Fossiel oorblyfsels van dinosourusse en ander wesens wys duidelik na lewe in ’n antieke verlede. Beteken dit dus dat die God wat in die Bybel beskryf word nie bestaan nie?

Jurassic Park van Stephen Spielberg was ’n groot lokettreffer met die bekendstelling in 1993. Die rekords wat met die vertoning van die 2015 opvolger, Jurassic World, verbeter is, het getoon dat die aanloklikheid van hierdie onderwerp nie afgeneem het nie. Dinosourusse maak ons al van lankal af nuuskierig en ons wonder daaroor sedert die eerste bene opgegrawe is.

Wetenskaplikes vertel aan ons dat dinosourusse die aarde bewandel het in geologiese tye wat bekend staan as die Triás- Jurassies- en Kryttydperke. Daardie tydperk, só word aan ons vertel, het ongeveer 65 miljoen jaar gelede geëindig, wat dus ’n belangrike vraag ter sprake bring. Maak dinosourusse die Bybel ongeldig en skryf dit, by implikasie, die dood van God in rots?

Aanhangers van die Jong Aarde skepping glo dat die Bybel sê die aarde en ganse heelal is net 6,000 jaar oud. Die gaping tussen hierdie opregte gelowiges en die meeste wetenskaplikes is egter so groot dat daar geen manier is om dit te oorbrug nie. Word dit verder van ons verwag om te glo dat die Tyrannosourus Rex saam met Adam en Eva gewandel het? Was Brontosourusse saam met Noag in die ark en indien wel – waarom bestaan hulle nie meer vandag nie?

Hier by die Wêreld van Môre glo ons die Bybel en dat alle lewe deur die God van die Bybel geskep is, maar is dit moontlik dat die wêreldbeskouing van heelwat skeppingsaanhangers sowel as dié van baie wetenskaplikes albei verkeerd is? Is dit moontlik om die Bybel en sommige dinge wat die wetenskap ons bied met mekaar te versoen?

Diegene wat ons Tomorrow’s World televisieprogram volg en ons tydskrif en literatuur lees, weet ons verwerp die Darwinistiese evolusionêre verklaring vir die oorsprong van die groot verskeidenheid plant- en dierelewe wat ons op hierdie planeet sien. Ons toon bewyse van hoogs opgeleide wetenskaplikes en geleerdes wat die konsep verwerp dat lewe deur ’n toevallige gebeurtenis of natuurlike seleksie ontwikkel het. Dus, voordat ons by Bybelse bewyse kom om die Jong Aarde skepping te verwerp, laat ons net eers na een aspek van bewyse kyk om Darwinisme te verwerp.

Getuienis van die fossielrekord

Van die begin af het Charles Darwin ’n groot probleem in sy poging gehad om geleerde wetenskaplikes te oortuig dat alle vorms van lewe die gevolg van blinde toeval is. Volgens Darwin het lewe oor ’n baie lang tydperk ontwikkel as gevolg van tallose klein veranderinge in verskeie lewensvorms. Tog toon fossielrekords presies die teenoorgestelde en hier is die rede waarom.

Fossiele toon dat alles, van primitiewe skaaldiere tot Tyrannosourus Rex, ten volle gevorm was. Vandag sien ons dieselfde ding in die hedendaagse wêreld: ’n Reeks volledig-ontwikkelde lewensvorms – honde, katte en beeste – elkeen volledig ontwikkeld – met ’n groot verskeidenheid binne sy eie soort gevorm. Merkwaardige seediere en allerlei soorte voëls is ten volle funksioneel, tog word aan ons vertel dat alles uit een of ander “mindere vorm” ontstaan het. Op skool word kinders geleer dat voëls uit reptiele ontstaan het, maar eenvoudige logika skryf voor dat indien evolusie baie stadig en geleidelik was, sou daar aansienlik meer oorgangsfossiele wees as wat daar voëls of reptiele is waaruit hulle veronderstel was om te ontwikkel. Die mitiese oorgangsreptiele wat deur Darwin se evolusie benodig word, bestaan net in kunstenaars se verbeeldings.

