In die vroeë 90’s n.C. het die bejaarde apostel Johannes sy persoonlike vertelling van die lewe en leringe van Jesus Christus neergeskryf. Hy skryf tussen twee en drie dekades nadat die ander evangelievertellings geskryf is. In sy skrywe besluit hy om die storie op ’n ander wyse te benader as die ander drie vroeëre skrywers. Terwyl Markus begin met Jesus se bediening en Mattheus en Lukas met die gebeure rondom Sy geboorte, begin Johannes op ’n heel ander plek. Hy begin deur moontlik die welbekendste woorde in die Bybel aan te haal: “In die begin ...” Johannes gebruik hierdie beginwoorde van die boek Genesis om sy evangelieverhaal mee te begin.

Hy wou die punt maak, dat die Woord alreeds, in die begin, daar wás! Hy was met God die Vader en Hy was ook God. Trouens, voer Johannes aan, Hy was die einste werktuig waardeur die Skepping plaasgevind het en niks is geskep sonder Sy betrokkenheid nie. Nadat Johannes die oorsprong van Jesus Christus beklemtoon het, dui hy verder aan dat die Woord vlees geword en onder ons kom woon het (vers 14). Dit was Johannes se begeerte dat sy lesers duidelik verstaan wie Jesus van Nasaret werklik was. Hy was nie eenvoudig ’n profeet of ’n goeie mens nie, Hy was God se eie Seun, die ewige Woord wat vlees geword het. In die begin was Hy reeds teenwoordig, saam met die Vader en het in ongelooflike mag en heerlikheid gedeel.

’n Baie belangrike punt, is dat die Woord al daardie mag en heerlikheid opgegee en as ’n mens op die aarde kom woon het. Bekend as Jesus van Nasaret, was Hy gebore as ’n hulpelose baba, Hy het gegroei en tot ’n man ontwikkel en toé Sy bediening begin. Die apostel Paulus beklemtoon dat Christus Homself geledig het van daardie groot heerlikheid en mag wat Hy met die Vader gedeel het en dat Hy na die aarde gekom het in die vorm van ’n dienskneg (Filippense 2:6-8). Deur vrywillig op Homself die beperkings van die menslike vlees te neem, leef hy vir drie-en-dertig en ’n halwe jaar tussen mense en sterf een van die mees verskriklikste dode wat ’n mens kan uitdink.

Waarom? Waarom het Hy so baie opgegee om menslik te word? Wat was die ware doel van Sy eerste koms? Om ons te help om meer volledig te verstaan waarom dit vir Jesus Christus nodig was om te doen wat Hy het, sal hierdie artikel sewe onderskeie redes ondersoek, waarom Hy Aarde toe gekom het.

Christus het gekom om sonde in die vlees te veroordeel

Een van die leerstellings van die Antichris, soos dr. Meredith verduidelik het, is die idee dat Jesus Christus nie werklik in die vlees was soos u en ek in die vlees is nie. Die Bybel maak dit egter duidelik dat “Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk” geword het (Hebreërs 2:17). In vers 16 verduidelik Paulus dat Christus nie die aard van engele op Homself geneem het nie, maar dié van die saad van Abraham. The Expositor’s Bible Commentary verduidelik oor hierdie vers: “Hy het nie tot die vlak van engele gedaal en een van hulle geword nie. Hy het tot die vlak van die mensdom gedaal en ’n Jood geword” (volume 12, bl. 29). “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword” (Vers 14). Hy het ook gely as gevolg van versoekings (vers 18). Trouens, hy was in alles versoek soos ons, maar sonder sonde (Hebreërs 4:15). Waarom het Christus ’n menslike lewe geleef, onderworpe aan swakheid en versoeking?

Paulus verduidelik in Romeine 8:3 wat Christus bereik het deur in die gelykenis van sondige vlees te kom: Hy het “die sonde veroordeel in die vlees”. Jesus het nie gekom om ’n rol te speel nie! Hy het gely as gevolg van versoekings! Hy was vlees en bloed net soos u en ek vlees en bloed is, maar - híér lê die verskil - as ’n mens van vlees en bloed, het Jesus Christus heeltemal op die krag van die Vader staat gemaak om God geheel en al te gehoorsaam en Sy wil te doen. Hy sê dat Hy uit Homself niks kon doen nie (Johannes 5:30), dat die Vader wat in Hom woon die werke doen (Johannes 14:10). Dit is slegs wanneer ons op die Vader se krag staat maak dat ons kan oorwin en oor sonde kan seëvier.

