Beïnvloed die wêreld van okkultisme ons jeug en ons hele samelewing toenemend? Is die duiwel werklik, en indien wel, hoe mislei hy die mensdom?


Die jeugkultuur raak toenemend meer betrokke by die okkulte. Heksery word geromantiseer soos kinders saamkloek vir elke nuwe Harry Potter-boek en tieners hul televisie inskakel op “Buffy, the Vampire Slayer”. Tienermusiek verheerlik dikwels die duiwel en gewapende hoërskoolleerlinge het selfs in sy naam moord gepleeg.

In sommige intellektuele kringe is dit nie meer in die mode om te glo dat die duiwel bestaan nie, terselfdertyd vind baie andersins intelligente mense dit avontuurlustig en opwindend om te probeer om die duistere wêreld te kontak. Wat sê die Bybel oor hierdie baie belangrike onderwerp? Indien daar ’n wêreld van demone en ’n werklike duiwel bestaan, moet u weet hoe om sodanige invloed te weerstaan en te oorwin.

U Bybel verduidelik waarom daar so baie probleme en boosheid in die wêreld is. Ons lees in Openbaring: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Hier beskryf u Bybel ’n kragtige geesteswese, genoem die duiwel en Satan, as ’n “groot draak” en “die ou slang” en ons kom die ongelooflike waarheid te wete wat so min mense vandag glo – dat hy die hele wêreld verlei het.

Hoe het hy dit gedoen? Christene moet sy strategieë en taktiek leer ken. Maar eers moet ons verstaan hoe hy ontstaan het. Het God die duiwel geskep?

Twee hoofstukke in die Bybel, Jesaja 14 en Esegiël 28, beskryf Satan se ontstaan. Jesaja profeteer van ’n eindtydse koning van Babilon wat ’n herrese Romeinse Ryk sal regeer (beskryf in Openbaring 13, 17 en 18), maar die sinnebeeld, die menslike koning wat genoem word, gaan oor in ’n teenbeeld, Satan die duiwel, wat ook Lucifer genoem word. “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jesaja 14:12-14).

Lucifer is neergevel na die aarde. Hy het toegelaat dat ydelheid en gierigheid rebellie teen God aanwakker. Hy wou God van Sy troon ontneem, maar hy het misluk en het steeds sy troon op die aarde. Die naam Lucifer is ’n Latynse woord, vertaal as “môrester”. Jesus sê: “Ek het die Satan soos ’n bliksem uit die hemel sien val” (Lukas 10:18). Lucifer, die ligbringer, het die bringer van donkerte geword.

Die apostel Paulus verduidelik dat baie mense verblind is vir die ware evangelie en die waarheid van die Bybel. “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korintiërs 4:3-4). Let daarop dat Lucifer nadat hy neergevel is en Satan geword het, “die god van hierdie wêreld” geword het.

God het nie die duiwel geskape nie, maar hy het al die engele geskape. Hy het drie gerubs of aartsengele geskep, naamlik Lucifer, Migael en Gabriël (die gerub Migael word in Judas 9 ’n aartsengel genoem), en elk van hulle het blykbaar een derde van die engele gelei. Ons lees dat die draak, Satan, na die aarde neergewerp is met een derde van die engele. “En ’n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi” (Openbaring 12:3-4). Soos in ander artikels al beskryf is, is sterre ’n simbool vir engele (vergelyk Openbaring 1:20). Een derde van die engele het Satan gevolg en demone geword.

Esegiël 28 – Sinnebeeld en teenbeeld

Die profeet Esegiël beskryf Lucifer se oorspronklike verantwoordelikhede en gevolglike ondergang. Net soos in Jesaja 14, sien ons weereens die sinnebeeld en die teenbeeld. Die Koning van Tirus is die sinnebeeld en die gerub wat Satan geword het, is die teenbeeld. “Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here Here: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was ’n gerub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ’n heilige berg; ’n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en EK het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gerub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien” (Esegiël 28:12-17).

Lucifer was ’n geskape wese met verantwoordelikhede oor die aarde lank voor mensewesens geskep is. Hy het die vrye keuse gehad om te gehoorsaam al dan nie, net soos wat mense die mag het om reg of verkeerd te kies, maar Lucifer het gerebelleer – hy het geweier om die wil en regering van God uit te voer. Soos Esegiël skryf: “Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is”.

So sien ons dus dat God Satan, die duiwel, nie geskep het nie. Hy het die gerub of aartsengel, Lucifer, geskep wat God se regering verwerp het en sy karakter as ’n bose, sondige wese afgesluit het en in rebellie homself in Satan die duiwel verander het.

Adam is die geleentheid gebied om Satan as heerser van hierdie wêreld te vervang, maar Adam en Eva het oorgegee aan die versoeking en het gesondig. Let daarop dat Sataneerste gesondig en geval het. Adam en Eva en elke mens behalwe Jesus Christus – Immanuël, God in die vlees – het gesondig. Die Bybel vertel ons: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23).