Michael Denton verduidelik die probleem in Evolution: A Theory in Crisis. “Indien daar volgens hierdie teorie tallose oorgangsvorme bestaan het, waarom vind ons dit nie in ontelbare getalle in die kors van die aarde vasgelê nie?” (bl. 157). Hierdie ontbrekende oorgangsfossiele was van die begin af vir Darwin ’n probleem. Terwyl persone wat minder hieroor nadink makliker deur Darwin se aannames oortuig kon word, het die geleerde wetenskaplikes van sy tyd onmiddellik besef dat daar ernstige probleme met sy teorie is, veral wat die fossielrekords betref. Bill Bryson verduidelik in A Short History of Nearly Everything: “On the Origin of Species” dat dit ’n onmiddellike kommersiële sukses was, maar waarskynlik ’n minder kritiese een. Darwin se teorie bevat twee hardnekkige struikelblokke. Daar was meer tyd nodig ... en is nie juis deur fossielbewyse ondersteun nie. Darwin se meer deurdagte kritici vra waar die oorgangsvorme is wat sy teorie so duidelik vereis? Indien nuwe spesies voortdurend besig is om te ontwikkel, dan moet daar tog ’n verskeidenheid oorgangsvorme oor die fossielrekord verspreid wees, maar daar is nie” (bl. 389).

Bryson het ’n billike voetnota wat beweer dat ’n oorgangsvorm ontdek is: “Archaeopteryx lyk of dit ... ’n wese halfpad tussen ’n voël en ’n dinosourus mag wees. (Dit het vere gehad, maar ook tande)” (bl. 389). Selfs hier erken Bryson dat hierdie vonds omstrede sowel as hopeloos onvoldoende was om soveel ondersteuning aan Darwin se tesis te bied: “Dit was ’n indrukwekkende en nuttige vonds en die betekenis daarvan is heelwat bespreek, maar ’n enkele ontdekking kon nouliks as beslissend beskou word” (bl. 389).

Terwyl Darwin sy teorie ontwikkel het, mag hy dalk ’n verskoning gehad het omdat hy nie intermediêre lewensvorms gevind het nie, maar tyd was nie sy bondgenoot nie. “Die afwesigheid van tussenvorms in 1860 was nie rampspoedig nie hoewel skadelik, want dit was redelik om te hoop dat heelwat bewyse uiteindelik gevind sou word namate geologiese aktiwiteite toeneem ... Slegs ’n klein fraksie van die honderdduisend of so fossiel-spesies wat vandag bekend is, was aan Darwin bekend. Feitlik alle nuwe fossiel-spesies wat sedert Darwin se tyd ontdek is, is reeds óf nou verwant aan bekende vorms of soos die Poganophoris, vreemde unieke tipes van onbekende verwantskap” (Denton, bll. 160-161).

“’n Verregaande hipotese”

Wáár is hierdie vermiste skakels dan? Ons sien dinosourusse en duisende vreemde uitgestorwe spesies. Ons sien moderne spesies, maar elkeen is volledig op sigself en daar is geen onweerlegbare bewyse dat een soort ooit in ’n ander soort ontwikkel het nie. Ons moet erken dat ’n groot verskeidenheid binne ’n bepaalde spesie geteel kan word: Daar is byvoorbeeld heelwat verskillende honderasse, maar almal is nog steeds honde, net soos alle katte steeds katte is en Darwin se vinke is steeds vinke. Die derduisende fossiele wat een soort aan ’n ander soort koppel is eenvoudig net nie daar in die oorvloed waar hulle na verwagting volgens Darwin se evolusie moes wees nie! Sulke “vermiste skakels” is skitterend in hulle afwesigheid.

Genealogiese diagramme word aan studente getoon wat vermoedelik demonstreer hoe eenvoudige lewensvorms aanleiding kon gee tot meer komplekse lewensvorms, maar waar is die konkrete bewyse dat een soort ooit in ’n ander soort ontwikkel het? Dit bestaan nie! Waar hierdie skakels wel gevind word, is in die verbeelding van die mensdom se gedagtes!

Michael Denton som die situasie veelseggend op:

Die geheelbeeld van lewe op Aarde vandag is so onsamehangend, die gapings tussen die verskillende tipes so opsigtelik dat soos Steven Stanley ons in sy onlangse boek, Macroevolution, herinner dat indien ons kennis van biologie beperk was tot daardie spesies wat nou op die Aarde bestaan, “ons sou wonder of die doktrine van evolusie vir enigiets meer as ’n verregaande hipotese sou kwalifiseer”. Sonder tussen- of oorgangsvorms om die enorme gapings wat bestaande spesies en groepe organismes van mekaar skei te oorbrug, kon die konsep van evolusie nooit ernstig as ’n wetenskaplike hipotese aanvaar word nie (bll. 157-158).

