Weet u wat na die dood gebeur? Deur die tye het verskillende kulture en godsdienste met hul eie antwoorde vorendag gekom. Selfs die tradisionele begrafnisgebruike in verskillende kulture weerspieël hul verskillende idees van wat na die dood gebeur.

Volgens tradisie veras Boeddhiste hul afgestorwenes. Hulle verwag nie ’n hiernamaals nie, maar ’n reeks wedergeboortes tot nirvana, ’n einde van die individuele bewustheid en absorpsie in die “wêreldsiel”, bereik word. Verassing toon hul oortuiging dat die siel deur tallose liggame oorgedra word wat elkeen vir die siel onbelangrik is.

Aan die ander kant het antieke Egiptenare die hiernamaals gesien as ’n voortsetting van hul aardse bestaan. Hulle het groot sorg geneem om liggame te bewaar en saam met items te begrawe wat hulle as bruikbaar in die volgende wêreld beskou het. Hul begrafnisgewoontes - insluitend hul piramides, moontlik die grootste monumente tot die afgestorwenes wat ooit gebou is - toon hul oortuiging dat persoonlike bestaan na die dood voortgaan.

Hebreeuse gewoontes toon ’n baie verskillende uitkyk op lewe ná die dood. Omdat hulle God se stelling aan Adam: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem ... stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19) letterlik opgeneem het, het Hebreërs tradisioneel hul afgestorwenes eenvoudig en vinnig begrawe en die dooie liggaam gelaat om te ontbind. Volgens die Bybel lê die hoop van die dooie nie daarin om ’n vasgekeerde siel te bevry of ’n dooie liggaam te bewaar nie. Job vra ’n retoriese vraag: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” (Job 14:14). Job weet dat God hom uiteindelik uit die graf sal roep (vers 15). Die Bybel toon duidelik dat die opstanding die enigste hoop is vir almal wat doodgaan.

Die onsterflikheid van die siel is onbybels

Die meeste belydende Christene glo dat die hemel die beloning is vir die regverdiges en dat daar ’n ooreenstemmende hel vir die goddeloses is. Tog is baie afgestoot deur die algemene Protestante konsep van die hel, omdat daar aanvaar word dat biljoene vir ewig in foltering sal wriemel doodeenvoudig omdat hulle nooit van Jesus Christus gehoor het nie. Indien Christus die “enigste weg na die hemel” is, soos die Evangeliesgesindes onderrig, dan kan die meeste mense wat ooit geleef en gesterf het nie daar wees nie. Rooms-Katolieke het ’n ander benadering deur die byvoeging van bykomende bestemmings vir siele na die dood; hul tradisie sluit in ’n remediërende vagevuur en ’n foltervrye limbo vir ongedoopte babas en “goeie” heidene.

Die probleem met al hierdie idees is dat dit in mense se gedagtes gevorm word en nie uit die Bybel nie. Hulle glo almal uit die staanspoor die veronderstelling dat die mensdom inherent oor onsterflikheid beskik en dat ’n onsterflike siel daarom êrens heen moet gaan met afsterwe, maar die Bybel onderrig nêrens die onsterflikheid van die siel nie! Trouens, die term “onsterflike siel” kom nie eens in die Bybel voor nie.

In die Ou Testament word die Hebreeuse woord nephesh oor die algemeen as “siel” vertaal. Dit is in Genesis 2:7 gebruik waar ons lees dat God lewenslug in Adam geblaas en hy ’n lewende siel geword het. Nephesh word egter ook in Genesis 1 gebruik om die feit dat visse (vers 20) en ander diere (vers 24) lewendig geword het, te beskryf. In die Bybel is daar niks onsterflik omtrent nephesh - ’n siel - nie. Ons word daarenteen in Esegiël 18:4 vertel dat die siel wat sondig sal sterf.

In die Nuwe Testament word die Griekse woord psuche oor die algemeen as “siel” vertaal. Daar is weereens niks onsterflik aan ’n psuche nie. Openbaring 8:9 gebruik hierdie woord wanneer dit verduidelik dat een derde van die diere “in die see ... gesterwe [het]”. Net so vertel Openbaring 16:3 dat “al die lewende wesens in die see ... gesterwe [het]”. “Siel” beteken lewe en kan verwys na enige lewende wese, ’n mens of ’n dier.

