Elkeen wil graag weet wat na die dood gebeur. Predikers bied baie verskillende teorieë aan aangaande die lot van ongeredde kinders asook van diegene wat nog nooit die Evangelie gehoor het nie. Die waarheid betreffende hierdie saak is egter in die bladsye van die Bybel – waar baie min blykbaar daarna soek!

Wat gebeur met almal wat “ongered” sterf? Is die duisende miljoene Moslems, Hindoes en ander nie-Christene vir ewig verlore?


Die meeste van ons het vriende of familie wat gesterf het sonder dat hulle in enige vorm van Christelikheid geglo het. Waar is hulle nou? Wat sal hulle uiteindelike lotsbestemming wees?

Eerlikwaar, hoofstroom Christelikheid beskik nie oor die antwoorde nie!
Die meeste predikante skep die indruk dat God nou “probeer” om almal te “red”. Hy word amper uitgebeeld as ’n hartseer jaghond wat probeer om die duisend miljoene mense wat in geen vorm van Christelikheid glo nie, op te spoor en te “red”. Die meeste outydse kerke wat hulself beskryf as “Bybel-gelowiges,” verkondig hierdie idee al vir eeue. Die moderne “liberale” kerke wat nie die Bybel letterlik opneem nie, systap hierdie probleem deur te sê dat God al daardie mense sal red, wie se “harte reg is”, of wat hul geloof (wat dit ook al mag wees) met “opregtheid” beoefen.

Sal Hy egter werklik doen wat hulle verwag? 
Indien u die wesenlike antwoord verlang oor wat sal gebeur, behoort u te glo wat die Bybel – die geïnspireerde openbaring van die Skepper God – in werklikheid sê. Indien u natuurlik nie die Bybel glo nie, dan is een persoon se “idee” of “teorie” net so goed as iemand anders s’n. Is u egter bereid om u verstand te open en te glo wat die Bybel werklik verkondig?

Waar gaan die afgestorwenes heen?

Die oudmodiese predikante vertel aan mense dat hulle by afsterwe onmiddellik óf na die hemel, óf na die hel gaan. Die Bybel verkondig egter gladnie so iets nie! Jesus Christus sê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5). Jesus sê verder: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13).

Die Bybel maak dit ook baie duidelik dat ware Christene wat gesterf het, nou die opstanding uit die dood afwag met Christus se Wederkoms. 1 Korinthiërs 15 word die “opstandingshoofstuk” genoem omdat dit hierdie beginsel deeglik beskryf! Lees 1 Korinthiërs 15:21-23: “Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms”.

Jesus sê ook pertinent: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:25, 28-29).

Die bogemelde Skrifgedeeltes behoort dit baie duidelik te maak dat die “afgestorwenes” in werklikheid dood is – nie in die hemel rondsweef of in die hel brand nie! Selfs dat die afgestorwenes “wat goed gedoen het” nou die “opstanding van die lewe” afwag (vers 29). Enige ander verduideliking weerspreek direk letterlik dosyne ander eenvoudige, duidelike Skrifgedeeltes. Jesus sê dat: “... die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35).

Wat dan van die duisende miljoene mense wat na God se gelykenis geskape is, maar wat nooit werklik ’n ware geleentheid gehad het om van die Christus van die Bybel te hoor en om Hom as hul Redder aan te neem nie? Handhaaf God dan dubbele standaarde? Het Hy dan enige “ander weg” waarvolgens die ewige lewe verkry kan word? Is dit eenvoudig “neusie verby” vir daardie duisende miljoene mense bedeel deur ’n hardvogtige God wat Sy “gunstelinge” het aan wie Hy ’n “kans” gee, terwyl al die ander absoluut geen geleentheid gegun word nie?

