Ons lewe in spanningsvolle en gevaarlike tye. Ons besige omgewings kan ons gefrustreerd, angstig en selfs somtyds kwaad maak. Indien u in ’n groot stad woon spandeer u waarskynlik ure om te pendel in druk verkeer. Konstruksiegeraas en luidrugtige bure veroorsaak spanning en senuweeagtigheid. Selfs vriende en gesinslede mag argumenteer en spanning veroorsaak om die vrede in u lewe te versteur.

Is daar ’n manier om opgewasse te wees teen ons spanningsvolle wêreld? Ja, daar is! Die Bybel toon aan ons die weg na gemoedsvrede deur gebed. Gebed is ons lewenslyn na God. Indien u leer om meer doeltreffend te bid, kan u groot voordele geniet deur Sy ingryping in u lewe!

Bid u gereeld? Het u gemoedsvrede gevind deur gebed? In September 2006 het die Universiteit van Baylor en die Gallup Organisasie ’n opname vrygestel oor Amerikaners se godsdienstige gebruike. Die opname het getoon dat “driekwart van Amerikaners ten minste een maal per week bid. Meer as ’n kwart bid verskeie kere per dag” (Lexington Herald-Leader, 13 Januarie 2007).

Is u een van daardie driekwart Amerikaners wat bid? Waarom behoort ons te bid? Een belangrike rede is dat ons almal geloof benodig om ons gevaarlike en spanningsvolle wêreld die hoof te kan bied. Hoe kan ons geloof hê? “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17).

Met ander woorde, soos ons die Bybel lees, die woord van God, sien ons hoe God in die lewens van Sy mense ingryp. Ons sien dat Hy aan ons grootse beloftes gegee het wat ons lewens kan verander en ons geloof kan versterk. Let op hierdie bemoedigende stelling: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:2-4).

Wanneer ons ontmoedig voel – of selfs oorweldig – deur die korrupsie van die wêreld rondom ons, kan ons dit wat op ons harte lê, in gebed met God deel. Hy vra ons om ons versoeke aan Hom bekend te maak. Watter soort hulp benodig u? Vra God om hulp. Hy belowe om in al ons behoeftes te voorsien. “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19).

Deel u behoeftes, angstighede, vrese, probleme en bekommernisse met u Hemelse Vader. Praat met Hom oor u probleme en kwellinge. Ja, u het behoeftes, maar God belowe om daarin te voorsien (Mattheüs 6:33-34). U kan dankbaar wees daaroor. Wanneer u bid, moet nie die beginsel van danksegging uitlaat nie. Onthou: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Wanneer u u bekommernisse en behoeftes in gebed met God deel, maak seker dat u Hom bedank vir Sy beloftes, vir Sy liefde en vir Sy bereidwilligheid om u te help!

Wat gebeur wanneer ons hierdie opdrag volg? God verseker ons: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (vers 7).

Ja, deur Christus Jesus! Dit is ’n uiters belangrike sleutel tot beantwoorde gebed. Ons bid op gesag van ons Verlosser. Ons gaan nie deur enige menslike priester as middelaar nie; in Jesus het ons alreeds die heel belangrikste Hoëpriester wat namens ons intree by die Vader (Hebreërs 4:14).

Nader tot die troon

Wanneer ons bid, nader ons die troon van God in die hemel. Ons Vader in die hemel het ons lief. Hy wil hê dat ons direk tot Hom moet bid. Die Skrif sê aan ons om met vrymoedigheid na Sy troon van genade te gaan. Ons kan dit doen, want Jesus Christus is ons groot Hoëpriester aan die regterhand van die Vader. “Terwyl ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:14-16).

Ons behoeftes mag groot of klein wees. Baie jare gelede wou ek baie graag ’n sekere soort natuurlike voedselitem bekom wat my plaaslike supermark nie in voorraad gehou het nie. Dit het gelyk asof my begeerte vir maande onvervuld gebly het. Eendag, terwyl ek die Bergpredikasie lees, merk ek een besondere sinsnede op waar Jesus ons aanmoedig: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Mattheüs 7:7-8).

Hoe kon ek tog hierdie eenvoudige en duidelike opdrag misgekyk het? Ek het uiteindelik vir God hierdie natuurlike voedsel-item gevra wat ek wou hê. Skielik, toe ek weer daarvoor in my gebied begin rondsoek – ek het letterlik en figuurlik aan deure geklop – het ek gevind wat ek gesoek het. God het my gebed verhoor en Hy sal u ook verhoor!