Hierdie Griekse woord psuche is die oorsprong van ons Afrikaanse woord psige, wat na die verstand verwys. Dit word soms gebruik om daardie verstandelike vermoëns te beskryf wat een individu van ’n ander onderskei. In Mattheus 10:28 sê Jesus: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel [psuche] sowel as die liggaam kan verderwe in die hel”. Let daarop dat die hel wat Jesus beskryf beide die liggaam en die siel sal vernietig! Die siel is nie onsterflik nie, dit kan vernietig word. In hierdie konteks verwys psuche na ’n mens se verstand of individualiteit. Hoewel ’n ander persoon u fisiese lewe kan kortknip, kan God u steeds laat opstaan. Hy behou ’n rekord van u individualiteit, insluitend u geheue en karakter. Terwyl ’n mens u nie u kans kan ontneem om in die toekoms opgewek te word en weer te kan leef nie, kan - en in sommige gevalle sál God.

Drie verskillende Griekse woorde word in die 1933 vertaling van die Nuwe Testament as “hel” of “doderyk” vertaal en elkeen beskryf iets anders. Tartaroo word slegs eenmaal gebruik in 2 Petrus 2:4 en verwys na ’n plek van aanhouding vir duiwels. Hades wat “die graf” beteken, word dikwels gebruik om die blyplek van die dooies tot en met die opstanding te beskryf. Hades is nooit gebruik om ’n plek van toekomstige straf aan te dui nie. Nog ’n Griekse woord wat gewoonlik as “hel” vertaal word, verwys wel na ’n plek waar die goddelose mense met die dood gestraf word. Dit is Gehenna en is vernoem na die Hinnomvallei net buite Jerusalem waar die liggame van kriminele gewoonlik saam met afval en dooie diere verbrand is. Christus gebruik hierdie plek, bekend aan al Sy luisteraars, om die verbranding van die onbekeerbare goddeloses te beskryf.

Die Bybel toon nêrens dat onsterflikheid die mensdom se natuurlike staat is nie; dit onderrig dat ons inherent sterflik en tot die dood veroordeel is. In 1 Timotheus 6:16 beklemtoon die apostel Paulus dat slegs God onsterflik is. Hy vertel aan die gemeente in Korinthe dat die regverdiges met die opstanding met onsterflikheid geklee sal word (1 Korintiërs 15:53-54).

Indien die mens nie ’n onsterflike siel is nie, wat gebeur dan by die dood? Die Bybel vergelyk dood met slaap. Die dooies is bewusteloos en weet niks tot en met hul opstanding nie (Prediker 9:5). Die apostel Paulus beskryf die afgestorwe Christene as ontslape in Christus (1 Thessalonicense 4:14-15). Aan Sy dissipels beskryf Jesus hul dooie vriend Lasarus as aan die slaap (Johannes 11:11-14). Die profeet Daniël voorspel ’n toekomstige tyd wanneer “die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid” (Daniël 12:2).

Hoewel die mens sterflik is en natuurlik inherent oor geen ewige lewe beskik nie, verklaar die patriarg Job dat God ’n begeerte vir die werk van Sy hande het. Uiteindelik sal Hy roep - en Job weet dat hy sal antwoord (Job 14:15). Wanneer sal dit plaasvind? Indien die tradisionele hemel en hel teorie van die algemene Christendom verkeerd is, hoe en wanneer sal die Skepper met die mensdom handel?

Die beter opstanding

Die Bybel onderrig dat daar meer as een opstanding uit die dood sal wees. Hierdie opstandings vind op verskillende tye plaas en behels verskillende groepe mense. Die boek Openbaring maak die tydsraamwerk vir elke opstanding duidelik.

Let op wat Johannes in Openbaring 20:6 aanteken: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”. Die eerste opstanding is ’n opstanding tot onsterflikheid en vind plaas voor die Millennium - die duisend-jaar heerskappy van Christus en die heiliges op Aarde. Die apostel Paulus beskryf hierdie gebeurtenis aan die gemeente in Korinthe en sê vir hulle dat dit sal plaasvind “in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Korintiërs 15:52-53).

