Namate die samelewing virtueel raak, is dit belangriker as ooit om tyd te belê in van aangesig tot aangesig verhoudings.


Na ’n lang werksdag, het ek dankbaar in ’n gemakstoel gaan sit en begin om ’n koerantartikel te lees. Een van my klein dogtertjies het op my skoot geklouter en opgewonde begin om van haar dag se avonture te vertel. Ek het ingedagte gereageer, maar my oë het nooit die bladsy verlaat nie. Die volgende oomblik het sy stilgebly, my wange in haar handjies gegryp en my gesig na haar toe getrek met ’n smekende: “Pappa?

Nadat sy in my oë gekyk het, het ek gesien wat ek oomblikke tevore gemis het. Sy wou nie hê dat ek ingedagte moes luister en haar antwoord nie, sy wou van aangesig tot aangesig met my kommunikeer. Ek het daardie dag ’n waardevolle les by my dogtertjie geleer.

Die band wat ons smee deur aangesig tot aangesig interaksie is diepgaande. Wanneer ons mekaar se gesigsuitdrukkings lees, verkry ons waardevolle leidrade oor die ander se gemoedstoestand, of hulle gelukkig, hartseer, of tevrede is. Ons leer om nie-verbale tekens wat inligting oordra, te verstaan. Ons verkry inligting of ’n persoon verward, verleë of kwaad is. Ons ontdek wenke van geamuseerdheid en gedeelde humor. Ons voel aan of ’n persoon betroubaar, oop en eerlik, of terughoudend en op sy hoede is. Ons vermag dit alles deur van aangesig tot aangesig te kommunikeer.

Mense het gesigsuitdrukkings begin vertolk sedert die begin van tyd. Die Bybel vertel ons dat toe God Kain gekonfronteer het oor sy ongehoorsaamheid, het Kain sy “hoof laat hang” (Genesis 4:5). Kain se emosie was maklik om te lees – dit was oor sy gesig geskryf! Nehemia het toe hy as skinker vir koning Artasásta gedien het, nie sy hartseer vir die lot van sy mense in Jerusalem kon verberg nie. Die koning het gevra: “Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie” (Nehemia 2:2). Ons lees: “Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens” (Spreuke 27:19). Ons gesigte is die kommunikasie-skakel waardeur ons heel persoonlikste verhoudings gehandhaaf word. Aangesig tot aangesig kontak is ’n waardevolle hulpmiddel vir die bou en instandhouding van gesonde, betekenisvolle en bevredigende verhoudings.

Ongelukkig, in ons moderne wêreld, is ware aangesig tyd besig om ’n verlore kommoditeit te word. Namate elektroniese kommunikasie besig is om vinniger en goedkoper te raak, raak ware persoonlike interaksie skaarser – ons betaal die prys in verswakte en beskadigde verhoudings. ’n Onlangse studie het bevind dat oormatige gebruik van die media – veral wat hul “multi-tasking” noem – die maatskaplike en emosionele ontwikkeling van preadolessente meisies kan benadeel. Die studie het bevind dat “oormatige digitale ‘multi-tasking’ en meer tyd wat deurgebring word voor skerms, ooreenstem met swak emosionele en maatskaplike gesondheid – waaronder lae maatskaplike vertroue, om nie normaal te voel nie, om meer vriende wat deur ouers as swak invloed beskou word te hê en selfs om minder te slaap” (“Study: Face Time Benefits Teens”,Wall Street Journal, 31 Januarie 2012).

Wat is die oplossing? Volgens die studie se mede-outeur, Dr. Clifford Naas van Stanford Universiteit, lê die antwoord in eenvoudige, outydse aangesig tot aangesiggesprekke. Dr. Naas skryf: “Jy het altyd gehoor: ‘Kyk na my wanneer ek met jou praat,’ maar nou kyk almal eerder na hul toestelle ... Die heel belangrikste boodskap is dat aangesig tot aangesig kommunikasie eenvoudig uiters belangrik is en dat daar ’n dramatiese afname daarin is onder kinders en onder gesinslede” (ibid.).

