Weet u wat die toekoms vir u inhou? Wat van u nasie se toekoms, en die wêreld s’n? Ons lewe nie in normale tye nie. Ons nader die eindtyd – die einde van ’n beskawing.

Franklin D. Roosevelt het aan die begin van die Groot Depressie gesê: “Hierdie geslag het ’n afspraak met die noodlot”. Alhoewel die geslag van die 1930’s toe op pad was na die verpletterendste oorlog in wêreldgeskiedenis, is Roosevelt se woorde ook van toepassing op ons tyd. Die mense van vandag het ’n afspraak met die noodlot! ’n Krisis is reeds aan die opbou – ’n krisis wat die lagie normaal­heid wat die Westerse wêreld nou nog omvou, in die nabye toekoms sal afruk.

Tans berig die nuusmedia rond en bont oor tragiese gebeure waarvan die belangrikheid by Jan Alleman verbygaan. Hierdie gebeure is egter nie onbelangrik nie, maar kondig merkwaardige sleutel­tendense en spesifieke gebeure aan wat binne die volgende paar dekades verstommende veranderinge aan bekende dinge gaan aanbring!

Hoe kan enigiemand vir seker weet wat die toekoms inhou? Wie verstaan werklik die HELE PREN­TJIE?

Daar is een Bron wat werklik weet wat gaan gebeur. Besef u dat ’n kwart van die hele Bybel aan profesie gewy is en dat ongeveer 90% daarvan betrekking het op “die eindtyd” – wat net om die draai is?

Dié geprofeteerde gebeure gaan gewis plaasvind, maar natuurlik is party mense nie in Bybelprofesie geïnteresseerd nie. Hulle behoort te wees, want dit gaan hulle lewens, hulle families, hulle werk en hulle toekoms beïnvloed. Daar bestaan werklik ’n ware God, en die Bybel is Sy spreekbuis. God het die woorde van die profesieë geïnspireer en hulle is seker. Ons beter glo dat hulle wel vervul gaan word en ons beter WAKKER SKRIK. Teen die tyd dat u hierdie boekie gelees het, sal u oë oop wees, sal u die belangrikheid van vandag se nuus verstaan, sal u begryp waarheen al dié gebeure lei.

Kyk ’n bietjie wat skryf die apostel Petrus oor die Bybel se profesieë: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn ... dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21). Waarom het God dié profesieë vir ons bewaar? Die Grote God is besig om ’n wonderlike doel hier op aarde uit te voer met die mens, op nasionale vlak en op individuele vlak. As ons God se doel met die mens wil verstaan, moet ons God se geïnspireerde profesieë bestudeer!

Kan die haas onmoontlike wel tog gebeur?

Weet u wat die belangrikste nuuswaardigheid van ons tyd sal wees? Wat is die grootste gebeurtenis wat die hele aarde in u leeftyd gaan skud? Dit is die tweede koms van Christus, want Christus kom wel weer!

Moet u nie misgis nie. Jesus se wederkoms gaan nie in die geheim op ’n afgeleë plek gebeur waarvan niemand weet nie. Jesus Christus gaan letterlik terugkeer na die stad Jerusalem, na die Olyfberg, om oor die hele aarde te regeer! Daar sal ’n enkele, Goddelike wêreldregering ingestel word. Wat ’n skok gaan dit vir die mensdom wees!

Dié gebeurtenis is spesifiek geprofeteer in die Ou en in die Nuwe Testament. Honderde miljoene mense glo (slegs oppervlakkig) dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is. Die Wederkoms word voor­spel in elk van die vier Evangelies, in die Handelinge van die Apostels en in die Sendbriewe van Paulus, Jakobus, Petrus en Johannes. Jesus se wederkoms is die spilpunt van die hele Boek van Openbaring. As u glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is, moet u in Christus se tweede koms glo.

As die Koning van konings binnekort na die aarde terugkeer, behoort u nie daarvoor voor te berei nie? Behoort u nie te weet hoe dit u besigheid sal beïnvloed nie, u ekonomiese toekoms, u persoonlike veiligheid en alles om u?

U kán weet watter tekens Christus se koms voorspel en op die uitkyk wees daarvoor. Waarom in onkunde bly oor die betekenis van die gebeure wat om u plaasvind? Jesus gee opdrag aan Sy ware dissipels om te wag en gereed te wees. “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

U hele lewe gaan binnekort verander. Gebeure gaan ontvou wat die Westerse lewenswyse wat ons ken, gaan vernietig.

In die evangelies van Mattheus, Lukas en Markus is daar drie maal opgeteken wat Christus Sy dissipels aansê waarvoor om op die uitkyk te wees voor Sy wederkoms. Lukas skryf: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:31-32).

Jesus Christus het ’n reeks tekens of gebeure gegee wat moet plaasvind voor Sy wederkoms. Klaar­blyklik sal die vervulling van Christus se profesie plaasvind in die periode van een geslag – sodra die tekens wat betrekking het op daardie profesie begin gebeur. Dus, Christus kom wel terug aarde toe, maar nie gou nie. Nie totdat al die tekens vervul is nie! Mense wat hulle eie idees en voorspellings verkondig dat Christus “vanaand” gaan terugkeer, is vals profete. Hulle slaan nie ag op Jesus Christus se woorde nie. Die tekens wat Jesus gelys het, moet eers gebeur.

Binnekort sal die mensdom die ergste, bloedigste oorlog wat nog ooit in die annale van die geskiedenis opgeteken is, moet beleef. In Bybelse terminologie staan dit bekend as die “Groot Verdrukking”. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie, maar ter wille van die uitverkorenes [die mense wat berou tot bekering toon en wat aan God gehoorsaam is] sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:21-22).

Die profeet Daniël het presies hierdie periode beskryf: “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors [engel] wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek [van die lewe] opge­skrywe staan” (Dan. 12:1). Dié periode van angs sal die Groot Verdrukking wees.

Nadat God hierdie toekomstige, verskriklike oorlog beskryf, sê God aan Daniël, “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe” (Dan. 12:9). Mense sal die gebeure nie kan verstaan tot die eindtyd nie. Ons is egter besig om daardie eindtyd binne te gaan, en die gebeure word nou geopenbaar. “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die god­delose mense sal verstaan nie, maar die verstan­diges sal verstaan” (vers 10).

Verstaan u dat ons verslegte, korrupte nasies op ’n groot ramp afstuur? Besef u dat Amerika se nasionale skuld omtrent heeltemal buite beheer is? Dat die val van Amerika se ekonomie ’n impak op alle lande sal hê – beslis ook op Suid-Afrika? Wanneer die damwal breek, sal daar wêreldwye finansiële paniek losbars. Die sober werklikheid is dat as daar nie gou drastiese stappe geneem word nie, Amerika se ekonomie gaan ineenstort, en die wêreld se ekonomiese en politieke mag drasties sal verander. Dít is maar een van die ernstige probleme wat op ons samelewing gaan toesak en ons lewens onherkenbaar gaan verander.

As u uself as ’n volgeling van Jesus beskou, dan moet u ag slaan op Sy opdrag aan u: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Lees verder, en leer waarvoor u op die uitkyk moet wees!

1. Oorloë, Geweld en Wetteloosheid

Wees op die uitkyk vir oorloë – klein oorloë, groot oorloë, etniese oorloë, allerhande oorloë, asook vir toenemende geweld en wetteloosheid, wat al hoe meer sal voorkom in die wêreld en veral in die Engelssprekende lande, wat ook Suid-Afrika insluit.

Dikwels dink mense dat die wêreld ’n beter plek sal word. George Bush, ’n voormalige Amerikaanse president, praat van ’n “nuwe wêreldorde” asof daar vrede gaan wees. Die periode ná die Koue Oorlog is onstabiel en hoogs ontvlambaar – in so ’n mate dat een van die wêreld se vooraanstaande tydskrifte hierdie periode tipeer as “vreemd”: “... Min sekerheid bestaan. Een sekerheid is egter dat die leeus nie rustig saam met die lammers gaan lê nie: oorloë sal steeds voortgaan” (The Economist, 8 Jan. 1994, bl. 16). Die “nuwe wêreldorde” bring slegs wankelrige, kwynende vrede. Dinge gaan vererger, nie verbeter nie.

Waarom het ons beskawing se bron van praktiese oplossings vir globale, vreedsame samewerking tussen nasies en etniese groepe dan opgedroog? Norman Lear, ’n Amerikaanse televisieprodusent en politieke aktivis, het dié probleem duidelik uitgespel in ’n toespraak aan die National Press Club. “Op geen tydstip in my lewe”, volgens die 71-jarige Lear, “het ons kultuur so ’n verwydering van geestelike waardes getoon nie. Ons probleme lê buite die bereik van slegs die politiek”.

Ons vind in die Evangelie van Mattheus die voorspelling van Jesus aan Sy dissipels oor wêreld­toestande net voor Sy tweede koms. “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Matt. 24:6-7). Alhoewel die mensdom vir duisende jare al met oorlog saamleef, maak die uitroeiende potensiaal van vandag se wapens en die moontlik­heid van massakonflik die moderne tyd ’n unieke periode in die mens se geskiedenis.

Vers 22 gee spesifieke punte wat net van toepassing kan wees op ons tyd, op hoë tegnologie en die briljante maar bose wapens van massa-uitwissing. “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word”. Wydverspreide oorloë en praatjies oor oorloë kom oral voor. Talle etniese oorloë word gevoer, nie alleen in die voormalige Joego-Slawië nie, maar ook in die voormalige USSR, in Afrika en in Asië. In 1994 is 29 oorloë oor die wêreld gevoer!

Amerika is beslis nie gevrywaar van rasse-oproer en etniese bloedvergieting nie asook nie Indië of Suid-Afrika nie. Ook nie die Arabiese lande nie. Sodanige intergemeenskaplike konflik sal toeneem. Daar sal oorloë wees tussen nasies en burger­oorloë wan­neer verbonde tussen verskillende groepe mense uitmekaar rafel. Daar sal klein skermutselinge wees en daar sal groot oorloë wees. Al dié gestamp en gestoot sal uiteindelik uitloop op die slag van Armagéddon in die Jesreelvallei in Israel, en op daardie tydstip sal Christus terugkeer.

Party mense sal dink dat bogenoemde stellings ongegronde bangmaak-stories en pessimistiese gedagtes is, omdat die mense mos maar eintlik inherent goed is. Dié mense is onrealisties met hulle optimistiese uitkyk van “O, maar dinge gáán verbeter”. Wel, ek kan u uitdruklik sê, in opdrag van God, dat dinge NIE gaan verbeter tot ná Christus se wederkoms nie. Ja, ’n wonderlike wêreld lê wel voor, maar u moet realisties wees en besef dat die toekoms eers baie donker en desperaat gaan wees, voordat die nuwe wêreld van God se Koninkryk aanbreek.

Besef u dat daar geheel en al onverklaarbare uitbarstings van geweld, toevallige skietery, moorde en massamoorde gebeur? Jesus Christus voorspel hierdie verval van die samelewing net voor Sy wederkoms soos volg: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). In Amerika dink die mense hulle leef in ’n Christengemeenskap, en hier in Suid-Afrika dink ons ook so. Maar kyk net ’n bietjie waaraan bestee ons ons vrye tyd, waarmee vermaak ons onsself: die TV, video’s en rolprente wedywer met antieke Rome se lus vir seks, verdowings­middels (insluitend alkohol), geweld en brutaliteit. Dit is ironies dat ’n groot persentasie mense in menings­opnames sê dat hulle in God glo en gereeld kerk toe gaan. Dié skynheilige nasionale optrede is voorspel as ’n nasionale karaktertrek wat sal heers net voor die Messias se wederkoms.

Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondank­baar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onver­soenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot [of vermaak] as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:1-5).

Die mensdom ontken God se gesag, ten spyte van ’n skyn van godsdienstigheid. Geïnspireer deur God, gee Paulus die opdrag, “Keer jou ook van hierdie mense af” (vers 5)! Bly weg van mense wat oor godsdiens praat maar God se gesag ontken, want hulle gaan u mislei. Hulle gaan u deurmekaar maak. Hierdie parmantige geslag wat net vol wellus is, is op pad na groot, groot moeilikheid. U moet dit besef en nie deel daarvan wees nie.