Jesus Christus het gekom om vir ons die volmaakte voorbeeld van die lewe, wat ons moet volg, te stel (1 Petrus 2:21). Hy het geleef as ’n mens van vlees en bloed, onderworpe aan ons versoekings en beproewings en het elke keer oor sonde geseëvier. Hy veroordeel sonde in die vlees en dui daardeur aan dat gehoorsaamheid aan God werklik moontlik is, tot die mate waarop ’n mens staatmaak op die Vader se krag, om daardie gehoorsaamheid te bereik. Jesus het deur Sy persoonlike voorbeeld aangetoon dat ’n toegeeflike, gehoorsame lewe werklik moontlik is.

Christus het gekom as die Lam van God

Johannes die Doper het as getuie gedien vir Jesus Christus na Sy doop, deur na Hom te verwys as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29)! Die mense van daardie dae was baie bekend met lammers. Elke Pasgatyd het gesinne op die tiende van die eerste maand ’n jong lam uitgesoek en dit gehou tot die veertiende, sodat dit geslag en as deel van die Pasgamaaltyd geëet kon word. Elke oggend en elke aand is ’n lam in die tempel geslag en op die altaar geoffer met die oggend- en aand-offerandes. Al daardie miljoene lammers wat in die amper 15 eeue sedert Moses geoffer was, het op iets gedui. Of, om meer presies te wees, dit het op iemand gedui.

Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 5:7 dat Christus ons Pasgalam is wat vir ons geoffer is. Daarby dui hy in Hebreërs aan dat die bloed van diere, sonde nie werklik kan wegneem nie, maar eerder as herinnering moet dien. Jesus Christus bied ons redding, nie deur die bloed van diere nie, meer deur Sy eie bloed, wat Hy vir ons gestort het. Heel van die begin af het die Skepper aan ons eerste ouers verduidelik dat die loon van die sonde, die dood is. Daardie boete moet betaal word, want God se geregtigheid vereis dit. Hoewel God se geregtigheid betaling vereis, veroorsaak Sy groot liefde dat Hy egter gewillig was om dit Self namens ons te betaal.

Christus het nie net gekom om aan ons die volmaakte voorbeeld te stel nie, Hy het ook gekom om die boete vir ons sondes te betaal. Reg aan die begin met die insident in die Tuin van Eden, toe God ons eerste ouers bedek het deur diere te slag om vir hulle klere te maak, het Hy hulle vertel van die Saad van die Vrou wat uiteindelik die slang se kop sou vermorsel. So het Hy Sy plan van redding begin onthul. Deur aan Abraham ’n ram te voorsien om die plek van sy geliefde seun, Isak, in te neem, leer God hom van die behoefte vir ’n plaasvervangende offer. Hy onthul dit weer eens in die konteks van die eerste Pasga in Egipte, toe die engele van verwoesting (ongeluksbodes Psalm 78:49) by daardie huise verbygegaan het wat onder die bloed van die lam was. Jesus Christus, die Een wat vir ewig voortbestaan het as die Woord, het vlees geword sodat Hy kon sterf en ons Verlosser kon word. Hy het as die Lam van God gekom om die sondes van die hele wêreld weg te neem!

Christus het gekom as die tweede Adam

Toe God die eerste mens in die Tuin geplaas het, het Hy hom heerskappy gegee. Adam moes die regering van God op hierdie aarde toepas. Adam het egter gou-gou in hierdie onderneming misluk. Hy het hom in dwaasheid aan sy vrou onderwerp, wat aan Satan toegegee het, eerder as om God se opdragte getrou te onderhou. Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 15:45-47: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie die eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel” Jesus het as die tweede Adam gekom om dít te doen waarin die eerste Adam nie kon slaag nie: te kwalifiseer om Satan as heerser van hierdie aarde, te vervang.

Die apostel Johannes verduidelik in 1 Johannes 2:16-17: “Want alles wat in die wêreld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”. Die basis van hierdie hele wêreldse stelsel is die begeerlikhede van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die hoogmoed van die lewe. Dit is hierdie einste dinge waarop Satan hom beroep het toe hy Eva en Adam deur haar, verlei het. Uit Genesis 3 leer ons dat toe Satan Eva se aandag op die verbode vrugte gevestig het, sy gesien het dat dit “goed was om van te eet” (begeerlikheid van die vlees), “’n lus vir die oë” (begeerlikheid van die oë) en “wat ’n mens kan begeer om verstand te kry” (hoogmoed van die lewe). Op grond hiervan het Adam en Eva toegegee aan die sonde en hierdie kriteria het as grondslag gedien vir die vestiging van hierdie wêreld se samelewing.

