Baie mense vra: “Is die nuwe Pous regtig die opvolger van die apostel Petrus?” Sal hy die laaste een wees? Wat sê die geskiedenis en die Skrif aan ons?

Terwyl die wêreld na die voormalige Jorge Mario Bergoglio kyk, wonder party mense of daar oor hom geprofeteer is om die laaste Rooms-Katolieke pous te wees voor Jesus Christus se wederkoms. Nogtans vra ander ’n meer fundamentele vraag: “Is hy regtig die opvolger van die apostel Petrus?”


Bergoglio se keuse vir ’n pouslike naam – Franciskus I – was baie opvallend. Dit herinner ons aan die Middeleeuse Franciskus van Assisi, die stigter van die Franciskaanse kloosterorde. Daardie “Franciskus” was bekend vir sy rondreisende prediking, eenvoudige leefstyl en sy missie waarin hy verklaar om die Roomse kerk te “herstel”. Dit is egter nie hierdie verbintenis met Assisi, of sy opleiding as ’n Jesuïet, wat aan Pous Franciskus sy veronderstelde gesag gee nie. Inteendeel, dit is eerder sy vermeende erfenis as die opvolger van die apostel Petrus, wat deur die Rooms-Katolieke beskou word as die eerste biskop van Rome.

Is Franciskus se pousskap dan honderde jare vooruit voorspel? Sommige mense verwys na die geheimsinnige “Profesie van St. Maleagi” – wat na bewering die werk is van ’n twaalfde-eeuse monnik. Alhoewel dit die eerste keer in 1590 verskyn het en nou algemeen beskou word as ’n vervalsing – word dit nog steeds gebruik as bewys dat daar voorspel is dat Franciskus die laaste pous voor Christus se wederkoms sal wees. Die “profesie” bevat ’n lys van meer as ’n honderd kort leuses, wat na bewering meer as eenhonderd pouse beskryf, wat begin met Celestinus II (wie in die amp gedien het vanaf 1143-44). Wanneer daar van hom af vorentoe getel word, verbind die profesie die tweede laaste kernspreuk op die lys met die nou onlangs afgetrede Benedictus XVI.

Sal Franciskus I dus die laaste pous wees? Selfs ondersteuners van die profesie erken dat die antwoord “nee” is. Die Catholic Encyclopedia meld: “Daar is opgemerk aangaande Petrus Romanus, wat volgens Maleagi se lys die laaste pous moes wees, dat die profesie nie sê daar geen pouse tussen hom en sy aangeduide voorganger,Gloria olivae, sal wees nie. Daar word net gesê dat hy die laaste pous sal wees, sodat ons ons soveel pouse as wat ons wil kan indink voor ‘Petrus die Romein’” (Artikel: “Prophecy”).

Indien Franciskus l nie noodwendig die heel laaste pous moet wees nie, wat kan ons dan leer oor sy verbintenis met die eerste biskop van Rome? Die aanname dat pouslike voortreflikheid gebaseer is op die apostoliese opvolging vanaf Petrus, is reeds eeue lank ’n standaard Rooms-Katolieke leerstelling. Dit berus op ’n besonderse interpretasie van een van die sleutelgedeeltes in die Skrif waarin Jesus gesê het: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou ... Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees” (Mattheüs 16:18-19).

Dog, in die oorspronklike Griekse teks sien ons dat Jesus se stelling eintlik ’n woordspeling is. Die Griekse woord vir “Petrus” is petros (wat klein klippie beteken). Die Griekse woord vir “rots” is petra (wat ’n groot rots of berg beteken). Die Bybel wys duidelik dat Jesus Christus die “Rots” is waarop die Kerk gebou is (sien 1 Korinthiërs 10:4; 1 Petrus 2:4-8; asook Psalm 118:22; Jesaja 28:16). Jesus het na Homself en Sy leerstellings verwys as die petra [rots] waarop die Kerk gevestig sou word. Hy erken Petrus (’n petros) as een van die hoekstene. Dit stem ooreen met ander Skrifgedeeltes wat aantoon dat die Kerk nie slegs op Petrus gebou is nie, maar dat die Kerk ook “gebou [is] op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:20).

Petrus in Rome?