Die teken van oorloë, toenemende geweld en wetteloosheid is die eerste teken waarvoor u op die uitkyk moet wees.

2. Droogte en Hongersnood

Droogte en hongersnood – ’n gebrek aan reën, ’n gebrek aan voedsel – sal die aarde tref op ’n skaal wat nog nie vantevore beleef is nie. Ja, dinge gaan veel erger word.

Wanneer daar droogte is, kom onbeheerste veldbrande en plantasiebrande ook voor. Nadat die vure alles verbrand het, is daar altyd die gevaar van vloede wanneer dit weer begin reën omdat daar geen plantegroei in die opvanggebied van die verbrande area is om die waterneerslag te behou nie. Dié natuurlike katastrofes, naamlik droogte, honger­snood, vuur en vloede, neig om met mekaar saam te val. In Matt. 24:7 voorspel Jesus: “... en daar sal hongersnode wees ...” Wêreldwye hongersnood sal nasies hewig laat wedywer en rusie maak oor voedsel. Dit sal lei tot toenemende politieke en militêre gevaar, veral vir Amerika, en die lande wat lid was van die voormalige Britse Gemenebes, soos Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika – die lande wat so lank al die broodmandjie vir die minder bevoorregte lande is.

Dié van ons wat in die gevorderde, ontwikkelde lande van die wêreld woon, dink dat sulke dinge net in Indië, Bangladesj of verder noord in Afrika kan gebeur. Hoe kan hongersnood ons dan tref? Dit is ondenkbaar dat alle supermarkte en restaurante op ’n dag moet sluit weens ’n gebrek aan voedsel! Honger­snood, die pyn van ’n leë maag, gaan wel voorkom in die VSA, Kanada, Engeland en die ou Britse Gemenebeslande. Kom ons verstaan wat God sê, en waarom Hy dit laat gebeur.

Die meeste mense verstaan eenvoudig nie dat dit God is wat die weerstoestande beheer nie en dat Hy somtyds dié mag gebruik om volke te straf wat Hom nie behaag nie! Koning Salomo het dit geweet. Met die inwyding van God se Tempel in Jerusalem erken hy God se mag. “As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle [die mense] teen U gesondig het ...” (1 Kon. 8:35). Straf God ’n nasie wat Sy morele en etiese standaarde bespot of ignoreer? Maar natuurlik! “Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:30-31).

Openbaring bevestig hierdie toekomstige honger­snood. “En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie” (Op. 6:5-6).

Tog is God genadig en geduldig met individue en volke wat van gesindheid verander. Salomo het ook hierdie punt verstaan, toe hy bid: “... maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat u hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe – want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel – en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het” (1 Kon. 8:35-36).

Ons beter erken dat God die weerstoestande beheer! Hy straf Sy eie mense wanneer dit nodig is. As ons nasies na God sou keer in opregte berou, en begin om Sy wette te gehoorsaam en volgens Sy wil te lewe, dan hoef hierdie plae nie te gebeur nie. Hoeveel van u glo dat dít sal gebeur? Hoeveel van u dink dat die nasies van die wêreld in opregte berou tot bekering sal kom en na die God van Abraham, Isak en Jakob sal draai? U weet gewis wat die antwoord is! Ek wens dat hulle wou, maar ek twyfel of hulle sal. Ongelukkig sal die nasies die dure lesse moet leer dat hulle God nie moet uittart nie.

3. Aardbewings en Ander Natuurlike Katestrofes

God profeteer dat aardbewings en ander natuurlike katastrofes gaan toeneem. Voor Christus terugkeer, word ons vertel, sal daar “aardbewings wees op verskillende plekke” (Mark. 13:8; Matt. 24:7). As u ’n bietjie terugdink, sal u besef dat daar gereeld aardbewings was, partykeer op ongewone plekke. Hierdie tendens sal voortgaan want die Bybel sê so. Jesus Christus het dit geprofeteer. Dus moet u aardbewings te wagte wees. Let veral op hoe die getalle en omvang van aardbewings toeneem, want hulle gaan verskriklike verwoesting saai.

Selfs in die ou tyd was daar aardbewings, soos Josefus in sy geskrifte (Antiquities, Boek LX, deel 4) noem. Die Bybel meld spesifieke aardbewings in die verlede, en voorspel dat hulle in die toekoms ook gaan voorkom (Sag. 14:4-5).

Hierdie aardskuddende gebeure vind plaas as gevolg van skeure in die aardkors, veral langs die wêreld­wye aardbewingsgordels of verskuiwings­vlakke. ’n Miljoen mense het gesterf in aardbewings in die 20ste eeu. Wetenskaplikes sê dat 10 keer soveel sterftes in die 21ste eeu mag voorkom, met ’n miljoen sterftes op een slag. (San Diego Union-Tribune, “Quakes Grow Deadlier”, 28 September 1999).

Maar aardbewings gaan begin voorkom op plekke waar ons dit normaalweg nie gaan verwag nie. John Nance, wat onlangs ’n boek oor aardbewings geskryf het, sê: “Dit is gevaarlik arro­gant vir enigeen van ons om, waar ons ook al bly, aan te neem dat die probleem slegs in ’n spesifieke geïsoleerde area is. Ons is verenig onder dié seismo­grafiese gevaar” (Los Angeles Times, “Superquake may lie ahead almost anywhere in the US”, 25 Maart 1989).

In dieselfde artikel waarsku Nance: “Omdat hulle so pateties onvoorbereid is, is die oostelike seekus van Amerika in groter gevaar as die westelike seekus: hulle boustandaarde is baie minder streng as dié van Kalifornië, wat volgens baie mense eintlik ‘aardbewingland’ is. ’n Aardbewing iewers in Amerika se Midde-Weste of in Nieu-Engeland kan byvoor­beeld verwoestend wees omdat daar so min voor­bereiding getref is en die onverwagte skok so oor­wel­digend sal wees”.

In die laaste paar jaar het wetenskaplikes tot ’n beter begrip gekom van die onmeetlikheid en die omvang van die geweldige verskuiwingsvlakke wat onder die hele aardoppervlakte vervleg is. Maar, nie alle toekomstige aardbewings sal natuurlike kata­strofes wees nie, nie die gewone kreune en knersings van die aardkors nie. Sommige sal direk deur God veroorsaak word as ’n teken van Sy mag, en sal plaasvind om mense te laat wakker skrik. God gaan direk ingryp in die mens se sake. Die aard­bewings wat Jesus noem as ’n voorteken van Sy weder­koms, sal ongewoon wees weens die plek waar hulle plaasvind of hulle ongeëwenaarde om­vang.

WAAROM? Meeste van ons besef waarom. Maar onthou dat Jesus Christus uitdruklik voorspel het: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Matt. 24:7). Was daar dan nie altyd aardbewings nie? Natuurlik! Dus moes Jesus verwys het na ’n groter verspreiding van aard­bewings – en na meer kragtige aardbewings. Dit is presies wat die afgelope paar jaar besig is om te gebeur!

In Jesaja 29:6 sê God rakende Jerusalem: “Vanweë die Here van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van ’n verterende vuur”. God sê: “Want Ek, die Here, het NIE verander nie” (Mal. 3:6). Hy het ou Jerusalem met aard­bewings en storms gestraf. Hy begin nou om moderne Israel op dieselfde wyse te straf.

Party koerantskrywers in Los Angeles wou weet “Waarom word daar dan op Los Angeles gepik?” Die vraag moes eerder wees, “Waarom NIE?”

Los Angeles word beskou as die mediahoofstad van die wêreld. Dáár word meer verrotte, vieslike rolprente en televisieprogramme gemaak, volgeprop met moord, chaos en onwettige en verdraaide seks as in enige ander plek in die wêreld. Kalifornië word lankal beskou as die toonaangewer van byna enige vorm van perversie wat die mens kan bedryf. Dus is dit die goeie reg van die Groot GOD wat die mens en elke nasie se sake lei, om die mense wat Hy so liefhet maar wat sulke morele agteruitgang en rebelsheid teen Sy wette en lewenswyse toon, te straf. Die mense in Kalifornië, en in die meeste Engels­­sprekende lande, het reeds baie kanse gehad om die Waarheid te leer, as hulle werklik daarin belang gestel het.

Miskien sal ’n goeie “opskudding” aandag trek! Wees dus op die uitkyk vir toenemende aardbewings as ’n “teken” dat Christus binnekort terugkom.

4. Siekte-epidemies

’n Plaag van siekte-epidemies is besig om gesondheidsbeamptes die hele wêreld oor te bekommer. VIGS is maar net een van dié talle “nuwe” siektes. Daar is die ebolavirus, malkoeisiekte en baie ander wat gesondheidsbeamptes wêreldwyd bekommer. Baie van die mensdom se ou kastydings (waarvan malaria en tuberkulose maar slegs twee is) is besig om weer voor te kom as supersiektes wat enige geneesmiddels teëwerk, soos byvoorbeeld penisillien, wat vantevore met sukses aangewend is om hulle te beveg! Natuurlik affekteer ’n degene­re­rende ­siekte soos kanker asook hartsiektes ’n al hoe groter getal mense, omdat ons voedsel- en water­voorrade toenemend besmet word met die besoede­ling wat so eie is aan ons moderne tegnolo­giese eeu.

Die Bybel wys duidelik dat toekomstige epidemies gedeeltelik deur wilde diere versprei sal word (Op. 6:8). Party van die verskriklikste plae wat die mensdom getref het soos die builepes, is deur diere versprei. Builepes is ’n natuurlike inheemse pro­bleem onder wilde diere in sekere gebiede. Dit is slegs deur die samelewing se ywerige toepassing van sanitêre standaarde dat sodanige probleme tans slegs aan die randjie van die beskawing voorkom.

Mense besef dat wanneer ’n gemeenskap deur oorlog of natuurlike katastrofes omvergewerp word, die bedreiging van siektes altyddeur bestaan. Maar hierdie siekte-epidemies is net ’n voorsmakie van die dodelike, aansteeklike pandemies wat voorspel is om die aarde te tref. “En toe Hy die vierde seël oopge­maak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood; en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Op. 6:7-8).

Die Griekse woord vir “vaal” is “chloros” wat die liggroen of sieklike geel kleur van ernstige siekte voorstel. Jesus Christus voorspel dat “pessiektes” een van die tekens is om die mensdom te waarsku van Sy naderende terugkeer (Matt. 24:7).

Sal God die aarde met dodelike siekte-epidemies tref? God inspireer Moses om te skryf: “As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde” (Deut. 28:1). Let noukeurig op dat God sê dat indien Israel Hom gehoorsaam en al Sy gebooie onderhou, Hy hulle oor al die nasies van die wêreld sal stel. Dit is presies wat God in die tyd van koning Dawid gedoen het met die antieke koninkryk van Israel. Toe koning Dawid God met sy hele hart gehoorsaam, begin God om ongelooflike seëninge op Israel uit te stort.

Wat het gebeur toe die “toorn van die Here” op Israel losgelaat is weens hulle ongehoorsaam­heid? “En die Here het ’n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentigduisend man gesterwe. Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit die Here berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug!” (2 Sam. 24:1, 15-16). Wat ook al ons herkoms of etnisiteit, ons is geensins beter as daardie ou Israeliete nie.

Die Israeliete van die Ou Testament, wat hulle tot ’n verhouding met die Almagtige God verbind het, het belowe om volgens Sy Woord te lewe. Hulle het Sy Naam geprys en hulleself beskou as God se volk. Maar die Groot God van die Heelal is nie beïndruk met blote woorde van lojaliteit en liefde (skynheilig­heid) nie. Hy vereis dat ons ons woorde met aksie, opregtheid en eerlikheid moet rugsteun.

“Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig; maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood ... Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood” (Jak. 2:14-17, 26).

Ons moet wys dat ons ten volle gelowig is en verbonde is tot God. Ons moet ernstig probeer om alles te doen wat God van ons vereis ten opsigte van ons families, seksuele verhoudings, sake-aange­leenthede en in elke ander aspek van ons lewe. Waarom? Luister wat God in Sy Woord inspireer.

“Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal ... Die Here sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom ... Die Here sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie. Die Here sal jou slaan met kranksinnigheid en blindheid en sinsverwarring” (Deut. 28:15, 22, 27-28). Siekte-epidemies is duidelik ’n strafmaatreël wat God inspan teen ongehoorsame mense.

Tensy ons na God terugkeer in opregte berou tot bekering soos nog nooit tevore nie, gaan God al hierdie dinge oor die wêreld bring, en die moderne afstammelinge van Israel is ingesluit in dié straf.

Verskriklike tye is aan die kom. Ons praat nie nou van ’n klein ou gebeurtenissie iewers in ’n uithoek van die aarde nie. Ons praat van die mees groot­skaalse gebeurte­nis na gebeurtenis – wat die ingryping deur die Skepper in die geskiedenis van hierdie wêreld sal beklemtoon. Niks uit die verlede sal enigsins hiermee vergelyk kan word nie. Kan u begryp watter massiewe effek dié gebeure op u lewe en alles wat u ooit geken het gaan hê?

Luister! God probeer u aandag trek. Hierdie toekomstige gebeure gaan wérklik plaasvind. Hulle sál gebeur. U moet my nie glo nie. Glo wat in u Bybel opgeteken staan. Gaan hierdie profesieë na en bewys vir uself dat dit gaan gebeur. Dít is hoe u God gaan leer ken. U sal God moet ken om op Sy beskerming aanspraak te mag maak in dié moeilike tye wat voorlê.

Dié gebeure gaan nie iewers ver in Afrika, of Asië, of op ’n klein eilandjie plaasvind nie. Siekte-epidemies soos nog nooit in die mens se geskiede­nis ondervind is nie gaan Amerika, Brittanje, Kanada, en die voormalige lede van die Britse Gemenebes tref.

5. Die Opkoms van ’n Aggressiewe, Fundamentalistiese Islamitiese Mag

Die Bybel profeteer dat daar in die eindtyd ’n charismatiese persoon in Noord-Afrika of die Midde-Ooste sal heers. Dié persoon sal in staat wees om nasies te verenig in ’n magsblok en om daardie mag aan te wend teen ander nasies. Hierin sal Egipte ’n sleutelrol speel.

“Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom [’n mag wat noord van die koning van die Suide geleë is] in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei ... En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg” (Dan. 11:40, 42-43).

Hier is ’n goeie rede waarom u die daaglikse koerante moet dophou. Koerantlees gaan baie interes­sant raak as u Bybelprofesieë verstaan. U sal dan begin besef wat die betekenis is van massiewe wapenaankope deur lande in die Midde-Ooste – wapens wat hulle aankoop van die wapen­produ­serende lande soos Noord-Korea, China, Rusland, Oos-Europa, die VSA en selfs van Suid-Afrika.

Tans is die hele Islamitiese wêreld in die Midde-Ooste en Noord-Afrika betrokke in ’n oplewing van Islamitiese fundamentalisme wat aggressief aange­blaas en gefinansier word deur die Islamitiese Republiek van Iran. Islamitiese fundamentalistiese bewegings probeer om huidige gematigde, pro-Westerse en wêreldse regerings te destabiliseer en poog om hulle te vervang met ’n verenigde, herrese Islamitiese kalifaat (ryk) – die geprofeteerde “koning van die Suide”. Die uiteindelike leier van hierdie Islamitiese nasies sal ’n godsdienstig-politiese vals Messias of “Mahdi” wees, wat sy mag sal verkry van ’n konfederasie van daardie nasies. Hy sal sleutel­gebeure uitlok wat moet plaasvind voor Jesus Christus se weder­koms na die aarde soos dit in Daniël 11 beskryf word.

Een van die wêreld se toonaangewende nuus-tydskrifte, The Economist, skryf die volgende oor die potensiële vermoë van ’n militante Islamitiese ryk, “... ’n Islamitiese mag kan moontlik nooit tot stand kom nie; maar indien dit sou, sou dit beslis die geweer [vermoë om oorlog te voer] verkies bo die beursie [vermoë om in vrede die plaaslike ekonomie en lewenswyse op te bou]. ’n Nuwe staat, saamgestel uit die westelike Islamitiese lande wat die beginsels van Islam bely, sal dus ’n ideologie aanhang wat duidelik teenstrydig is met dié van die moderne Weste. As die meeste onderdane van hierdie staat bowendien Arabiere is, sal hulle ’n eenvormige taal praat – wat hulle mag verder sal versterk. Dié staat sal die mag van olie hê, wat van hulle teen­standers weerhou kan word, of verkoop kan word om wapentuig aan te skaf om hulle teenstanders te beveg.

“Die aankoms van so ’n veglustige mag, sal twee bestaande vyande konfronteer. Een is Europa, wie se eeue-oue twis met westelike Islam steeds opvlam in plekke soos Bosnië. Dan kom Rusland, wie se grens met Islam in Midde-Asië steeds vaag is. Dit is glad nie onmoontlik dat ’n nuwe Islamitiese mag met beide Europa en Rusland in gevegte betrokke kan raak nie. Sou dit gebeur, bestaan die moontlikheid ook nog dat die Islamitiese mag na China sal reik as bondgenoot, omdat China ook ’n grensgeskil met Rusland het” (The Economist, “The New World Order”, 8 Jan. 1994, bl. 23).

Dink u dat fanatiese Moslems nie hulle wapens sal gebruik nie? U beter dit wel glo. Bybelprofesieë verklaar duidelik wat daar gaan gebeur. Die groot charis­­matiese “Mahdi” (Messias) sal al die Islami­tiese magte saamsnoer in ’n finale “jihad” (heilige oorlog) teen die korrupte Westerse lande, wie se godsdiens, lewenswyse en verrotte morele standaarde ’n dodelike uitdaging is vir die Islamitiese droom.

Dié “Mahdi” sal magtig genoeg voel om die Europese Unie uit te tart of aan te val (Dan. 11:40). Dit maak die wrede “koning van die Noorde” kwaad en dan word die magte van die koning van die Suide geheel en al verpletter deur dié Europese mag. Die koning van die Noorde sal die lande in sy pad dan soos ’n “oorstroming” oorrompel (vers 40) en die Midde-Ooste oorneem, insluitend die Heilige Land (verse 41-42). Die leërs van die koning van die Noorde sal beheer oorneem van die uitgebreide oliereserwes in die gebied (vers 43).

Hierdie geweldige gebeure lê net om die draai en sal aaklig wees om te aanskou. Die toekomstige koning van die Noorde, sal tiperend wees van ’n Napoleon of ’n Hitler: ’n magtige, dina­miese leier wat op grootskaalse wyse terugkap in ’n “blitzkrieg”. Hierdie dramatiese militêre vergelding teen die koning van die Suide sal ’n kettingreaksie van gebeure aan die gang sit.

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Dan. 11:31). Soos ons later sal sien, gaan daar óf ’n tempel óf ’n spesiale altaar in Jerusalem wees aan die einde van hierdie tydvak. Die priesters uit die familie van Aäron gaan weer daagliks diere offer soos voorge­skryf in die Ou Testament, totdat ’n groot militêre mag oorneem en die “ontsettende gruwel” oprig.

Hierdie verhaal vervolg in die twaalfde hoofstuk van Daniël. “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie” (vers 1). Hier word verwys na die mense van Amerika en die ou Britse Gemenebes (soos Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika) en na die Jode. Dus, net ná hierdie Islamitiese “koning van die Suide” ’n oorlog veroorsaak, en die Europese “koning van die Noorde” die grootste gedeelte van die Midde-Ooste oorwin, gaan die koning van die Noorde weswaarts beweeg teen God se mense, om ons aan te val. Dit is die begin van die Groot Verdrukking. Dit is presies wat Jesus beskryf in Matt. 24:21: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook NOOIT SAL WEES NIE”.

Ons moet besef waarheen al hierdie dinge lei, en hoe dit ons lewens gaan beïnvloed – ons familie, ons kinders, ons werk en ons toekoms.

6. ’n Opkomende Europese Unie Streef na Globale Heerskappy

Wees op die uitkyk vir dié sleutelgebeurtenis voor Jesus Christus se wederkoms: Die transformasie van Europa tot ’n sterk politieke, ekonomiese en militêre entiteit. Dié herlewing, in die gees van die ou Heilige Romeinse Ryk, sal die wêreld se magspolitiek om­verwerp, verstom en domineer.

Openbaring 13 beskryf die oplewing van ’n groot militêre mag. In simboliese taal beskryf die apostel Johannes ’n fantastiese dier wat uit die see verrys, met sewe koppe en tien horings. Dit verwys na ’n bose politieke stelsel wat by herhaling reeds die Westerse beskawings grootliks verdruk en sterk beïnvloed het en deur hulle ook die res van die wêreld.

Die sewe koppe verteenwoordig sewe duidelike oplewings van hierdie bose ryk oor ’n lang periode. Die tien horings verteenwoordig die tien leiers (konings) van die nasies waaruit hierdie ongoddelike federasie saamgestel is wat eerstens teen God se heiliges sal veg. “Dit is ook aan hom [leier van die bose ryk] gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin; en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Hierdie tien leiers gaan ook teen Jesus Christus veg met Sy wederkoms! “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Op. 17:12-14).

Hierdie finale sewende herlewing sal baie soos die Europese Unie lyk – tien verskillende nasies of groepe nasies wat deur tien konings of presidente verteenwoordig word. Daardie tien staatshoofde “ontvang mag soos konings EEN uur lank saam met die dier” (vers 12). Met ander woorde, hulle gaan vir ’n baie kort tydjie saam met die finale “Hitler” regeer.

Dit is skokkend! Die Bybel beskryf ’n geheel en al bose ryk wat nog tot stand moet kom – nie ’n politieke mag van jare gelede nie. Die lewe in die toekoms gaan nie meer “minsaam en vriendelik” wees nie. In die tydsverloop, lê dié finale stelsel net om die draai, en die mans en vroue in hierdie onderdrukkende regering gaan letterlik veg teen Jesus Christus met Sy wederkoms!

Ons lewe tans in ’n onstabiele oorgangsperiode in wêreldgeskiedenis. “Daar gaan ’n nuwe wêreldorde wees. Miskien nie die een wat u wil hê nie, of waarop u hoop ná die neerlaag van Kommunisme en die inperking van Saddam Hoessein nie. Maar ’n hergroepering van die wêreld se magspatroon, ’n nuwe verdeling van swak en sterk, is beslis op pad ... orde kom tot stand weens die interaksie van drie, vier of vyf groot moondhede wat ’n verskuiwing meebring in die samewerking en vyandighede tussen hulle. Dit is die dans van die dinosourusse. ’n Nuwe wêreldorde is nie iets om voor te wens of om weg te wens nie. Dit is die volgende aankoms op die vervoerband van die geskiedenis” (The Economist, “The New World Order”, 8 Jan. 1994, bl. 21).

Een van die hoofeienskappe van hierdie federale unie, in die Bybel beskryf as “die Groot Babilon”, is sy hoogs aantreklike ekonomiese vooruitgang en rykdom. Materiële goedere sal in oorvloed wees vir diegene wat met “Babilon” saamwerk en wat hulle aan “Babilon” onderwerp. Die Bybel sê die volgende oor hierdie toekomstige, bose federale unie: “omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Op. 18:3).

Die mensdom sal verlei word deur een van die oudste vals gode – die goue kalf van materialisme en plesier. Openbaring 18, verse 12 en 13, lys ’n paar van die artikels waarin “Babilon” sal handel dryf. Aan die einde van vers 13 word selfs “mensesiele” gelys. Die oorspronklike Griekse teks verwys nie alleen na lewende mense wat as slawe verkoop word nie, maar ook na die dooie liggame van mense.

In Hitler se Derde Ryk is menseliggame verkoop. Tandgoud is verwyder uit die monde van die gaskamerslagoffers en in goudstawe gesmelt. Vel is vir lampskerms gebruik. Hare is gebruik om kussings mee op te stop en materiaal mee te vervaardig. Kan dit weer gebeur? Miskien het u nie soos ek gedurende die Tweede Wêreldoorlog grootgeword nie. Dit is presies wat gebeur het in wat veronderstel was om die mees opgevoede, beskaafde nasie op aarde te wees – Duitsland! Dit was die nasie met proporsioneel die grootste getal mense met meesters- en doktorsgrade van alle nasies op aarde.