God het aan ons die ontsaglike voorreg verleen om voor Hom te kom in gebed – maar ons gebed moet gebaseer wees op die woord van God, die Bybel. Die Skrif gee aan ons kragtige strategieë om spanning en angstighede baas te raak. Gebed is ons lewenslyn na God en Hy belowe om aan ons gemoedsvrede te gee, indien ons dit met Hom in gebed deel. Hoeveel tyd spandeer u egter in gebed met God? Die Barma Groep berig dat, van daardie mense wat bid, “bid die meeste van hulle minstens een keer per dag en spandeer minder as vyf minute per dag aan gebed” – gewoonlik ’n kort gebed voor ’n maaltyd en ’n lys van dinge wat ons graag vir onsself wil hê (The State of the Church: 2005).

Wat nou indien u een van daardie is wat selde of ooit bid? Moontlik het u nooit geleer om te bid nie, of het slegs die kinderlike rituele van gebed geleer. As ’n kind was ek ’n eenvoudige slapenstydgebed geleer: “Now I lay me down to sleep, I pray the Lord my soul to keep. If I should die before I wake, I pray the Lord my soul to take”. Na hierdie gebed sou ek God dan vra om my moeder, vader en suster te seën – en ook ons kat, Deet-Deet.

Gedurende my tienerjare, toe my tante siek geword het aan kanker, het ek meer ernstig begin raak oor gebed en het ek ’n punt daarvan gemaak om gereeld vuriglik vir haar te bid. Dit was egter nie voordat ek ’n jong volwassene was, dat ek eers begin het om die werklikheid van God se bestaan te besef en my behoefte aan ’n verhouding met Hom nie. Ek onthou dat ek by my bed gekniel het, nadat ek ’n artikel gelees het wat die basiese beginsels van gebed verduidelik het. Terwyl ek opgekyk het na die plafon, het ek vir die eerste maal die omvang begin besef van die Skepper-God wat in die hemel, baie hoër as die plafon, is.

Indien ons nie die werklikheid van die Skepper-God – die God van die Bybel – begryp het nie, kan ons nie veel van ons gebede verwag nie. Hoeveel mense om ons glo selfs in God? ’n Verstommende 96% van alle Amerikaners sê dat hulle in God glo! In Kanada het ’n meningspeiling deur Carleton Universiteit bevind dat 80% van die Kanadese in God glo, hoewel minder as 25% eredienste bywoon. In Australië het ’n meningspeiling uitgevoer deur die Nasionale Kerklewe Opname en die Edith Cowan Universiteit, bevind dat 74% van die Australiërs in God glo. In Brittanje sê 69 persent dat hulle in God glo. Hierdie statistiek mag indrukwekkend klink, maar hoe sterk is hul geloof? Let op na hierdie definisie van geloof: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Hebreërs 11:1-3).

Suiwer wetenskap is nie teen geloof nie. Baie wetenskaplikes, soos die Nobelpryswenner, Albert Einstein, het ontwerp en ontsagwekkende intelligensie in die skepping gesien. Einstein het geskryf dat wetenskaplikes se “godsdienstige gevoelens die vorm aanneem van oorstelpende verwondering oor die harmonie van die natuurwette waarin ’n intellek van sodanige gevorderdheid openbaar word dat, in vergelyking daarmee, al die sistematiese denke en handelinge van mense ’n volslae onbeduidende refleksie is” (Einstein: A Centenary Volume, geredigeer deur A. P. French, Harvard Universiteitsuitgewers, 1979, bl. 305).

Die wetenskap was nie in staat om te ontdek waar hierdie wette vandaan kom nie. Het dit dan uit niks ontstaan? Ons weet dat hulle in werking was sedert die eerste oomblik van die skepping. Wetenskaplikes erken dat hulle moes wees! Soos teoretiese fisici, Stephen Hawking en Roger Penrose opgemerk het: “Die enigste manier om wetenskaplike teorieë te hê, is indien die wette van fisika standhoudend is, insluitende van die begin van die heelal af”.

Die apostel Paulus skryf: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister” (Romeine 1:20-21).

Die skepping getuig

Die skepping self getuig, net soos u Bybel, dat daar ’n groot intelligensie is – ’n Skepper en ’n Wetgewer – wat die heelal in werking gestel het. Nogtans wil die Een met daardie groot intelligensie graag met u kommunikeer oor die dinge wat u naaste aan die hart lê. Hoe kan ons nader aan Hom kom? Kyk: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

Een manier om God “ywerig te soek”, is om daagliks die Bybel – God se Woord – te lees! Ja, “die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God” (Romeine 10:17). Deur middel van die Bybel se profesieë gee God aan ons hoop vir die toekoms. Hy gee aan ons “die grootste en kosbare beloftes” (2 Petrus 1:4). Hy dui ons ook die weg na die ewige lewe aan, deur die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus. Namate u die Bybel lees, sal u leer hoe God, regdeur die geskiedenis, vir Sy mense ingegryp het. Wanneer u dan lees hoe Hy hulle verlos het uit skynbaar onoorkomelike gevare en beproewings, sal u begin om meer geloof te hê. Lees die verhale van Daniël in die leeukuil; die redding van Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond van Nebukadnésar in Babilon en die ontsnapping van antieke Israel deur die Skelfsee. Lees van die wonderwerke wat verrig is deur die Seun van God, Jesus van Nasaret, waar Hy die siekes, die blindes, die lammes en die dowes genees het. Jesus het selfs mense uit die dood opgewek!

