Aan die oorkant van die pad waar ek in Suidwes Engeland, woon, word sowat 40 nuwe huise gebou. Vir die grootste gedeelte van die afgelope jaar was dit ’n gewoel en ’n gewerskaf soos die werksmense hard moes swoeg om die werk klaar te kry. Nou nie meer nie. Die bouterrein is nou onheilspellend stil. Die maatskappy wat hierdie huise bou, se kontant het opgedroog.

Hierdie nasionale boumaatskappy het boedel oorgegee met skuld wat £60 miljoen beloop, en die werk van byna 4,000 werknemers is in die weegskaal. Meer as die helfte van die maatskappy se werk is afkomstig uit die openbare sektor wat nou merkbaar terugsnoei as gevolg van die Koalisie Regering se pogings om openbare besteding aan bande te lê.

Geldelike ellende

Wat op ons drumpel gebeur het, is slegs een voorbeeld van ’n veel groter finansiële depressie. Die Verenigde Koninkryk, vasgeval in ’n diep resessie en oorweldig deur sy eie skuld, verkeer in groot nood. Die hele probleem het in 2007 begin met ’n ineenstorting van die behuisingsmark, weens ’n spekulatiewe oorskot. Sedertdien het baie mense hul huise verloor en baie besighede het gefaal.

Die bedrae genoem in nuusopskrifte is werklik skokkend. Die nasionale skuld beloop £960 miljard (68 persent van die BBP) en is vinnig besig om te styg. Vir die 5-jaar leeftyd van die huidige parlement, sal slegs die rente op die VK se skuld meer as £263 miljard bedra en – ten spyte van die plan om die algehele skuld te verminder met ’n halwe biljoen pond – sal die nasionale skuld in 2015 nog steeds 70 persent van die BBP bedra. Mens wonder of sulke groot skulde ooit terugbetaal kan word.

In sy strategie om skuld te verminder, het die regering homself verbind tot streng finansiële besparing – om belasting te verhoog en uitgawes in te kort, wat gesamentlik voorspel dat moeilike tye kom: ’n Skerp styging in werkloosheid, verminderde welsynstoelaes, daling in lewenstandaarde, en eindelose moontlikhede vir maatskaplike onrus. Pogings om die ekonomie te stimuleer sluit in verlaging van rentekoerse tot byna zero – maar, hoewel dit help met die koste van lenings, verminder dit ook die waarde van pensioene en spaargeld. Die regering het vir baie miljarde ponde borg gestaan vir banke, en sowat £200 [±R2,200] miljard “ex nihilo” (gerugsteun deur niks) note gedruk – ’n strategie wat Kwantitatiewe Verligting (KV) genoem word – in ’n poging om die regering se skuld te absorbeer en die banke te oorreed om weer geld aan besighede uit te leen (“The world economy: Desperate measures”, The Guardian, 5 November 2010). Baie banke weier egter hardnekkig om geld uit te leen aan diegene wat dit die nodigste het. Belangrike gedeeltes van die ekonomie bly vasgeval in ’n windstilte streek, dus word meer KV beplan vir die komende jaar, sou dit nodig wees.

Met al hierdie nuwe geld wat in die stelsel rondskommel, is party mense bevrees dat dit die vure van inflasie sal aanwakker. Andere vrees weer die teenoorgestelde – dat al die besparings en ekstra belasting die aanvraag sal smoor en die ekonomie weer sal terugdruk in ’n resessie. Sommige ekonome en kommentators betwyfel die effektiwiteit van KV ernstig en meen dat dit sake net erger kan maak, terwyl andere weer beweer dat al hierdie maatreëls onredelik is en net sal help verseker dat die kapitalistiese stelsel ’n meer skouspelagtige ineenstorting in die toekoms sal ervaar.

Moeilike en gevaarlike tye

Die president van die Bank van Engeland, Mervyn King, het die erns van die probleem erken. Gedurende sy toespraak op die vooraand van November 2010 se G20 beraad, wat ministers van finansies en sentrale banke se presidente van 20 van die wêreld se kragtigste ekonomië byeengebring het, het hy ’n ernstige waarskuwing gerig: “Nasies moet ’n manier bedink om handelstekorte te laat krimp en surplusse te verminder, of hulle sal in die toekoms te kampe hê met meer ‘moeilike en gevaarlike’ tye. ‘Ons verkeer inderdaad in ’n posisie dat ons nou moet demonstreer dat elke land vasberade is om saam te werk om ’n gesamentlike oplossing vir hierdie wanbalanse te verkry ... Indien ons dit nie doen nie, dan vrees ek dat die volgende 12 maande selfs nog ’n moeiliker en gevaarliker periode sal wees as die een waardeur ons is” (“Mervyn King urges G20 leaders to agree over trade row”. London Daily Telegraph, 11 November 2010). Hy het gewaarsku dat die Britse verbruikers oor die volgende maande ’n skerp styging in lewenskoste kan verwag.

