Hoe om dit te doen en waarom dit belangrik is.


Deur die jare, het die Kerk van God vier sleutels vir geestelike groei beklemtoon: gebed, Bybelstudie, meditasie en vas. Die Bybel onthul dat hierdie hulpmiddels deur mense gebruik was wat na aan God was en kragtig deur Hom gebruik is. ’n Uitdaging wat baie mense trotseer ten einde te leer hoe om te bid, te studeer, te mediteer en te vas, is hoe om hierdie sleutels vir geestelike groei in die regte perspektief te plaas.

Mense buite die Kerk van God beskou gebed, meditasie, vas en selfs Bybelstudie dikwels as rituele of roetines wat gedoen moet word. Mense het dalk vantevore sekere gebede geleer en dit oor en oor herhaal. Vir sommige mense beteken Bybelstudie om daagliks ’n paar verse te lees of ’n paar Skrifgedeeltes te herhaal as deel van ’n aanbiddingsdiens. Meditasie mag insluit om na ’n altaar te staar of om ’n woord of frase te herhaal om ’n soort beswyming teweeg te bring. Vir Rooms-Katolieke mag “vas” eenvoudig beteken om hulself op ’n spesifieke dag van vleis te weerhou. Vir baie Protestante is om te vas skaars meer as iets wat u op die nuus sien wanneer iemand op ’n hongerstaking gaan – ’n oorblyfsel van Bybelgeskiedenis; nie iets wat Christene werklik doen nie.

Party mense het goedsmoeds aanvaar dat gebed, studie, meditasie en vas van iemand ’n Christen maak. Christus het egter gemaan dat ware Christene die gebooie van God sal onderhou en liefde sal betoon aan mekaar (Johannes 15:9-17). Vir baie opregte gelowiges is gebed en Bybellees maniere om geestelik te voel of om ’n krisistyd te deurstaan. Wanneer dinge goed gaan, blyk hierdie aktiwiteite onnodig te wees. Soms lees mense bloot die Bybel ten einde ’n skuldgevoel te voorkom wanneer hulle dit nie lees nie of om geestelik voor te kom vir ander mense!

Individue wat in die Kerk kom uit ’n nie-godsdienstige agtergrond – soos die geval is met ’n toenemende getal van mense vandag – het dikwels geen idee hoe om te bid of selfs hoe om Bybelstudie te benader nie. Baie mense vandag besef nie hoe baie Oosterse godsdiens-idees hul opvattings oor meditasie en vas beïnvloed het nie en hoe baie daardie idees verskil van Bybelse opdragte. In hierdie artikel gaan ons fokus op een van hierdie hulpmiddels vir geestelike groei. Ons gaan ondersoek waarom Bybelstudie so belangrik is en hoe om werklik die Bybel te bestudeer. Ons sal ook sien hoe gebed, meditasie en vas betrekking het op Bybelstudie.

Die regte benadering

Dit is vandag mode, veral in sommige “geleerde” kringe, om nie die Bybel te sien as die geïnspireerde woord van ’n Almagtige God nie, maar eerder as ’n primitiewe poging deur antieke Hebreërs om ’n soort konsep van God te formuleer. Hierdie sienswyse van die Skrif het baie mense vandag ontmoedig om die Bybel te erken as ’n bron van belangrike, nuttige en selfs noodsaaklike inligting. Dit is ongelooflik hoe ons moderne, “gesofistikeerde” opvattings verskil van die opvattings van mense slegs ’n generasie gelede en met Bybelse persoonlikhede soos Dawid, na wie verwys is as “’n man na God se hart” (Handelinge 13:22). Dawid, as koning, het gepraat van die Skrif as “’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad … dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97, 105). Dawid het nie gemediteer deur woorde oor en oor te herhaal nie. Hy het die Woord van God bestudeer en bepeins hoe om dit in die alledaagse lewe toe te pas. Dawid het die gebooie van God beskou as meer werd as goud (Psalm 119:127) en hy het besef dat diegene wat volgens die gebooie leef, geseënd sal wees (Psalm 119:1-2).

Jesus leer Christene dat die sagmoediges [dié wat ontvanklik is] die aarde sal beërwe en dat “hulle wat honger en dors na die geregtigheid [hulle wat leer en streef om te leef na elke woord van God – Psalm 119:172] sal versadig word” (Mattheus 5:6). Dawid het hierdie gesindheid duidelik uitgeleef. Hy skryf: “Ek het u woord in my hart gebêre … Leer my u insettinge … Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet … Laat my die weg van u bevele verstaan … Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid … u wet is my verlustiging” (Psalm 119:11, 12, 18, 27, 160, 174). Dawid het ’n gesindheid van gebed teenoor Bybelstudie gehad – hy het God gevra om hom te help verstaan wat hy lees. Daniël het nie net die Skrifte bestudeer nie; hy het ook gevas om aan God sy opregte begeerte te toon om die omvang van God se plan vir Sy mense te begryp (Daniël 9:1-3; 10:12).

