Min mense besef deesdae dat die God van die Bybel ’n werklikheid is, of dat Hy ’n plan het en dat Hy in der waarheid die verloop van die geskiedenis lei (Daniël 4:17, 25, 35). Nog minder mense weet dat die Bybelse profesieë die toekoms van spesifieke nasies openbaar, God “maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit, en voer hulle weg” (Job 12:23; Daniel 2:21). Duitsland se onlangse opgang tot ’n dominante posisie in Europa is reeds duisende jare gelede in die Bybel voorspel in profesieë wat vandag besig is om gestalte aan te neem! Daardie antieke profesieë verduidelik die ware betekenis van Duitsland se opgang tot vernaamheid en waarom dit vir u nodig is om te verstaan wat in die nabye toekoms gaan gebeur.

Duitsland se merkwaardige gedaanteverwisseling

Die gedaanteverwisseling wat Duitsland gedurende die afgelope 60 jaar ondergaan het, naamlik om van armoede tot rykdom te vorder, is ’n ongelooflike prestasie! Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945, was Duitsland ’n hoop smeulende ruïnes, verslaan en afhanklik van buitelandse hulp. Die Duitsers het egter gretige leerlinge van demokrasie geword en was onwrikbare vredesvoorstanders. As gevolg van wyse beplanning, harde werk en ’n spaarsamige lewenswyse, het Duitsland uit die as van nederlaag na vore getree, om die rykste nasie, met die sterkste ekonomie en met dominante mag in Europa te word. Duitsland se sterk ekonomie en hoë gehalte uitvoerprodukte het aan die Duitsers toenemende ekonomiese invloed in Europa besorg, sodat hulle aan ander Europese lande wat sukkel met oorweldigende skuld geld kan uitleen. Die Europese finansiële krisis was die sneller wat Duitsland gedryf het om meer selfgeldend te wees en te streef na ’n meer beduidende rol in Europa en die res van die wêreld (Christian Science Monitor, 30 Januarie 2012).

Alhoewel skynbaar huiwerig om te lei, is Duitsland aangemoedig om “verantwoordelikheid te aanvaar” vir Europa se toekoms, wat ook ’n merkwaardige ontwikkeling is. Die Europese Unie is gestig om Duitsland aan Europa te verbind om sodoende sy aggressiewe neigings aan bande te lê en sy begeerte na oorheersing te bekamp. Die EU kan Duitsland egter nie meer terughou nie, maar is nou die roete wat Duitsland toegelaat het om na vore te tree as die dominante speler in die “groot spel” van Europa. Duitse lenings steun sukkelende Europese nasies. Die aantal Duitse burokrate in Brussel oortref dié in Frankryk en Brittanje en Duitsland bepaal grootliks die EU-beleid (Sunday Times, 24 November 2013). Die Britse skrywer, Peter Hitchins, sê: “Die EU is die nuwe Duitse Ryk”. Die finansiële krisis en Duitsland se teësinnigheid om vir ander Europese lande borg te staan, het aan Duitsland die “heerskappy” gegee wat dit lank reeds begeer. Een bron het opgemerk: “Duitsland het in die stilligheid [of per ongeluk] bereik wat dit nie in staat was om deur wapengeweld te bereik nie” (Stratfor, 16 Maart 2010).

Onheilspellende tekens

Namate Duitsland meer “verantwoordelikheid” vir Europa aanvaar, deur fondse aan sukkelende naburige ekonomieë te verskaf, lyk dit of die Duitsers gereed is om die “leermeesters” vir Europa te wees en hulle skryf aan ander Europese nasies voor hoe om hulle begrotings te beheer en hulle lande te bestuur (German Europe, Beck, bl. 63). Terwyl die Duitse invloed in Brussel toeneem, besef ander nasies in Europa dat wanneer Brussel meer mag wil uitoefen, dit in werklikheid Berlyn is wat die sweep klap. Europa beleef ’n groot magsverskuiwing, van Brussel na Berlyn en van Frankryk na Duitsland, wat belangrike gevolge sal hê.

Die Europese Unie het ontstaan in ’n poging om die nasies van Europa saam te snoer as gelykes en om sodoende toekomstige oorloë te voorkom. Die Europese finansiële krisis het egter Duitsland se opkoms bevorder en ook verberg en die Duitse oorheersing het ’n hiërargie in Europa geskep, eerder as gelyke deelname. Indien ’n krisis oor die euro sou ontstaan of in die geval van ’n potensiële verbrokkeling van die EU, kan die Europese leiers reëls waaroor daar ooreengekom is, opskort en Duitsland toelaat om alleen op te tree in ’n poging om Europa te “red”. Die Duitse sosioloog Ulrich Beck, waarsku dat stappe wat deur dreigende krisisse aangevuur word “onbedoelde gevolge” kan hê en sodoende “geboorte kan skenk aan ’n politieke monster” (Beck, bll. 28, 50).