’n Tweede Adam, Jesus Christus, moes die duiwel weerstaan en hom oorwin. Die Bybel vertel ons nadat Jesus 40 dae lank gevas het, hy fisies verswak was, maar steeds met die duiwel ’n stryd kon voer met behulp van skrifture. Jesus weier om Satan te gehoorsaam en gee hom uiteindelik ’n opdrag: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheus 4:10).

Jesus het bewys dat Hy nie sou ingee teen die duiwel nie. Jesus is in alle opsigte soos ons versoek, maar sonder sonde (vergelyk Hebreërs 4:15). Hy het bewys dat Hy die karakter en regverdigheid het om die aarde te regeer. Wanneer Jesus as Koning van konings terugkeer, sal Hy Satan as vors van hierdie aarde vervang en hom vir 1,000 jaar verban. Maar tot dan sal Satan voortgaan om die hele wêreld te mislei. Mislei hy u dalk?

’n Engel van die lig?

Een van Satan se grootste misleidings, is die vals mening dat hy nie bestaan nie. Tog neem baie mense deel in okkulte godsdienste wat Satan, sy demone of ’n verskynsel van boosheid openlik aanbid. Sommige hekse en towenaars beoefen dodelike rituele, selfs menslike offerandes. Maar God het Israel van ouds gewaarsku om al hierdie vorme van heidensheid en Satanisme te verwerp. “As jy kom in die land wat die Here jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan – wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ’n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die Here jou God hulle voor jou uit. Opreg moet jy wees met die Here jou God. Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die Here jou God het jou nie so iets toegelaat nie” (Deuteronomium 18:9-14).

God waarsku ons om okkultiese praktyke en heidensheid te verwerp. Tog word hierdie praktyke toenemend meer algemeen, selfs aanvaarbaar, in die samelewing. ’n Geskatte 50 000 mense in Amerika alleen, beoefen “Wikka”, ’n vorm van veelgode natuuraanbidding wat so goed gevestig is dat die Amerikaanse Weermag se kapelaanskantoor nou pastorale dienste aan millitêre Wikkane bied (“Witchcraft Gets Army’s Blessing”Chicago Tribune, 18 Junie 1999). ’n Bemarkingsbestuurder van bekende boekverkoper Barnes and Nobel het onlangs geskat dat hulle ’n Amerikaanse “heidense” koperstal van 10 miljoen het. Sommige moordenaars wat nog in die hoërskool is, word selfs deur die okkulte godsdiens beïnvloed. Ja, een van Satan se grootste misleidings is deur godsdiens self! Die apostel Paulus onthul hierdie taktiek en wys uit dat Satan hom nie altyd soos ’n slang of draak voordoen nie, maar hom as ’n engel van die lig sal vermom! “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korintiërs 11:13-15).

Satan, die vors van donker, kan hom as ’n engel van die lig voordoen, nie net as die stereotipiese donker mag van okkulte aanbidding nie. Die apostel Paulus waarsku dat Satan sy eie leraars het wat as dienaars van geregtigheid voorkom. Dit is waarom ons u uitdaag om ons nie net te glo omdat ons die een of ander waarheid aanvoer nie. Ons pleit by u om na u Bybel te gaan vir die waarheid. Onthou u die Bereane van Handelinge 17:11? Lukas skryf dat hulle “elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was”. Ons almal het nodig om dit doen!

Sommige geestelikes mag opreg wees, maar opreg mislei. Sommige predikante preek dat u nie nodig het om die Tien Gebooie te onderhou nie; hulle stel gehoorsaamheid aan God se wet verkeerdelik gelyk aan verlossing deur werke! Maar indien enige predikant vir u sê dat u God nie hoef te gehoorsaam nie, vra hom of hy rebellie teen God goedpraat. Die apostel Petrus skryf: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Petrus 4:17).

Die apostel Paulus waarsku ook diegene wat God se waarheid verontagsaam. “Maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is – grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek” (Romeine 2:8-9). Die Bybel onderrig duidelik gehoorsaamheid aan die waarheid, die evangelie, die Tien Gebooie en aan God se geregtigheid. Valse godsdiens is een van Satan se misleidings. Hy doen hom voor as ’n engel van die lig, maar lei miljoene mense weg van die ware lig van die Bybel.

Satan konsentreer op ons swakhede

Die duiwel wil ook munt slaan uit ons menslike natuur wat reeds vol ydelheid, selfsug, gierigheid, jaloesie, nyd en wellus is! Daar is ’n bose invloed wat, soos die apostel Paulus dit stel “nou in die kinders van ongehoorsaamheid werk”. Paulus skryf van ons verlossing, deur Christus, van ons vorige deelname in die wellus van die menslike natuur “En julle het Hy lewend gemaak wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Efesiërs 2:1-3).

Ons moet in ons eie natuur ons menslike swakheid en neiging tot sonde herken. Dit is waarom ons ’n lewende Verlosser nodig het, om ons te bevry van ons vorige sondes en om ons die krag te gee om die invloed van die wêreld, Satan en ons eie menslike natuur te oorwin!

