Gebeure ontwikkel nou veel vinniger as ooit tevore hoe nader ons aan die Wederkoms van Jesus Christus kom. Christus sal binnekort hier op aarde wees as Koning van konings. Ons kan juig daaroor! Tog, soos ons almal weet, sal dit definitief veel slegter gaan voordat dit beter begin gaan.

Alhoewel ons tans omring is met hartseer en wanhoop hoef ons nie beangs of ontmoedig te word mits ons God se doel verstaan in Sy bestraffing van die nasies nie. Nadat Jesus ’n beskrywing gegee het van verskriklike oorloë, hongersnood, pessiektes en groot aardbewings wat die laaste geslag sal tref, sê Hy: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).

Ons oë moet altyd op God en op die lewende Jesus Christus gefokus wees wat aan Sy regterhand sit om te verstaan hoe en hoekom Hulle wêreldgebeure beplan vir die vestiging van God se Koninkryk op aarde. Ons Christene moet voortdurend “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18). Namate ons hierin toeneem, moet ons meer en meer die gesindheid van Christus ontwikkel (Filippense 2:5). Ons moet toenemend meer in staat wees om dinge uit die oogpunt van ons Verlosser te sien wat aan die regterhand van die Vader sit. Die mensdom beskik nou oor wapens van grootskaalse vernietiging, sodanig so dat die mensdom geheel en al uitgewis kan word. Afgesien van God, sal hierdie wapens gebruik word. Daarom moet ons almal saam met koning Dawid van Israel ernstig tot God bid: “Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word! o HERE, jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela” (Psalm 9:20-21).

Trouens, behoorlike “vrees” vir God – daardie diepgaande ontsag, respek en aanbidding van die grootse Wese wat die hemele en die aarde geskep het en nou daaroor heers – is ’n groot bron van wysheid, geloof en moed. Ons lees dan ook in Spreuke 9:10: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand”. Dawid skryf ook onder inspirasie: “So is die HERE dan ’n rotsvesting vir die verdrukte, ’n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!” (Psalm 9:9-10). Indien ons waarlik God se “Naam” ken – Sy ontsaglike liefde, wysheid, mag en genade – sal ons gemoedsrus ondervind, iets wat vir die mense van hierdie wêreld onbegryplik is. Selfs as ’n gevangene in kettings – gedurig in gevaar om gegesel of tereggestel te word – vermaan die apostel Paulus: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:4-7).

Verbly? Selfs terwyl hy in kettings was en deur ’n Romeinse soldaat bewaak is? Ja! God was vir die apostel Paulus absoluut ’n werklikheid. Net soos Jesus in die menslike vlees en al God se getroue diensknegte deur die eeue heen, bid Paulus elke oggend en aand tot God, bestudeer of mediteer voortdurend oor God se Woord en Sy Wil, was hy gemeensaam met God, wandel en handel met God en het hy God absoluut die middelpunt van sy bestaanswese gemaak. Daarom het Paulus deur die jare al hoe meer geleer hoe om dinge vanuit God se oogpunt te sien. Hy het geleer om God se wysheid en doel in te sien wanneer God gebeure hier op aarde toelaat en selfs teweegbring om Sy algehele plan vir die mensdom op koers te hou. 

Onthou, toe koning Nebukadnésar van ouds Juda binnegeval en oorwin het, was dit nie per ongeluk nie. “Toeval” was nie betrokke nie, want God het herhaaldelik die mense van Juda gewaarsku om hulle te bekeer en tot God terug te keer. Hulle wou egter nie. Daarom het God koning Nebukadnésar gebruik as werktuig in Sy hande om Juda binne te val en te oorwin – om God se werktuig te wees om Juda te tugtig en te verneder tot ware bekering! Let noukeurig op die boodskap wat God vir Juda stuur deur die profeet Jeremia: “Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadnésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ’n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope” (Jeremia 25:8-9).

Wanneer ons dus sien hoe die buitelandse vyand moderne Amerika, Brittanje en Kanada binneval, moet ons nie verskrik, verward of ontmoedig word nie. Diegene van u wat die profetiese artikels in hierdie tydskrif lees en waarlik verstaan, sal ongetwyfeld teen dié tyd besef dat die grote God binnekort gaan ingryp en ons volke uitermatig gaan tugtig, tensy ons ons opreg bekeer en na God se ware weë keer!

Gedurende hierdie grootste van alle beproewings en toetsings sal God se ware kinders verstaan dat “God ... liefde” is (1 Johannes 4:16). Hulle sal besef dat God beproewings en toetse vir ons eie beswil oor ons bring. Deur ywerige studie van God se Woord en deur toenemend meer van die “gedagtes” van God in te neem, sal God se mense in die jare wat voorlê besef dat God se ingryping om hierdie regstellende straf oor Sy mense te bring, uit Sy grote liefde is asook ten einde hulle ’n les te leer wat hulle vir ewig sal onthou en wat hulle in elk geval op geen ander manier sou leer nie. Ware Christene sal verstaan dat die grote God wat sê: “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie” (Maleagi 3:6), met moderne Israel handel net soos hy gedoen het toe Juda van ouds in Babiloniese ballingskap gegaan het. 

Onthou wat God aan daardie Joodse gevangenes gesê het: “Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister” (Jeremia 29:10-12).

Namate die onweerswolke dus saampak en duisternis op die nasies neerdaal, moet ons onthou, soos Jeremia aan Juda gesê het, dat God aan ons ’n “hoopvolle toekoms” wil gee. Ons moet weet dat wanneer ons volke hulle uiteindelik “met hul hele hart” tot God keer, dan sal Hy hulle “terugbring” uit gevangenskap en ons volke meer as nog ooit tevore seën.

God sê vir ons: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:31-34). Teen daardie tyd sal daar geen vals leraars wees wat hulle volgelinge leer dat God se wet “teen die kruis gespyker” is of mee “weggedoen” is nie. Alle mense sal uiteindelik leer om as lewenswyse al tien van die Tien Gebooie te gehoorsaam. Dan sal daar ware en uitbundige vrede en vreugde tot oorlopens toe oor die ganse aarde wees. 

Dawid is geïnspireer om ons te vertel: “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:11-14). Wanneer ons ons oorgee aan hierdie grote God as ons Vader, wanneer ons Hom werklik leer “ken” deur Jesus Christus wat in ons leef, sal ons ten volle verstaan dat die absolute Bron van alle liefde en goedertierenheid waarlik “in beheer” is. Uiteindelik, namate ons toeneem in hierdie kennis, sal “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, ... julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7).