Op Vancouver-eiland, noord van die stad Victoria, is daar ’n bekende landmerk wat die verhaal van transformasie en harde werk vertel en wat wys hoe, selfs in hierdie wêreld vol probleme, die mensdom in staat is tot verstommende prestasies.
In die 1850’s het George Butchart van Dundee, Skotland, na die dorpie Owen Sound, Ontario, verhuis. Butchart, ’n jong man in die hardewarebesigheid het gehoor van ’n Engelse messelaar se uitvinding van ’n nuwe boumateriaal met die naam “Portland-sement”. Dit is vernoem na die eiland Portland naby Dorset in Engeland, aangesien die nuwe sement-produk baie soos Portland-kalksteen gelyk het.
Butchart het ’n seun met die naam Robert gehad, wie mettertyd sy vader se hardewardebesigheid sou oorneem. Teen 1905 het Robert groot sakepotensiaal langs Kanada se weskus in die groterwordende kolonie van British Columbia geïdentifiseer en hy het daarheen verhuis saam met sy vrou, Jennie.
Nadat Robert gehoor het dat die Canadian Pacific Railway die spoorbrug-basisse van hout met beton-basisse wou vervang, het hy ’n geleentheid raakgesien. Net noord van Victoria het hy ’n groot sagte kalksteen neerslag gevind wat geskik was vir die maak van Portland-sement. Hy het die eiendom gekoop en hy en Jennie het daar ’n huis gebou, langs die plek wat die steengroef en sementwerke sou word.
Die gesin se finansiële situasie het wonderlik verbeter toe Robert sement in papiersakke in plaas van vate begin verskeep het. Dit het hulle produk goedkoper en makliker vervoerbaar gemaak en die aanvraag daarna het toegeneem. Die aardbewing van San Francisco in 1906 het gelei tot ’n groot aanvraag na Portland-sement. Robert het in hierdie behoefte voorsien en baie ryk geword.
Uiteindelik het die ou kalksteen-groef uitgeput geraak. Die leë en uitgewerkte steengroef en sementwerke het Jennie só geïrriteer dat sy gereeld versoek het dat die hele onooglike plek skoongemaak word. Robert het uiteindelik ingestem en haar vrye teuels gegee om te doen wat nodig was, aangesien finansies nie ’n probleem was nie.
Jennie het aan die werk gespring. Deel van haar motivering is verder aangewakker toe vriende reguit vir haar gesê het dat niemand enigiets op daardie dorre rots kon laat groei nie. Jennie, wie in haar jeug nogal onbeskroomd en avontuurlustig was, was vasbeslote om hulle verkeerd te bewys. Waarmee het sy egter te kampe gehad? ’n Reuse steengroef wat deurdrenk was met water op die bodem en besaai met geroeste, ongebruikte toerusting en ander puin – dit was uiters onooglik.
Omdat Jennie nog nie veel van tuinmaak geweet het nie, het sy ’n paar kundige tuiniers aangestel. Sy het self baie hard gewerk en soms selfs aan ’n tou bo die steengroef se vloer gehang om grond en wingerdwortels in krake in die rotswand in te druk. Die puin was verwyder, honderde perdekarre vol grond is ingebring en dreinering was geïnstalleer. Tussen 1912 en 1921 was die steengroef stadig omskep en die Gesonke Tuin genoem. Nege jaar se werk het vrugte afgewerp.
Jennie het egter nie net by die Gesonke Tuin opgehou nie – sy het ook ’n kundige Japannese tuinier aangestel en hy het die mooiste voorbeeld van ’n Japannese tuin gebou wat bestaan. Hy het ook gewerk om die familie se voormalige tennisbaan in ’n Italiaanse tuin te omskep en ’n enorme roostuin is aangeplant. Daar was klaarblyklik geen einde aan haar projekte nie en haar werk het uiteindelik ’n familiepoging geword.
’n Visie wat werklikheid geword het
Vandag het die Butchart-tuine bekend geraak as een van die mooiste tuine op aarde. Omdat dit nie meer ’n onooglike plek is om te vermy nie, kom duisende mense twaalf maande van die jaar om die merkwaardige Gesonke Tuin te sien. Meer as ’n miljoen besoekers kom besigtig jaarliks hierdie tuin, wat voorheen ’n woesteny was en toe omskep is in ’n tuin van asemrowende skoonheid – die resultaat van wat net een hardwerkende gesin bereik het. So ’n ongelooflike prestasie hou lesse van groot aanmoediging in.