Onmiddellik na Sy doop deur Johannes, voordat Hy Sy openbare bediening begin het, was Jesus na die woestyn om Satan te konfronteer (Markus 1:9-13). Hy het voorberei vir die konfrontasie deur vir 40 dae te vas. Hoe het Satan Hom probeer verlei? Deur hom op presies dieselfde dinge te beroep waarmee hy ons eerste ouers verlei het! Hy beroep hom op die begeerlikheid van die vlees deur Jesus te probeer oorreed om die klippe in brood te verander. Hy beroep hom op die begeerlikheid van die oë, deur Christus op ’n hoë berg te neem en aan Hom die koninkryke van die wêreld en hul glorie te wys én dit alles aan Christus aan te bied as Hy net sou neerbuig en Satan aanbid. Satan het Christus ook na die bo-punt van die tempel geneem en Hom uitgedaag om af te spring sodat die engele Hom kon vang. “As jy die Seun van God is”, daag Satan Hom, spring dan af. Dit was ’n beroep op die hoogmoed van die lewe. Die meeste van ons spring op ons perdjie as iemand ons uitdaag dat ons nie is wie ons sê ons is nie (Mattheus 4:1-6).

Jesus Christus verwerp al die versoekings wat Satan na Hom slinger. Hy het Satan oormeester en gedoen waarin Adam misluk het - Hy het God gehoorsaam! Jesus Christus het as die tweede Adam gekom en gekwalifiseer om Satan as heerser van hierdie aarde te vervang.

Christus het gekom om die Vader te onthul

Baie Jode in Jesus se tyd het daarop aanspraak gemaak dat hulle godsdienstig was. Tog maak Jesus dit duidelik dat alhoewel die godsdiensleiers baie oor God gepraat het, hulle Hom nie werklik geken het nie. Johannes teken in Johannes 1:18 aan: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar”. Lukas teken Jesus se stelling in Lukas 10:22 aan en verduidelik dat niemand die Vader werklik ken nie, behalwe die Seun en diegene aan wie die Seun Hom onthul. Jesus Christus het in ’n geestelik verduisterde wêreld gekom om die Vader bekend te maak.

Hoe kon Hy so iets doen? Christus vertel eerstens Sy luisteraars dat Hy nie gekom het om Sy eie wil na te volg en te doen nie, maar dat Hy eerder gekom het om die wil van die Vader te soek (verg. Johannes 6:38). Christus het ook nie gekom om eers Sy eie woorde te praat of Sy eie belange na te streef nie. Hy het die Vader se woorde gespreek en die werke gedoen wat die Vader Hom gegee het om te doen.

Jesus Christus was in alle dinge net soos die Vader en diegene wat Hom leer ken het, kon deur Hom ook die Vader ken. Gedurende die nag voor Sy kruisiging verduidelik Hy aan Filippus dat diegene wat Hom werklik ken, die Vader ook ken (verg. Johannes 14:7). Die onsigbare God het Homself geopenbaar in die persoon van Jesus Christus. Sy karakter, gesindheid en benadering is bekend aan ons, omdat Hy verkies dat dit so moet wees.

Christus kom as die Boodskapper van die Verbond

Die laaste van die Ou Testamentiese profete, Maleagi, het eeue verder as sy eie tyd gekyk en die koms van die Messias voorspel. “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare” (Maleagi 3:1). Een van die redes waarom die Messias moes kom, was om ’n boodskap direk van God af te bring.

Markus begin sy evangelievertelling deur direk uit hierdie teksvers aan te haal. Markus 1:1-2 lui: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak”. Ons word vertel dat Johannes gekom het met ’n boodskap van bekering en om aan te dui dat Een magtiger as hy, ná hom sal kom. In vers 14 verduidelik Markus: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig”. Johannes die Doper was die boodskapper wat die weg vir die Here voorberei het. Toe die weg voorberei was, het Jesus Sy verskyning as die Boodskapper van die Verbond gemaak.