Die profeet Jesaja beskryf die gesindheid wat God in ’n mens begeer. Hy sê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm [verootmoedig] is en verslae van gees [bekeerd, begeerte om beter te doen], en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). Die regte gesindheid om Bybelstudie mee te benader, is respek vir die Woord van God pleks van twyfel en sinisme en ’n begeerte om te leer eerder as om te kritiseer. Om hierdie gesindheid te ontwikkel, moet ons vir onsself bewys (1 Thessalonicense 5:21) dat die Bybel werklik die geïnspireerde Woord van God is en nie net antieke Hebreeuse literatuur nie. Met die regte benadering tot die Skrif, kan Bybelstudie uiters insiggewend, voordelig en opwindend word. Presies waarom moet ons egter die Bybel bestudeer?

Groei in wysheid

Een van die sleutels tot sukses in die lewe is om te leer hoe om wyse besluite te neem – en hoe om swak besluite en dom foute te voorkom. Ongelukkig ontwikkel baie mense nooit hierdie noodsaaklike kwaliteit nie en word ons makliker oud as wys. Die God van die Bybel, wat beskryf word as ’n liefdevolle Vader, verstaan hierdie menslike swakheid en het die Skrif gevul met dosyne praktiese beginsels. Die boek Spreuke is propvol inligting om enigeen wat die inhoud daarvan bestudeer, te help om wysheid, insig, oorleg en oordeel te ontwikkel (Spreuke 1:1-6). Salomo sê “die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis … en kennis van die Heilige is verstand” (Spreuke 1:7; 9:10). Die regte benadering tot elke belangrike onderwerp word in die woord van God aangetref, tog sal dwase hierdie benadering verag. Ons word nie gebore met wysheid nie, maar deur die Woord van God te bestudeer, ernstig tot God te bid vir leiding, deur te soek en te luister na wyse instruksies van ouer, meer ervare mense, kan ons groei in wysheid (sien Spreuke 2). Hierdie Bybels-gegronde benadering sal lei tot ’n langer, voller en ryker lewe (Spreuke 3:1-2, 13-16).

Salomo onthul dat bekwame leiers met wysheid regeer (Spreuke 8:5). Dawid skryf dat die studie van God se gebooie hom wyser gemaak het as sy vyande en hom meer insig gegee het as sy leermeesters (Psalm 119:98). Die Bybel waarsku jongmense oor die gevare om in die “vinnige baan” te probeer leef (Spreuke 7), oor die dwaasheid en gebrek aan begrip wat lei tot ontug en owerspel (Spreuke 6:32) en oor die gevolge van trots, skinder, ongeduld, luiheid en selfs praatsug (Spreuke 11:2, 9, 12; 12:13, 24). Die Skrif benadruk herhaaldelik die waarde daarvan om wyse raad in te win, om gewillig te wees om te vergewe, om kinders te dissiplineer en om vriende sorgvuldig te kies (Spreuke 11:14; 12:16; 13:20, 24). Om ’n voortreflike visie en doel vir u lewe te hê, word ook genoem (Spreuke 29:18). Trouens, dit is slegs in die Bybel waar die ware doel van die lewe gevind kan word. In ag genome dat die Skrif ’n goudmyn van wysheid bevat, is dit ontnugterend dat so baie mense vandag “geprogrammeer is deur die samelewing” om Bybelstudie te ignoreer!

Ontwikkel die gesindheid van God

Ons staan verbaas oor die onkunde van “geleerde” mense wat die spot dryf met enigeen wat werklik probeer om te leef volgens die gebooie van God, maar selfs bekeerde Christene wonder soms waarom dit so ’n stryd is om tyd in te ruim om daardie gebooie te bestudeer. Hoe dit ook al sy, die Skrif bevat die antwoord. Ons is almal onderworpe aan geestelike invloed van God en van Satan. Tensy ons onsself bekeer het, God se Heilige Gees ontvang het en ’n daadwerklike poging aanwend om op God gefokus te bly, sal ons deur Satan beïnvloed word. Die apostel Paulus onthul dat “wat die vlees [fisiese, onbekeerde verstand] bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7). Onbekeerde mense sê nie noodwendig dat hulle God haat nie, maar hulle sal stry, verdraai en probeer redeneer rondom die baie duidelike bedoeling van die Skrif, omdat hulle eenvoudig nie die gesindheid van God het nie!