Die antwoord is verseker nie wat u in die hoofstroom “Christelikheid” geleer het nie. Nogtans is dit wonderlik en betekenisvol vir diegene wat verstaan. Dit word nie in ’n nie-Bybelse boek gevind of in teorieë wat opgedis word deur sommige selfgemaakte profete nie. Dit was nog altyd net daar in u eie Bybel. Dit is die waarheid wat omtrent niemand van kennis dra nie!

God probeer NIE om die wêreld nou te red nie!

U Bybel maak dit baie duidelik dat hierdie nie God se wêreld is nie. Hierdie is nie die stelsel of samelewing wat deur die Skepper God gevestig is nie. God het eerder aan die mens 6 000 jaar gegee – onder die heerskappy van Satan – om sy eie gang te gaan, om sy eie idees uit te toets en om harde lesse deur menslik lyding te leer. Die apostel Paulus skryf: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).

Later is die apostel Johannes geïnspireer om te skryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Was Johannes reg? Is die “hele wêreld” werklik mislei? Dit is duidelik dat ’n persoon wat regtig “mislei” is, nie weet dat hy mislei is nie. Anders sou hy mos nie mislei wees nie!

Onthou Jesus se stelling aan Sy dissipels: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). En soos die apostel Johannes aan die ware Christene van sy dag geskryf het: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19).

Dus, as die hele wêreld “verblind” is, soos Paulus skryf en as die hele wêreld “mislei” is soos die apostel Johannes skryf, dan verduidelik dit sekerlik waarom duisende miljoene mense nog nooit die ware Evangelie gehoor het nie! Maar, gaan ’n regverdige en billike God hulle in hul grafte laat bly of hulle verbrand in ’n ewig-brandende vuur?

Natuurlik nie!
Verstaan asseblief dat dit slegs ’n geval is van wanneer God verkies om elke individu te “roep” tot die werklike kennis van die Waarheid en ’n ware geleentheid tot redding. Almal sal uiteindelik geroep word. Let op toe sommige van die heidene heel in die begin geroep is, sê die apostel Petrus: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34-35). Paulus stel dit ook so: “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie” (Romeine 2:11).

Dit is die rede waarom Jesus slegs in gelykenisse tot almal gespreek het, behalwe met Sy binnekring dissipels: “En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie” (Markus 4:11-12). Hierdie waarheid van die Bybel is presies die teenoorgestelde van wat die meeste van ons in Sondagskool of kerk geleer is – naamlik dat Jesus in gelykenisse gepraat het “sodat elkeen kon verstaan”. Presies die teenoorgestelde is egter waar! Jesus het in gelykenisse gepraat sodat die algemene publiek nie sou kon verstaan nie! Jesus het nie die wêreld gedurende daardie tyd probeer bekeer nie.

Ons sien dus dat God nie “probeer” om die wêreld nou – in hierdie tydvak – te bekeer nie. Andersins sou Hy dit gedoen het! Een van God se name is tog El Shaddai – GodAlmagtig. So niks kan die ware God keer om die wêreld nou te bekeer nie – indien dit Sy werklike bedoeling was!

Wat God NOU besig is om te volbring

Die apostel Petrus was geïnspireer om aan ons te vertel: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:8-9).

Kan u dit insien? 
God is “nie haastig” terwyl Hy Sy grootse doel hier uitwerk nie! God wil hê dat “almal” tot bekering moet kom, maar in Sy eie tyd – nie ons tyd nie. Hy dui aan dat Sy plan volbring sal word oor duisende jare! Onthou tog dat God nie besig is om die hele wêreld nou te red nie. Hy veroordeel egter nie diegene wat mislei is deur Satan, die “god van hierdie wêreld”, nie want die Skepper God het hom toegelaat om tydens hierdie tydvak hierdie wêreld te beïnvloed en om daaroor te heers.