Hoe dikwels behoort u elke dag te bid? Eertydse Koning Dawid het ’n gewoonte daarvan gemaak om drie keer per dag tot God te bid. Hy skryf: “Maar ek, ek roep God aan, en die Here sal my verlos. Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem” (Psalm 55:17-18). Ons behoort almal God deur gebed te soek. Indien u nou eers begin leer om te bid, maak seker dat u die Bybel daagliks lees en in besonder die Psalms, want dit bevat baie van die gebede van Koning Dawid van weleer.

Die profeet Daniël het ook drie maal per dag gebid, selfs toe die koning hom beveel het om dit nie te doen nie! “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het” (Daniël 6:11). Daniël was in die leeukuil gegooi vanweë sy geloof, maar God het hom gered en sy lewe gespaar!

Soek die Here

Ja, God sal in u lewe ingryp indien u ná aan Hom is en tot Hom uitroep. Die profeet Jesaja gee aan ons hierdie vermaning: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

God belowe ons om ons sondes te vergewe indien ons bekeer en Hom soek. Jesus se dissipels wou graag hê dat Hy hulle moes leer om te bid. Hulle het aan Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het” (Lukas 11:1). Jesus het daarop aan hulle die modelgebed gegee, wat nou algemeen bekend staan as die “Onse Vader” (Mattheüs 6:9-13; Lukas 11:2-4).

Slaan ag op Jesus se waarskuwing aan Sy dissipels voordat Hy aan hulle die modelgebed gegee het: “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word” (Mattheüs 6:7). Sommige mense dink dat hulle baie vroom en godsdienstig is wanneer hulle dieselfde woorde oor en oor prewel. Dit is nie wat Jesus verlang nie! Hy wil hê dat ons vuriglik uit ons hart uit moet bid, nie om gedagteloos die woorde van die “Onse Vader” – of enige ander gebed – oor en oor te herhaal nie!

Onthou: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16). Toe die profeet Hosea die jammerlike toestand van antieke Israel betreur het, waaroor het hy gekla? “Toe hulle na My om hulp geroep het, het dit nie uit die hart gekom nie” (Hosea 7:14 NV).

Jesus begin Sy modelgebed met hierdie opdrag: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9). Nie sodat ons hierdie presiese woorde netso moet herhaal nie, maar dat ons op dieselfde manier ons Vader in die hemel moet eer en heilig. Wanneer ons bid, behoort ons heel eerste te erken dat God ons Vader is. Ons kan ook erkenning verleen dat Hy die Skepper van die hemel en die aarde is (Genesis 1:1; Eksodus 20:11; Jesaja 40:25-28). Hy is ook die Wetgewer en die Lewegewer. Hy vervul die Bybel se profesieë. Bid oor die betekenis van God se Naam, Sy gesag en Sy karakter.

Christus leer ons daarna om te bid dat God se Koninkryk moet kom, vir ons onderwerping aan Sy wil, en vir ons behoeftes – fisies en geestelik. Hy leer ons om te bid vir vergifnis, en om aan ander die vergifnis te skenk wat ons vir onsself sou wou hê. Hy leer ons om te vra vir Sy beskerming teen swaar beproewings en versoekings, selfs van die duiwel. Ten slotte eindig Hy Sy modelgebed met ’n fokus op God se mag en majesteit: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Mattheüs 6:13).

Ja, God is die Skepper van die heelal. Hy is almagtig. Hy wil ook hê dat die aarde, die Koninkryk – en die ganse heelal moet beërf. God is liefde. Hy wil graag elke goeie ding met u deel.

Die Skrif sê aan ons om God met ons hele hart te soek. Lees hierdie bemoedigende belofte: “Want so sê die Here: ... Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, ...” (Jeremia 29:10-14).

Ons het ’n groot Verlosser en Hoëpriester aan die regterhand van God. Kom dan met vrymoedigheid na daardie troon van genade, soos Hy ons ook aanmoedig (Hebreërs 4:16)! God sal dan aan u Sy barmhartigheid en genade skenk, na die mate wat u Hom soek en u onderwerp aan Sy wil. Gebed is ons lewenslyn na God. Bid vuriglik. Bid elke dag, en God sal aan u gemoedsvrede in hierdie spanningsvolle tye skenk.