Vraag: Baie mense glo dat ’n mens se siel of gees van die liggaam geskei kan word en na ver afgeleë plekke buite die liggaam se bereik, kan beweeg. Dit is nie net ’n “New Age” of “Oosterse geloofs”-idee nie; selfs mense wat hulself Christene noem, glo in “astrale projeksie” of “buite-die-liggaam ondervindings”. Leer die Bybel ons dat ’n mens se siel of gees buite die liggaam kan funksioneer?

Antwoord: Daar is mense wat stories vertel het van ’n “buite-die-liggaam ondervinding” tydens operasies, of dat hulle “astrale projeksies” beoefen het (waarin die siel veronderstel is om na ver plekke weg te beweeg, terwyl die liggaam agterbly). Het die apostel Paulus ’n soortgelyke ondervinding beskryf?

In 2 Korinthiërs 12:2-4 het Paulus, netsoos in die vorige twee hoofstukke, sy eie ondervindings as ’n prediker van die ware Evangelie beskryf. Hy skryf: “Ek weet van ’n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit – dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ’n man – of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ’n mens nie mag uitspreek nie”.

Dit is belangrik om daarop te let dat Paulus in die vorige vers (vers 1) verduidelik het dat hy tot by “gesigte en openbaringe” van die Here sal kom. Die Griekse woord wat vertaal is as “gesigte” is optasia, en beteken “iets wat mens sien of ’n visioen wat aan iemand gegee word, hetsy slapend of wakker”. Die Griekse woord wat vertaal is as “openbaringe”, is apokalupsis en beteken “om bloot te lê, om ’n onthulling van waarheid te ontbloot, instruksie rakende dinge wat voorheen onbekend was”. In hierdie verse erken Paulus dat hy nie fisiese ondervindings meedeel nie.

Beskryf Paulus tog hier ’n buite-die-liggaam ondervinding? Hy sê aan ons dat sy fisiese ondervinding so intens was dat hy nie kon onderskei of dit slegs maar ’n visioen in sy gedagte was en of hy werklik na die hemel geneem was nie. Hoewel Paulus duidelik van visioene gepraat het aan die begin van 2 Korinthiërs 12, het hierdie besondere visioen so werklik gevoel dat hy nie in staat was om te verduidelik wat gebeur het nie, behalwe dat dit vir hom gevoel het asof hy “buite-die-liggaam” was. Paulus maak nie sy eie gevolgtrekking nie, hoewel hy twee keer duidelik sê dat “God (nie Paulus nie) weet” wat die aard van sy geestelike ondervinding van die Paradys was.

Ander soortgelyke gedeeltes kan ons help om Paulus se bewoording in die regte konteks te verstaan. Hy skryf aan die Kolossense: “Want al is ek ook na die vlees afwesig, tog is ek by julle in die gees, en ek verbly my om julle goeie orde te sien en die vastigheid van julle geloof in Christus” (Kolossense 2:5). Sê Paulus aan die Kolossense dat hy sy liggaam verlaat het om by hulle te wees? Natuurlik nie!

Net so, in hierdie verband, let op Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 5:3. Hier skryf hy hy is “liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig”. Die Skrif maak dit duidelik dat vir Paulus om “in die gees teenwoordig” te wees, ’n natuurlike menslike verskynsel is waartydens sy invloed of simpatie waardeer kon word sonder sy liggaamlike teenwoordigheid. Dit was nie ’n soort van “op twee plekke gelyktydig wees” of ’n bo-natuurlike reis nie.

Die Skrif help ons om gedeeltelik te verstaan wat Paulus se visioen nie was nie. Die apostel Johannes herinner ons: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Johannes skryf daardie woorde ná Christus se opstanding. Indien Paulus werklik na die hemel opgevaar het tydens sy visioen, dan was Johannes se woorde nie die waarheid nie. Paulus het eerder ’n visioen ervaar, soortgelyk aan die visioen wat in Mattheüs 17:1-9 beskryf word. In daardie gedeelte is die woord wat Jesus gebruik vir “visioen”, horama – ’n gesig wat goddelik verleen is in ekstase of tydens slaap. Onthou, toe die dissipels hierdie ondervinding gehad het, het nóg Moses nóg Elia na die hemel opgevaar. Net soos Paulus se ondervinding, was dit duidelik ’n visioen – nie ’n mistieke besoek van twee ontslape mense nie!

Derhalwe, net soos Petrus, Jakobus en Johannes nie werklik na die hemel opgevaar het tydens hulle visioen van die verheerlikte Jesus saam met Moses en Elia nie, kan ons verstaan dat Paulus ook nie werklik na die hemel opgevaar het of betrokke was in ander gevalle van “astrale projeksie” of buite-die-liggaam reise nie. Sommige mense mag vandag voel dat hulle ’n “buite-die-liggaam ondervinding” gehad het wat vir hulle werklik voel, maar die Bybel onthul dat hulle verkeerd is!