Moenie dink dat hierdie dinge nie weer kan gebeur nie! God sê dat dit weer SAL gebeur. Daar sal ’n herlewing wees van ’n bose ryk, met dieselfde gees as die heidense Romeinse Ryk. Dié ryk sal God se mense haat en God se Woord haat.

Hou u oë oop vir ’n ekonomiese magsblok wat in Europa opgerig word. Slegs ’n dekade of wat gelede het die nasies van Europa ’n lappieskombers van kompeterende geldeenhede, weermagte en beleids­rigtings gehad. Met die daarstelling van die Europese Unie in 1993 het onderlinge bande in Europa stewiger begin groei en het Europese wantroue aan die Verenigde State en sy NAVO teenwoordigheid toegeneem.

Hou die groei van die Europese militêre mag dop. “Deur die besluit om hulself toe te rus met tot 60,000 troepe om na krisis gebiede soos Bosnië en Kosovo te stuur, beplan die EU om ’n strategiese speler te word waarmee die Verenigde State en ander lande sal moet rekening hou” (San Diego Tribune, “EU Adops Military Goal”, 13 December 1999).

Die beweging na Europese eenheid op die vaste­land, en die gevolglike breuk met die Verenigde State se invloed, gaan kragdadig voort. Soos die Franse Eerste Minister, Jacques Chirac, gesê het van die nuwe militêre mag, “Europese verdediging moet natuurlik gekoördineer word met die NAVO alliansie. Maar vir die ontwikkeling en toepassing moet dit onafhanklik wees” (London Daily Telegraph, “Chirac Angers Blair”, 8 December 2000).

“Euro-skeptics” in die Verenigde Koninkryk het so ver gegaan as om Eerste Minister, Tony Blair, van “verraad” te beskuldig oor sy gretigheid om Britse onafhanklikheid af te staan aan Europa. Hulle wys op hangende EU voorstelle vir verdere belasting oor­een­stemmings, die verstewiging van ’n Europese gemeen­skaplike beleid en ’n versnelde pas tot same­smelting. Gedurende die EU leiersberaad in Nice in Desember 2000 het konserwatiewe politici vir Blair in die verleentheid gestel deur die openbaar­making van “’n gesamentlike Duitse-Italiaanse doku­ment waarin gevra word vir nog ’n leiersberaad in 2004 om ‘verdere ontwikkeling van Europese integrasie te beplan’” (London Daily Telegraph, “Tories Attack ‘Superstate Deception’”, 7 December 2000). Baie in Brittanje is ongemaklik oor die ver­swakking van hulle bande met die Verenigde State deur die EU, terwyl Britse nasionale onafhanklikheid terselfdertyd ver­swak word deur die sentraliserende krag van die EU.

Ons moet inderdaad die belangrikheid van die tyd waarin ons leef, verstaan. ’n Nuwe wêreldorde is besig om nou te ontwikkel. Sal die huidige Europese Unie dit self omskep in “die Groot Babilon”? Wees wakker en op die uitkyk daarvoor! Die Bybel se profesieë gaan definitief vervul word vóór Christus se terugkeer – dit is die hele punt.

’n Kritieke element ontbreek egter steeds uit die prentjie vir die ontwikkeling van “die Groot Babilon”. Al die magtige ryke van die verlede is gelei deur charis­matiese, dinamiese leiers, soos Adolf Hitler, Napoleon Bonaparte, Karel die Grote, Justinianus, Julius Caesar, Alexander die Grote en Nebukad­nésar.

Die Bybel gee ons egter wél inligting oor hierdie toekomstige “groot” leier wat die politieke en militêre mag van “die Groot Babilon” gaan oorneem. Let op die tydsbepaling van die volgende profesie: “En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde – want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Dan. 11:35). Die konteks van hierdie profesie is dus die eindtyd. Verder is dit ook belangrik om te onthou dat baie profesieë tweeledig van aard is. Dit beteken dat daar reeds ’n voorafgaande vervulling was van die profesie in die geskiedenis, en dat daar wel ook ’n toekomstige vervulling daarvan moet wees.

Ons leer in hierdie hoofstuk in Daniël dat ’n magtige leier nog op die wêreldtoneel moet verskyn. Hierdie “koning” wat in Europa gaan opstaan, “sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek ...” (Dan. 11:36).

Party Bybelstudente maak die aanname dat Daniël hier verwys na die groot vals profeet van die eindtyd, wat op dieselfde tyd as dié polities-militêre leier sal leef. Maar twee verskillende individue is hier ter sprake. Vers 36 handel oor ’n sekulêre leier – die toekomstige diktator – wat ’n aangename vleier, sluwe, egoïstiese en wrede persoon sal wees. Hierdie leier sal homself bo enige godsdienstige leier stel. Hy sal “homself verhef”. “En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word” (Dan. 11:36).

God gebruik wrede leiers soos die toekomstige “koning van die Noorde” om Sy skynheilige mense te straf: dié skynheiliges wat sê dat hulle Hom dien en Sy naam op hulle geld druk (soos die Amerikaners), maar nie doen wat Hy beveel nie. Hierdie toekoms­tige “Hitler” sal God se toorn uitdeel aan veral die mense van Amerika en die ou lande van die Britse Gemenebes, omdat hulle God se waardes verwerp het en plesier en gemak verkies.

“En jy, mensekind, so spreek die Here Here tot die land van Israel [wie se afstammelinge nou in die VSA en die ou Britse Gemenebeslande en party ander lande woon]: Einde! Die einde het gekom oor die vier hoeke van die land. Nou is die einde oor jou, en Ek sal my toorn teen jou uitstuur en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom; en my oog sal jou nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie, maar Ek sal jou wandel op jou laat neerkom, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die Here is.

So sê die Here Here: Onheil op onheil, kyk, dit kom! ’n Einde kom, die einde kom, dit word wakker teen jou; kyk, dit kom! Die lotsverandering kom teen jou, inwoner van die land! Die tyd kom, die dag is naby! Rumoer en geen vreugdegeroep op die berge nie! Nou sal Ek binnekort my grimmigheid oor jou uitgiet en my toorn teen jou laat uitwoed en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom. En my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal dit op jou laat neerkom volgens jou weë, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die Here is wat slaan” (Eseg. 7:2-9).

Dié toekomstige koning van die Noorde sal “op die gode van sy vaders … nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou” (Dan. 11:37). Hierdie veragtelike politieke leier gaan vir ’n tyd met ’n vals kerkstelsel saamwerk, maar hy is nie persoonlik aangetrokke tot die kerk se leerstellings nie, en wil dit slegs gebruik om mag te bekom. Hy beskou homself as verhewe bo die kerk. Met sy enorme ego probeer hy homself tot ’n god maak.

In die plek van gode sal hierdie toekomstige Hitler-tipe “die god van die vestings” of die god van ammunisie vereer: “die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer” (vers 38). Hierdie magtige individu gaan geweldige hoeveelhede internasionale hulpbronne aanwend om sy militêre magsmasjien op te bou. Hy gaan letterlik sy mag en daardie militêre magsmasjien aanbid. “So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van ’n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel” (Dan. 11:39).

Hier is die ongelooflike mag van die toekomstige “Hitler” beskryf, en, soos ons verduidelik het, gaan daar uiteindelik presies tien nasies of groepe nasies in Europa wees met tien konings of heersers oor hulle. Vir ’n kort tydjie voor Christus se koms, gaan hulle hulle mag en krag aan hierdie toekomstige diktator, hierdie “Hitler” gee. Soos vers 40 aandui, gaan hierdie Europese magsblok ook teen die Islamitiese magsblok van die Suide veg.

7. ’n Magtige Godsdienstige Figuur Lei ’n Godsdienstige Herlewing

Een van die definitiewe tekens van die “eindtyd” wat die afsluiting van die huidige bose era gaan aankondig, is die aankoms van ’n groot, vals godsdienstige leier op die wêreldtoneel. In die Bybel word hy die “valse profeet” genoem (Op. 19:19-21). Hierdie godsdienstige leier sal baie charisma hê, en sal groot invloed hê op ’n politieke mag – die toekomstige “Dier” (Op. 13, 17 en 19). Hy sal die invloedryke hoof van ’n groot, militante kerk in Europa wees, soos lank tevore reeds voorspel is. Dié kombinasie van persoonlike charisma en ongeloof­like vermoë om ander te beïnvloed, sal ’n enorme effek hê op die Westerse nasies.

Daar is in die Ou Testament oor hierdie toekomstige vals godsdienstige leier geprofeteer, dié leier wat op die “Dier” van die eindtyd sal ry. In Jesaja 47 is die profesie opgeteken oor ’n hernuwing van die ou Heilige Romeinse Ryk – die kombinasie van kerk en staat – wat as die “Dier” bekend staan.

“Kom af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel!” (vers 1). Let daarop dat sy ’n dogter is van antieke Babilon. ’n Moderne tipe Babilon moet nog verrys! “Sit op die grond sonder troon, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word die vertroetelde en verwénde nie” (selfde vers).

Wie is hierdie “jonkvrou” in Jesaja 47 dan? God se Woord gee die duidelike antwoord. “Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie” (vers 5). Hierdie jonkvrou word die “gebiedster van koninkryke” genoem omdat sy ’n onsedelike, politiese verhouding het met die verskillende koninkryke en regerings van hierdie wêreld, en in werklikheid oor ’n hele aantal van hulle regeer.

Kom ons lees verder oor hierdie belangrike profesie vir die eindtyd. “Ek was toornig op MY volk”, sê God in vers 6. Wie is God se volk? Daar is twee verduidelikings: Een is die Kerk van God, die ander is God se fisiese volk, Israel – “Julle [Israel] alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde” (Amos 3:2). Hierdie profesie het definitief ’n nasionale toepassing, dus kan dit nie na God se Kerk verwys nie. Dit verwys duidelik na nasies wat in die eindtyd die moderne Israel uitmaak.

God sê: “Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou [die Babiloniese stelsel se] hand oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard [ou Israel] het jy jou juk baie swaar laat druk” (Jes. 47:6).

Let op die woord “juk”. Dit is die juk van slawerny wat op ons gelê word deur die dogter van antieke Babilon. “En gesê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie” (vers 7). So gaan hierdie moderne “dame” [gebied­ster], hierdie vals godsdiensstelsel, ’n juk plaas op God se kinders wat die geboortereg het – diegene wat hulle ongelooflike nasionale erfdeel van die Almagtige God ontvang het.

God praat van hierdie vrou as ’n “gebiedster van koninkryke” wat ’n “juk” plaas op God se gekose volk, Israel, en sê dat hierdie Babiloniese vrou [gebied­ster] nie sal dink dat dit so vreeslik is wanneer sy God se volk vertoorn nie. Dan sê God: “Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie” (vers 8). Maar, sê God: “Hierdie twee dinge sal dan in ’n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap” (vers 9).

Dit is wat God sê! Maar hoe kan ons weet dat dit ’n profesie vir die eindtyd is? Waar word dit in die Bybel verduidelik?

Kom ons gaan weer na Openbaring, waar God van hierdie selfde stelsel praat. God sê: “… omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Op. 18:3). ’n Groot godsdienstig-politiese ekonomiese stelsel!

Wel, wat is ’n ekonomiese stelsel? Vers twee sê: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van aller­hande onreine geeste ...” Ja, die moderne Babilon wat reeds besig is om in Europa tot stand te kom, sal ’n baie gesofistikeerde, ryk stelsel wees wat binne­kort die grootste deel van Europa sal oorheers! En dit sal sterk deur Satan beïnvloed word!

Let op God se waarskuwing aan Sy volk: “Gaan uit haar uit, my volk” (Op 18:4). Party van God se mense sal in hierdie Babiloniese stelsel leef (fisies sowel as geestelik).


Die Bybel gebruik dikwels simbole om sekere raaiselagtige gebeure vir God se mense te omskryf. Hierdie simbole word altyd deur die Bybel self geïnterpreteer, en moet onder geen omstandighede geïnterpreteer word volgens menslike redenasie nie (2 Pet. 1:20-21). Wat simboliseer ’n “vrou” in Bybel­profesie? ’n Vrou (jongvrou/maagd of vrou) word dik­wels in die Bybel gebruik om ’n kerk te simboli­seer. Daar word na God se ware kerk verwys as ’n deug­same vrou, ’n “maagd” (Op. 19:7-9; Ef. 5:27-32).

