V: Baie mense is verward oor hoe Jesus Christus se wederkoms gaan plaasvind. Hoe sal ons weet wanneer Hy na die Aarde terugkeer?

A: Voor Sy dood, opstanding en hemelvaart, belowe Jesus Christus: “Ek [kom] weer” (Johannes 14:3). Baie van diegene wat hulself “Christene” noem, verskil egter hemelsbreed in hul oortuigings oor hoe Christus se wederkoms gaan plaasvind. Sommige dink dat Hy in die geheim gaan terugkeer; ander glo dat Hy twee keer sal terugkeer – eers in die geheim en later openlik. ’n Paar ander glo dat Hy alreeds na die aarde teruggekeer het. Wat is die waarheid?

Oomblikke nadat Christus in die wolke opgevaar het (Handelinge 1:9), is die Apostels verdwaas deur die verskyning van twee goddelike boodskappers wat hulle die versekering gee dat: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (vers 10-11). Hierdie engele bevestig Jesus se belofte dat Hy weer sal kom en verduidelik hoe Hy sal terugkeer. Neem kennis wat die Bybel verder openbaar aangaande Jesus se manier van terugkeer.

Hoewel die Bybel nie presies openbaar wanneer Christus sal terugkeer nie (Mattheus 25:13; 24:36), word ons meegedeel dat Hy onverwags – soos ’n “dief in die nag” sal kom, sonder vooraf kennisgewing (Openbaring 16:15; Mattheus 24:42-44). Jesus vergelyk sy wederkoms met die koms van ’n dief as gevolg van die verrassingsfaktor.

Christus se terugkeer aarde toe sal nie in die geheim of skelmpies plaasvind nie. Die Bybel beskryf Sy wederkoms as ’n baie dramatiese gebeurtenis (Mattheus 24:29-30). Daar sal ’n geweldige trompetgeskal wees wat wêreldwyd gehoor sal word (vers 31), sowel as ’n harde geroep, wat Jesus se naderende wederkoms en die opwekking van die dooies in Christus sal aandui (1 Tessalonisense 4:16).

Die Bybel sê ook dat Jesus Christus met Sy terugkeer, vir almal duidelik sigbaar sal wees: “Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheus 24:27). Die Griekse woord astrape wat in vers 27 gebruik word, kan “weerlig” of enige helder lig beteken. Vers 30 beskryf Jesus se dramatiese wederkoms verder: “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn ... en [sal hulle] die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid”. Die verheerlikte en herrese Christus is nie soos enige sterflike mens in voorkoms nie, maar is “soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:16). Die Bybel beskryf dus in eenvoudige terme die sigbare, luide, onmiskenbare Wederkoms van ons Verlosser!

Dit is voorspel dat Jesus Christus na dieselfde Olyfberg naby Jerusalem sal terugkeer waarvandaan hy meer as 1,900 jaar gelede opgevaar het (Sagaria 14:3-4), maar Christus sal nie alleen terugkeer nie. Hy bring al die herrese “heiliges” met Hom saam.

Die Bybel stel dit duidelik dat die herrese heiliges “weggevoer” sal word om Christus te ontmoet soos Hy, van die wolke na die aarde, neerdaal. Die herrese afgestorwenes in Christus, tesame met die lewende Christene wat dan met onsterflikheid beklee sal word, sal die terugkerende Christus in die lug ontmoet (1 Thessalonicense 4:15-17), voordat hulle kort daarna saam met Hom na die Olyfberg neerdaal.

Sal enigiemand anders Christus vergesel met Sy dramatiese Wederkoms? Die Bybel dui aan dat ’n leërskare van engele Hom vanuit die hemel sal vergesel, in die heerlikheid van Sy Vader (Markus 8:38; Openbaring 19:14)!

Wanneer Jesus Christus weer kom, is dit as “Koning van konings en Heer van here” om die regerende Koninkryk van God op aarde te vestig (Openbaring 19:16). Hy en die herrese heiliges sal dan begin om te regeer en die nasies die weg na ware geluk, vreugde en vrede leer (Openbaring 20:6; 5:10).

Jesus Christus kom inderdaad weer – hierdie keer met groot mag en heerlikheid – en die hele mensdom sal getuies wees van Sy Wederkoms! Dit sal waarlik die grootste, mees dramatiese en omvangrykste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld wees!