Elke nou en dan is dit noodsaaklik vir ordentlike mans en vroue om waarlik ’n stryd te voer oor iets lewensbelangrik. Dit is nou die tyd vir al diegene om tot God uit te roep en vir hulp te vra.

Waarom?

Daar is baie verskriklike sondes wat die Amerikaanse en Britse afstammelinge teister. Een van die ergste en mees fundamentele sondes vandag is egter dat ons as mense iets begin aanvaar waarvan hulle twintig of dertig jaar gelede nie eens sou droom nie – huwelike tussen mense van dieselfde geslag! Hierdie sonde tref die kern van alle betaamlike menslike samelewings. Dit omskryf die soort mense wat ons is en sal word. Dit raak aan die hart van al ons beskaafde waardes.

Die Amerikaanse Senaat se meerderheidspartyleier, Bill First, het hom duidelik oor hierdie vraagstuk uitgespreek. Hy sê: “Die huwelik is baie eenvoudig: ’n eenheid tussen een man en een vrou, nie twee of drie of vier mans of een man of een vrou of twee vroue, drie vroue of drie vroue en drie mans nie. Dis nie dít nie. Dit is een man en een vrou. Dit is die wet van die land”.

Nietemin is baie van die belydende Christenkerke besig om stilweg met hierdie beweging na huwelike tussen persone van dieselfde geslag “in te val”! Op 5 Augustus 2003 het die Verenigde State se Anglikaanse Kerk die instelling van “homoseksuele eenwordings” bevestig en hul eerste homoseksuele biskop ingeseën. ’n Hele aantal groot kerkorganisasies “worstel” met hierdie vraagstuk – klaarblyklik nie in staat om hulle een of ander kant toe sterk uit te spreek nie. Die Amerikaanse Baptiste Vereniging, Hervormde Judaïsme en Unitêre Universele laat almal die inseën van homoseksuele leraars toe en seën eenwording tussen mense van dieselfde geslag in die een of ander vorm.

Is dit veronderstel om “Christelik” te wees? Waar pas die Bybel in alles in? Wat sê die geïnspireerde Woord van God oor hierdie praktyke? Ter beskrywing van dwase en ellendige idees van heidense filosowe, skryf die apostel Paulus: “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Romeine 1:24-27).

Wat is die “straf” van die sonde van seksuele perversie? Toe die VIGS epidemie pas begin het, het een van die toonaangewende koerante in ’n redaksionele artikel geskryf dat hierdie verskriklike epidemie een van die “maklikste” sou wees om te stuit, mits homoseksuele met hul promiskue leefwyses sou staak. Hulle het dit natuurlik nie gedoen nie! Nou is miljoene lewens verloor en nog miljoene verduur folterende pyn en lyding. Groot dele van die Afrika vasteland is lamgelê as gevolg van VIGS!

VIGS is natuurlik net een van vele strawwe vir homoseksualiteit. Ander sluit in ’n baie groter voorkoms van geslagsiekte, ’n hoër graad van frustrasie en leegheid wat lei tot ’n hoë selfmoordsyfer en ’n algehele gebrek aan die soort toegewyde liefde, standvastigheid en ware gesinsverhoudings wat ’n ware Christenhuwelik behels. Gepraat van ’n gesin: daar sou natuurlik geen ware gesinne en geen kinders gewees het indien almal die voorbeeld van die homoseksuele sou volg nie. ’n Baie werklike Satan, die duiwel, sou die bestaan van die mensdom op hierdie aarde uitgewis het!

Voormalige presidensiële kandidaat, Howard Dean, spreek die mening uit wat deur baie “liberale” godsdienstiges gehuldig word, deur te verduidelik dat “sy besluit as goewerneur om die wetsontwerp te onderteken wat die burgerlike eenwording vir homoseksuele in Vermont gewettig het, beïnvloed is deur sy Christensienings, namate hy dieper in die groeiende politieke, godsdienstige en kulturele debat oor homoseksualiteit en die Bybel se siening daarvan betrokke geraak het” (Washington Post, 8 Januarie 2004). Sy siening staan in teenstelling met die “meer konserwatiewe Christene wat ’n meer letterlike benadering huldig en verwys na tekse in die Ou- en Nuwe Testamente wat hulle glo homoseksualiteit verbied. Levitikus 18:22 sê byvoorbeeld: ‘Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel’” (ibid.).

Dit is verbasend dat die skrywer van daardie berig in die Washington Post – soos die meeste liberale skrywers in die media – die stelling maak dat konserwatiewe Christene teksverse uitwys wat “hulle glo” homoseksualiteit verbied.
“Hulle glo!”

Hoeveel duideliker kan God se Woord wees as om hierdie gebruik ’n “gruwel” te noem in dieselfde teksvers wat die skrywer aanhaal? Hoeveel duideliker kan die apostel Paulus wees ter beskrywing van hierdie perversie as “skandelike hartstogte” (Romeine 1:26)? Of deur hierdie Skrifgedeelte af te sluit deur te skryf dat: “die wat sulke dinge doen, die dood verdien” (vers 32)?

Is die geïnspireerde Skrifgedeelte in 1 Korintiërs 6:9-10 werklik so moeilik om te ontsyfer? “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie”.

Die Bybel is die onthulling van die gedagtes van God – die gedagtes van die Opperwese wat ons manlik en vroulik gemaak het en sê dat een man en een vrou “een vlees” moet word in die huwelik (Genesis 2:24). In die verlede, toe ons Skepper ’n toenemende aanvaarding van die “skandelike” gebruike gesien het wat ons samelewing toenemend “normaal” genoem het, het Hy beslissend ingegryp. Die Woord van God beskryf wat in een so geval plaasgevind het: “Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan” (Judas vers 7).

Indien ons in Suid-Afrika as nasie wil bly voortbestaan, mag God ons help om wakker te skrik en weerstand te bied teen hierdie neiging tot homoseksuele huwelike! Indien ons liberale howe dit regkry om hierdie kwessie op ons af te dwing, mag God ons leiers en mense die innerlike krag gee om op te staan en te sê: “Genoeg!”

Soos aangehaal in die World-tydskrif (10 Januarie 2004) sê maatskaplike kommentator Cal Thomas: “Indien konserwatiewe groepe misluk om hulle rondom die huwelik as kernwaarde van ons samelewing en volk saam te snoer, sal daar min vir hulle oorbly om voor te staan wanneer aktivistegroepe probeer om die paar oorblywende grondbeginsels van ons volk te verwyder. En glo my, hulle sal probeer”.

Die Ewige God beveel Sy getroue leraars: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes. Wel soek hulle My dag vir dag en het ’n behae in die kennis van my weë! Soos ’n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ’n behae in die toenadering tot God” (Jesaja 58:1-2). Ja, miljoene Amerikaners (en Suid-Afrikaners) woon liberale kerke by waar leraars gewoonlik “te gaaf” is om kommentaar te lewer oor die toenemende verdorwenheid in ons samelewing. Kerkgangers wil hulself gewoonlik “om die bos lei” dat hulle God se weë wil probeer leer, tog sou hulle te na gekom voel indien ’n leraar werklik “sy stem soos ’n basuin verhef” en aan hulle hul sondes uitwys! Die apostel Paulus beskryf hierdie mense as mense “wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timotheus 3:5). Dan beveel hy: “Keer jou ook van hierdie mense af!”

Mag God elkeen van u afsonderlik en ook ons volk help om te sien waarheen hierdie perverse gedagtes en gebruike lei en om hulle te bekeer voordat die duisternis toesak.