Vir die laaste paar eeue het die nasies van Europa en Noord-Amerika die wêreld oorheers en hul “Christelike” kultuur regoor die aardbol versprei. In die afgelope paar jaar egter – vinniger in hierdie 21ste eeu – het hierdie eens magtige lande van binne begin verkrummel!

Nasies wat ’n gemeenskaplike kultuur, geskiedenis en waardes as vanselfsprekend aanvaar het, word bedreig deur groot vlae van immigrasie wat idees en gewoontes inbring wat die aannames en die oorheersing van hulle gashere se kulture bedreig. Regoor Europa en Amerika is hierdie tendens aan die toeneem. Nogtans besef min mense vandag dat Bybelse profesieë voorspel het dat dit sou gebeur en onthul waarom. Hierdie antieke profesieë is besig om vandag gestalte aan te neem!

Krummelende fundering

Die filosoof George Santayana het ewe roemryk gesê: “Diegene wat nalaat om die lesse van die geskiedenis te leer is gedoem om dit te herhaal”. Deesdae bemerk die meeste mense geïsoleerde gebeure wat probleme skep, maar slegs ’n paar erken die “geheelbeeld”! Meer as tweehonderd jaar gelede het die beroemde Engelse historikus, Edward Gibbon, sleuteloorsake uitgewys waarom die antieke Romeinse Ryk tot niet gegaan het: ’n Liefde vir prag en praal en weelde, ’n groterwordende gaping tussen ryk en arm, ’n beheptheid met seks, wispelturigheid in kuns,’n toenemende begeerte om regeringstoelaes te ontvang en op staatsonkoste te leef. Gedurende die laaste halfeeu is hierdie selfde verskynsel toenemend sigbaar in die Westerse nasies.

Ander historici en ontleders het soortgelyke lyste opgestel en die parallelle toestande wat gelei het tot nasionale ondergang, raakgesien. Jim Nelson Black beskryf in ’n boek getitel “When Nations Die” die tendense wat gevind word in ryke wat verval en van die wêreldverhoog verdwyn het: Toenemende wetteloosheid, verlies aan ekonomiese dissipline (stygende skuld), toenemende burokrasie, afname in die gehalte van onderwys, verval van godsdienstige geloof, toenemende materialisme, stygende onsedelikheid (pornografie, seks buite die tradisionele huwelik), verswakking van kulturele fundering, minagting vir die regering, die devaluasie van menslike lewe (aborsie, genadedood, gewelddadige misdaad) en verlies aan agting vir tradisionele waardes en instellings. Dit is tragies dat al hierdie tendense verskyn en versprei het gedurende die afgelope 50 jaar in die “Christelike” nasies van die Weste.

Deur ’n les te leer uit die geskiedenis, het kommentator Russel Kirk opgemerk: “Geen nasie bly vir ewig bestaan nie: Van dié wat verdwyn het ... het die meeste vanweëinterne verval tot niet gegaan” (“America’s British Culture”, bl. 90). Samuel Huntington, ’n welbekende Harvard Universiteit historikus, het die stadia waardeur beskawings gaan en progressiewe tekens van verval bespreek: “Wanneer die beskawing nie meer in staat is om homself te verdedig nie, omdat dit nie meer gewillig is om homself te verdedig nie, kwesbaar is vir barbaarse invallers” (“The Clash of Civilizations”, bl. 303). Ongelukkig beskryf dit die huidige toestande in baie Westerse nasies!

Opkomende bedreigings

Die histories “Christelike” nasies van die Weste kom te staan voor groeiende bedreigings van binne en van buite. Vir meer as ’n eeu is die wêreldlike bedreiging van binnebesig om fundamentele Bybelse waardes uit te kalwe, en in die afgelope dekades was hierdie aanval veral suksesvol onder intellektuele mense en akademici, wat gereeld die spot dryf met die idee dat God bestaan en in menslike sake ingryp. Geleerdes en kritici bevraagteken openlik die lank-gehuldigde opvatting dat die Bybel die geïnspireerde woord van God is. Vandag word Bybelse idees aangaande die huwelik, die rol wat geslag speel en morele waardes toenemend verwerp as “outyds” en “verouderd”. Dit is egter hierdie selfde “verouderde” idees wat die grondslag van die Westerse beskawing vir eeue lank onderskraag het. Huntington meen dat hierdie verwerping “die einde van die Verenigde State van Amerika beteken soos ons dit geken het. Dit beteken ook effektief die einde van die Westerse beskawing” (ibid., bl. 306-307). Ongelukkig lyk dit of baie min mense vandag hierdie feit besef!

