Het die Kerk nog steeds ’n doel hier aan die daeraad van die 21ste eeu? Kan u ’n deel daaraan hê?


Die “hoofstroom” Christendom is in ’n identiteitskrisis gewikkel! Baie mense wat hulself as Christene beskou, is onseker oor hul kerk se doelstelling en oor die rol wat dit in hul lewe behoort te speel. Baie mense hunker na die gerieflike tradisies van die verlede. Andere soek weer na ’n meer “geloofwaardige” ondervinding. Sommige mense soek slegs na genesing en vertroosting. Wat is egter die doel van die kerk?

Baie mense wat heeltemal ontnugter is deur “georganiseerde godsdiens” in die algemeen, soek elders na antwoorde. Vir hulle het godsdiens heeltemal ontoepaslik geword, want hulle kerk het geen betekenisvolle identiteit of funksie nie. Navorsers James Patterson en Peter Kim het tot die gevolgtrekking gekom dat Amerikaners in bykans elke streek van die nasie, “eenvoudig hulself nie meer na God of godsdiens wend ten einde hulle te help besluit oor die kern en morele sake van die dag nie” (The Day America Told the Truth, bl. 199).

Waarom is kerke in so ’n verwarde toestand? Wat is die doel van die kerk in die eerste instansie? Wat behoort u kerk in hierdie tyd te doen?

Volg Jesus Christus

Toe Christus op die aarde gewandel het, het Hy geen twyfel gelaat oor wat die Kerk behoort te doen en sou doen nie. Hy het dit gebou en gesê dat dit sou bly bestaan tot en met Sy Wederkoms (Mattheus 16:18). Wat was egter die funksie van daardie Kerk?

Jesus Self gee die antwoord. Kyk wat Hy gedoen het toe Hy Sy bediening begin het: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Jesus het die goeie nuus van Sy Koninkryk aangekondig en het berou oor sonde, geloof in die evangelie en bekering verkondig.

Doen u kerk wat Christus gedoen het? Dit behoort! Betrek dit u in die werk om die Koninkryk van God te verkondig? Beleef u ware berou en bekering? Indien nie, waarom nie?

Aankondiging van God se toekomstige Koninkryk

Toe Christus begin het om die evangelie (goeie nuus) van die Koninkryk van God te verkondig, het Hy Sy eie, letterlike heerskappy oor die aarde voorspel. Die heiliges se heerskappy onder Christus was verstaan en voorspel deur die profeet Daniël (Daniël 2:44; 7:18). Jesus se aanhoorders het nie slegs hierdie feit aanvaar nie, maar die meeste van Sy dissipels was so geesdriftig daaroor dat hulle geglo het dat daardie Koninkryk onmiddellik gevestig sou word (Handelinge 1:6; Lukas 19:11). In ons tyd is die geprofeteerde waarheid van Christus se duisendjarige Vrederyk nogtans aan die meeste belydende Christene onbekend.

Dit was egter nie altyd so nie. Die vroeëre Christene was baie ingestel op die hoop van Christus se Wederkoms en was opgewonde daaroor! Hulle het egter geleidelik die pad byster geraak, soos historikus Edward Gibbon verduidelik: “In die primitiewe kerk ... was dit algemeen geglo dat die einde van die wêreld en die koninkryk van die hemel op hande was ... Die leerstelling van Christus se heerskappy op aarde was eers as ’n volslae versinnebeelding behandel, later geleidelik as ’n twyfelagtig en nuttelose opinie beskou en uiteindelik verwerp as die absurde uitvindsel van kettery en fanatisisme” (Christianity and the Decline of Rome deur Edward Gibbon, red. Sloan, bll. 105-106).

Namate die geloof in Christus se duisendjarige Vrederyk oor die eeue gekwyn het, het baie mense hulle gewend tot die idee dat die kerk self die wêreld sou verander. Dit het gelei tot die beklemtoning van verskillende soorte sosiale aktivisme in die hoop dat dit ’n beter wêreld teweeg sou bring.

Ons het hierdie neiging ook in moderne tye waargeneem. Na die Tweede Vatikaanse Raad het Rooms-Katolieke teoloë in die 1960s dít ontwikkel wat bevrydingsteologie genoem kan word. Dit het die aandag toegespits op maatskaplike transformasie eerder as persoonlike bekering. Skrywer Robin Keeley merk op dat met bevrydingsteologie “diens aan die armes verstaan word as ’n begrip van hulle nood, verdediging van hulle regte en om hulle te organiseer vir sosiale aktivisme” (The Quiet Revolution, bl. 226).

Christus het die siekes genees, die dooies opgewek en die verdruktes bevry, soos ons in die evangelies lees. Hy het Sy dissipels geleer om dieselfde te doen (Lukas 10:9). Let egter daarop dat dit nie Sy missie was om slegs te genees nie; dit was om die toekomstige Koninkryk van God te verkondig (verse 10-11).