Brittanje is natuurlik ook finansieel verbind aan ander nasies van die Europese Unie, soos Ierland – tot in ’n mindere mate ook Spanje, Portugal, Griekeland en Italië, wat selfs slegter daaraan toe is. Hierdie probleme veroorsaak dat waarnemers dit toenemend bevraagteken of die EU in sy huidige vorm sal kan oorleef. Dit is ook nie net die EU wat swaarkry nie; op die een of ander manier word feitlik alle nasies betrek in ’n wêreldwye ekonomiese krisis wat gepaard gaan met streng finansiële besparings en pyn.

Verder is dit kommerwekkend om te besef dat hierdie massiewe wêreldwye resessie vermy kon gewees het. ’n Enkele paar vêrsiende ekonome het dit sien kom. Fred Harrison wat sy opleiding aan Oxford gedoen het, was bespot as ’n “Doemprofeet” in die vroeëre jare van hierdie eeu, maar word nou wêreldwyd gekrediteer vir sy voorspelling – so vroeg as 1997 – van die ekonomiese oplewing en ineenstorting; wat eers die “behuising-seepbel” opgelewer het en daarna die ineenstorting van die finansiële markte. Harrison en die paar ander mense wie soortgelyke waarskuwings gerig het, was egter verontagsaam.

Die Bybelse vooruitsig was ook verontagsaam. Jarelange lesers van Tomorrow’s World/Die Wêreld van Môre, weet dat die Bybel noodsaaklike maatreëls identifiseer (sien Levitikus 25) wat baie sal help om oplossings te vind vir die herhalende siklus van ekonomiese oplewing en ineenstorting van moderne kapitalisme. Hierdie maatreëls hou veral verband met grond, minderbevoorregtes – asook met die probleem van skuld.

Die jaar van vryskelding

God het vir Sy volk ’n stelsel verorden waarvolgens al die families in staat sou wees om grond te besit en om dit te behou oor die geslagte heen. Dit stel streng beperkings in plek teen spekulasie met grond. Hoe? In antieke Israel was elke 50ste jaar aangewys as ’n jubeljaar – waartydens mense kon terugkeer na hul eiendom en familie (Levitikus 25:10-13, 39-43, 47-55) en alle skuld kwytgeskeld moes word (verse 23-28, 31-34). Volgens hierdie stelsel kon mense, indien hulle in die moeilikheid raak, nie deur hul meer gegoede bure uitgebuit word nie, maar die meer gegoede bure het ’n verpligting gehad om hulp te verleen en om nie voordeel te trek uit ander se ellende nie (verse 35-38).

Tragedies kon egter wel ’n gesin oorval. Selfs wanneer eiendom verkoop moes word, of as ’n werker iemand se slaaf moes word, het God se insettinge die reg voorbehou om af te koop wat verlore gegaan het, op ’n pro-rata kosteberekening, gebaseer op die oorblywende tyd voor die volgende jubeljaar (verse 50-52). Selfs wanneer aflossing nie moontlik was nie, sou die grond uiteindelik weer in die jubeljaar terugval na die eienaar daarvan.

In teenstelling daarmee is skuld, volgens ons huidige stelsel, geneig om groter te word as die vermoë om terug te betaal, sodat wanneer mense eers in die skuld is, hulle hulself dikwels in ’n bose kringloop bevind waarin hulle skuld net groter word, terwyl hulle toenemend minder in staat is om die hulpbronne te bekom om die skuld terug te betaal. Baie werkers slyt hul lewe as weinig meer as “loonslawe” – nooit in staat om met waardigheid vir hul gesinne voorsiening te maak nie, vir ewig een salaristjek weg van totale ondergang.

’n Tyd sal spoedig aanbreek wanneer Jesus Christus weer na hierdie aarde sal terugkeer om die Koninkryk van God te vestig. Tydens daardie tyd, sal al die nasies uiteindelik die seëninge ervaar wat volg wanneer gelewe word volgens God se mensliewende en praktiese insettinge. Ten spyte van periodieke oproepe om aflossing van skuld, is die moontlikheid dat enige huidige regering die beginsel van die jubeljaar sal toepas, baie gering (“Time for a Jubilee”, The Guardian, 23 April 2009). In die ekonomie, soos in baie ander sfere van die lewe, is ons samelewing besig om die beginsels wat God vir ons beswil ingestel het, stelselmatig te verontagsaam en te ignoreer. Die gevolge – soos die VK dit nou eerstehands ondervind – is uiteindelik, onvermydelik, ’n krisis. Mag God die dag van Christus se wederkoms om Sy duisendjarige vrederyk te vestig bespoedig en die dae van strenge finansiële besparings en swaarkry verby sal wees.