Aan die ander kant word Satan se vals kerke uit­ge­beeld deur die simbool van ’n sedelose vrou, ’n “hoer” (Op. 17:1-18; Jes. 47:1-15). Baie mense sal na die vals kerk opsien as die ware kerk van God, haar beskou as die “jonkvrou, dogter van Babel” (Jes. 47:1) en haar die “gebiedster van koninkryke” (vers 5) noem. Hoofstuk 47 van Jesaja wys egter duidelik uit dat hierdie vrou in werklikheid geen “maagd” is, geen ware “dame” is, in God se oë nie. In der waarheid hou sy haar besig met allerhande “towerye” (vers 9), en “besweringe” (vers 12), en sy sal uiteindelik tot ’n skielike, verskriklike val kom (verse 1-15)!

In Bybelprofesie gebruik God “diere” om die politieke magte in die wêreld te simboliseer (Dan. 7:1-12; 8:3-21). In Openbaring 17 sit die “vrou” op die helderrooi “dier”, wat aandui dat sy beheer uit­oefen oor die politieke koninkryke van hierdie wêreld. Dit is ’n geskiedenisfeit dat ’n “vrou” (’n groot kerk) vir baie eeue in die verlede werklik beheer gehad het oor die Europese koninkryke van hierdie wêreld – ver­al gedurende daardie tydperk bekend as die Mid­del­eeue (c. 500 n.C. tot 1500 n.C.). Volgens Bybel­profesie sal dieselfde vrou weer in die “eindtyd” ge­wel­dige beheer uitoefen oor die nasies van Europa.

God gee hulle die opdrag om “uit haar uit [te gaan] ... sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtig­hede onthou” (verse 4 en 5). So word hierdie Babiloniese stelsel en die mense wat daaraan deel het, gewaarsku!

Kyk nou na vers 7: “Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie”. Onthou u daardie woorde? Dit is ’n direkte aanhaling uit Jesaja 47:8. Ja, die moderne Babilon gaan óók nog daardie woorde uiter!

“Daarom”, sê God, “sal haar plae op een dag kom [net soos God in Jesaja 47:9 sê]: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel” (Op. 18:8).

God gaan egter eers die moderne afstammelinge van Israel verneder en straf deur middel van die moderne Babiloniese stelsel. Moderne Israel gaan gestraf word soos geen ander volk nog OOIT in die moderne geskiedenis gestraf is nie, weens hulle flagrante ongehoorsaamheid, en hulle navolging van elke ongoddelike gruwel.

’n Groot, Vals, Godsdienstige Leier

Die groot, vals, godsdienstige leier gaan binnekort na vore tree – selfs nog in ons tyd! Hy gaan honderde miljoene mense mislei – nie net ’n paar honderd soos David Koresh en sy volgelinge nie. Ja, profesie wys dat honderde miljoene mense verlei gaan word! Dit is presies wat gaan gebeur net voor Christus se wederkoms.

Die apostel Paulus sê, in ’n brief aangaande Christus se wederkoms: “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom…” (2 Thess. 2:1). Hy waarsku vervolgens God se mense, “om NIE gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is” (vers 2). Party mense het selfs briewe geskryf en voorgegee dat dit van Paulus af kom. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf” (vers 3).

Dit is duidelik dat ’n groot, vals, godsdienstige leier op die toneel gaan verskyn net voordat Christus terugkeer aarde toe. Wat sal hierdie groot vals profeet se gesindheid en werkswyse wees? “... Wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (vers 4).

Hierdie man sal bonatuurlike kragte hê om mense te mislei! Hy sal in staat wees om groot wonderwerke te laat gebeur, soos om vuur uit die hemel te laat neerkom (Op. 13:13-14). Sal u so ’n man volg, of sal u nou u Bybel begin bestudeer om te verstaan wat presies die toekoms inhou? “En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens [wonderwerke] wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang ... het” (Op. 13:14).

Dié vals, godsdienstige leier gaan ’n geweldige impak hê op die Westerse wêreld – daarvan kan u seker wees! U moet op die uitkyk wees vir hierdie gebeurtenisse sodat u nie mislei word deur die toekomstige “vals profeet”, of deur enige mens nie! “Pas op dat niemand julle mislei nie” Matt. 24:4). Wees wakker! Hou u oë oop! Wees op die uitkyk vir ’n groot, charismatiese, vals, godsdienstige leier – ’n “vals profeet”! Hy sal, soos Simon die towenaar (Hand. 8:9-11), honderde miljoene mense mislei om te glo dat hy ’n groot dienaar van God is.

As u God se Woord ken – en dit gehoorsaam – sal u nie een van daardie miljoene mense wees wat deur die toekomstige “vals profeet” mislei word nie!

8. Die Evangelie van die Koninkryk van God verkondig aan al die nasies

Jesus Christus se Bergpredikasie is die sleutel om toekomstige gebeure te kan verstaan. In Matt. 24:3 vra Jesus se dissipels: “Vertel ons, wanneer sal hier­die dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Soos ons reeds gesien het, waarsku Jesus hulle eers teen vals profete, oorloë en gerugte van oorloë wat tot wêreld­oorlog lei, teen hongersnood, siekte-epidemies en aardbewings, en sê: “Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (vers 8).

“Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee…” (vers 9). Die toekomstige Groot Verdrukking gaan sowel die Kerk as die volk Israel tref. “... En julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam”. Hierdie vers is baie belangrik omdat dit eintlik sê dat God se ware Kerk en Sy Werk aan alle nasies bekend sal wees. Mense sal dit nie kan haat as hulle dit nie ken nie, sal hulle? Hulle gaan die ware Werk van God haat omdat hulle die boodskap wat die Werk verkondig, sal haat.

“Maar wie volhard tot DIE EINDE toe, hy sal gered word” (vers 13). Die einde waarvan? Wel, sekerlik die einde van u individuele persoonlike lewe, maar dit het ook betrekking op diegene wat nog lewe teen die eindtyd. Met hierdie stelling bedoel Jesus die einde van die 6,000 jaar van menslike belewenis en sonde onder die invloed van Satan die Duiwel, en die begin van ’n nuwe tyd wat ingewy word met Christus se tweede koms as Koning van die konings, en Here van die here.

In vers 14 noem Jesus nog ’n teken wat moet gebeur voor Sy wederkoms – en dit gebeur nou reeds. “En hierdie evangelie van die koninkryk” – die goeie nuus oor die toekomstige Koninkryk of wêreldwye regering van God, gebaseer op God se Wet – “sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n GETUIENIS vir al die nasies ...” Elke nasie op hierdie aarde, nie net ’n paar van hulle nie, sal dit as ’n “getuienis” hoor, nie om hulle te bekeer nie, maar as ’n verklaring van God se toekomstige bedoelings.

Dit is nie nou die tyd dat God probeer om almal te bekeer nie, al wil baie predikante wat tans probeer om die wêreld te “red” u presies dít laat glo! God loop nie rond soos ’n eensame hond met ’n swaaiende stert wat hoop dat iemand aan hom aandag sal gee nie. Weens sy sonde het die mens homself van God verwyder (Jes. 59:1-2). Jesus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:44). Dit is die enigste wyse waarop ’n mens tot God kan kom. God verkondig die Evangelie as ’n getuienis, sodat diegene wat gewillig is God kan soek en leer ken. Diegene wie se verstand en insig deur God oopgemaak is, sal kan verstaan. U is tans besig om ’n gedeelte van daardie “getuienis” te lees!

9. Wanneer Geloof Weereens Lewe of Dood Beteken

Wees op die uitkyk vir die vervolging van Christene en die Kerk van God wat die gebooie van God onderhou (Op. 12:17; 14:12). Jesus sê: “Dan sal hulle jul ... oorgee en julle doodmaak ...” (Matt. 24:9). Hier praat Hy met Sy volgelinge, Sy ware dissipels. Die apostel Johannes verduidelik aan die Kerk en elkeen wat die Bybel lees, watter toets bepaal wie ’n opregte Christen is en wie homself net as ’n Christen voordoen. “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Joh. 2:3-4).

Dit is die ware Christene wat die gebooie onderhou wat vervolg sal word. “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (Matt. 24:9). Jesus bedoel duidelik hier dat godsdiensverwarring in die eindtyd sal heers. “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Matt. 24:11). Net ’n klein groepie mense verstaan God se Waarheid – slegs diegene wat deur God geroep is. Vers 12 wys op die gevolg van die wêreld se geestelike blindheid en verwarring: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel”. Dus gaan daar in die eindtyd wydverspreide chaos en wetteloosheid wees wat, volgens God, teruggevoer kan word na vals leerstellings en godsdiensverwarring wat verkondig word deur ’n Babel van godsdiens-organisasies en gelowe.

God se mense gaan vervolg word in die eindtyd, net soos die vroeë Christene verskriklike aanvalle moes beleef. “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19).

Die huidige samelewing om ons gaan toenemend vyandig raak teenoor God se mense en die morele standaarde waarvolgens hulle lewe! Die politieke, besigheids-, media-, kulturele en godsdienstige elitegroepe gaan veroordeel voel deur die ware Kerk van God wat nie met God se Woord ’n kompromis aangaan nie. God se Kerk sal polities nie korrek wees nie. Hierdie wêreld gaan skuldig voel.

Wat van u? As die Woord van God ’n waarheid onthul wat vir u ongerieflik is, u in die verleentheid bring, of u persoonlik of finansieel duur te staan sal kom – wat sal u reaksie wees? Sal u vir God kwaad word omdat Hy inmeng in u lewe? God sê Hy het die reg om u te vertel wat reg en wat verkeerd is in die sensitiefste areas van u lewe. Party mense sal sommer smoorkwaad word omdat Iemand Sy waardes op hulle wil toepas! En hulle sal nie daarvan hou nie. Nadat hulle in die donker was, knip alle diere en mense onwillekeurig hulle oë in die lig. Hulle hou nie van die helder lig nie. So is dit dan ook met die lig van die Waarheid.

“Onthou”, sê Jesus, “die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar” (Joh. 15:20). Het die godsdienstige en politieke leiers van Jesus se tyd Sy woorde ter harte geneem? Nee, hulle het nie. Inteendeel – hulle het Hom gekruisig. Jesus gaan egter voort: “Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie” (vers 21).

10. ’n Krisis Tref Jerusalem

Hou die nuus dop! Die moderne nasie “Israel”, wat eintlik die nageslag is van die Bybelse stam Juda (plus ’n aansienlike groep uit Levi en Benjamin), sal geweldige militêre neerlae ly met ’n gedeelte van sy gebied beset deur vyande net voor Christus se tweede koms. Dit is uiters betekenisvol! Baie studente van Bybelprofesie verklaar dat die vestiging van Israel in die Heilige Land in 1948 die finale vestiging is van die nasie Israel. Dié siening is egter heeltemal verkeerd! Die vestiging in 1948 was slegs ’n klein voorloper van die reusagtige hervestiging van die oorblywende nasate van AL TWAALF DIE STAMME van Israel wat nog moet plaasvind. In die tussentyd gaan die arme lydende Jode in Israel aangeval en weereens verslaan word. Alhoewel mens beswaarlik daaraan kan dink, sê die Bybel uitdruklik dat dit sál gebeur.

“Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie” (Sag. 14:1-2).

“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het. En oor my volk het hulle die lot gewerp en ’n jong seun weggegee vir ’n hoer en ’n meisie verkoop vir wyn en dit gedrink” (Joël 3:1-3).

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Luk. 21:20). In die afgelope paar jaar is Jerusalem gedeeltelik omring deur leërs, maar ons gaan sien dat Jerusalem geheel en al deur leërs omsingel word. Kyk ’n bietjie na hierdie profesie: “Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug ...” Diegene wat op God vertrou, diegene wat in Christus glo, diegene wat ware Christene is, gaan verstaan wat om te doen wanneer hierdie dinge gebeur, omdat hulle die verskillende tekens bestudeer het soos Jesus gesê het hulle moet. Hulle sal wakker wees, weet wat in die wêreld aan die gebeur is en hulle sal bid. Hulle sal die berge in vlug. “... En die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (verse 21-22).