Die Westerse beskawing kom ook te staan voor eksterne bedreigings wat sy voortgesette gesondheid en oorheersing aanbetref. Een van die grootste uitdagings is die herverskyning van Islam as ’n mag om mee rekening te hou. Die bepaalde doel van baie radikale Islamiete is die vernietiging van die korrupte “Christelike” Weste en die vestiging van ’n Kalifaat gebaseer op die Koran en sharia wet. Dit stel ’n direkte uitdaging aan die basiese Bybelse waardes van die Westerse beskawing. Moslems blameer Jode en Christene dat hulle die Skrif wat God aanvanklik aan hulle gegee het, “verontreinig” het. Islam beskou Jesus Christus as ’n profeet, nie die goddelike Seun van God nie. Die voorstanders van sharia wet verwerp demokratiese beheer wat toelaat dat hedendaagse voorkeure eeue oue tradisies van Moslem wetsgeleerdes oorheers. Onder streng Islamitiese wet moet nie-gelowiges wat nie tot Islam bekeer nie, ’n belasting betaal om tweedehandse status in die gemeenskap te verkry, of anders gedood word.

Hoewel die leërs van Islam vir ’n paar honderd jaar onsuksesvol probeer het om die hele Europa te oorwin – hulle het gevorder tot binne Spanje na die weste en die poorte van Wene na die ooste – is ’n nuwe aanval onderweg, hierdie keer word dit gedoen deur immigrasie en geboortesyfers. Families waarvan die voorgeslagte al eeue lank in Europa is, sien hul geboortesyfers daal na onververvangbare vlakke maar nogtans ondervind hulle lande groei as gevolg van Moslem-immigrante wat na Europa kom en groot gesinne grootmaak. Wees op die uitkyk vir intenser polarisering van Europa, namate Moslems toenemend politieke mag verkry in nasies wat voorheen deur “Christene” oorheers was. Die tyd mag spoedig aanbreek wanneer ’n teenreaksie teen immigrante groter eenheid tussen Europese lande sal meebring wat hulle Rooms Katolieke afkoms gaan “laat herlewe” as ’n skans teen Islam. Dit sal weer op sy beurt vyandighede laat ontvlam in Moslem-nasies aan die suide en ooste van Europa.

Die opkomende ekonomiese en militêre mag van China, Indië en ander lande wat voorheen nie “spelers” op die wêreld se geopolitieke toneel was nie, kom op ’n tyd wanneer die voorheen oorheersende mag van die V.S.A. en Groot Brittanje aan die kwyn is. Bykomend is die groot Westerse moondhede toenemend afhanklik van ekonomiese lenings en energie-verskaffing van ander lande. Dit voorspel niks goed vir nasies wat ook van binne verkrummel nie! Waarom gebeur dit juis nou met die “Christelike” nasies van die Weste?

Antieke profesieë

Die Bybel openbaar dat God ’n verbond gesluit het met die antieke twaalf-stammige nasie van Israel. Die hedendaagse nasies van Amerika, Kanada en Groot Brittanje, asook die noordwestelike Europese lande, is afstammelinge van die antieke Israeliete (vir meer oor hierdie onderwerp, lees ons boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?). Die voorwaardes van die verbond was eenvoudig: Gehoorsaam God en Sy wette en word geseën, of wees ongehoorsaam aan God en Sy wette en ly die gevolge (Levitikus 26; Deuteronomium 28). God het Sy wette aan Sy uitverkore volk gegee, sodat hulle ’n voorbeeld kon wees vir die wêreld (Deuteronomium 4:1-9; 7:6-11). Ongelukkig, ten spyte van waarskuwings deur God se profete, het die Israeliete hul gedistansieer van God se wette en in plaas daarvan die gewoontes van heidense nasies rondom hulle nagevolg en verskriklike straf as gevolg daarvan verduur.

Min mense besef vandag dat baie van die profesieë in die Bybel tweeledig is – dat daar ’n aanvanklike vervulling in antieke tye was, maar die uiteindelike vervulling van hierdie profesieë sal geskied in die laaste dae, net voor Jesus Christus se wederkoms. Lank gelede het God Moses beveel om die Israeliete te waarsku: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie ... en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het ... Ek sal verskrikking oor julle beskik ... julle haters sal oor julle heers ... Ek sal julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:14-19) en “... as jy nie luister na die stem van die Here jou God [nie] ... Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld ... Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie” (Deuteronomium 28:15-45). Ons nasies getuig vandag dat hierdie profesieë nou besig is om gestalte aan te neem – omdat die hedendaagse Israelitiese nasies hul gedistansieer het van die God van die Bybel!