Verwoesting kan omgekeer word. Die steengroef was nie bloot ’n wildernis nie – dit was verlate, onooglik en leweloos – die natuurlike habitat was vernietig. Die Butcharts se werk is ’n aanmoediging vir die mensdom en gee ons vertroue dat selfs verlate, verwoeste gebiede van die aarde pragtig, begeerlik en produktief omskep kan word.
Groot krag word ontketen wanneer mense in harmonie saamwerk vir ’n gemeenskaplike saak en leierskap. Wanneer enige groot projek suksesvol voltooi word, is dit omdat mense saamwerk. In hierdie geval was mnr. en mev. Butchart heeltemal eensgesind. Mnr. Butchart het al hoe meer in die werk begin belangstel en die projek het uitgebrei. Oor generasies heen het familielede aangegaan met die projek en voortgesette pogings was noodsaaklik om so ’n skat in stand te hou. Een van die mees skilderagtige plekke op aarde het ontstaan as gevolg van een gesin se begeerte om ywerig aan ’n gemeenskaplike doelwit te werk vir so lank as wat dit geneem het om dit te bereik.
Daar is krag daarin om te deel en vrygewig te wees – om te deel maak dit nog meer die moeite werd en aangenaam. Die Butchart-gesin wou hulle tuine met ander mense deel en hulle was vrygewig met alles wat hulle gehad het. Terwyl mnr. Butchart seker gemaak het dat sy gesin versorg was en net soos sy vrou, was hy baie vrygewig met dit wat hulle gehad het. Gevolglik het miljoene mense hulle tuine geniet. Gedurende die vroeë jare – totdat dit onmoontlik geraak het, het elke besoeker ’n koppie tee ontvang in ’n teetuin wat vir hierdie doel gebou was. Jennie was ’n praktiese tuinier en haar vreugde was selfs groter wanneer ander mense haar werk geniet het. Alhoewel sy baie welgesteld was, was sy dikwels in werksklere en het sy saam met haar personeel die tuin versorg. Daar is ’n storie wat soos volg lui: Eendag het twee besoekers, wie gedink het sy was ’n betaalde werker, haar met vrae bestook wat sy met groot plesier beantwoord het. Met hulle vertrek, het hulle haar ’n fooitjie aangebied, waarop sy geantwoord het: “Ag nee, dankie – die ou dame sou nie daarvan hou nie”.
Visie, ywer en deursettingsvermoë lewer goeie resultate. Jennie Butchart het ’n toekomsvisie gehad en sy was bereid om groot uitdagings te bowe te kom. Die Butcharts het ’n voorbeeld gestel van werkywer – die bereidwilligheid om hard te werk om ’n doelwit te bereik en te sukkel om struikelblokke te oorkom. Hulle visie vir hulle tuine was om iets moois te skep en hulle het nooit die begeerte verloor om te verbeter nie. Visie is noodsaaklik om ’n gewenste resultaat te bereik, om vol te hou met ’n taak en om werksetiek te handhaaf – die Butcharts het ’n visie gehad wat hulle en hul gemeenskap sou bevoordeel.
’n Wêreld wat vernuwe is
Ten spyte van die skeptisisme van ’n nuwe wêreld, voorspel die Bybel duidelik ’n toekoms met Jesus Christus wat regeer en Sy Gesin ná Sy Wederkoms – die “eerstelinge” wat uit die dood opgestaan het. Die herstel van ’n verwoeste wêreld tot groot skoonheid, vrede en produktiwiteit word beskryf. “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Libanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die Here. die sieraad van onse God” (Jesaja 35:1-2). Dit sal ’n tydperk wees wanneer mense volgens God se Wet sal leef, wat vrygewigheid, vriendelikheid, ywer en kreatiwiteit sal voortbring.
Die Butchart-familie het ’n groot prestasie behaal deur ’n verlate steengroef te omskep in wat deur die Kanadese regering as ’n Nasionale Geskiedkundige Terrein aangewys is. Dit is nogtans net ’n geringe voorbeeld wat uitbeeld wat gaan kom wanneer God se Koninkryk Sy Wet op hierdie aarde toepas en ’n paradys skep wat oneindig skouspelagtig, vreugdevol en blywend sal wees – selfs meer as Jennie se pragtige tuine. Indien u belangstel om meer te wete te kom, vra gerus ons gratis Bybelstudiegids, Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien? aan vanaf die streekkantoor naaste aan u. Die lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif. U kan ook aanlyn vir u gratis eksemplaar aanvra by wvm.co.za.