Dus sal Jerusalem, die politieke en emosionele hoofstad van Israel, in die toekoms deur haar vyande oorrompel word, totdat Christus terugkeer en die aggressor-nasies beveg (Sag. 14:3). Weereens gaan die stad van profete, konings en die Messias oorrompel word en verskriklik gestraf word. Hierdie belangrike gebeurtenis in die profetiese eindtyd gaan verdere wandade inlei.

11. Die Gruwel van die Verwoesting

Wanneer die stad Jerusalem aangeval en oorwin word, gaan die vreemde mag begin om “die gruwel van die verwoesting” op te stel, soos die Bybel dit noem. Wat is dit? Jesus Christus beskryf die gruwelike ding in Mattheus 24:15-20. Ons begin met vers 15: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is [vandag is dit bekend as die moderne staat Israel], na die berge vlug”. Die mense in Judéa word aangesê om die berge in te vlug sodra hulle hierdie gruwel sien.

Profesie voorspel dat Jerusalem weer deur leërs omring gaan word (Sag. 12:2) en dat ’n afgod in die Heilige Plek opgestel sal word. Jesus waarsku diegene wat getrou is om vinnig te vlug wanneer dié ontheiliging plaasvind. “Wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie” (Matt. 24:17-18). Met ander woorde, die mense moet dadelik padgee as dit gebeur, want as hulle sou wag, sou dit te laat wees om veilig te kan vlug. “Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat [God se mense sal die Sabbat onderhou] mag plaasvind nie” (verse 19-20).

Daar is ’n historiese parallel vir hierdie oorname van Jerusalem in die eindtyd en die oprigting van ’n afgod in die Tempel in Jerusalem. In die tyd van Antiochus Ephiphanes, so ’n 160 jaar voor Christus se eerste koms, het die heidense Seleucide Grieke varke geoffer op die altaar van God. ’n Standbeeld van Zeus, die hoofgod van die Grieke, is daar opgestel. Iets soortgelyk gaan weer gebeur. Ons lewe in ’n tyd wat beskryf kan word as ’n soort stilte voor die verskrikking van ’n geweldige storm. As u in 1935 ’n Jood was in Duitsland, sou u op u hoede gewees het vir die toekoms van u mense? Sou u die nodige stappe geneem het om die lewens van u gesin en familie te red? U moet weet wat in die wêreld om u aangaan! Die prys vir onkunde, laksheid of traagheid sal verskriklik hoog wees.

Dit word opvallend geïmpliseer in Mattheus 24:15 dat daar weereens diere geoffer sal word op die altaar by Jerusalem se Tempel, die altaar wat gewy is aan die God van Abraham, Isak en Israel! Dit word verder gestaaf in die skriftuur wat lui: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word…” (Dan. 12:11).

Aangesien daar voorspel is dat daar ’n plek van offerande sal wees, wonder baie mense of daar ’n groot Tempel in Jerusalem opgerig gaan word. ’n Alternatiewe idee is dat daar bloot ’n altaar opgerig gaan word, soos toe die Jode teruggekeer het van hulle ballingskap in Babilon (Esra 3:2). Wees op die uitkyk vir hierdie gebeurtenis in die wêreldnuus. Profesie toon duidelik dat die Jode weereens offerandes in Jerusalem gaan hê. Of dit in ’n Tempel of op ’n altaar gaan wees, is egter nog nie duidelik nie. Dink ’n bietjie terug aan die Sesdaagse Oorlog: die Jode tree vinnig en dapper op wanneer hulle daartoe genoodsaak word.

Van die tyd af dat die daaglikse offer aan God afgeskaf word deur die vreemde aggressor (heel moontlik die toekomstige “koning van die Noorde”) en “…die ontsettende gruwel opgerig word, sal daar duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Dan. 12:11). Hierdie skriftuur beskryf ’n sekere periode tussen die gruwel van die verwoesting en die einde van hierdie beskawing wanneer Christus terugkeer na die aarde as Koning van konings om die ware nuwe wêreldorde in te lui, die Koninkryk van God.

“Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik. En jy”, sê God aan Daniël, “gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Dan. 12:12-13). Met ander woorde, Daniël sou nie self sien dat hierdie profesieë wat God deur hom gespreek het, vervul word nie. Daniël moes sy lewe uitleef en sterf sonder dat hy dié geïnspireerde profesie wat hy moes neerskryf, verstaan het. Maar ons kan vandag Daniël se woorde lees en verstaan as ons met God begin wandel en hierdie dinge deeglik bestudeer. Ons moet besef dat ons in ’n betekenisvolle tydvak leef, wanneer al hierdie dinge binnekort gaan gebeur. Laat dit ons motiveer om God se Woord regtig te bestudeer. En, die belang­rikste, laat ons God in alles gehoorsaam wees!

12. Die Ineenstorting van die Engelssprekende Nasies – Die Groot Verdrukking

Voor Jesus Christus se glorieryke wederkoms om Sy Koninkryk op aarde te vestig, moet u bedag wees op die verval van die Engelssprekende nasies en hulle uiteindelike oorrompeling deur hulle vyande! Die Bybelse terminologie vir hierdie gebeurtenis is die “Groot Verdrukking”.

Die Woord van God openbaar dat die ergste, aakligste, skrikwekkendste tyd in die geskiedenis van hierdie planeet binnekort gaan plaasvind. Hierdie verskriklike tyd (die Groot Verdrukking) word ook “’n tyd van benoudheid vir Jakob” genoem (Jer. 30:7). Dit sal so ’n skrikwekkende periode wees dat dit die vernietiging en die menseslagting van die Tweede Wêreldoorlog soos kinderspeletjies sal laat lyk!

Laat ons dus die skrifture ontleed wat hierdie dramatiese en onverwagse verandering in die wêreld se magstruktuur verduidelik. Die meeste van ons sal hierdie rampspoedige tyd nog beleef, of ons dit nou besef of nie. “Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk” (Luk. 21:23). Wanneer u hierdie profesie waarlik verstaan, sal u besef dat Jesus hier die Anglo-Saksies-Keltiese mense, die Jode en die ander moderne afstammelinge van antieke Israel bedoel toe Hy hierdie verstommende profesie gegee het.

Let op die parallelle profesie in Mattheus: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes [God se ware volgelinge] sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:21-22).

In die verlede was dit nog nie moontlik om alle menslike lewe op aarde geheel en al uit te wis nie. Daar kon ’n verwoestende oorlog in Europa of in die Midde-Ooste wees, maar steeds sou miljoene mense in Afrika, Asië, Australië of Noord- of Suid-Amerika glad nie daardeur geraak word nie. Maar Jesus profeteer oor ’n unieke tydperk in die mens se geskiedenis. Geen nasie kan hulle veilig ag van die algehele vernietiging wat vandag moontlik is weens termo-kernoorlogvoering nie!

In die 1950’s het dit uiteindelik vir die mens moontlik geword om alle menslike lewe van hierdie planeet uit te wis. Gedurende die laaste 40 jaar het die mens sy vermoë om die mensdom te vernietig oor en oor verseker. Wetenskaplikes sê dat die mensdom sigself ten minste TWINTIG KEER geheel en al van die aarde af kan uitwis! Christus beskryf gebeure in ons leeftyd! Geen Romeinse leër in Christus se tyd kon ooit daarop aanspraak maak om sodanige moorddadige mag te hê nie.

Lees wat sê die Profeet Jeremia oor ons eindtyd: “En dit is die woorde wat die Here gespreek het oor Israel [wie se moderne afstammelinge gedeeltelik die Anglo-Saksies-Keltiese mense insluit] en Juda: Want so sê die Here: Ons het ’n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! Vra tog, en kyk of ’n manspersoon baar? Waarom sien Ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot [voorspel Jeremia onder inspirasie], SONDER WEERGA!” (Jer. 30:4-7). Daar was nog nooit so ’n tyd soos dié in die mens se geskiedenis nie. Wie gaan swaar kry in hierdie verskrik­like groot verdrukking? Dit is ’n tyd van “BENOUDHEID VIR JAKOB” (vers 7).

Dit gaan ’n swaarkrytyd wees soos nog nooit tevore beleef is nie. Daar kan nie twee sulke verskriklike periodes wees nie. Dit is dus dieselfde moeilike tyd wat in Mattheus 24:21 beskryf word, dieselfde tyd wat in Markus 13 en Lukas 21 beskryf word, dieselfde tyd wat in Esegiël 36 en Daniël 12 en elders as die “Groot Verdrukking” beskryf word. Dit is die tyd van God se ingryping om Sy uitverkore volk te straf. Oor dié verskriklike tyd sê God egter ook: “... maar aan jou sal Ek geen einde maak nie” (Jer. 30:11). Dus gaan God ons nie geheel en al vernietig nie, maar Hy gaan ons swaar straf – ons tot in ons fondamente skud om ons te laat wakker word. Hy sal Sy volk berispe en klein maak om hulle wakker te skud voordat dit te laat is!

Hierdie ongeëwenaarde tyd van swaarkry gaan oorwegend gemik wees teen die mense van Amerika en die lande van die ou Britse Gemenebes, alhoewel ander moderne afstammelinge van Israel ook hulle moeilikhede sal hê. Maar waarom is die straf teen ons gemik? Omdat die Anglo-Saksies-Keltiese mense die ontvangers was van God se ongelooflike geboorteregbelofte as die afstammelinge van die Patriarg Josef (Gen. 49:22-26). Vir meer inligting kan u gerus ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? aanvra. Volgens God dra geboortereg egter ook verantwoordelikhede. Ons is nie ’n gunsteling volk of witbroodjie nie, maar God het ons gekies vir ’n spesiale doel. Ongelukkig het ons versuim om daardie doel te vervul. Laat ons verstaan hoekom en wat alles gaan gebeur.

“En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:30)! Mag die Almagtige God daardie groot dag spoedig laat aanbreek!

Vir die afgelope 200 jaar is die Amerikaners en die afstammelinge van die lande van die voormalige Britse Gemenebes, bo alle nasies geseën met materiële dinge. Gedurende dié 200-jaar periode het die Engelssprekende lande mag gehandhaaf wat strydlustige, aggressiewe nasies – die Sentrale Moondhede in die Eerste Wêreldoorlog en die Spilmoondhede in die Tweede Wêreldoorlog – in die wiele gery het. Twee maal gedurende hierdie eeu het die Engelssprekende lande ’n mate van vrede en sekuriteit in ’n veglustige wêreld herstel. Maar ten spyte daarvan het die meeste mense as individue weggedraai van God, en skynheilig gaan ons voort om God te loof. “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mark. 7:6-7).

Etlike profesieë oor die eindtyd wys duidelik wat God sê gaan gebeur met die Anglo-Saksies-Keltiese mense, as ons ons nie wegdraai van ons huidige pad van ongehoorsaamheid aan God en Sy gebooie nie.

Die vernaamste profesie in die Ou Testament

Die vernaamste Skrifgedeelte om eindtydprofesie te verstaan vind ons in die ses-en-twintigste hoofstuk van Levitikus. Wanneer ons ons nasionale identiteit werklik verstaan, dra hierdie profetiese hoofstuk ’n baie dringende, nuwe betekenis. In hierdie hoofstuk is die fundamentele inligting rakende moderne Israel vervat – moderne Israel, waaronder die mense van Amerika en die Britse afstammelinge van die voor­malige lande van die Britse Gemenebes gereken word. Dié Anglo-Saksies-Keltiese mense is deel van die afstammelinge van die sogenaamde “Tien Verlore Stamme van Israel”. Hierdie profesie handel oor ons antieke voorsate, en dit handel ook oor ons kinders en kleinkinders in die eindtyd.

Ons moet op die uitkyk wees vir die vervulling van daardie profesieë wat die verval van die Verenigde State en Groot Brittanje voorspel, in so verre dit hulle nasionale aansien en mag betref. Ons moet bewus wees van wêreldgebeure, selfs voordat hulle stede totaal vernietig word in ’n toekomstige wêreldoorlog – die Derde Wêreldoorlog – wat die verskriklikste tyd in mensegeskiedenis gaan wees.