Waarom is dit dan dat die evolusieteorie as ’n feit beskou word, terwyl daar in werklikheid geen konkrete bewyse bestaan nie? Stephen Jay Gould en Niles Eldredge erken die volgende: “Die algemene voorkeur wat so baie van ons vir die leer van geleidelikheid hou is ’n metafisiese standpunt wat in die moderne geskiedenis van Westerse kulture vasgelê is ...” (“Punctuated Equilibria: The Tempo and Mode of Evolution Reconsidered”, Paleobiology, 3:115-51, bl. 145, deur Denton aangehaal op bl. 70).

Met ander woorde, die bewyse vir geleidelike, Darwinistiese evolusie is op filosofie en geloof gebaseer, eerder as wetenskaplike bewyse. Hoe is dit moontlik? Hoe kon ons moderne, veronderstelde verligte en wetenskaplike wêreld so sterk en heelhartig in ’n onbewese teorie glo? Soos Denton verduidelik: “Om mens se interpretasie van die wêreld te verander is geensins dieselfde as om ’n nuwe feit te vestig nie. In 1850 was die feite dieselfde soos in 1870, dis net die persepsie daarvan wat verander het” (Denton, bl. 74).

Met verloop van tyd is dit wat as teorie erken is, selfs metafisika of filosofie, aanvaar en versterk voordat al die feite beskikbaar was. Daar is geglo dat duisende en selfs miljoene vermiste skakels met verloop van tyd gevind sou word, maar tyd het dit anders bewys.

Sodanige gebrek aan die ondersteuning van evolusie kortwiek die teorie op ’n aantal maniere. In Darwin se tyd byvoorbeeld, het bioloë geen benul gehad van die ingewikkeldheid van die mikroskopiese sel nie. Selfs vandag nog hoor biologiestudente misleidende terme soos “’n eenvoudige sel” terwyl sellulêre lewe alles behalwe eenvoudig is. Met gevorderde kennis van die struktuur van sellulêre lewe, het die geloof in blinde toeval blinde geloof geword. Dit het egter nog nie mense wakker geskud om die irrasionele te verwerp nie. Soos Denton verduidelik: “Die feit dat elke tydskrif, akademiese debat en gewilde bespreking aanvaar dat Darwin se teorie die waarheid is, dra dit by tot die geloofwaardigheid om die teorie geweldig te versterk. Dit is bestem om so te wees, want soos sosioloë met kennis moeite doen om daarop te wys ... die aanneemlikheid van enige teorie of wêreldbeskouing hang grootliks af van die sosiale ondersteuning wat dit ontvang, eerder as die beproefde inhoud of verstandige beginselvastheid daarvan. Dus ... die geldigheid van Darwin se teorie ... kan op geen manier verkeerd wees nie” (Denton, bll. 74-75).

Jong Aarde skepping is ook verkeerd

Net soos vandag se evolusioniste ongelukkig roekeloos valse aannames aanvaar, het die Jong Aarde skeppingsaanhangers ook hulle wêreldbeskouing op foutiewe aannames baseer. Hulle neem met die terloopse lees van ’n skriflesing aan dat die aarde en ganse heelal 6,000 jaar gelede geskape is, maar sê die Bybel regtig so? Op die oog af mag dit lyk of dit wel die geval is. Let op in die boek Exodus: “Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:11).