Jesus Christus het gekom om die evangelie van die Koninkryk van God, die boodskap van die Nuwe Verbond, te verkondig. Hierdie boodskap onthul hoe ons God werklik kan leer ken, hoe om ons sondes heeltemal te verwyder en hoe om God se eie natuur in ons te plaas, deur Sy Heilige Gees wat Sy wet in ons harte en verstande skryf (Hebreërs 8:10-12). Hierdie evangelie verduidelik wat die Koninkryk van God werklik is en hoe ons daardie Koninkryk kan beërwe. Jesus het Aarde toe gekom om ’n boodskap direk van die Vader te bring, naamlik die goeie nuus oor God se komende koninkryk, waarin u en ek werklik kan deel hê as kinders en erfgename.

Christus het gekom om Sy Kerk te stig

Christus het nie net gekom om die Vader te onthul en Sy boodskap aan die mensdom te bring nie, Hy het ook gekom om Sy Kerk te stig. In Mattheus 16:18 verklaar Jesus Christus aan Petrus en die res van die Apostels dat Hy Sy Gemeente sou stig en dat die graf dit nooit sou oorwin nie. Die Rots waarop die Kerk gestig is, is natuurlik Jesus Christus Self. Hy is die hoeksteen van God se geestelike tempel, soos Paulus in Efesiërs 2:20 verduidelik. Die Griekse woord vir “kerk” (ekklesia) verwys na ’n groep of vergadering, hoewel die woord self letterlik “uitgeroep” of “geroep vanaf” beteken. Vanaf die begin het God individue uit hierdie wêreld geroep om met Hom in ’n spesiale verhouding te tree (verg. Genesis 12:1).

Hoe het Jesus voorberei om Sy Kerk te stig? Hy het eerstens dissipels geroep en 12 gekies om as Apostels in te seën. Hy het hulle vir drie-en-’n-half jaar opgelei en hulle toe uitgestuur om dieselfde boodskap te verkondig wat Hy Self verkondig het; om diegene te doop wat in geloof en bekering op daardie boodskap reageer en om alle dinge te onderrig wat Hy Self onderrig het (Mattheus 28:19-20).

Die Kerk wat Jesus gestig het, sou voortbestaan tot aan die einde van die tyd as die liggaam waardeur Hy sou werk. Die Kerk is die bruid waarmee Hy in die huwelik sal tree met Sy wederkoms, waarvan die lidmate saam met Hom in die wêreld van môre sal regeer en heers. As God se mense verteenwoordig ons vandag die eindtydse voortsetting van die Kerk wat Jesus gestig het.

Christus het gekom om die gevangenes gevange te neem

Efesiërs 4:8 beskryf ’n sewende rede waarvoor Jesus Christus Aarde toe gekom het: “Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee”. Dieselfde Jesus Christus wat na die graf neergedaal het, het drie dae en drie nagte later uit daardie graf opgestaan. Veertig dae na Sy opstanding het Hy opgevaar om weer saam met die Vader te wees. Waarom? Efesiërs 4:10 verduidelik: “Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring”. Toe Jesus die aarde as ’n menslike wese bewandel het, kon Hy op een tydstip slegs op een plek wees. Nou kan Hy deur die Heilige Gees op dieselfde tyd in alle bekeerde Christene woon, hulle help en lei.

Gedurende die nag voor Sy kruisiging vertel Jesus Sy dissipels dat dit tot hulle voordeel was dat Hy weggaan, want slegs op hierdie wyse kon Hy die Helper stuur, die Heilige Gees, om hulle te lei en versterk (Johannes 16:7). Dit is deur die krag van die Gees dat Christus in staat is om alle dinge te vervul (Efesiërs 4:10).

Die dood is die finale gevangenskap, die gevangenis waarvan niemand deur sy eie krag kan ontsnap nie. Die dood is die direkte gevolg van sonde; trouens, dit was slegs deur sonde dat die dood die wêreld binnegekom het (Romeine 5:12). Soos Paulus dit stel in 1 Korintiërs 15:56-57: “Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus”. Gedurende die nag voor Sy kruisiging vertel Jesus Sy dissipels dat “die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Die dood en die graf het geen aanspraak of houvas op Christus nie. Toe Hy opgevaar het na die hemel was dit om gevangenes gevange te neem, want deur Sy triomf sal almal wat in die graf is, uiteindelik Sy stem hoor en na vore kom (Johannes 5:28-29).

Jesus Christus het oor die dood geseëvier en stel nou aan ons allerlei geestelike gawes beskikbaar waardeur ons sonde en die dood kan oorwin. Ons moet ons Verlosser nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, maar moet eerder opreg dankbaar wees vir alles wat Hy vir u en my gedoen het, nog doen en sal doen.