By nadere ondersoek is selfs die sogenaamde vroeë bewyse van Petrus se lewe, werk en marteldood in Rome onoortuigend. Die boek Handelinge swyg oor waarheen Petrus gegaan het nadat hy omstreeks 33 n.C. uit die tronk in Jerusalem vrygelaat is – daar word slegs gesê: “En hy het uitgegaan en na ’n ander plek vertrek” (Handelinge 12:17). Volgens die Skrif het Paulus vir Petrus in ongeveer 45 n.C. in Antiochië gekonfronteer oor die kwessie van die besnydenis (Galasiërs 2:11-16). Petrus verskyn tussen 49 en 50 n.C. in Jerusalem vir ’n byeenkoms (Handelinge 15:6-7). Nogtans was Petrus, volgens die Katolieke se tradisie, teen daardie tyd reeds al vir etlike jare lank die biskop van Rome! Die bewering dat Petrus se groet uit “Babilon” (1 Petrus 5:13) beteken dat hy die boek in Rome ongeveer 60-64 n.C. geskryf het, is bloot ’n veronderstelling. In werklikheid vind ons die eerste kriptiese verwysing in die Skrif na Rome as “Babilon” in Openbaring 17:5, wat sowat 30 jaar later eers geskryf is! Dit is interessant dat die Katolieke geleerdes graag wil hê dat Petrus se verwysing na “Babilon”, Rome moet aandui om sodoende die idee dat hy in Rome gewerk het te bekragtig – nogtans vermy hulle enige moontlike skakel tussen Rome en die vrou na wie verwys word as die “Verborgenheid, die groot Babilon” in Openbaring 17:5. Dit isnie in ooreenstemming met die Skrif nie!

Selfs die beweerde ligging van Petrus se graf – wat vermoedelik onder die altaar in St. Petrus se Katedraal in Rome is – is hoogs twyfelagtig. Alhoewel Pous Pius XII in 1950 aangekondig het dat Petrus se stoflike oorskot gevind is, het beenontleding deur geleerdes sy bewering weerlê (TIME, 1 Januarie 1951). In 1968 het Pous Paulus VI ’n soortgelyke bewering gemaak, maar baie geleerdes was nie oortuig daarvan nie. ’n Meer onlangse teks verklaar dat, “aangesien alle betroubare inligting oor die plek van Petrus se teregstelling en begrafnis ontbreek, die moontlikhede daarvan so veel is soos die baie ope vrae daaroor” (History of the Church, Jedin, bl. 118). Daar is nog geenbewyse oor óf die dood óf die begrafnis van Petrus in Rome nie – dit berus alles op twyfelagtige oorleweringe!

Ontwikkeling van ’n dogma

Indien daar dus geen historiese bewyse is dat Petrus ooit in Rome was nie, dat hy ’n kerk daar gestig het, of selfs dat hy daar gesterf het nie, hoe en hoekom het die idee ontwikkel dat pouslike voortreflikheid gebaseer is op die opvolging van Petrus? Twee insiggewende boeke deur bekende Rooms-Katolieke geleerdes (Saints & Sinners deur dr. Eamon Duffy van die Cambridge Universiteit en The Catholic Church deur dr. Hans Küng van die Universiteit van Tubingen) erken dat niks in die Nuwe Testament Petrus met Rome verbind nie. Die Bybel openbaar dat die apostel Paulus die boek van Romeine geskryf het en Paulus noem nie eers vir Petrus in die groete wat hy aan meer as 20 broeders in Rome oordra nie (Romeine 16). Nadat Paulus in ongeveer 64 n.C. in Rome aangekom het, het hy gevind dat die Joodse leiers daar nog nie gehoor het van die Evangelie van die Koninkryk van God nie (Handelinge 28:17-24). Indien Petrus toe al vir 25 jaar die biskop van Rome was, sou Christus se boodskap dan werklik daar onbekend gewees het?

Die idee dat Petrus in Rome was, is ’n idee wat in die tweede eeu n.C. ontstaan het en wat in die vierde eeu n.C. aansien verwerf het, nadat Konstantyn sy weergawe van wat Christelikheid is die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk gemaak het. Die geleerdes Duffy en Küng dui aan hoe die biskoppe in Rome probeer het om voorrang te verkry bo ander kerke deur middel van hulle aansprake en knoeiery. Irenaeus van Lyon het ’n lys saamgestel wat na bewering die leiers van die Rooms-Katolieke kerk naspoor tot by Petrus en Paulus. Küng sê nogtans: “Biskoppe van die Rooms-Katolieke kerk (net soos dié van die Anglikaanse en Ortodokse kerke) is lief daarvoor om hulle self ‘opvolgers van die Apostels’ te noem ... [alhoewel] ... Dit kan nie bevestig word dat die biskoppe ‘die opvolgers van die Apostels’ in die direkte en eksklusiewe sin van die woord is nie ... die vroegste lys van biskoppe [saamgestel deur Irenaeus] ... is ’n tweede eeuse vervalsing” (Küng, bll. 30-31).