Toe Jesus Jesaja se profesie in die tempel gelees het, het Hy in die middel van die sin opgehou. Deur dit te doen, het Hy getoon dat die finale vervulling van Jesaja se profesie eers in die Millennium sou geskied, wanneer die Koninkryk van God reeds op die planeet Aarde gevestig sal wees. In daardie profesie het Jesaja aangaande die Messias voorspel: “... die Here het My gesalf om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die Here en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos ... En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag” (Jesaja 61:1-2,4). Jesaja het geskryf van Christus se Wederkoms en van die herbouingsproses wat sal plaasvind nadat Hy Sy Koninkryk op aarde gevestig het!

Daardie tyd lê nog in die toekoms! Jesus Christus se duisendjarige heerskappy sal ’n ongekende mate van voorspoed inlui, met vertroosting en hulp aan diegene wat verdruk en onderdruk was. Jesaja voorspel van ’n wonderlike tyd van gelykheid en billikheid, wanneer hy skryf aangaande die komende Messias: “... maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel” (Jesaja 11:4).

Christus het Sy dissipels aangesê om die hele wêreld in te gaan en die evangelie van die Koninkryk van God te verkondig (Markus 16:15). Hy het geweet die meeste mense sou nie reageer nie en dus eenvoudig die boodskap as ’n getuienis van wat aan die kom is, sou ontvang. Hy het egter ook Sy dissipels aangesê om daardie mense wat hulle wel sou bekeer en ag slaan op Sy boodskap, te doop (Mattheus 28:19-20).

Baie hedendaagse Christene lei af, wanneer hulle na die Bybelse beskrywing van die Millennium kyk, dat dit hulle verantwoordelikheid is om nie slegs maatskaplik aktief te wees nie, maar ook polities aktief, sodat hulle die morele en maatskaplike sake wat húlle glo die Vrederyk-toestande sal aanhelp, kan bevorder. Was dit egter werklik Christus se wens dat Sy mense moes probeer om die wêreld “reg te stel?” Of was dit Sy prioriteit om die volgende tydperk aan te kondig en daarvoor voor te berei, deur die goeie nuus van Sy Koninkryk uit te dra (Mattheus 24:14)? Jesus het gesê dat Sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (Johannes 18:36) en die apostel Paulus beskryf homself as ’n “ambassadeur vir Christus” vir daardie toekomstige Koninkryk (2 Korinthiërs 5:20). Waarlikwaar, God se Kerk sal nie verstrengel raak in die politiekery van hierdie huidige bose wêreld nie, maar sal eerder besig wees om die toekomstige een te verkondig!

Ja, daar sal altyd mense wees wat daarna streef om konings en nasie te beïnvloed in die naam van hulle godsdiens. Bybelse profesie onthul selfs dat ’n groot valse kerk hom sal verstrengel met ’n anti-goddelike politieke wese en daardeur die ganse mensdom op die randjie van uitwissing sal bring! “Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openbaring 17:1-2). Hierdie “hoer” – of valse kerk – sal deel wees van die sisteem wat teen Christus sal veg: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14). Hierdie botsing sal ’n verskriklike tyd van oorlog meebring, wat die Bybel die “Dag van die Here” noem, wat baie na daaraan sal kom om alle lewe op aarde uit te wis. Jesus Christus sal egter weer kom voordat die hele mensdom vernietig is (Mattheus 24:21-22).

Christus wil beslis hê dat ons ons naaste moet liefhê (Mattheus 19:19) en om goed te doen aan alle mense sover dit in ons vermoë is en ons die geleentheid daartoe het (Galasiërs 6:10). Die funksie van die Kerk is egter om die Werk van God te doen en nie om die wêreld nou te hervorm nie. Die Kerk wat Jesus Christus gebou het sal Sy voorbeeld volg deur die ware evangelie aan die wêreld te verkondig. Dit sal nie van spoor af gebring word deur ’n valse evangelie van politieke of maatskaplike aktivisme nie, omdat dit besig sal wees met die verkondiging van die goeie nuus van Sy toekomstige Koninkryk!

