Oral in Amerika bestaan daar tekens of bufferplakkers wat verklaar: “Jesus red” of “Gaan na die kerk van u keuse”. Die mense wat hierdie tekens vertoon bedoel sonder twyfel goed, maar dalk moet ons ons afvra: “Watter Jesus?” en ook “Hoekom nie die kerk van God se keuse bywoon nie, die kerk waar die volle Waarheid van die Bybel onderrig en beoefen word?”

Hoewel dit nie vandag “polities korrek” is om te sê dat daar ’n definitiewe waarheid is nie - of dat een godsdiens moontlik beter as ’n ander kan wees nie - is dit presies wat die Bybel wel sê! Dit kom dus hierop neer: gaan ons soos klein kindertjies “kerk-kerk speel” of gaan ons soos volwassenes optree wat gewillig is om die ware God op te soek en uit te vind waar Hy nou werk?

Insight-tydskrif berig op 27 Mei 2002: “Kerke kry deesdae soms swak publisiteit. Sommige meningspeilers sê dat kerke op hul beste hul greep op die Amerikaanse samelewing verloor het; en op hul slegste vind toenemende getalle Amerikaners dat die instellings ontoepaslik is. Bykans 100 miljoen Amerikaners leef sonder ’n verbintenis met ’n kerk, sinagoge of tempel, sê meningspeiler George Barna, president van die Barna Navorsingsgroep in Ventura, Kalifornië. Die meeste van hulle is onbekommer oor hierdie toedrag van sake. ‘Hierdie is meestal mense wat baie aggressie, wilskrag en hoë energievlakke het,’ sê hy. ‘Hulle het volgens wêreldstandaarde van hulself iets gemaak en hulle glo nie noodwendig dat God, Jesus, godsdiens, die Bybel, geloof of Christenskap hulle sal help om die probleme te oorkom wat hulle in die gesig staar nie’”.

Eerlikwaar, een van die grootste hindernisse wat ons in die volgende dekade of meer in die gesig sal staar, is blote oorlewing! Ja! Namate die ontsagwekkende gebeure wat direk in u Bybel voorspel word, begin ontvou, moet u en ek seker wees dat ons ons in ’n kerk bevind wat Bybelprofesie verstaan en wat die “ontsnaproete” ken waarvan Jesus ons in God se Woord vertel. Onthou, Jesus Self vertel aan Sy volgelinge in ’n eindtydse voorspelling: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom - laat hy wat lees, oplet - dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; ... En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheus 24:15-21).

Verstaan en onderrig u kerk hierdie noodsaaklike profesie en die manier waarop u die komende Groot Verdrukking kan ontvlug? Preek u leraar enigsins oor eindtyd profesie?

Waarom nie?

Bykans ’n kwart van die hele Bybel is aan profesie toegewy. Die Bybel verduidelik: “Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Die enigste geskrewe “woord van God” was op daardie stadium dít wat ons nou die Ou Testament noem. Jesus Christus het gedurig na die skrywes van die Ou Testament verwys as “die Skrif”. Daarom is dit noodsaaklik dat ons geïnspireerde profesieë van beide die Ou en Nuwe Testament bestudeer en verstaan. Hoe dink so baie kerke kan hul lidmate God se profetiese waarskuwings verstaan en daarop reageer as hulle hierdie profesieë nooit eens preek of aan hul mense verduidelik nie?

Dink daaroor!

Die Woord van God vertel ons: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid” (Psalm 111:10). Tog vertel die meeste Protestante kerke hul lidmate dat die Tien Gebooie nie vandag letterlik gehoorsaam hoef te word nie. Daarom het hierdie selfde kerke vandag geen “goeie begrip” van die Bybel of Bybelprofesie nie. Hulle maak sentimentele mooipraatjies van “liewe Jesus” en baie min anders. Tog misken hulle die kragtige boodskap wat Jesus Self van God die Vader gebring het.