Hierdie probleme sal opbou, en u sal die gebeure voor u oë sien vorm aanneem. Die verval van die afstammelinge van Amerika en Brittanje – wanneer die mag van ons trots gebreek word, en uiteindelik, die vernietiging van ons nasies – is verseker as ons nie tot ware bekering kom en terugkeer na die Skepper, tot die ware God van die Bybel nie!

Aangaande die toekomstige Groot Verdrukking in die eindtyd sê God: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie, en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie” (Lev. 26:14-17). Die Almagtige God sê dat Hy ons gaan verneder. As ons voortgaan om Sy gebooie te verbreek, gaan Hy ons straf, en op ’n wyse wat ons ons nie eers kan indink nie.

President Nixon wys op Amerika se wilsverlies

In sy insiggewende boek, The Real War, bewys die voormalige President Richard Nixon dat Amerika wel die mag het, maar haar innerlike standvastigheid (“intestinal fortitude”) verloor het. Ons het ons deur­set­tings­­vermoë verloor. Mnr Nixon skryf: “Waaraan Amerika ly, is in sigself nie ’n dodelike siekte nie, maar eintlik ’n soort sluipende verlamming wat dodelik kan wees as dit nie behandel word nie. Saam met ons bondgenote in die Westerse wêreld het ons die vermoë om te oorleef, voorspoedig te wees, die toenemende en versterkte aanslae op ons sekuriteit die hoof te bied. Die vraag is of ons daardie vermoë sal gebruik”.

Het Amerika die wil verloor om as die groot mag in die wêreldarena op te tree? Amerika se geploeter in Haiti, Bosnië en Somalië is gevaarlike presedente. Mag is besig om uit Amerika se hande te glip. Die uitbundige toename in kern- en ander hoë-tegnologie­­wapentuig maak dit al hoe duurder en moeiliker vir Amerika om haar wil toe te pas sonder “onaanvaarbare” koste – selfs teenoor betreklik klein nasies soos Noord-Korea, Libië, Irak of Iran.

Ons moet die feit in die oë staar dat Amerika se mag besig is om uit haar vingers te glip, en ons moet verstaan waarom dit gebeur én voortdurend sal toeneem. Amerika, asook Brittanje, het die wil verloor, op ’n nasionale vlak, omdat God nie meer met hulle is nie. Amerika veral, het steeds die ongelooflike mag, maar nie meer die vermoë, die vertroue, die wil om daardie mag te gebruik nie. Met die gevolg dat daardie mag self begin taan.

Mnr Nixon gaan voort: “Amerika se onvermoë om wilsbesluite te neem die afgelope paar jaar is deels die gevolg van ’n moegheid om die laste as wêreldleier al meer as veertig jaar lank te dra. Amerika se onvermoë is gedeeltelik te wyte aan die traumas van Viëtnam en Watergate. Maar die grondliggende feit is dat talle leiers wat voorgee om die bewakers van Amerika se ideale te wees, eintlik die voorstanders is om ons die aftog te laat blaas” (The Real War).

Lees nou verder in die ses-en-twintigste hoofstuk van Levitikus, waar God sê: “En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek …” (Lev. 26:18-19).

Die trots van Amerika, Brittanje en die lande van die ou Britse Gemenebes gaan verpletter word. Soos President Nixon dit stel, ondervind Amerika haar reeds in ’n “onvermoë om wilsbesluite te neem”. Dit het reeds begin gebeur. As u die nuus volg, sal u lees van die hardnekkige probleme wat Amerika en die afstammelinge van die ou Britse Gemenebes in die oë staar, soos ons nasionale skuld, wat geheel en al buite beheer is.

Ons mededingers om globale mag en invloed kyk met toenemende blydskap op ons groep lande neer wanneer ons struikel in ons pogings om ons binne­landse en internasionale probleme te probeer oplos. Hierdie dinge gebeur omdat ons van God weg­gedraai het. Ons het nie die God van ons voorvaders gehoorsaam nie.

In Levitikus 26 en Deuteronomium 28 is kragtige profetiese waarskuwings aan ons, vandag, omdat God nie verander nie (Mal. 3:6; Heb. 13:8). God belowe dat, as ons Hom gehoorsaam, Hy ons “die hoogste stel bo alle nasies van die aarde” (Deut. 28:1). As ons Hom egter nie gehoorsaam nie en Sy gebooie nie onderhou nie “sal jy [vervloek] wees in die stad” (Deut. 28:16). Is ons vervloek in ons stede? Dink ’n bietjie daaroor. Ons, hier in Amerika (asook Suid-Afrika), is bang om saans uit ons huise te gaan. Ou mense en vroue en baie ander mense oor die hele land is bang om in die aand uit te gaan. Ons is soos gevangenes toegesluit in ons huise. Nee, ons is beslis nie geseënd in ons stede en dorpe nie.

Verder veroorsaak ons ongehoorsaamheid dat ons vervloek is in ons kosvoorraad, ons seksuele verhoudings en enige nasionale program of beleid wat ons aanpak, omdat ons weggedraai het van die Groot God.

Die groeiende effek van ons nasionale sondes sluit in: toenemende misdaad, geweld, huweliks­ontrou, seksuele verdraaiings van enige soort, leuens, kullery, stelery en enige denkbare vieslikheid wat gruwelik is in die oë van die regverdige en heilige God. Die selfsug en dekadensie van ons “moderne lewenswyse” – wat gebaseer is op egoïstiese trots en ydelheid – knaag soos gulsige termiete aan die struktuur van Amerika, Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika se nasionale grootheid. Hoe lank voordat ons huis inmekaar tuimel? Kyk om u rond, en dink hieroor na.

Ten spyte van ons geweldige nasionale seëninge het die afstammelinge van die Anglo-Saksies-Keltiese nasies weggedraai van God. Ons het ons morele standaarde laat neerstort. Ons het nasies geword van afvalliges, leuenaars, diewe en moordenaars. God gaan ons straf, vir ons eie beswil, soos God elke seun wat Hy liefhet, teregwys en tug (Heb. 12:5-6).

God sê: “Jy [sal] jou vyande wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles” (Deut. 28:48). Met ander woorde, die Engelssprekende nasies (insluitende die Jode en die ander mense wat tussen die Engels­sprekendes woon) sal in ’n verskriklike slawerny ingaan. God sê ons sal “gebrek [hê] aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het” (vers 48). Is dit dan nie duidelik nie? God gaan toelaat dat ons in nasionale slawerny ingeneem word. Die groot slagting van die Tweede Wêreld­oorlog sal nie so indrukwekkend lyk in vergeleke met dié nasionale slawerny nie. Ná hierdie verskriklike straf deur God, sal ons mense nie almal doodgaan nie, maar ons sal nie langer as nasies voortbestaan nie, nie langer as Amerika of as afstammelinge van die ou Britse Gemenebes nie.

“Die Here sal teen jou ’n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ’n arend vlieg – ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie, ’n nasie hard van aangesig, wat ’n grysaard nie ontsien nie en vir ’n seun geen genade het nie” (Deut. 28:49-50). Let daarop dat dié nasie van “ver af” kom, van die einde van die aarde af – uit Europa. Hierdie vyand sal vinnig wees, “soos ’n arend vlieg”. Dit is interessant dat drie groot nasies die arend as hulle nasionale simbool het. Een is die Verenigde State, die ander is Rusland, en die derde is Duitsland. Dit sal ’n nasie wees “... wie se taal jy nie verstaan nie” (vers 49), ’n nasie wat “geen genade het nie” (vers 50) – dus ’n geweldige, oorlogsugtige nasie.

God openbaar verder dat ons binne ons eie stede beleër gaan word (vers 52), en dat ons so honger gaan wees, so desperaat gaan wees in die toekoms, dat ons selfs afskuwelike kannibale gaan word (vers 53).

Uiteindelik sal ons in SLAWERNY weggevoer word deur ’n toekomstige groot mag, wat nou reeds besig is om in Europa vorm aan te neem!

God belowe om Sy mense te verlos!

God sê dat Hy ons sal verneder en ons sal straf, maar Hy belowe ook dat Hy ons van al ons probleme sal verlos – wanneer ons waarlik ons les geleer het en wegdraai van al ons gruwelikhede!

Die Profeet Daniël praat ook van die tyd van die Groot Verdrukking. “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie…” (Dan. 12:1). Dit is duidelik dat “jou volk” God se “geboorteregvolk”, die afstammelinge van die sogenaamde “Tien Verlore Stamme van Israel” insluit.

“Maar in dié tyd sal jou volk [al die afstammelinge van die Patriarg Israel] gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” (verse 1-2).

Die tydvak is onmiskenbaar. Daniël praat van die opstanding van God se heiliges tot onsterflikheid wanneer die sewende of “laaste basuin” weerklink, en Jesus terugkeer aarde toe met al Sy magtige engele om die Koninkryk van God te vestig en vir 1,000 jaar hier op aarde te heers (1 Kor. 15; 1 Thess. 4; Op. 20). Daniël praat nie van iets wat jare gelede in die Middeleeue gebeur het nie. Hierdie profesie aangaande die Groot Verdrukking strek tot die einde van hierdie bose wêreld en die glorieryke wederkoms van Christus (Matt. 24:21-30).

Soos wat die voorgaande profesie uitwys, sal God een van Sy magtige engele, Mígael, opdrag gee om “wag te hou” oor die mense van Israel, wie se mag teen daardie tyd gebreek is en as gevange slawe onder baie nasies versprei is.

God se wonderbaarlike verlossing van Sy mense word duidelik getoon in die dertigste hoofstuk van Jeremia. “Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die Here; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak. Want Ek is met jou, spreek die Here, om jou te verlos. Want Ek sal ’n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie” (Jer. 30:10-11).

Die res van die dertigste hoofstuk, sowel as die een-en-dertigste hoofstuk van Jeremia, verduidelik dan hoe God later Sy volk mildelik sal seën, wanneer hulle werklik hulle les geleer het. “En uit hulle sal danksegging uitgaan en ’n stem van spelers; en Ek sal hulle vermenigvuldig, en hulle sal nie verminder nie; en Ek sal hulle verheerlik, en hulle sal nie gering word nie” (30:19).

Wat sal Israel se finale status wees, nadat God hulle uit ballingskap en uit die hande van ’n wrede verdrukker red? “Hoor die woord van die Here, o nasies, en verkondig in die kuslande [eilande] wat ver is, [dit sluit die Britte in] en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ’n herder sy kudde. Want die Here het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy. En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie.

“Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer. En Ek sal die siel van die priesters [God se dienaars] verkwik met vettigheid, en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek Here” (Jer. 31:10-14).

Ongelukkig moet die slegte nuus wat God se Woord voorspel en die verskriklike swaar tyd van die Groot Verdrukking, wat binnekort die onvoorbereide, eiesinnige wêreld onkant gaan vang, eers gebeur! Wat ’n tragedie dat ons mense nie wil hoor en hulle na God wil draai nie! Daardie tyd sal die verskriklikste tyd wees wat nog ooit op hierdie aarde beleef is (Matt. 24:21; Jer. 30:7; Dan. 12:1)!

Maar die uiteindelike goeie nuus is dat God se Woord ook Jesus Christus se naderende wederkoms voorspel. Hy sal die moderne afstammelinge van Israel (van wie die Anglo-Saksies-Keltiese mense en die Jode deel uitmaak) red uit ’n verskriklike tyd van slawerny en swaarkry. God sê dat Hy alle menslike regerings sal wegvee (Op. 11:15-18; 19:11-21). Christus sal dan vir Satan verban sodat hy nie langer in staat is om die nasies te mislei nie (Op. 20:1-3). Nadat Satan van sy magsposisie oor die nasies onthef is, sal die Groot God Sy Koninkryk vestig op hierdie aarde wat deur sonde vervloek en deur oorlog geteister is (Jes. 11:1-9; Op. 20:1-4).

Die Profeet Daniël skryf ook oor die goeie nuus van die vestiging van die wonderlike Koninkryk van God: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Dan. 2:44).

Verder sê Daniël: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Dan. 7:27).