Jong mense is nie die enigstes wat dit aanloklik vind om die digitale media toe te laat om aangesig tot aangesig interaksies in hul lewens te verdring nie. Volwassenes is net so kwesbaar. Baie volwassenes spandeer aansienlike hoeveelheid tyd voor ’n rekenaar, slimfoon, tablet of ander hoë-tegnologiese toestelle. Hierdie toestelle gee ons ongekende toegang tot voortdurende vermaak en oombliklike kommunikasie, hulle het ook ’n geldige plek in ons lewens (sien “Die twee gesigte van tegnologie” elders in hierdie uitgawe). Is ons egter die meesters van ons toestelle of die slawe daarvan (Romeine 6:16)? As u nie seker is nie, vra uself af of u “skeidings-angs” ervaar het die laaste keer toe u vir ’n geruime tyd weg was van u selfoon of rekenaar. Indien u nie van hulle af weg was nie, het u waarskynlik u antwoord!

Namate kommunikasie-tegnologie meer gesofistikeerd raak, word dit selfs makliker om dit te gebruik om bykans enige menslike interaksie te vermy. Ja, daar is tye wanneer ’n noukeurig geskrewe boodskap verkieslik is bo ’n stortvloed van woorde. Nogtans, in so baie van ons interaksies, is die beloning van “persoonlike aanslag” die moeite werd. In haar boek, Face to Face, stel kommunikasie konsultant Susan Roane dit so: “Wanneer ons tegnologie gebruik om menslike interaksie te vermy, mag ons tyd spaar, maar ons verloor die geleentheid om verhoudings, vertroue en kontak te bou, asook die onverwagte voordele wat voortspruit uit ’n van aangesig tot aangesig omgewing” (bl. xvii).

Wil u graag hê dat u verhoudings meer opreg en betekenisvol moet wees? Soek u ’n groter gewaarwording van welstand? Oorweeg die belangrikheid daarvan omaangesigtyd ’n prioriteit te maak in drie belangrike fasette van u lewe; saam met u huisgesin, u geestelike familie en met God Self.

Familie aangesigtyd

Dink oor die atmosfeer in u huis. Ontleed u interaksie met u huweliksmaat en kinders. Praat u regtig met mekaar? Nog belangriker, luister u na mekaar? Dit is maklik om ware kommunikasie af te skeep in ons moeilike en haastige lewens. Skootrekenaars en slimfone word die immer-teenwoordige en altyd “aangeskakelde” bybehore – diewe wat die reeds-te-min tye met ons geliefdes wegraap.

’n Onlangse artikel in die Boston Globe wys daarop dat meer en meer kinders hulle ouers vra om die gebruik van slimfone en rekenaars te verminder by die huis (“Dad, can you put away the laptop?”, 8 Maart 2012). Van die studies het bevind dat die gemiddelde werkende persoon minder as 30 sekondes per dag spandeer in betekenisvolle kommunikasie met sy of haar kinders. Dit is nie genoeg nie! Indien dit al tyd is wat ons saam met ons kinders deurbring in ’n werklike gesprek, dan stuur ons (en hulle) af op ernstige probleme.

Verbind u daartoe om te belê in aangesig tot aangesig verhoudings! Gesels daagliks met u huweliksmaat. Deel uself. Praat oor u lief en leed. Wees bemoedigend. Probeer om met behulp van ’n “SAGTE antwoord” woede te ontlont (Spreuke 15:1). Wees bereid om ’n bietjie toe te gee. Jesus sê tog immers dit is “saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Probeer om u huweliksmaat te verstaan. Sit die foon neer en skakel die skootrekenaar af en u mag verbaas wees om te ontdek hoe u huwelik sal floreer soos nog nooit tevore nie!

Moses het die kinders van Israel beveel om deurlopende, voortdurende gesprek te voer met hul kinders: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6-7).

Dit is ’n mandaat aan ware Christenouers om die Waarheid aan hul kinders oor te dra by elke moontlike geleentheid. Dink egter oor wat hierdie vers ook impliseer bo en behalwe net die Waarheid; daar behoort ook gedurig baie algemene gesprekke te wees tussen gesinslede. Een van die beste plekke om te begin is aan die etenstafel. Streef daarna om minstens een maaltyd per dag saam te eet as gesin. Skakel die televisie af gedurende etenstyd. Bêre die koerant. Verban selfone van die tafel af. Vra vrae en moedig almal aan om deel te neem, moet niemand uitlaat nie. Moenie toelaat dat u gesinslede uitmekaardryf nie. Begin om hulle weer te betrek deur so veel as moontlik maaltye gereeld saam te nuttig.