’n Bykomende rede waarom die meeste hedendaagse kerke nie Christus se toekomstige Koninkryk verstaan nie is omdat hulle die Bybelse Heilige Dae wat Jesus en Sy Apostels self onderhou het, versaak het. Daardie Heilige Dae beeld God se plan vir die mensdom uit – insluitende Christus se Wederkoms om oor Sy Koninkryk te heers – slegs die Kerk wat daardie Heilige Dae onderhou en verstaan, kan werklik die volle betekenis van Christus se Wederkoms verstaan. Sy Kerk vier die Fees van Basuine wat Sy triomfantlike Wederkoms met die blaas van die laaste basuin, versinnebeeld (1 Thessalonicense 4:16). Selfs in die eindtyd sal God se Kerk nie slegs die “jaarlikse Sabbatte” vier nie, maar ook die Sewende-dag Sabbat wat die duisendjarige Sabbat in God se 7,000 jaar plan versinnebeeld (Hebreërs 4:8-10). Die meeste mense wat hul vandag Christene noem, glo dat met daardie Sabbatte op een of ander manier “weggedoen” is – hoewel nóg Christus nóg Sy dissipels daarmee weggedoen het. In werklikheid toon die Skrif dat na Christus se Wederkoms, die hele wêreld die Huttefees sal vier (Sagaria 14:16).

Verkondig geloof en bekering

Christus het nie slegs die toekomstige Koninkryk van God verkondig nie. Hy het by Sy aanhoorders aangedring: “... bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Sy boodskap van bekering is versinnebeeld deur Johannes die Doper (Mattheus 3:2). Die apostel Petrus se preek op Pinkster beklemtoon ook die belangrikheid van bekering vanuit sonde (Handelinge 2:38).

Nietemin, baie kerke het deesdae die kluts kwytgeraak oor die kwessies van sonde, bekering en geloof. Skrywer Mike Regele verduidelik dat Christelikheid in Amerika in die 1980s ’n aansienlike klemverskuiwing ondergaan het, verwyderd van moraliteit en die erkenning van sonde, na die valse evangelie van “persoonlike groei”. “[In die 1980s] was die ontwaking verby en die na-binne-gerigte tydperk van terapie was op die voorgrond. Preke oor die diepte van iemand se morele en geestelike verval het eenvoudig nie so goed gevoel nie. In die na-binne-gerigte eras wil mense goed oor hulself voel” (Death of the Church, bl.39).

Daardie vals “goed-voel” boodskap kom nie van Jesus Christus nie! Hy het nie met “mooipratery” na die aarde gekom nie (Jesaja 30:10). Hy het ’n kragtige boodskap gebring wat bedoel was om Sy luisteraars te oortuig van hul sonde en hulle te motiveer om te verander!

Lees aandagtig wat Christus aan Sy luisteraars in Mattheus 5, dikwels die “Bergpredikasie” genoem, vertel het. Mense beskou soms Sy woorde foutiewelik as ’n soort sentiment wat die nodigheid om berou oor sonde te hê en God se wette te gehoorsaam, verwater of mee wegdoen, maar die teenoorgestelde is waar. Christus sê Hy het nie gekom om die Wet te ontbind nie, maar om dit te vervul (vers 17). Hy sê dat nie een enkele deeltjie van die Wet verlore sal gaan nie (vers 18). Hy veroordeel daardie mensewat selfs die geringste van die gebooie verbreek (vers 19). Hy het Sy volgelinge gewaarsku dat hulle geregtigheid die geregtigheid van die Fariseërs moet oortref, maar sonder die Fariseërs se geveinsdheid (vers 20). Hy het hulle geleer dat nie slegs moord verkeerd is nie, maar dat selfs die gesindheid van moord die doodstraf verdien (vers 22). Hy het hulle ook geleer dat dit nie slegs die daad van owerspel is wat verkeerd is nie, maar dat selfs die blote gedagte om owerspel te pleeg, die doodstraf regverdig (vers 28). 

Moet asseblief nie verkeerd verstaan nie. Jesus Christus het die straf vir ons sondes betaal (1 Petrus 1:18-19; Openbaring 12:10-11), ons kan nie redding “verdien” nie – dit is ’n geskenk van God (Romeine 6:23). Waarom sal Jesus egter “bekering” en geloof verkondig, tensy distansiëring van sonde verpligtend is vir ware, hedendaagse Christene? Sal Jesus Christus die ewige lewe skenk aan enigeen wat in opstand teen Hom en Sy Wet leef? Christus Self sê as ons die ewige lewe wil ingaan dan moet ons die gebooie onderhou (Mattheus 19:17). Daardie gebooie sluit die onderhouding van die Sewende-dag Sabbat en die sewe jaarlikse Heilige Dae in, wat die meeste belydende Christene deesdae verwerp.

Selfs sekulêre waarnemers erken dat ’n Christelike boodskap wat suiwer oor persoonlike groei gaan sonder ’n diepe erkentlikheid van sonde en ’n wending na bekering en geloof, eenvoudig geen geestelike betekenis het nie. “Dit is merkwaardig dat een van die evaluerings wat in die laaste twintig jaar hierteenoor opgeweeg word, die toenemende privatisering van persoonlike groei is ... Amper ’n beheptheid met persoonlike groei binne geloofsoorlewerings word geregverdig onder die banier van ‘besig wees om God te leer ken’. Mens wonder of dit nie miskien maar net ’n ander verskynsel van selfbevrediging is nie, ’n gedragspatroon wat heeltemal verenigbaar is met die ‘stemming’ van die na-binne-gerigte era” (Regele, bl. 40).