Onthou hoe God die bose stede van Sodom en Gomorra “veroordeel” het deur dit “tot as te verbrand” en “as ’n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Petrus 2:6). Wanneer u egter verstaan sal u gou besef dat daardie verdorwe mense verblind was vir die Waarheid en nie die ware God geken het nie. Hoe sal God dus uiteindelik met daardie verblinde mense handel wat nooit ’n werklike geleentheid gehad het om gered te word nie?

In Mattheüs 11 beskryf Jesus die stede wat in Sy dag geweier het om die Waarheid aan te hoor: “Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle” (verse 21-22). Jesus maak dan ’n merkwaardige stelling: “Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou” (vers 24). Daar kom dus ’n “oordeelsdag” waarin dit “verdraagliker” sal wees vir Sodom en Gomorra as vir die stede in Jesus se tyd. Jesus het hier duidelik erken dat daardie antieke stede nooit die waarheid gegee was nie. Hulle het glad geen kans gehad nie!

God het die apostel Paulus geïnspireer om aangaande die heidene in Efese te skryf: “Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Efesiërs 2:11-12). Dit is die absolute waarheid dat God gedurende die afgelope 6 000 jaar die meeste mense “toegelaat” het om hul eie gang te gaan, onder die invloed van Satan. Die Almagtige God het nie eens probeer om hulle te “red” nie, andersins sou hulle gered gewees het! Hy beplan egter ’n “dag van oordeel” – nie ’n “dag van veroordeling” nie – sodat daardie duisende miljoene mense ’n werklike geleentheid tot redding kan hê en dan “geoordeel” kan word volgens wat hulle doen gedurende daardie tyd wanneer hul oë regtig “geopen” word vir die Waarheid!

Hoe sal hulle gered word? Die Bybel is baie duidelik dat die enigste weg na die ewige lewe deur Jesus Christus is! Jesus self stel dit so: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower ... Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle,Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie” (Johannes 10:1, 7-8). Hier veroordeel Jesus duidelik enige “ander weg” na die ewige lewe! Slegs God kan aan ons die ewige lewe skenk. Hy stel die voorwaardes – nie misleide mense met sentimentele menings jeens ’n valse Christelikheid, Hindoeïsme, Boeddhisme, Islam, “New Age” teorieë of enige ander idees of teorieë van mense nie!

Die apostel Petrus was geïnspireer om te beklemtoon: “... laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy (Christus) is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:10-12).

Die wit troon oordeel

Ons het vroeër gelees dat in die geprofeteerde “dag van oordeel” dit “meer verdraaglik” sal wees vir die Sodomiete as vir die mense van Jesus se dag, wat Hom as persoon verwerp het. Die geïnspireerde evangelie van Lukas voeg besonderhede by die weergawe in Mattheus. In Lukas 10:13-14 sê Jesus Christus: “Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir julle”.

Die duidelike indikasie is dat aangesien antieke Tirus, Sidon en Sodom nooit ’n werklike geleentheid gegun was om die Waarheid te leer nie, hulle nie verantwoordelik gehou sal word nie omdat hulle verblind was. In werklikheid sê Jesus dat Hy weet hulle sou hul “bekeer het” (vers 13) as hulle Jesus se kragtige dade gesien het.

Aangesien God nie ’n aannemer van die persoon is nie, mag u wonder wanneer en hoe die mense van hierdie antieke heidense stede, en die ander duisende miljoenesoortgelyke verblinde mense ’n werklike geleentheid gegee sal word om God se doel van die lewe te verstaan en redding te verkry? Praat die Bybel ooit van so ’n tyd?

Ja, dit doen! Die boek Openbaring gee die opeenvolging van profetiese gebeure meer duidelik aan as enige ander boek in die Bybel. Openbaring 19:11-21 beskryf Christus se glorieryke Wederkoms as Koning van die konings (verse 14-16). Dan, na die vernietiging van die leërs van die toekomstige Europese diktator genaamd “die Dier”, gooi Christus hom en die toekomstige vals geestelike leier, in die “vuurpoel” (vers 20).