Wat is die laaste basuin? Die boek Openbaring beskryf ’n reeks van sewe bonatuurlike basuine wat in die eindtyd sal blaas. Hierdie basuine kondig die ingryping van die Almagtige God en ook Sy oordeel oor ’n rebelse wêreld aan. Openbaring 8 toon die geskal van die eerste vier van hierdie engele se basuine en die ongelooflike natuurrampe wat met elke blaas van die basuin sal volg aan. Openbaring 9 vertel van die blaas van die vyfde en sesde basuin en die oorlog en vernietiging wat daarop volg. In Openbaring 11:15 lees ons: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid”. Die sewende en laaste basuin kondig die wederkoms van Jesus Christus en die opstanding van die regverdige afgestorwenes aan. Paulus beklemtoon dit in 1 Thessalonicense 4:16: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan”. In die daaropvolgende verse verduidelik hy dat Christene wat steeds leef ten tye van hierdie ontsagwekkende gebeurtenis ook na onsterflikheid verander sal word en Jesus met die herrese heiliges in die lug tegemoet sal gaan.

Hierdie eerste opstanding is tot heerlikheid en onsterflikheid en bestaan slegs uit diegene wat aan Christus behoort aan die einde van Sy Tweede Koms (1 Korintiërs 15:23). Hebreërs 11:35 noem dit die “beter opstanding”. Toe Christus na drie dae en drie nagte in die graf uit die dode opgestaan het, het Hy die eersteling geword van diegene wat ontslaap het (1 Korintiërs 15:20). Diegene wat Jesus Christus waarlik as Heer en Verlosser aanvaar beskik oor ’n ongelooflike belofte - omdat Hy leef, sal ons ook leef (Johannes 14:19)!

Die Tweede Opstanding

Slegs ’n klein minderheid van mense het nog ooit Christus en die Vader werklik leer ken en op Hulle vertrou. Wat gebeur met al die ander mense?

Openbaring 20:5 maak dit duidelik dat die res van die dooies - diegene wat nie in die eerste opstanding was nie - nie weer sal leef nie tot en met die voleinding van die millenniale regering van Christus en die heiliges. Johannes beskryf voorts ’n groot versameling mense wat op daardie tydstip weer lewend gemaak sal word en voor God sal staan (vers 12). Ons word vertel dat die Boek van die Lewe weer geopen sal word. Waarom is dit nodig, as die Bybel vertel dat diegene wie se name tevore in die Boek van die Lewe opgeteken is (Openbaring 3:5) tot onsterflikheid opgerig is met Christus se wederkoms een duisend jaar tevore? God sal nie nodig hê om die Boek te heropen om te sien of Hy per ongeluk ’n fout gemaak en iemand uitgelaat het nie. Die feit dat die Boek weer oopgemaak word, verteenwoordig eerder ’n kans vir andere wat op daardie tydstip in die Boek opgeteken gaan word.

Jesus praat van ’n opstanding tot oordeel, waar die mense van antieke heidense stede langs baie van die Jode van Sy tyd sal staan (Mattheus 12:41-42). Hy sê ook dat baie van daardie antieke volke hulle sou bekeer as hulle Sy werke gesien en Sy boodskap gehoor het (Mattheus 11:21-23). Is mense vir ewig verlore omdat hulle nooit daardie kans gehad het nie? Onthou dat God geen aannemer van mense is nie (2 Kronieke 19:7) en geen begeerte het dat enigiemand moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (2 Petrus 3:9).

Waarom kon so baie van diegene vir wie die Apostels gepreek het, nie sien en verstaan nie? Hulle was geestelik verblind (Romeine 11:25). Onthou, Christus stel dit baie duidelik dat niemand na Hom kan kom tensy die Vader hom trek nie (Johannes 6:44). Tog het Paulus ’n toekomstige tyd afgewag wanneer die hele Israel gered sal word (Romeine 11:26). Die profeet Esegiël beskryf in ’n visioen daardie toekomstige tyd van verlossing vir Israel. Hy sien ’n vallei vol droë beendere en word vertel dat dit die hele huis van Israel verteenwoordig. Hy sien die beendere wonderbaarlik bymekaarkom en geraamtes vorm, dan word hulle met vlees bedek. Uiteindelik kom asem in hierdie reuse leermag van hersaamgestelde liggame en word hulle weer lewendig. God se boodskap is: “Daarom, profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel. En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk!” (Esegiël 37:12-13). By hierdie toekomsgebeurtenis wat een duisend jaar na Christus se wederkoms sal plaasvind, sal mensewesens tot fisiese lewe opgewek word en in staat wees om God werklik te ken. Dit is nie ’n tweede kans nie, maar eerder ’n eerste geleentheid vir biljoene wat tevore nie bewusgemaak was van God se plan en doel in hierdie tyd nie.