Terwyl gesinslede luister, behoort hulle na mekaar te kyk – van aangesig tot aangesig! Om onverdeelde aandag te gee is veral belangrik vir ’n ouer se verhouding met kinders. Geneesheer Ross Campbell skryf: “Toegespitste aandag beteken om u tiener u volle, onverdeelde aandag te gee op so ’n manier dat hy werklik geliefd voel, dat hy weet hy is so waardevol in eie reg dat hy u waaksaamheid, waardering, en beginselvaste agting regverdig” (“How To Really Love Your Teenager”, bl. 31). Gesprekke gedurende aandete kan die grondslag word vir hernude kommunikasie en samewerking in u gesin.

Aangesigtyd saam met u Kerkgesin

Is kontak van aangesig tot aangesig slegs belangrik vir die huwelik en huisgesin? Natuurlik nie! Selfs in die besigheid, politiek en sport, verstaan suksesvolle leiers ​​die belangrikheid van aangesig tot aangesig kontak. Duke Universiteit se afrigter, Mike Krzyzewski, die bobaas afrigter in Amerikaanse kollege basketbal, het aan CNBC.comskrywer Michelle Lodge gesê dat aangesigtyd noodsaaklik is vir die samesnoering van enige groep: “Hoe maak jy dat vyf ouens op die baan speel soos een man? ... Jy doen dit met voortdurende kommunikasie. Aangesig tot aangesig is die beste manier om te kommunikeer, waar mense mekaar in die oë kan kyk en, wanneer jy die geleentheid het, om altyd aan mekaar die waarheid te vertel en [as gevolg daarvan] ’n element van vertroue te ontwikkel ... Dit gaan alles oor die ontwikkeling van vertrouensverhoudings” (“Face-to-Face Communication Key to Success: Duke’s Coach K”, 20 Oktober 2010).

Verlang God ook daardie tipe vertrouens, liefdevolle en broederlike verhouding tussen Sy mense? Natuurlik! Jesus Christus het Sy dissipels geroep en hulle toe uitgedaag om ’n hegte, verenigde groep te word, deur die inwoning van die Heilige Gees (Johannes 17:20-23). God wil hê dat ware Christene in ’n hegte geestelike gesin moet ontwikkel. Veral noudat die einde van hierdie tydperk nader kom, plaas God ’n hoë premie op ware Christelike samesyn. Let op wat die profeet Maleagi aangeteken het: “Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en sy Naam eer” (Maleagi 3:16).

Indien ons verstaan wat God sê, is dit van kardinale belang dat ons aangesig tot aangesig kontak behoort te hê, nie net met ons eie gesinne nie, maar ook met ander mense wat deur God geroep is! Diep, geestelike gesprekke met ware Christene word ryklik beloon. Deur ons beproewings en probleme met ons geestelike familie, in wie ons vertroue het, te deel, maak ons laste ligter. Selfs ligte gesprekke gee ons ’n kans om mekaar beter te leer ken. Ons vind uit wat in mekaar se lewens aangaan, ons is nie meer vreemdelinge nie.

Die doel van persoonlike geestelike samesyn is nie net om kerkgangers iets anders te gee om te doen nie. Dit is eintlik ’n uiters belangrike deel van ons geestelike verhouding met ware Christene. Jesus Christus het voorspel dat baie mense teen die eindtyd hulle ywer sal verloor vir hegte, broederlike verhoudings, en ons gewaarsku dat “omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12). Die apostel Paulus herhaal Christus se woorde deur te sê dat selfs van God se mense sal afwyk van ware aanbidding en samesyn. Hy beveel ook dat “... ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24-25). God se mense moet mekaar aanmoedig en ophef. Persoonlike, aangesig tot aangesig geestelike samesyn vorm ’n belangrike deel hiervan.

Wat van u? Hoeveel aangesig tot aangesig kontak het u met u geestelike familie? God se Kerk is een liggaam wat uit baie lede bestaan. “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus” (1 Korinthiërs 12:12). Die gevolg is dat “ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar” is (Romeine 12:5). Hoe vind hierdie eenheid egter plaas?

Baie van u wat lesers is van die Wêreld van Môre, begin om waarhede te verstaan wat u nog nooit voorheen gehoor het nie. Baie van u volg getrou die voorbeeld van die inwoners van Beréa, want “hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Ons wil hê dat u ook seker sal maak van wat ons sê, en vir uself sal bewys dat wat hierdie tydskrif verkondig, ooreenstem met wat u Bybel sê. Indien u dit doen, sal u geestelik groei in u wandel met God, namate u leer om Hom meer nougeset te volg, gegrond op Sy eie leringe uit die Skrif.

