Vraag: Ek het in my Bybel gesoek vir bewyse vir “Goeie Vrydag” wat my Kerk onderhou, maar ek kon dit nie vind nie. Wat sien ek nie raak nie?

Antwoord: U behoort geprys te word vir u noukeurige bestudering van die Skrif! Die Bybel openbaar wel wat Jesus gedoen het die Vrydag voor Sy opstanding – maar die waarheid is nie wat die meeste belydende Christene vandag glo nie!

Ons weet, volgens die Bybeldat Christus drie volle dae en nagte – 72 uur – in die graf deurgebring het. Hy moes dit doen ten einde die Bybelse teken van Jona te kon volbring, net soos Hy aan die skrifgeleerdes en Fariseërs verkondig het. “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheüs 12:39-40).

Hierdie feit op sigself bewys dat die Goeie Vrydag tot Paassondag kronologie wat algemeen aanvaar word, nie korrek kan wees nie, aangesien ’n Vrydag namiddag kruisiging Jesus in die graf sou hou tot Maandag namiddag.

Wanneer, volgens die Bybel, het Christus opgestaan? Lees hierdie verslag: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2).

Haar besoek op die “eerste dag van die week” beteken dat Maria Magdalena vroeg, in die nagtelike ure ná die Sabbat – voordat die son op die Sondag opgekom het – na die graf van Christus gegaan het en gevind het dat Jesus nie in die graf was nie. Dus, as ons 72 uur terug tel, is daar geen manier waarop Jesus op die Vrydag gekruisig kon gewees het nie!

Die Skrif openbaar dat Jesus ongeveer 15h00 gesterf het (Mattheüs 27:46-50). Die Evangelie van Johannes gee aan ons nog ’n beslissende detail oor wat gebeur het onmiddellik na Sy afsterwe. Ons lees: “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:31).

Die “Voorbereidingsdag” is die dag voor die Sabbat, wanneer al die take verrig word in afwagting op die komende Sabbatrus van werksdag aktiwiteite. Ons het egter alreeds gesien dat Vrydag nie die dag van Christus se dood kon wees nie, aangesien Hy reeds 72 uur dood moes wees voor die einde van die sewende dag van die week! Is dit ’n moontlike teenstrydigheid in die Skrif? Nee! Lees die beskrywing dat die komende Sabbat, ’n “groot dag” was. Dit is ’n verwysing na een van die “jaarlikse Sabbatte” (Levitikus 23:6-36). Christus was gekruisig in die ure wat die Eerste Dag van die Dae van Ongesuurde Brode direk voorafgegaan het (vers 6).

Ons weet dus uit die Skrif dat Jesus Christus begrawe was kort voor sononder, voordat die Eerste Dag van die Dae van Ongesuurde Brode begin het. Ons weet dat Hy 72 uur later, voordat die eerste dag van die week begin het, opgestaan het. Dit beteken dat Hy opgestaan het ná aan die einde van die weeklikse sewende dag Sabbat. Sy kruisiging moes dus op ’n Woensdag gewees het – nie op “Goeie Vrydag” soos baie mense nou glo nie. Op “Goeie Vrydag” was Jesus dood en in die graf, ter vervulling van profesie.

Kerke wat vashou aan die Goeie Vrydag en Paas Sondag tradisies, ontken nie net die duidelike woorde van die Bybel nie, maar ook die ware teken van Sy Messiasskap wat Jesus gegee het. Indien u ’n Messias aanbid wat opgestaan het op Sondag na 36 ure in die graf, dan aanbid u nie die ware Jesus Christus van die Bybel nie, maar eerder ’n vervalsing deur mense wat die aandag wil aflei van God en Sy Waarheid. Om meer te leer oor baie valse leringe wat in die naam van “Christelikheid” bevorder word, vra asseblief vir u gratis kopie van ons boekie, Satan se vervalste Christendom.