God beskryf dan ’n magtige engel wat neerdaal na die aarde: “En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word” (Openbaring 20:2-3). Neem kennis dat hierdie verse ook aan ons vertel dat Satan al die nasies van die aarde verlei het!

Nadat Satan gebind is, sal die wonderlike duisendjarige heerskappy van Christus op hierdie aarde begin. Waar dit van daardie tyd praat, toon Openbaring 20 die heiliges “het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank” (vers 4). Dan word aan ons gesê: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (vers 6).

Ware Christene wat werklik deur God “geroep” is, verstaan Sy doel. Hulle weet dat hulle nou “in opleiding” is om konings en priesters in Christus se toekomstige heerskappy op Aarde te word – dat hulle selfs oor engele sal heers (1 Korinthiërs 6:1-3)! Die toekomstige duisendjarige heerskappy van Christus en die heiliges (Daniël 7:26-27) sal ’n wonderlike geleentheid wees om die verwarde menigtes te help en te bemoedig; en om hulle God se ware weë te leer.

Maar wat gebeur dan met die talle duisende miljoene “verblinde” mense wat voor die Millennium gesterf het – hulle wat nooit die ware God en Sy plan geken het nie? Verstaan dat dit etlike miljoene belydende Christene insluit wat nou leef, wat nog nooit waarlik bekeer het nie. Dit sluit miljoene jong mense in wat nie lank genoeg geleef het om te verstaan, hulle werklik te bekeer en te groei in die genade en kennis van God se Waarheid nie. Dit sluit miljoene mense in wat dit goed bedoel maar swak is, met al hulle probleme, wat hulself dalk “Christene” genoem het maar wat nooit werklik verstaan en hulle aan God oorgegee het nie.

Na die beskrywing van ’n relatief kort tydjie wat Satan losgelaat is uit sy gevangenskap en hy weereens vinnig ’n menigte volke verlei (Openbaring 20:7-10), begin God se Woord ons vertel van die tydperk van die groot wit troon oordeel. Kyk egter net vir ’n oomblik terug na vers 5. Hier, ingevoeg as ’n tussenwerpsel nadat die duisendjarige heerskappy van die heiliges beskryf is, sê God se Woord: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie”.

Die “ander” dode? Ja! Daardie duisende miljoene mense van vervloë eeue wat nooit tot redding “geroep” was nie en, derhalwe ooglopend geen geleentheid gehad het om in die eerste opstanding te wees nie.

Kyk na Openbaring 20:11-12: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode isgeoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke”.

’n Tyd van werklike BEGRIP

Ons vind hier beskrywe wat moontlik die mees ontsagwekkende gebeurtenis in die menslike geskiedenis is, ’n tyd wanneer alle mense – die onbekendes, die beroemdes en die berugtes – werklik tot insig sal kom van waarom hulle gebore is! Hierdie voorheen dooie mense word gesien waar hulle “voor God ... staan” – ooglopend in ’n opstanding. Dan word die “boeke” geopen. Die term “boeke” hier, is vertaal uit die Griekse woord biblion, wat dieselfde woord is wat as “Bybel” vertaal word – dit beteken die boeke van die Bybel!

Openbaring 20 beskryf dan die opening van nog ’n boek – die Boek van die Lewe. Wat is die doel van hierdie boek? Paulus verduidelik dat die heiliges se name in die “Boek van die Lewe” geskryf is (Filippense 4:3). Openbaring 21:27 beskryf die Nuwe Jerusalem wat bewoon sal word deur “net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam”.