Dit sal ’n toekomstige tyd van oordeel vir die oorgrote meerderheid van die mensdom wees. Jesaja 65:20 toon dat hierdie opwekking tot fisiese lewe lei wat vir een honderd jaar sal duur. Gedurende hierdie tyd sal geestelike blindheid verwyder word, die Boek van die Lewe geopen en die herrese dooies geoordeel word uit die boeke van die Bybel, gebaseer op wat hulle met die geleentheid doen wat hulle dan kry.

’n Derde opstanding

Wat gebeur aan die einde van hierdie toekomstige oordeelstydperk, wanneer die meeste van die mensdom tot fisiese lewe opgewek en die geleentheid gegun is om die waarheid vir die eerste keer te leer? Ons het diegene bespreek wat Christus vertrou het en met Sy wederkoms in die eerste opstanding tot onsterflikheid sal opwek en ons het gesien wat met diegene gebeur wat in die huidige tyd geestelik verblind is en dan duisend jaar later tot sterflike lewe opgewek sal word om hul eerste geleentheid te hê om hul name in die Boek van die Lewe opgeteken te kry. Wat gebeur egter met diegene wat God se verlossing willens en wetens verwerp het?

Sommige mense in hierdie tyd het die geleentheid gehad vir God se verlossing, maar het willens en wetens hul rug daarop gekeer en dit verwerp. Petrus praat in 2 Petrus 2:21 van hulle: “Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is”. Die apostel Paulus verduidelik: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer” (Hebreërs 10:26-27).

Hierdie oordeel van God verskil grootliks van die tradisioneel denkbeeldige helvuur wat baie belydende Christene verwag sondaars vir ewig sal martel. Let op die beskrywing in Maleagi 4:1: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie”. Die helvuur wat in die Bybel beskryf word, is bedoel om goddeloses te vernietig, nie om hulle vir ewig te martel nie. Openbaring 20:15 beskryf die tydsberekening van hierdie toekomstige vernietiging van die onbekeerbare goddeloses. Aan die einde van die oordeelstydperk, wanneer die voorheen verblindes geleentheid gegun word om hul name in die Boek van die Lewe opgeteken te kry, sal diegene waarvan die name nie in die Boek verskyn nie, in ’n poel van vuur gewerp word wat bedoel is om hulle op te brand. Dan sal diegene wat in ons huidige tyd hul geleentheid op verlossing verwerp het, opgerig word om die tweede dood te ervaar. In die gelykenis van Lasarus en die ryk man beskryf Jesus iemand wat in die doderyk (hades) wakker word, nie tot heerlikheid of tot ’n geleentheid vir verlossing nie, maar eerder om God se vurige toorn wat op hom afkom te trotseer (Lukas 16:23). Sodanige persoon sal gekonfronteer word met die foltering van sy uitsluiting van die Koninkryk van God en sy hangende vernietiging en sal saam met al diegene wat uiteindelik hul geleentheid vir verlossing verwerp het, omkom. Op daardie tydstip sal al diegene wie se name nie in die Boek van die Lewe geskryf is nie, omkom.

Petrus beskryf dat met hierdie komende tyd van God se finale oordeel oor sonde “waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10). Dit sal gevolg word deur “nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (vers 13).

Johannes beskryf ook hierdie gebeurtenis in Openbaring 21 en beeld die skepping van die nuwe hemel en aarde uit, asook die Nuwe Jerusalem wat uit die Hemel neerdaal. Op hierdie glorieryke tyd sal Christus die Koninkryk aan Sy Vader oorhandig (1 Korintiërs 15:24). Die Vader en Christus sal in die Nuwe Jerusalem woon, saam met die onsterflik-gemaakte heiliges, in ’n tyd van geen hartseer, pyn of trane meer nie. Dit sal - uiteindelik - moontlik wees omdat sonde en alles wat daardeur besoedel is óf gereinig óf vernietig sal wees (vers 26). Die Bybel sluit af met hierdie beeld, wat die einde van die begin en die drumpel van die ewigheid aandui!