kerk se geskiedskrywer, Eusebius (263-339 n.C.) vertel dat Christus se dissipel Andréas na Skithië gegaan het, en dat Thomas na Parthië gegaan het (The History of the Church, 3:1:1). Vroeëre oorlewering verbind Bartholomeus en Filippus ook met hierdie selfde gebiede – wat wys dat die Apostels [destyds] geweet het waar die Israelitiese stamme hulle bevind.
            
Geskiedskrywers verbind die Skithiërs met ’n nasie genaamd Sacae. In sy vertaling van Herodotus se The Histories, verbind Rawlinson die Sacae – wat vermeld word in inskripsies op die Behistun Rots in noordwes Iran,  wat in opdrag van Darius in ongeveer 500 v.C. aangebring is – “met die Bit-Khumri van Samaria, of die Tien Stamme van die Huis van Israel” (bl. 378). In die Apokriewe boek, 2 Esdras, word vermeld dat (na die val van die Asiriese Ryk) “die tien stamme ... onder mekaar beraadslaag [het] om ... na ’n verder land te gaan ... En hulle het in die Eufraat ingegaan deur die smal deurgange van die rivier” (2 Esdras 13:40-45) – hulle het noordwaarts koers gekies deur die bergpasse na die Krim. ’n Londense geskiedskrywer van die negentiende eeu, Sharon Turner, skryf: “Die trekkende Skithiërs het die Araxes oorgesteek [’n rivier tussen die Swart- en Kaspiese see], het Asië verlaat, die Kimriane [Krim] binnegeval, en in die sewende eeu voor die Christelike era, skielik in Europa verskyn” (The History of the Anglo-Saxons, vol. 1, bl. 98). Turner beskryf ook hoe die Skithiërs en ’n verwante nasie, die Kimriane (Kimbri of Kumri of Cymri), uiteindelik Brittanje bereik het, en “die Wallisers, wat hulle nasate is, het hulleself altyd ‘Cymry’ genoem” (ibid., bl. 34) – daardie naam is selfs vandag nog op hulle poskaarte!

Kritici is nie oortuig nie; Professor Parfitt sê die idee dat die Verlore Tien Stamme te vinde is onder die Amerikaanse, Britse en die Anglo-Saksiese-Keltiese volke wat van noordwes Europa kom, is “vreemd” en maak nie “in die minste sin” in terme van geskiedenis nie (Parfitt, bll. 53, 64). Hy beweer verder dat sommige van die vroegste “uitlatings oor ’n versinde Israelitiese afstamming van die Britte” kom van individue met twyfelagtige reputasie en geleerdheid in die 1600’s en 1700’s (The Lost Tribes of Israel, bll. 41-61). Hierdie persepsie ignoreer egter eenvoudig belangrike feite van geskiedenis. Byvoorbeeld, die Deklarasie van Arbroath in 1320 n.C. – die Skotse “Deklarasie van Onafhanklikheid” – verklaar dat die Skotte se voorsate in ongeveer 500 n.C. van Skithië deur Spanje gekom het – ongeveer 1,200 jaar na die Assiriese oorname van Samaria in 721 v.C. (verwys The Story of Celto-Saxon Israel, Bennett, bll. 96-99). Gildas, ’n Brit wat in die vroeë 500’s n.C. geskryf het, beskryf die Anglo-Saksiese inval as God se straf oor “hierdie [mense] Sy Israeliete” – die Britte (De Excidio Britanniae). Die vroeë annale van Ierland noem sommige van die Smarag Eiland se eerste inwoners die “Tuatha de Danann” (The Story of the Irish Race, MacManus, bll. 2-6; The Flowering of Ireland, Scherman, bll. 51-55), wat maklik vertaal word as “stam van Dan” – een van die stamme van Israel. Die Tuatha de Danann van Ierland blyk dieselfde mense te wees as die Danoi van Griekeland, wat volgens plaaslike legendes ongeveer 1500 v.C. van Egipte af gekom het – omtrent die tyd van die Israeliete se eksodus. Een van die karaktereienskappe van die stam van Dan was om plekke waar hulle gevestig het of deurgereis het, se name te verander (Josua 19:40-48; Rigters 18:11-12, 26-29). Die Daniete was seevarende mense (Rigters 5:17) en dit is voorspel dat hulle hul merk in plekname sou laat: Ciprus was  die Ia-Dnan (Eiland van Dan) genoem, die Donau, die Dardanelles, Danzig en Denemarke (sien Bennett, bll. 76-79).

Bykomend het ons bewyse wat die Vatikaan se bibliotekaris Kardinaal Baroneous en Aartsbiskop Ussher van Ierland – een van die grootste geleerdes van sy dag – in die 17de eeu voorgelê het dat die Apostels Jakobus, Paulus, Simon Petrus, Simon die Yweraar, saam met Josef van Arimathéa, die evangelie in die Britse Eilande verkondig het (sien The Whole Works of James Ussher, vol. 5, hfst. 1). Dit gee verdere geloofwaardigheid aan die begrip dat die Apostels Jesus se opdrag wel uitgevoer het deur “na die verlore skape van die huis van Israel te gaan”.

Profetiese betekenis

Hoekom is dit egter vandag belangrik om kennis te dra van die identiteit van die stamme van Israel en waar hulle hul tans bevind? Bybelse profesieë boekstaaf karaktereienskappe van die stamme van Israel wat opvallend en duidelik sal word “aan die einde van die dae” (Genesis 49:1). Moses het voorspel dat die nakomelinge van die Israeliete heeltemal korrup sal word en moeilike tye in die gesig sal staar “aan die einde van die dae” (Deuteronomium 4:27-30; 28:26-29). Jeremia waarsku dat ’n tydperk van beproewing en straf vir sondige Israelitiese nasies voorlê, wat hy ’n tyd van “benoudheid vir Jakob ” noem (Jeremia 30:1-15).  God se dienaars het ’n plig om Sy mense te waarsku teen gevare wat voorlê (Jesaja 58:1; Amos 3:7). Kennis van wie die hedendaagse Israelitiese nasies is en waar hulle hul bevind, is ’n sleutel om Bybelse profesieë oor hulle toekoms te verstaan, en sal ons help om ons boodskap te teiken namate hierdie profesieë vandag gestalte begin  aanneem