Is dit moontlik dat daar meer agter hierdie gedeelte is as wat met die eerste oogopslag waargeneem word? Is dit moontlik dat ’n ondeurdagte aanname gemaak is? Waarom sê die vertalers: “Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak” in plaas van “Want in ses dae het die Here die hemele en die aarde geskep”? Besonderhede raak dikwels verlore wanneer van een taal na ’n ander vertaal word of dit nou Hebreeus na Engels of Afrikaans of Frans na Chinees is. Vertalers verstaan dat daar twee verskillende Hebreeuse woorde by hierdie onderwerp betrokke is en dit bring ons by die heel eerste vers van die Bybel, Génesis 1:1. Hier het ons die woord geskape in plaas van gemaak: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die woord wat as geskape vertaal is, is van die Hebreeuse woord bara’ afkomstig, terwyl die Afrikaanse woord gemaak van die Hebreeuse ‘asa of yasar afkomstig is. Dit is geen geringe verskil nie. Die hoogs gerespekteerde Theological Wordbook of the Old Testament (TWOT) verduidelik: “Die oorsprong bara’ het die basiese betekenis ‘om te skep’. Dit verskil van yasar ‘om te vorm [of te maak]’ in die sin dat laasgenoemde hoofsaaklik die vorming van ’n voorwerp beklemtoon terwyl bara’ die aanvang daarvan beklemtoon” (#278a, bl. 127).

Met ander woorde, bara’ beteken die aanvanklike begin van iets. Génesis 1:1 sê dat God die hemel en die aarde aan die begin geskape het. Niks het fisies voor die skepping bestaan nie. Vandag vertel wetenskaplikes ons dat die heelal geskep is in wat algemeen as die “Oerknal” (Big Bang) bekend staan.

Soos byna almal dit vandag verstaan, bestaan materie uit atome en atome uit nog kleiner deeltjies. Wetenskaplikes is deesdae oortuig dat die hele materiële heelal aanvanklik in ’n ruimte baie kleiner as die punt aan die einde van hierdie sin gekonsentreerd was. Soos Bill Bryson dit verduidelik, het die Oerknal alles wat ons sien en voel – alles wat ons materie noem, alles wat bestaan – uit niks begin: “Dus, het ons heelal uit niks begin” (A Short History of Nearly Everything, bl. 10). Heel verbasend stem die Bybel en wetenskap oor hierdie punt ooreen (sien Hebreërs 11:3).

Génesis 1:1 sê aan ons dat daar ’n begin van materie was, soos die meeste wetenskaplikes bevestig. Om nou met die TWOT se definisie van bara’ voort te gaan: “... sedert die primêre klem van die woord op die nuutheid van die geskape voorwerp is, leen die woord homself goed tot die begrip van skepping ex nihilo [uit niks] ...” (#278a, bl. 127).

Soos ons kan sien, het ons twee totaal verskillende woorde. Wanneer dit in Engels [of Afrikaans] vertaal word, beteken die een om uit niks te skep terwyl die ander een beteken om te vorm of iets uit voorafbestaande materiaal te maak. Die TWOT gaan voort: “Die gebruik van bara’ in die openingsweergawe van die skeppingsverhaal lyk of dit impliseer dat die fisiese dinge in daardie tyd tot stand gekom het en dat daar geen vorige bestaan was in die vorm waarin dit deur Goddelike bevel geskep is nie. Die gebruik van ‘asa mag eenvoudig die daad van vorming van die voorwerpe wat betrokke is in die hele skeppende proses insluit” (TWOT, #1708a, bl. 701).

Génesis 1:1 sê aan ons dat God in die begin die hemel en die aarde geskape het, maar vers 2 dui aan dat iets die oorspronklike skepping plaasgevind het. Weereens, Engelse en Afrikaanse vertalings verbloem dikwels ietwat die betekenis wanneer die werkwoord was in plaas van geword het gebruik word, soos die Hebreeuse woord elders vertaal word (Génesis 2:7,10): “En die aarde was [of het] woes en leeg [geword], en duisternis was op die wêreldvloed.”

Verwoesting en herstel

Die woorde “woes en leeg” is uit twee woorde vertaal – tohu en bohu – uit die oorspronklike Hebreeus. Albei woorde word net hier en in twee ander Skrifgedeeltes saam gebruik. Die ander twee geleenthede gebruik daardie Hebreeuse woorde om massiewe vernietiging as gevolg van sonde te beskryf (Jesaja 34:11; Jeremia 4:23). Die Hebreeuse woord tohu, wat as “woes” vertaal is, word in sestien bykomende verse gevind en in elke geval word dit gebruik in ’n negatiewe konteks van iets wat heeltemal waardeloos, leeg of in ’n toestand van wanorde is. Tog sê God in Jesaja 45:18 dat Hy nie die aarde in so ’n toestand van wanorde geskape het nie. Hiermee in gedagte, behoort ons te wonder waarom en hoe die aarde in die toestand geraak het soos wat ons in Génesis 1:2 vind.