Duitse leiers probeer ook om Duitsland in ’n nuwe rigting te stuur, weg van sy verlede, na aanvaarding van verantwoordelikheid vir grootskaalse militêre operasies op ’n breër skaal. Duitsland se ervaring in Afghanistan het aan Duitse soldate gevegsopleiding en vertroue gegee (spiegel.de/international, 15 Oktober 2013). Duitse leiers stel nou voor dat aangesien Duitsland die voortou geneem het met die aanspreek van die finansiële krisis, hulle ook die voortou behoort te neem vir militêre samewerking in die verdediging van Europa (Geopolitical Weekly, 4 Februarie 2014; The Times, 9 Februarie 2014).

Profesieë neem gestalte aan

Wat is egter die werklike betekenis van Duitsland se opgang na oorheersing? Wat beteken dit vir die toekoms van Europa en die wêreld? Bybelse profesieë het lankal voorspel dat ’n “dier”-moondheid met bande met antieke Rome net voor die wederkoms van Jesus Christus, in Europa te voorskyn sal kom (Daniel 2:40-44). Hierdie Europese moondheid van “yster en klei” sal magtig maar broos wees en sal net vir ’n kort tydjie bestaan (drie-en-’n-half jaar; Openbaring 13:5, 17:10). Daar word na verwys as “die koning van die Noorde” en sal die Midde-Ooste binneval, moontlik op ’n vredessending (Daniël 11:40-43). Daar word ook na die leier van hierdie eindtydse Europese moondheid verwys as “die dier” en sy opkoms en militêre vermoëns sal die wêreld verras (Openbaring 13:1-4). Ander profesieë (Jesaja 10:5-11) dui daarop dat hierdie Europese Diermoondheid deur Assirië, moderne Duitsland, gelei sal word en dat tien nasies hulle oppergesag sal oorgee aan hierdie sentraal georganiseerde moondheid (Openbaring 17:12-13).

In die lig van hierdie profesieë, is Duitsland se opgang in Europa kommerwekkend om dop te hou. Ulrich Beck sê: “Niemand het beplan dat dit sou gebeur nie ... Duitsland se opkoms ... is nie die gevolg van ’n geheime meesterplan nie ... dit was die onwillekeurige en onbeplande gevolg van die finansiële krisis en die vooruitsig op ’n ramp” wat Duitsland “gelanseer” het na sy dominante posisie (German Europe, bll. vii, 3, 54). Beck meld ook dat “die bouers van Europa” hierdie vrees vir ’n dreigende krisis, die ineenstorting van die euro of die ontbinding van die EU, kon gebruik het om Europese nasiestate aan te moedig om van meer oppergesag afstand te doen in ’n strewe na ’n politieke unie en ’n federale Europa (ibid., bll. 28-29). Die Italiaanse Renaissance-skrywer, Niccolo Machiavelli, het opgemerk dat “die dreigende rampe geleenthede daarstel” wat aangegryp kan word deur ’n persoon met ’n drang na mag (Beck, bl. 46). ’n Dreigende krisis in Europa kan die geprofeteerde “dier” aan bewind bring.

Dit is beswaarlik toeval dat die Duitse minister van Buitelandse Sake, Guido Westerville, ook ’n Berlynse groep van sowat tien ander nasies gevorm het om die toekoms van Europa te bespreek (presseurope.eu, 20 Junie 2012) en dit terwyl profesieë in Openbaring 17:12-13 en Daniël 2:43-44 aandui dat tien konings by die dier sal aansluit om die kern van ’n eindtydse diermoondheid in Europa te vorm. Amerikaanse professor, Walter Russell Mead, het “by Duitsland aangedring daarop om ’n Heilige Romeinse Ryk [in Europa] te lei eerder as ’n Pruisiese verowering” (thelocal.de, 8 Oktober 2013), sonder om te besef dat hierdie Europese diermoondheid wat herleef het, ’n mededinger vir Amerika sal wees en deur God gebruik sal word om die goddelose nasies van Israel te straf (Jesaja 10:5-7). Oplettende waarnemers erken dat iets beduidends besig is om in Duitsland en Europa te gebeur. Baie min mense besef egter deesdae dat God besig is om die verloop van die gebeure te lei, terwyl Hy Sy plan op aarde uitwerk. Die vraag is, besef u wat agter die eindtydse opkoms van Duitsland is en sal u gereed wees wanneer Christus weer kom?