Soos baie van u wat hierdie tydskrif lees weet, het ek al in die verlede geskryf dat ek ’n redelik “gewone” opvoeding gehad het. Ek het grootgeword in die suidweste van Missouri en was vir 19 jaar lank lidmaat van ’n baie gerespekteerde “hoofstroom” kerk. My ouers het gegradueer in ’n kollege wat deur die groot hoofstroom kerklike denominasie geborg is. Ek was vir ’n jaar of twee president van my Sondagskoolklas. Ek het aan die Joplin Hoërskool gegradueer, was mede-kaptein van die landloopspan en was vir drie agtereenvolgende jaar die uitblinker-atleet in die myl. Ek het uitgeblink in sokker en was tweemalig die “Goue Handskoen”-bokskampioen. Ek het gevorder tot ’n eerste luitenant in my hoërskool se opleidingskorps vir Reserwe Offisiere. Later het ek Joplin Junior Kollege bygewoon en is verkies tot President van die Junior Kollege Dinee Klub, ’n organisasie wat hulle daarop toegespits het om burgerlike sake en wêreldgebeure te bespreek.

Ek was beslis ’n “gewone” ou, deel van die “hoofstroom-Amerika”.
Vroeg in my hoërskooldae is een van my beste vriende egter in ’n stoeigeveg dood. Hierdie tragedie het my daartoe aangespoor om na die werklikheid van God en na ware antwoorde te soek. Ek het tot die besef gekom dat die werklike “sleutel” tot ware Christenskap is of ons werklik glo en uitleef wat Jesus Christus en die oorspronklike Apostels geglo en uitgeleef het. Wat het húlle van hemel of hel-toe gaan gesê? Wat het húlle oor die ware doel van die lewe gesê? Watter weeklikse en jaarlikse dae van aanbidding het húlle onderhou? Wat het hulle oor die “einde van die wêreld”, Christus se wederkoms en wat ware gelowiges sou doen ná Christus se wederkoms gesê? Wat sou ons “beloning” uiteindelik wees?

Die oorspronklike Kerk

Om die legkaart van die moderne “Christendom” wat direk in stryd is met die leer en gebruike van Christus en die oorspronklike Apostels te begryp, is dit noodsaaklik om die lewenswyse van die oorspronklike en ware Moederkerk, die Kerk van God in Jerusalem, te bestudeer.

Paulus skryf aan die hoofsaaklik nie-Joodse gelowiges in Thessaloníka: “Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa” (1 Thessalonicense 2:14). Byna al die geskiedkundiges erken dat die oorsponklike Kerk se hoofkantoor in Jerusalem was en dat hulle die voorbeeld gestel het vir die leerstelling en lewenswyses wat deur ware Christene beoefen is.

’n Gerespekteerde en deeglik nagevorste sekulêre geskiedenis van hierdie tydperk is Edward Gibbon se monumentale werk, Decline and Fall of the Roman Empire. Gibbon sê, toe hy van die Apostoliese en ná-Apostoliese eras geskryf het: “Die eerste vyftien biskoppe van Jerusalem was almal besnede Jode; en die gemeente waaroor hulle toesig gehou het, het die Wet van Moses verenig met die leerstellings van Christus. Dit was dus natuurlik dat die vroegste tradisies van ’n kerk, wat slegs veertig dae ná die dood van Christus gestig is en gereeld vir byna net soveel jaar onder die onmiddellike beheer van Sy apostel was, erken sou word as die standaard van wat reg is. Die vêrafgeleë kerke het hulle gereeld beroep op die gesag van hulle eerbiedwaardige Ouer” (hfst. 15, Art. 1).

Ek behoort hier uit te wys dat “die wet” wat die vroeë Christene onderhou het, nie die volledige Wet van Moses was nie. Wat die ware Christene wel onderhou het, was die Tien Gebooie, tesame met God se insettinge, alles nou selfs meer uitgebrei in die gees as wat dit in die Ou Testament was. Ware Christene het nie geglo dat hulle moes volhard in die seremoniële aspekte van die Wet van Moses nie en ook nie in die fisiese administrasie van die burgerlike reg wat God aan Israel gegee het nie.