In Jesaja 14 lees ons van ’n opstand deur ’n magtige engel-wese wat probeer het om die heerskappy van die heelal van sy Skepper oor te neem: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester [Lucifer], seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre [of engele] van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (verse 12-14).

In Eségiël 28 word ook van hierdie opstand gepraat. Die hoofstuk begin met die prins, die menslike vors van Tirus, maar gaan oor na die gevalle engel se mag agter die vors. “Jy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut ... Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is ... daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!” (verse 14-16, sien ook verse 12-13).

Ons kan nie verseker weet dat dit hierdie opstand was wat die dinosourus tydperk tot ’n skielike einde gebring het nie en of dié opstand op ’n later stadium plaasgevind het nie. Daar is baie dinge wat ons nie ten volle verstaan nie, maar uit Génesis 1:1-2 en ander Skrifgedeeltes is dit duidelik dat die fisiese heelal geskep is, maar dat dit later tot ’n toestand van wanorde verval het as gevolg van ’n engele-opstand. Dit was ná hierdie opstand en vernietiging dat ons by Génesis 1:3 kom, waar God begin het om die aarde te hervorm en te verander.

Die wêreld waarin ons vandag leef is ’n heel ander wêreld as dié van die dinosourusse. Dit lyk of die mens en boomgrootte reptiele nie saam bestaan het nie en die beste begrip van geologiese rekords dui baie duidelik daarop dat dit nie so was nie. Teen die tyd dat die mens op die toneel verskyn het, was die meeste van die “Jurassic wêreld” onder berge grond begrawe.

Jong Aarde skeppingsaanhangers probeer om al die geologiese lae wat in laag op laag neergelê is met al die fossiele wat daarin gevind word, as gevolg van die wêreldwye vloed van Noag se tyd te verduidelik. Min geloofwaardige wetenskaplikes sal enige aandag aan sulke denke gee en met goeie rede. Hoewel Noag se vloed wel plaasgevind het, kan ’n universele vloed van 4,000 jaar gelede nie ’n wêreld vol dinosourusse verduidelik nie. Geologiese rekords toon geen bewyse dat mense en dinosourusse saam bestaan het nie. Terwyl ons hare kloof oor hoe akkuraat radiokoolstof, kalium-argon of ander wetenskaplike dateringsmetodes werklik is en ons vooropgestelde vooroordeel opsy skuif, moet ons saamstem dat die aarde aansienlik ouer is as wat die Jong Aarde skeppingsaanhangers bereid is om te erken. Selfs al sou ons toegee dat daar onsekerhede in die verskillende tegnieke, wetenskaplike dateringsmetodes en ander oorwegings is – soos hoe lank dit lig neem om vanaf verafgeleë sterre tot by die aarde te reis – skilder dit tog gesamentlik ’n oortuigende beeld van ’n aarde en ’n heelal wat baie ouer as 6,000 jaar is. Soos ons gesien het word die feite nie deur die Bybel weerspreek nie. Hoewel die mensdom en die lewe wat ons vandag sien, inderdaad 6,000 jaar gelede geskep is – net soos die Bybel sê – het die aarde ’n veel ouer geskiedenis, met genoeg ruimte vir dinosourusse in sy antieke verlede, voor die vernietiging wat in Génesis 1:2 beskryf word.

Dit beteken egter nie dat ons al die antwoorde op die aarde se geheimsinnige verlede het nie. Ons het dit nie. Die sogenaamde “gapingsteorie” – of “vernietig-herstel teorie” – wat ons hier verduidelik het, word deur baie mense verwerp. Dit is egter tot op datum die beste verklaring om die duidelike waarhede van die Bybel en die oorweldigende bewyse van die wetenskap met mekaar in ooreenstemming te bring.

Ons behoort nie die huidige wetenskaplike denke as die finale antwoord te aanvaar nie, maar ook nie enigiets in die wetenskap heeltemal ter syde stel nie. Waar daar konkrete bewyse is wat nie God se Woord weerspreek nie, behoort ons dit te aanvaar. Menslik gefabriseerde teorieë, soos Darwin se evolusieteorie, wat nie deur konkrete bewyse ondersteun word nie en duidelik deur God se Woord weerspreek word, behoort onbevrees verwerp te word.