Hoewel die mens se geskiedenis deur aansteeklike siektes oorheers word en dit nog steeds die grootste oorsaak van sterftes in ontwikkelende lande is, is siekteverwekkende kieme eintlik baie skaars. Indien ons immuunstelsels sterk bly deur voldoende en geskikte voeding en ons voldoende aandag skenk aan behoorlike sanitasie en higiëne, sal dit ver gaan om ons teen infeksie te beskerm.

God het belangrike beginsels en instruksies aan die antieke nasie van Israel gegee en ook aan die Nuwe-Testamentiese Kerk wat, as dit gevolg word, geweldig baie sal help in ons stryd teen siekte. Sommige daarvan was die presiese faktore wat, tesame met verbeterde behuising, ’n merkbare afname in aansteeklike siektes veroorsaak het, selfs nog voor antibiotika beskikbaar was. Hier is ’n oorsig:

• Streng kwarantyn vir diegene wat draers van aansteeklike siektes is (Levitikus 13 en 14).

• Inagneming van die voedselwette wat God ingestel het om ons teen siekte en ongesteldheid te beskerm (Levitikus 11:1-31 en Deuteronómium 14:3-21). Deur ag te slaan op ons dieet, hou ons ons immuunstelsels sterk.

• Beheer die verspreiding van siekte deur noukeurige aandag aan higiëne te skenk (Levitikus 11:32-40).

• Wees versigtig met sanitasie en die verwydering van uitskeidings (Deuteronómium 23:12-13). Hou uself en u omgewing so skoon as moontlik.

• Gebruik lopende water om hande, liggame en klere te was (Númeri 19:14-19). Dit is ironies dat om ons hande deeglik te was voor en na enige risiko van infeksie dalk die heel belangrikste maatreël in vandag se stryd teen aansteeklike siektes is. Goeie outydse seep en water kan slaag waar antibiotika mag misluk.

• Wees gehoorsaam aan God en verkry die seëninge van goeie gesondheid en welstand wat dit sal meebring (Levitikus 26:3-13; Deuteronómium 28:1-13; Spreuke 3:8).

• Beperk negatiewe denke en fokus eerder op die positiewe. Fokus eerder op oplossings as om oor probleme na te dink. Deurlopende negatiewe gedagtes kan hulleself op fisiese maniere manifesteer, met inbegrip van siekte (Filippense 4:8).

• Vermy misplaaste ideologie en selfsugtige begeertes na verowering, wat onvermydelik tot konflik en oorlog sal lei (Jakobus 4:1-3). Oorlog lei tot fisiese en sosiale ontwrigting, wat op sy beurt hongersnood en siekte voortbring. Dit was nog altyd die les van die geskiedenis.

• God beloof om siektes weg te neem van die nasie wat na Hom opkyk en aan Hom gehoorsaam is (Exodus 23:25; Deuteronómium 7:15).

• Laastens en die belangrikste van alles, volg die geïnspireerde opdrag van die Skrif: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jakobus 5:14). ’n Tyd sal kom wanneer die planeet Aarde so deur siektes verniel sal wees dat geen hoeveelheid “self-help” voldoende sal wees nie. Slegs diegene wat hulle vertroue in God stel en Goddelike genesing soek sal gespaar word van die ergste wat aan die kom is. Goddelike genesing is nie ’n laaste uitweg vir diegene wat reeds al die ander stappe gevolg het nie; dit is die grondslag waarop alle ander genesing berus. Doen u bes om uself te beskerm, maar moenie God buite rekening laat nie!