Daar is vandag ’n Kerk wat wél verstaan en u kan help met die “stryd” wat u in die gesig sal staar! Dit is die “klein kuddetjie” waarna Jesus in Lukas 12:32 verwys het. Dit is die Kerk wat gedurende die Middeleeue na die woestyn moes “vlug” (Openbaring 12:6). Dit is die Kerk wat nou die “Evangelie van die Koninkryk van God” verkondig - die kragtige boodskap van Christus se wederkoms as Koning van konings wat ophande is (Openbaring 11:15).

Indien u in staat wil wees om die verskriklike Groot Verdrukking te ontvlug en indien u die krag van die Heilige Gees en ware begrip, geloof en moed gegee wil word om u deur die jare wat voorlê te help, dan beter die “kerk van u keuse” die kerk van God se keuse wees! In u Bybel sal u vind dat God mense of dinge by die naam noem! Op 12 verskillende plekke in die Nuwe Testament sal u vind dat God Sy Kerk presies noem wat dit is: “die Gemeente van God”.

In die inleiding tot 1 Korintiërs rig die apostel Paulus daardie sendbrief aan “die gemeente van God wat in Korinthe is” (1 Korintiërs 1:2). Later vertel hy die lidmate: “Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie” (1 Korintiërs 10:32). In 1 Korintiërs 11:16 maak Paulus die stelling: “Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so ’n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie”.

In 1 Korintiërs 15:9 skryf Paulus: “Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het”. In die formele inleiding tot 2 Korintiërs skryf hy: “Paulus, ’n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en Timótheüs, die broeder, aan die gemeente van God wat in Korinthe is, saam met al die heiliges wat in die hele Acháje is” (2 Korintiërs 1:1). Toe Timotheus in Efese - ’n plek waar die aanbidding van “dooie” afgode plaasgevind het - gestasioneer was, skryf Paulus aan hom: “Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Timotheus 3:15).

Twaalf is ’n baie belangrike getal in die Bybel. Dit staan vir grondlegging, stabiliteit en organisatoriese beginpunte. Soos die meeste van ons lesers weet was daar 12 stamvaders in die Ou Testament, 12 stamme van Israel, 12 poorte na die Heilige Stad en 12 fondamente van die muur om die Heilige Stad. Daarom is dit baie belangrik dat God - in Sy geïnspireerde Woord - die naam “Gemeente van God” twaalf keer in die Nuwe Testament aan Sy ware Kerk toegeken het.

Daar is natuurlik heelparty kerke wat die naam “kerk van God” gebruik. Daarom is dit noodsaaklik dat ons ’n ander basiese kenmerk van die ware Kerk verstaan: dit is ’n gehoorsame Kerk! Ter beskrywing van die oorblyfsel van die Kerk in die eindtyd, vertel God se Woord ons: “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17). Baie kerke maak daarop aanspraak dat hulle die “getuienis” van Jesus Christus het, maar min maak aanspraak daarop dat hulle die Tien Gebooie gehoorsaam, omdat hulle geleer is dat hul “onder genade” is en daarom nie die Gebooie van God as lewenswyse hoef na te volg nie, maar soos die apostel Johannes geïnspireer was om ons te vertel: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

Kan enigiets meer duidelik wees?

Êrens op hierdie aarde is die ware Kerk van God - vernoem na God, wat die gebooie van God onderhou en werklik dieselfde evangelie verkondig wat Jesus verkondig - die dinamiese boodskap van Christus se heerskappy oor hierdie aarde as Koning van konings. Dit is nie ’n kerk van mense nie, vernoem na iemand of ’n vorm van kerkregering of een of twee hoofleerstellings nie. Dit is eerder na God vernoem - want dit is waarlik Sy Kerk en die Kerk waarvan Jesus Christus die lewende Hoof is (Efesiërs 1:22).

Moet u werklik na die kerk van u persoonlike keuse gaan of na die kerk waarin u grootgeword het? Of moet u met ywer na die ware Kerk van God - wat Jesus Self gestig het, soek, dit vind en ’n aktiewe lidmaat daarvan word? Indien u meer indiepte inligting oor hierdie noodsaaklike onderwerp wil bekom, kontak ons asseblief by een van die adresse wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys is en versoek ’n gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Hervestig die Christenskap van die Apostels.