Die geleentheid vir ewige lewe is uiteindelik aangebied aan al daardie menigte mense “groot en klein”. Hulle is opgewek tot fisiese lewe vir moontlik ’n tydperk van honderd jaar – lank genoeg vir ’n deeglike geleentheid vir hulle om te leer, te groei, beproef en getoets te word vir hulle gewilligheid om die ewige lewe volgens God se weë te leef (Jesaja 65:20). Hulle sal dan geroep word en die geleentheid hê om die Bybel te bestudeer en te verstaan. Dan – en slegs dán – sê God sal daardie opgewekte mense “geoordeel [word] na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:12). Uiteindelik, nadat hulle ’n werklike geleentheid gegun was om die Waarheid te ken en daarop te reageer, sal daardie mense geoordeel word volgens hoe hulle daarop reageer en die leerstellings in die boeke van die Bybel gehoorsaam. Dit is soos Jakobus geïnspireer was om aan ons te sê: “Die geloof sonder die werke [is] dood” (Jakobus 2:20).

Maak nie ’n fout nie; indien daardie ontelbare duisende miljoene voorheen verblinde individue, slegs geoordeel word volgens die werke wat hulle in hul vorige leeftye gedoen het – baie van hulle as diewe, prostitute, seksueel-afwykendes, diktators en vals profete – dan sal hulle verseker almal vergaan in die poel van vuur! Want in hul vorige lewens het hulle nie die enigste naam wat onder die hemel gegee is, waardeur ons gered moet word, aangeneem nie. Hulle het hulle nie werklik “bekeer” (Handelinge 2:38) van hulle verkeerde weë en hul lewens aan Christus oorgegee nie. Hulle het Hom nie toegelaat – deur die Heilig Gees – om in hul lewens te werk, dit te vorm en hulle te help om “... toe [te] neem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” nie (2 Petrus 3:18).

God beoefen nie dubbele standaarde nie! Daardie ontelbare duisende miljoene individue verdien ’n werklike kans – en om geoordeel te word op wat hulle doen nadat hulle bekend was met die Waarheid van God! Nogtans probeer ontelbare teoloë en predikante – wat almal self mislei is – hulle dit voorstel dat God op een of ander manier baie van ons onboetvaardige vriende en familielede, en menigtes van vervloë dae, sal red selfs al het hulle nooit tot ’n werklike berou tot bekering gekom en hul lewens werklik aan die lewende Christus oorgegee nie. Hierdie teoloë kon nie meer verkeerd gewees het nie!

Mag God u egter help om die waarheid te verstaan aangaande die “ongeredde” duisende miljoene mense wat nooit ’n werklike geleentheid gehad het om Jesus Christus aan te neem nie, en aangaande al die bykomende duisende miljoene mense van beide die hede en verlede wat slegs van ’n vals Christus geweet het (2 Korinthiërs 11:4), en dus nooit werklik tot oorgawe gekom het om die Christus van die Bybel in hul lewens te laat heers nie!

Die waarheid is dat God nie nou die meerderheid mense “roep” tot ware begrip en redding nie. Tensy hulle willens en wetens en met opset God verwerp (Hebreërs 10:26-27),sal hulle ’n geleentheid gegee word om te verstaan – om werklik berou te hê oor hulle sondes en om waarlik “bekeerd” te raak – in die groot wit troon oordeel.

In Sy woord sê die Ewige God aan ons: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9). God werk dikwels Sy planne uit op wyses wat ons mense dit nooit sou doen nie. Soos ons gesien het maak die Bybel dit baie duidelik dat God nie nou desperaat probeer om alle mense gedurende hierdie tyd te “red” nie. Inteendeel – na Christus se duisendjarige heerskappy op aarde tydens die Millennium – sal ’n wonderlike gebeurtenis plaasvind, wanneer almal wat nog ooit geleef en gesterf het sonder insig van God se doel en die werklike Waarheid, opgewek word en ’n ware geleentheid gegun word om hul lewens aan Christus oor te gee en dus te kwalifiseer om volle seuns van God en lede van Sy ewige Koninkryk te word. Dit is regtig goeie nuus vir almal van ons wat geliefdes het wat geleef en gesterf het sonder om ooit God en Sy verhewe doel waarlik te verstaan.