Omdat hierdie vroeë Christene egter nog steeds die Bybelse Sabbat, God se jaarlikse feeste, tiendes en sekere dieetvoorskrifte (Levitikus 11) onderhou het, het baie geskiedkundiges verkeerdelik steeds gesê dat hulle die “Wet van Moses” gevolg het en dus probeer het om God se gebooie en insettinge te laat saamsmelt met die diere-offers en rituele wassings. Dit is heeltemal verkeerd en is misleidend!

’n Klein kuddetjie

Die waarheid is dat daar nog altyd ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) gelowiges is wat die leerstellings en gebruike van Christus en die Apostels volg. Sedert die Apostoliese tye is hulle egter opgespoor en vervolg en hulle is nie deur die oorgrote meerderheid van die wêreld raakgesien nie. Namate die vroeë afvalliges die bestaande kerklike strukture en die naam “Christen” oorgeneem het, is die laaste oorblywende oorspronklike Apostel geïnspireer om oor een van die afvallige leiers te skryf: “Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente” (3 Johannes 9-10).

Die ware aanbidders is dus uit die plaaslike gemeentes “uitgegooi” en selfs Johannes, Jesus se geliefde vriend onder die Apostels, was nie seker of hy in staat sou wees om die situasie reg te stel nie!

Eeue later is die meeste mense nog steeds verward oor die ware godsdiens van Jesus Christus. Diegene wat Christelikheid bely is in honderde mededingende sektes en denominasies verdeel. Baie min mense verstaan egter die oorspronklike vorm van wat die Christenskap is wat Christus en Sy Apostels ons geleer en self ook uitgeleef het! Die “Christelike” wêreld is op dryfsand gebou. Die morele stelsel is kragteloos sonder die vaste fondament van God se wet. Wêreldlike magte dikteer al hoe meer die standaarde van gedrag, wat eens die voorreg van godsdienstige leiers was.

’n Ander Jesus!

Vandag sien ons die spektakel van perverte wat toenemend belangrike poste in die regering, in die onderwys en selfs in sommige van die hoofstroom kerke oorneem! Ons sien die verskriklike statistiek van miljoene ongebore babas, wie se skedels vergruis en dan uit hulle moeders se baarmoeders gesuig word! Ons beleef ’n beskawing wat werklik besig is om uitmekaar te val. Ons is ’n gemeenskap wat binnekort direk deur die Grote God wat lewe en asem aan almal gee, gestraf gaan word. 

Waarom? Hoofsaaklik omdat ons mense mislei is om in ’n “ander Jesus” te glo, omdat ons mense heeltemal met die ware God, sowel as Sy geopenbaarde leefwyse, kontak verloor het. 

Jesus sê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid [wetteloosheid] werk!” (Mattheüs 7:21-23).

Wetteloosheid?
Ja! Die godsdiens wat die naam Christelikheid aangeneem het, het die heidense konsepte en gebruike van die Babiloniese verborgenheidsgodsdiens, wat ’n direkte skending van God se wet was, oorgeneem! In 2 Thessalonicense 2:7 verwys die apostel Paulus hierna as die “verborgenheid van ongeregtigheid”. Hierdie valse stelsel van aanbidding is ingevoer in die plek van die eenvoudige lewenswyse wat Jesus en die Apostels verkondig het. Jesus se manier van lewe was gegrond op gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie, met die hulp van die Heilige Gees, wat ontvang word na bekering en doop.

Ons, in hierdie Werk van die lewende God, verkondig en beoefen, na die beste van ons vermoë en met God se hulp, dieselfde basiese “lewenswyse” as wat deur Christus en Sy Apostels verkondig is. Een van ons grondliggende leuses is: “Hervestig oorspronklike Christenskap!”

Kontak ons gerus by die streekskantoor naaste aan u (soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) indien u meer van hierdie terugkeer na die “oorspronklike” Christenskap en wat dit alles behels, wil leer.