Dit is waarom Paulus aan die Filippense geskryf het: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5). Christene met die gesindheid van God sal nederig en ontvanklik wees en sal opreg begeer om God se opdragte in die Bybel te volg. Hulle sal tyd maak om die Bybel te bestudeer en sal werklik streef om te leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheus 4:4). Ons kan nie volgens die Bybel leef indien ons nie die inhoud daarvan bestudeer nie! Paulus het aan Timotheus gesê om die Skrif ywerig te bestudeer (2 Timotheus 2:15) en sê “die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timotheus 3:16). Wanneer ons die Skrif lees, bestudeer en daaroor mediteer en gewillig is om gelei te word deur die Heilige Gees, sal ons leer om soos God te dink (Jesaja 55:8-9) en sal ons begin om die gesindheid van God te ontwikkel (1 Korintiërs 2:10-16). Gereelde Bybelstudie is ’n belangrike hulpmiddel om hierdie soort geestelike groei te bevorder. Dit is egter nie al nie!

Maak gereed om te regeer

Bybelprofesieë dui aan dat vandag se Christene geroep is om uiteindelik saam met Jesus Christus op hierdie aarde te regeer (Openbaring 1:4-6; 5:10; 20:6). As toekomstige konings en priesters sal ons as burgerlike- en godsdiensleiers in die komende Koninkryk van God dien. Jesus sê vir Sy dissipels dat hul beloning die regering van stede en gebiede sal insluit (Mattheus 19:28; 25:14-30; Lukas 19:11-19). Jesaja onthul dat die heiliges van God leermeesters in die koninkryk sal wees (Jesaja 30:20-21) en dat die wet van God verkondig sal word vanuit Jerusalem (Jesaja 2:2-4) na die hele wêreld (Jesaja 11:9). Alvorens ons egter kan regeer volgens die wet van God en daardie wette aan ander mense leer, moet ons eers studeer – en tot insig kom en leer leef – volgens wat God weergee in Sy Woord. Dit is waarom die Skrif spesifieke voorskrifte rakende Bybelstudie voorsien.

Toe Moses die Israeliete uit Egipte gelei het na die Beloofde land het hy hulle aangeraai om te leer, te onthou, gehoorsaam te wees en nie die gebooie van God te wysig nie (Deuteronomium 4:1-8). Ouers moes hul kinders leer van God en om Sy wette te gehoorsaam (Deuteronomium 4:9-10). Moses het ook beklemtoon dat toekomstige leiers van Israel persoonlike afskrifte moes maak van die wette van God en dit daagliks bestudeer, sodat hulle bevoeg sou wees om verstandig op ’n goddelike wyse te regeer (Deuteronomium 17:14-20). Dit is een rede waarom Dawid daagliks oor die wet gemediteer het (Psalm 119:97). Esra het dieselfde instruksies gevolg voor sy terugkeer na Jerusalem vanuit Babiloniese ballingskap, “want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE [die Boeke van Moses] te ondersoek [bestudeer] en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10). Esra word later uitgebeeld waar hy doeltreffend onderrig gee en die betekenis van die Skrif aan die mense van Israel verduidelik – in openbare vergaderings – as ’n gevolg van hierdie ywerige voorbereiding (Nehemia 8:1-8).

Die Nuwe Testament sit hierdie tema voort. As moeder vir Jesus het God ’n vrou gekies wat goed vertroud was met die Skrif (sien Lukas 1:46-56). Weens sorgvuldige ouerleiding was Jesus op 12-jarige ouderdom in staat om die Skrif met sulke bekwaamheid te bespreek dat Hy die godsdiensleiers in Jerusalem verstom het (Lukas 2:41-52). Hy sê dat ons volgens elke woord van God moet leef (Mattheus 4:4). Hy het onderrig gegee in die sinagoges van Palestina (Mattheus 4:23) en 12 dissipels uitgestuur en toe 70 ander om te preek en te leer “om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Lukas 9:1-2; 10:1-2; Mattheus 28:10-20). Namate die kerk gegroei het, is diakens aangestel “vol van die Heilige Gees en wysheid” (Handelinge 6:3). Daardie wysheid het gekom deur studie en meditasie oor die woord van God. Paulus noem dat een van die kwaliteite wat in kerkleiers nodig is, is dat hulle “bekwaam” moes wees om die Skrif op ’n interessante en betekenisvolle wyse “te onderrig” (1 Timotheus 3:2). Dit is waarom Paulus die belangrikheid van ywerige Bybelstudie beklemtoon, om ’n ferm grondslag te lê en belaglike argumente en ontoepaslike vraagstukke te vermy (2 Timotheus 2:14-19). Goeie opsieners moet hul onderwerp ken en bevoeg wees om moeilike vraagstukke met wysheid en oortuiging te hanteer (Titus 1:7-11). Dit verg sorgvuldige studie en deeglike voorbereiding.

Namate ons die einde van hierdie tydperk sien nader kom, moet ons “wakker skrik” en seker maak dat ons die “tyd uitkoop [die beste daarvan maak]” wat ons tot ons beskikking het (Efesiërs 5:14-15). Indien u gewillig is om tyd in te sit om die Bybel te bestudeer en te leer hoe om die Skrif te verduidelik en toe te pas, kan u dalk een van die arbeiders wees wat God sal kan gebruik om Sy belangrike eindtyd opdrag te volbring.