Teen die einde van die tweede eeu n.C. het biskop Victor van Rome probeer om die kerke van Klein-Asië te dwing om die Roomse Paasfees in plaas van die Pasga te vier. Sy pogings is egter teengestaan deur die leiers wat hulle onderhouding van die Pasga teruggevoer het na die leerstellings en voorbeeld van die apostel Johannes. In ongeveer 250 n.C. het Stephanus, ’n biskop van Rome, aanspraak gemaak op oppergesag oor ander kerke in ’n geskil oor wie die beste tradisie het. Die ander kerke het egter sy aanspraak teengestaan (Küng, bl 49.). Damasus, ’n biskop van Rome, (ongeveer 380 n.C.), wat beskryf is as ’n “meedoënlose magsverbreker”, het die uitdrukking van Petrus as die “rots” gebruik om sy aanspraak op mag te versterk. Hy het ook van sy “apostoliese setel” gepraat asof geen ander kerk van belang was nie. Hy het ook monumente ter ere van martelare opgerig om die posisie van die Roomse kerk te verstewig (Duffy, bll. 37-39).

Dit is belangrik om te onthou dat alhoewel al hierdie biskoppe van Rome vandag “Pouse” genoem word, die eerste een wat werklik die eksklusiewe titel opgeëis het, Siricius was (ongeveer 390 n.C.). Teen 450 n.C. het Leo die Grote die vermeende verband tussen Rome en die pousdom “beklink” en selfs die stigting van die Roomse kerk deur Petrus en Paulus vergelyk met die stigting van Rome deur Romulus en Remus (Duffy, bll. 43-44). Tydens die Raad van Chalcedon (451 n.C.) het Leo se ondersteuners verklaar: “Petrus het deur Leo gepraat” (Duffy, bl. 45), maar die raad het Leo se omvattende aansprake van oppergesag afgewys en aan Rome en Konstantinopel gelykestatus verleen (Küng, bll. 64-65).

Leerstellings uit die heidendom

Wanneer ons die Rooms-Katolieke leerstellings met die Skrif vergelyk, sien ons dat daar ooglopende teenstrydighede is. Die Bybel onthul dat Jesus Christus, die Apostels en die vroeë Kerk almal die sewende-dag Sabbat en die Bybelse Heilige Dae (sien Lukas 4:16; Johannes 7:8-10; Handelinge 17:2; 1 Korinthiërs 5:7-8), onderhou het. Die Roomse kerk het egter, ongeveer in die tyd van Konstantyn, begin om Sondagaanbidding, Paasfees, Kersfees en ’n horde “dae vir die heiliges” van die heidendom oor te neem – alhoewel daar geen Bybelse voorbeeld of opdrag is om dit te doen nie. Die Skrif waarsku teen die oorneem van heidense praktyke (sien Deuteronomium 12:29-32; Jeremia 10:2).

Die Skrif toon dat die vroeë Kerk verkondig het dat die Koninkryk van God op hierdie aarde gevestig sal word met Jesus Christus se wederkoms. Tog het die Roomse kerk verkondig dat die kerk self die Koninkryk is en die ware Bybelse lering dat Christus werklik sal terugkeer om oor die aarde te heers, as kettery verwerp. Die Roomse kerk leer dat Maria, Jesus se moeder, vir ewig ’n maagd gebly het, maar die Skrif toon duidelik aan dat sy na Jesus nog ander kinders gehad het (Markus 3:31-32; Lukas 8:19-21). Al was Petrus en die ander Apostels getroud (Markus 1:30; 1 Korinthiërs 9: 5), het die Roomse kerk ’n ordinansie van priesterlike selibaatskap [om ongetroud te bly] ingestel, ten spyte van die duidelike opdrag in die skrif dat die verbod om te trou ’n Satan-geïnspireerde idee is (1 Timótheüs 4:1-3). Dit is ook interessant om daarop te let dat, in teenstelling met die lank reeds bestaande Rooms-Katolieke gewoonte om te kniel om die ring van ’n biskop of pous te soen, die apostel Petrus geweier het om so ’n eerbetoon te ontvang (Handelinge 10:25-26). Dit is slegs ’n paar van die talle voorbeelde van hoe die Roomse kerk afgewyk het van apostoliese leerstellings!