Uiteindelik sal die nasies die Groot Verdrukking deurleef en die periode binnegaan wat al die profete voorspel het – die vestiging van die Koninkryk van God om alle nasies te regeer en wat vrede, voorspoed, gesondheid en geluk aan alle nasies bring!

13. Hemelse tekens en die Dag van die Here

Ná die Groot Verdrukking sal dramatiese sterretekens in die hemel sigbaar wees vir almal op aarde. “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word” (Matt. 24:29).

God gaan werklik in die mens se sake ingryp! Hy gaan selfs in natuurgebeure ingryp en aan hierdie geslag bewys dat daar ’n ware God is. Nadat die moderne nasies van Israel in ballingskap is, is God nog lank nie klaar nie. Ons doen ons voor as Christelike nasies, maar nasionaal gesproke is ons gevul met bedrog, ydelheid, gierigheid en geweld.

Blaai nou na Openbaring 6. “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval” (verse 12-13).

Hierdie gebeure is die ongelooflike dele van ’n crescendo wat opbou tot Christus se terugkoms. Soos ’n groot vuurwerkvertoning in die aand, sal ons letterlik die oorskakeling sien van die Groot Ver­drukking na God se intensiewe straf direk op diegene wat steeds onbekeerd en uitdagend rebels teenoor God staan. Let op na vers 17: “Want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”

Hier in Openbaring 6 gee die ses seëls die hooftrekke van dieselfde eindgebeure wat Christus aan Sy dissipels voorspel het. Soos die seëls oopgemaak word, het ons eerstens vals profete; tweedens oorloë; derdens hongersnode; vierdens siekte-epidemies; en vyfdens die Groot Verdrukking (wat die marteling van die heiliges insluit). Die sesde seël is die hemelse tekens. In Joël 2:31 lees ons ook dat die hemelse tekens sal plaasvind voor die groot en vreeslike Dag van die Here. “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joël 2:31). Ons het reeds in Mattheus 24 gesien dat die hemelse tekens volg op die Groot Verdrukking. Wat moet egter nog gebeur voordat die Koninkryk van God ten volle gevestig kan word?

14. Die sewe laaste plae

Nadat die eerste ses seëls van Openbaring oopgemaak is, lees ons: “Want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan”? (Op. 6:17). Dan, nadat Openbaring 7 die beskerming van die 144,000 en die groot menigte beskryf, verduidelik hoofstuk 8 dat die sewende seël oopgemaak word. Dit is God se direkte straf op ’n rebelse wêreld. Hierdie straf behels die plae van die sewende basuin, wat in Openbaring 8 en 9 beskryf word.

Uiteindelik, in Openbaring 11:15, word die sewende basuin – die beroemde “Laaste Basuin” – geblaas. Christus keer terug met mag en glorie. Maar selfs met Sy terugkeer sal die misleide nasies hulle ware Skepper nog beveg en vervloek! (Op. 16:21; 17:14).

Daarom stort Christus die verskriklike sewe laaste plae uit met Sy wederkoms, soos beskryf word in Openbaring 15:1 en 16:1-21. Bestudeer hierdie skrif­gedeeltes. Hierdie plae gaan onbeskryflik verskriklik wees!

Maar selfs hier laat God – wat elke seun wat Hy liefhet, teregwys en straf (Heb. 12:5-6) – hierdie dinge gebeur om mense en nasies tot hulle sinne te bring! Wanneer u hierdie Skrifgedeeltes lees, sal u sien dat elke berg en elke eiland op aarde GESKUD sal word. Daar sal letterlik NIKS van hulle voormalige wêreld oor wees wat die hardkoppige, veragtelike, rebelse mense kan aanhang nie. Alles om hulle sal verwyder of VERNIETIG wees. Die mensdom sal dan besef dat hy NIKS is in vergelyking met die Skepper God van die heelal nie.

Honderde miljoene mans en vroue sal dan erken, soos Job uiteindelik moes erken: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (Job 42:5-6). Soos nog nooit vantevore nie sal menslike wesens ware berou tot bekering hê en gewillig wees om na die Waarheid te luister, te luister na God se ware predikers en leermeesters, en gewillig wees om hulle Skepper te gehoorsaam.

Dan sal hulle waarlik hierdie stellings verstaan wat God in Jesaja laat opteken het: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het” (Jes. 57:15-16).

Dan, uiteindelik, sal die mensdom as geheel nederig en ontvanklik wees vir God se Waarheid. Hulle sal hulle onderwerp aan die lewende Christus en aan die herrese heiliges wat saam met Hom die hele aarde help regeer in die Wêreld van Môre. Dié wêreldregering wat Christus sal vestig, sal bekend wees as die Koninkryk van God, en dit sal die aktiewe, praktiese, regerende leierskap van God op hierdie aarde wees!

Wat lê net om die draai?

Wat gaan dus gebeur? As ons, as nasies, nie bitterlik berou het tot BEKERING van oortreding van God se wette nie, lyk die toekoms vir Amerika en die afstammelinge van die ou Britse Gemenebes-lande inderdaad duister, want elke groot nasie en ryk wat tot die dieptes van wetteloosheid gedaal het, soos wat nou met ons gebeur, het tot ’n val gekom.

Sal Amerika en Brittanje se predikers wakker word en gehoorsaamheid aan God se wette begin preek? Sal ons politieke leiers na hulle Skepper draai in ware, goddelike vrees, en God en Sy weë die kern van ons nasionale lewe maak? Sal opvoedkundiges, sielkundiges en sosioloë begin om hulle idees te bou op die Woord van God? Wat dink u?

Die antwoord is duidelik. Vir die Engelssprekende nasies van die wêreld – soos Amerika, Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en ander gewese lande van die Britse Gemenebes – is daar ’n tyd van nasionale ellende voor die deur. Eintlik is dit nasionale straf, ongehoord in die annale van die moderne mens se geskiedenis. Maand na maand, jaar na jaar, sal meer en meer dinge op die een of ander wyse vir ons begin skeefloop. Ons nasionale skuld sal toeneem. Ons onsedelikheid en misdaadsyfers sal toeneem. Ons stede sal selfs minder veilig raak, soos wettelose boewe, bende-oorloë en rasse-onluste die bo-toon voer – en uiteindelik voedselonluste, omdat daar voorspel is dat droogtes en hongersnode ons gaan tref.

In Sy beskrywing van hierdie situasie waarin ons ons in die eindtyd sal bevind, sê God: “En die Here sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die Here julle sal drywe. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die Here jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deut. 4:27-31).

Ja, as ons – as nasies of as individue – nie gehoor gee aan die waarskuwing wat nou, en in die volgende paar maande en jare uitgaan nie, sal ons die volle toorn van God se berispende straf moet voel.

Terselfdertyd kan u seker wees dat daar ander leuenagtige stemme van misleiding sal wees wat sê dat u u nie hoef te bekommer nie, dat alles goed sal gaan. “Want die huis van Israel en die huis van Juda het baie troueloos teen My gehandel, spreek die Here. Hulle het die Here verloën en gesê: Dit is nie Hy nie” (Jer. 5:11-12).

Met ander woorde, ons as mense sal sê dat hierdie profesieë nie werklik is nie, dat dit nie God is wat praat nie, dat dit sommer net die onsin is van ’n onheilsprediker. Die ongelowiges sal sê: “En geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie” (vers 12). Ja, selfs vals predikers sal kwaad praat van God se ware bediening. “En die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie”. In moderne taal sê hulle dat God se dienaars ’n klomp “windsakke” is, dat mense nie moet luister na wat God se dienaars sê nie, want “die Woord [van God] is nie by hulle nie” (vers 13).

God waarsku ons duidelik voor die tyd dat daar ongelowiges en twyfelaars sal wees wat God se waarskuwing deur Sy ware dienaars sal weerspreek en bespot. “Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe ... sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is ... Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Pet. 3:1-4).

Wat staan u te doen?

U behoort nou te besef dat ons nasies in doodse gevaar verkeer. Alles wat u ken, sal in die volgende dekade of twee verander. U toekoms en die toekoms van u kinders en kleinkinders is werklik op die spel.

Daar is ’n ware God in beheer van sake. Hy regeer oor die mens en oor die nasies, en Hy is dieper betrokke by die mens as wat u besef. Blaai nou na Daniël 4:25 waar Daniël in ’n gesprek met koning Nebukadnésar sê: “…u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil”. God sê, deur Daniël, dat “die Allerhoogste mag het” oor die koninkryke op aarde. God gee posisie en gesag aan wie Hy wil. “Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan…” (Dan. 2:20-21). God is in beheer van die regerings en Hy bepaal dikwels die uitslag van verkiesings en die opkoms van letterlike konings, leiers en diktators in nasies reg oor hierdie aardbol.

Ons moet geloof hê in God se mag. Die Ewige God is die ware God wat oor alles heers, en Hy gryp inderdaad in die wêreld se verrotte, misleide samelewing in wanneer dit nodig is om Sy doel te bereik.

Luister dus na wat God sê oor die samelewing en oor u toekoms. “Maar pas op vir julleself”, sê Jesus, “dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgerye en dronkenskap en sorge van die lewe nie” (Luk. 21:34). Miskien sal u sê: “Wel, daar is nog tyd oor”. Ja, miskien is daar nog tyd oor – miskien net ’n paar jaar. Maar moenie dat u gees deur oormatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag u nie onverhoeds soos ’n vangnet oorval nie. Daardie dag sal soos ’n “vangnet” kom – soos ’n klein, dodelike val wat ’n dier vang voordat hy besef wat aan die gang is. Moenie toelaat dat dit met u gebeur nie. Christus kom wel weer en Sy weder­koms sal “soos ’n strik ... kom oor almal wat op die hele aarde woon” (vers 35) – op mense wat onvoorbereid of mislei is.

Selfs al sou ons nasies in die geheel nie berou hê nie, kan u as individu sekerlik verander en kan u vergewe word en beskerm word gedurende die toekomstige Groot Verdrukking. Jesus self gee hierdie versekering. Skryf vir ons gratis boekie, Wat is ’n ware Christen? Dit beskryf in veel meer besonderhede wat u behoort te doen.

Jesus gee ons die opdrag om wêreldgebeure dop te hou. Bewys die punte in hierdie boekie uit God se ware Woord. Slaan die verse na sodat u kan verstaan. Laat die Bybel met u praat. Diegene wat op God vertrou – diegene wat in Christus glo, wat opregte Christene is – sal verstaan wanneer hierdie dinge gebeur, omdat hulle hierdie tekens bestudeer het, soos Jesus opdrag gegee het.

Ons moet dus op die uitkyk wees vir hierdie gebeure. Ons moet gedurig bid dat God ons sal help om ons lewens aan Hom en aan Sy Seun Jesus Christus oor te gee, en dat ons Jesus Christus as ons Verlosser en ons Baas, ons Here, ons Meester, ons Hoëpriester en ons toekomstige Koning sal aanvaar. Dan, deur Sy Gees in ons, moet ons Sy gebooie gehoorsaam en die dinge doen wat God behaag (1 Joh. 3:22). Ons kan dus begin wandel met die God wat ons lewe en asem gee, en ons kan dan waarlik voorberei vir die wederkoms van Jesus Christus.

Op persoonlike vlak kan u uself aanspoor om intens bedag te wees op wat in die wêreld aan die gebeur is. U kan die Bybel deeglik begin bestudeer en vasstel wat God se Woord regtig sê. Roep na God in ernstige gebed! Vra Hom vir leiding en die krag om te doen wat reg is! Vra Hom vir redding vir u en u familie in die stormagtige jare wat aan die kom is! Dan kan u met u hele hart na Hom draai en Sy wette begin gehoorsaam. U kan die ware Jesus Christus aanvaar as u persoonlike Verlosser en u lewe aan Hom oorgee en Hom toelaat om Sy lewe in u te leef.

As u waarlik na God soek en glo in die ware Evangelie wat Jesus Christus self gepreek het, sal u leer wat God van u verwag.

Doen dit en Hy sal u lewe verryk met begrip en doelgerigtheid. Hy sal u die geskenk van die ewige lewe gee in Sy toekomstige Koninkryk (Joh. 3:16; Rom. 6:23). Hy sal u red van die komende wêreldwye katastrofe wat Jesus so duidelik voorspel.

Soos Jesus Christus self opdrag gee: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ONTVLUG en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36)!