Sommige Christene stry teen hul onbeheerste woede. Sommige mense wat te na gekom is laat hul gevoelens in bitterheid, kwaadwilligheid, woede, vyandigheid en haat omskakel. Ons moet kwaad word vir boosheid en Satan se doen en late, maar ons moet nooit ’n ander mens haat nie. Ons moet hul goddelose optrede en gesindheid verafsku, maar selfs ons vyande liefhê, soos Jesus in Mattheus 5:44 leer.

Wees gewaarsku. Satan kan u beheer, indien u nie u woede beheer nie. “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efesiërs 4:26-27). Onbeheerste woede kan lei tot sataniese bitterheid en enigiemand wat hom deur woede laat verteer kan in die poel van vuur eindig. Moenie toelaat dat Satan u onderkry nie. Leer om in vrede met andere te leef. Ons lees: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:14-15).

Selfs baie Christene staar probleme en spanning in die gesig as gevolg van seerkry en misbruik in die verlede. Hulle laat toe dat ’n wortel van bitterheid by hulle posvat. Hulle wil aan die pyn van die verlede vasklou en selfs die een of ander verbeelde wraak koester. Maar wat sê God? “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). God sal uiteindelik alle onbekeerde sondaars regverdig oordeel en straf oplê. Maar Christene moet leer om te vergewe! Jesus onderrig ons in die modelgebed om God te vra om ons “sondes te vergewe, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mattheus 6:12). Bid u op hierdie wyse? Bid vir u vyande. Leer om uself los te maak van die verlede en te vergewe. U sal Satan in die wiele ry en u sal nie toegee tot sy gesindheid van kwaadwilligheid en wraak nie!

Satan se noodlot – en Christene se oorwinning!

Ons het ’n paar van die duiwel se strategieë gesien en ook hoe om sy misleidings te vermy. Besef dat Satan se noodlot reeds vasgestel is. Met die laaste oordeel sal al die goddeloses in die poel van vuur verteer word. Satan en sy demone sal ook in die poel van vuur gewerp word. “Dan sal Hy ook vir dié aan Sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Mattheus 25:41).

Ons sien uit na die dag wanneer alle boosheid van hierdie aarde verban sal wees. Ons bid: “Laat U koninkryk kom!” Tot dan sal Satan en sy demone voortgaan om, wie hulle ook al kan, aan te val en te mislei. Wat kan u doen om hierdie bose mag te oorwin? Christene moet die invloed van die wêreld, die mag van Satan en sy demone, asook hul eie menslike natuur oorwin.

Eerstens moet ons ’n innige verhouding met God en Christus hê. God sal ons teen alle boosheid beskerm. Die modelgebed in Mattheus 6 onderrig ons om te bid: “En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose. Want aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid. Amen.” God sal u van die bose een beskerm en red, mits u hom vra – mits u die Koninkryk van God kies en die koninkryk van Satan verwerp. Soos Hy die apostel Jakobus geïnspireer het om te skryf: “Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:6-8).

Hierdie is twee sleutelpunte om te onthou in ons stryd teen Satan. God het hierdie beloftes gemaak. U hoef nie toe te gee aan neerdrukkende invloede en gevoelens nie. Moenie swig voor die versoekings wat Satan na u kant toe gooi nie! Weerstaan! En beweeg nader aan God. Gaan op u knieë en bid tot u Vader in die hemel. Bestudeer die Bybel, God se Woord en volg die instruksies wat daarin vervat word. Toe Jesus Satan se versoekings trotseer het, het Hy die duiwel beveg deur die Bybel aan te haal. Jesus het hierdie teksverse as wapens gebruik. U het hulle ook nodig!

Die apostel Paulus vertel ons om geestelik gewapen te wees. “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efesiërs 6:10-13).

U het die volle wapenrusting van God nodig. Indien u met hierdie wapenrusting toegerus is, kan u die stryd wen. Satan stry vir u verstand, u karakter en u gees, maar met God aan u kant, kan u hom oorwin. Ken u vyand. Ken sy strategieë. Soos die apostel Paulus skryf, “ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Korintiërs 2:11).

Kan u die duiwel werklik oorwin? Ja, u kan, indien u die swaard van die Gees – die Woord van God – gebruik en volgens daardie woord leef. Toe Jesus Satan weerstaan het, sê Hy: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Die krag van God se Woord in u kan Satan oorwin. Die apostel Johannes skryf: “Ek het aan julle geskrywe, jong manne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het” (1 Johannes 2:14).

God sal aan u die oorwinning deur Jesus Christus gee – u kan boosheid oorkom. En die Skeppergod sal Satan en sy demone vir ewig verban. Hulle sal deur Jesus Christus en Sy getroue dienaars vervang word in die komende Koninkryk van God.

U kan gemoedsrus hê. Handel volgens die opdragte in u Bybel, en met die hulp van u Verlosser, kan ook ú Satan oorwin.