Jesus was besorg oor genesing en het hulp verleen aan diegene wat gebroke en seergemaak was. Hy het die gebrokenes van hart genees en die wat verdruk was vrygelaat (Lukas 4:18). Hy het die siekes genees (Lukas 7:22). Hy het gekom om almal wat belas is, rus te gee (Mattheus 11:28-29). Hy het egter nie ’n evangelie van “selfbevrediging” gebring of van “opstand teen die Wet” nie. Hy het ware vryheid onder die “wet van die vryheid” geleer (Jakobus 1:25).

Pas u werklik u lewe aan volgens Christus se boodskap? Smeek u God om u tot bekering te lei (Romeine 2:4; Lukas 5:32)? “Dra ... [u] vrugte wat by die bekering pas” (Mattheus 3:8)? Verkondiging van bekering en geloof is deel van die ware opdrag wat Christus uitgedra het – en wat Hy ook aan Sy Kerk toevertrou het.

Die ware opdrag – of ’n verbygaande gier?

Reeds goed binne die een-en-twintigste eeu in, ervaar baie kerke dat hulle rondskarrel om betekenis en doel te vind. Toe kerke hulle lidmate om terugvoering gevra het oor hul “kerklike ondervinding” het hulle ’n verstommende versameling teenstrydige reaksies ontvang, soos skrywer Brian McLaren opmerk: “Klagtes wissel van verstaanbaar tot onsamehangend tot onverenigbaar: Dit is te vervelig. Dit is te vermaaklikheidsgerig. Dit is te oppervlakkig. Dit is te diepsinnig. Dit is te intellektueel. Dit is te emosioneel. Dit is te eietyds. Dit is te tradisioneel. Dit is te passief. Dit is te aktief. Dit is te veeleisend. Dit is te maklik” (The Church on the other side, bl. 43).

“Mega-kerke” voorsien nou in die behoeftes van diegene wat soek na ’n energieke mengsel van deelgenootskap en selfhelp-programme in ’n ontspanne atmosfeer. Nogtans het sommige reeds begin agtergekom dat hierdie instellings groot getalle mag trek – maar dat hulle nie ware dissipels trek nie. Columbus, Ohio se radiokommentator, Bob Burney, maak die ongunstige uitlating oor hierdie verskynsel in sy rubriek by www.townhall.com: “Indien u slegs ’n skare verlang, sal die ‘soek-gerigte’ model resultate oplewer. Indien u bestendige, opregte, volwasse volgelinge van Jesus Christus verlang, dan is dit ’n bankrot-opsie” (“A Shocking Confession from Willow Creek Community Church”, 30 Oktober 2007).

Terselfdertyd vermeerder splinter “mini-kerke” teen ’n verstommende tempo. Volgens navorser, Mark J. Penn, is daar bykans 10,000 unieke godsdienste regoor die aardbol, met twee of drie nuwes wat elke dag ontstaan. Die meeste daarvan is grens-ontwikkelings wat afgesplinter het van groter organisasies. “Amerikaners mag wel die opkoms van “mega-kerke” beleef – daardie uitgestrekte “sogenaamde netwerke van God” wat enigiets aanbied van liturgiese verduideliking tot vlotvaarte vir tieners – maar wêreldwyd is die teenoorgestelde waar. Wat werklik floreer, is mini-kerke; klein en klaarblyklik dweepsiek, nuwe groepe van besonder toegewyde volgelinge” (Microtrends, bl. 312). Namate nuwe godsdienstige organisasies afsplinter en vermenigvuldig, groei verwarring oor die betekenis en doel van die Kerk.

Wees dankbaar dat u nie nodig het om verward te wees oor die funksie van God se ware Kerk vandag nie. In ons tyd van snelle verandering, kan u verseker wees dat die ware Kerk wat Jesus Christus gebou het, getrou sal doen wat Hy gedoen het, tot met Sy Wederkoms (Openbaring 1:7). Dit sal nie van koers gedryf word deur maatskaplike giere of nuwerwetse neigings nie, nóg deur vernietigende dwaalleerstellings. Dit sal aan die wêreld die goeie nuus van Jesus Christus se toekomstige Koninkryk verkondig (Mattheus 24:14). En dit sal ’n onbeskroomde “waarskuwende trompet” van bekering en geestelike verandering blaas. Soos Jesaja skryf: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1).

Dít is wat die Kerk wat Jesus gebou het, sal doen, selfs in hierdie een-en-twintigste eeu, net soos dit gedoen is van die begin af. Is u deel van daardie Kerk?