Vir meer as 1,500 jaar lank het ambisieuse persone probeer om die Rooms-Katolieke biskopsamp van Rome te gebruik om hulle aansprake op universele gesag te bevorder. Hulle het maatskaplike, politieke, teologiese, wetlike en selfs militêre druk, tesame met misleiding en vervalsing gebruik om hulle doelwitte te bereik. Hierdie slinkse en soms gewetenlose mans het afgewyk van die leerstellings van die vroeë Kerk. Nogtans erken selfs baie Katolieke geleerdes die valsheid van Rome se aansprake. Soos Küng dit duidelik stel: “Die aansprake wat hulle gemaak het mag dalk geen Bybelse en teologiese grondslag gehad het nie, maar deur die eeue heen is hierdie aansprake wat in die kerkwet ingesluip het, as aanvaarde feite opgeneem. Wat die Roomse biskoppe van die vierde en vyfde eeu aan hulleself toegeskryf het terwyl hulle toenemend bewus geword het van hulle mag, lyk moontlik vandag vir baie mense, binne sowel as buite die Katolieke kerk, na wat oorspronklik Katoliek was” (Küng, bl. 50). Ons sien dus dat die aansprake van pouslike voorrang wat gebaseer is op die apostoliese opvolging vanaf Petrus nie op klinkklare bewyse berus nie, maar op dogma – idees wat met gesag gemeld word, maar wat geen ware historiese bewyse het nie! In die laaste instansie berus hierdie aansprake nie op geskiedenis of op die Skrif nie, maar op twyfelagtige menslike tradisies!

Profetiese belang

Tot hoe ’n mate raak hierdie ontnugterende feite van die geskiedenis ons vandag? Franciskus I mag homself dalk voordoen as ’n hervormer, wat homself toewy aan die herstel van ’n kerk wat in ’n krisis is. Nogtans sien ons by nadere ondersoek dat die werklike grondslag van Franciskus se kerk gebou is op berekende aannames en die voortsetting van valse leerstellings.

Dit behoort egter geen verrassing te wees vir persone wat die Skrif bestudeer nie. Die apostel Paulus het gewaarsku dat godsdienstige leiers sal afwyk van die ware Kerk en valse en misleidende leerstellings sal gebruik om volgelinge te wen (Handelinge 20:29-37). Paulus het ook gewaarsku dat baie mense teen die eindtyd “... die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:1-4). Paulus waarsku verder dat ’n magtige en invloedryke godsdienstige leier, net voor die wederkoms van Jesus Christus, wonderwerke sal verrig wat baie mense sal mislei om leuens te glo – want hulle sal nie die waarheid onthou of liefhê nie (2 Thessalonicense 2:1-12). Hierdie valse godsdienstige leier sal kop in een mus wees met ’n magtige politieke leier wat beheer sal verkry oor ’n herleefde Romeinse Ryk wat in Europa sal verrys (sien Openbaring 13 en 17; Daniel 2).

Dit is nog te vroeg om die omvang van Franciskus se moontlike invloed op die eindtydse gebeure te peil. Toe kardinaal Joseph Ratzinger in April 2005 pous Benedictus XVI geword het, het sommige mense blindweg aanvaar dat hy die laaste pous sal wees voor die wederkoms van Jesus Christus. Hulle was verkeerd. Onthou, John Paul I het in 1978 vir slegs 33 dae lank gedien – die “jaar van drie pouse”. Franciskus se pousskap mag van korte duur wees om die toneel voor te berei vir ’n meer charismatiese opvolger – of dit kan lank en vol drama wees. Wat ons wel weet is dat, gebaseer op die duidelike rekord van die geskiedenis en die Skrif, Franciskus se aanspraak om die opvolger van Petrus en die moderne houer van Christus se gesag te wees, ’n vergryp is. Dit is gebaseer op menslike tradisies en nie op die Woord van God nie. Christene moet op hulle hoede wees en moet nie mislei word deur valse aansprake nie, veral namate die einde van die tyd nader kom en godsdienstige misleiding toeneem.