Namate u groei, sal u uself natuurlik afvra: “Het ek aangesigtyd saam met ander ware Christene nodig?” Wanneer God mense in Sy Waarheid inroep, plaas Hy hulle in die liggaam van Christus, soos dit Hom behaag (Johannes 6:44; 1 Korinthiërs 12:18). Om nader aan God te kom behels ten dele om in geestelike samesyn te vergader met ander mense wat soos ons dink, wie dieselfde verbintenis gemaak het! Hulle sal graag ander mense van God van aangesig tot aangesig wil leer ken!

Soek God se aangesig

Ons heel belangrikste persoonlike kontak is met God Self. Hy is die Een met wie ons die meeste van almal “aangesigtyd” wil hê en nodig het. Let op hoe het Moses Aäron beveel om Israel te seën: “Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee” (Numeri 6:24-26). Ons wil almal hê dat God ons goedgunstiglik moet aansien! Ons verlang almal Sy beskerming, Sy leiding en voorsiening. Ons wil hê dat God Sy aangesig oor ons moet laat skyn, net soos ’n liefdevolle en toegewyde vader se gesig straal wanneer hy na sy eie kinders kyk en ingenome is met hulle.

Die vraag is, indien ons wil hê dat Hy ons gunstig moet aansien, hoe ernstig soek ons ook Sy aangesig? Dink na oor Koning Dawid van ouds se kragtige woorde: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie ... Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek – dit is Jakob” (Psalm 24:3-4, 6).

Soek u “God se aangesig”? Hoe doen ons dit? Ons kan Sy gesig nie letterlik sien, soos Moses het nie. God het met Moses “van aangesig tot aangesig [gespreek] soos ’n man met sy vriend spreek” (Eksodus 33:11). Omdat ek en u egter God nie met ons fisiese oë kan sien nie, hoe kan ons dit doen? Ons soek God deur daagliks saam met Hom te wandel en na Hom te gaan in opregte gebed. Ons soek Sy aangesig deur werklik met Hom te praat en aan Hom ons volle aandag te gee. Niemand hou daarvan om met mense te praat wat terselfdertyd op hul selfone boodskappe stuur of hul sosiale media inligting nagaan nie. Waarom sou God nie dieselfde voel oor halfhartige of afgetrokke gebede nie? Ons kan nie “multi-tasking” met God beoefen nie! Sou ons dit doen, is ons nie regtig gehoorsaam aan die groot opdrag om God werklik eerste te stel nie. Jesus Christus beskryf die “groot gebod” so: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod” (Mattheüs 22:37-38). Doen ons dit?

Soms sukkel ons om God se aangesig te soek, omdat ons sondes ons visie versper. Die profeet Jesaja verduidelik dit só: “Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:1-2). Wanneer ons sonde doen, kan ons skaamte en vrees dit vir ons moeilik maak om na God te gaan. Ons wil nie na Hom kyk wanneer ons weet ons het Hom teleurgestel nie. Ons twyfel soms of Hy ons in ons huidige toestand sal aanvaar. Tog is dit juis presies die tyd wanneer ons dit nodig het om ernstig berou te hê en Hom sonder versuim te soek! Soos die apostel Johannes skryf: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Dit stel ons in staat om weereens na ons liefdevolle Vader te gaan, dan die aangesig tot aangesig verhouding te hernu.

Alhoewel ons God nie kan sien nie, weet ons Hy is daar – die ganse heelal getuig van Sy bestaan (Psalm 19:02)! Met Christus se wederkoms sal Sy herrese heiliges geestelike wesens gemaak word en in staat wees om God te sien in volle glorie! Johannes skryf aangaande hierdie ontsagwekkende toekoms: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Johannes 3:2-3).

Namate die einde van hierdie tydperk nader kom, afleidings vermeerder en die tempo van die lewe versnel, behoort ons nie die werklike, tasbare, aangesig tot aangesig tyd te verwaarloos nie. Maak seker dat u verbind is tot noue persoonlike kontak met gesinslede, die lede in u geestelike familie, en bo alles, u liefdevolle Hemelse Vader.