Wat gebeur met ’n kind wat “ongered” sterf? Wat gaan werklik gebeur met “oom Ben” wat tog so lief vir sy drankie was? Is biljoene Moslems, Hindoes en anti-Christene vir ewig verlore?


Die meeste van ons het afgestorwe vriende of familie wat nie geglo of enige vorm van Christenskap beoefen het nie. Waar is hulle nou? Wat sal hulle uiteindelike lot wees?

Eerlikwaar, die hoofstroom-Christendom het nie die antwoorde nie!

Die meeste predikante skep die indruk dat God nou “probeer” om almal “te red”. Hy word byna voorgestel as ’n arme jaghond wat biljoene mense, wat nie in enige vorm van Christenskap glo nie, te probeer uitsnuffel en “red”. Die meeste outydse kerke wat die Bybel erken, verkondig hierdie konsep reeds vir eeue. Die moderne, “liberale” kerke wat die Bybel nie letterlik interpreteer nie, omseil die probleem deur te sê dat God almal sal red wie se “hart reg is” of wat hulle godsdiens (wat dit ookal is!) met “opregtheid” beoefen.

Sal Hy dan wérklik doen wat hulle verwag?

Indien u die regte antwoord wil hê oor wat sal gebeur, moet u glo wat die Bybel - die geïnspireerde openbaring van die Skepper God - werklik sê. Indien u nie die Bybel glo nie, dan is een persoon se “idee” of “teorie” so goed as die van die volgende persoon sin. Is u bereid om u verstand oop te maak en te glo wat die Bybel werklik sê?

Waar gaan die dode heen?

Die outydse predikante sê aan mense dat hulle onmiddellik hemel of hel toe gaan wanneer hulle doodgaan, maar die Bybel sê niks van die aard nie! Jesus sê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mat. 5:5). Verder sê Jesus ook: “Niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het” (Joh. 3:13).

Soos ons al dikwels in hierdie tydskrif verduidelik het; die werklike “doel” van die ware Christen is nie om vir ewig in die hemel “rond te hang met niks om te doen nie”. Werklike Christene is nou besig met “opleiding” om konings en priesters te word op hierdie aarde, om Jesus Christus te help om God se ware weë aan die wêreld te leer en om uiteindelik werklike vrede en vreugde te bring. Soos die geïnspireerde gebed van die heiliges dit stel: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

Die Bybel maak dit baie duidelik dat ware Christene, wat gesterf het, nou wag vir die opstanding wat sal plaasvind by Christus se Wederkoms. 1 Korintiërs 15 word die “opstandingshoofstuk” genoem omdat dit die opstanding deeglik beskryf! Lees 1 Kor. 15:21-23: “Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms”.

Jesus sê reguit: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe ... Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:25, 28-29).

Bogenoemde teksverse behoort dit baie duidelik te maak dat die “dode” werklik dood is - nie in die hemel rondsweef of in die hel brand nie! Selfs die dooies wat “goed gedoen het”, wag die “opstanding van die lewe” af (vers 29). Enige ander verduideliking weerspreek letterlik dosyne ander, duidelike teksverse. Jesus self sê dat “die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35).

Wat dan van die biljoene mense wat na God se beeld gemaak is, wat nooit ’n werklike geleentheid gehad het om te hoor van die Christus van die Bybel en om Hom as hulle Verlosser te aanvaar nie? Het God dubbele standaarde? Het Hy ’n “ander manier” om ewige lewe te bekom? Of is dit nou maar jammer vir daardie biljoene mense omdat ’n ongenaakbare God “gunstelinge” het en vir sommige mense ’n “kans” gee, terwyl ander hoegenaamd geen kans kry nie?

Kom ons wees realisties!

Die waarheid is beslis nie wat u geleer het in hoofstroom “Christendom” nie. Tog is dit wonderlik en betekenisvol vir diegene wat verstaan. Dit word ook nie gevind in ’n boek anders as die Bybel of ’n teorie deur ’n selfaangestelde profeet nie. Dit was nog al die tyd daar, in u eie Bybel. Dit is die Waarheid waarvan byna niemand weet nie!

God probeer NIE nou om die wêreld te red nie!

U Bybel maak dit baie duidelik dat hierdie nie God se wêreld is nie. Dit is nie die stelsel of samelewing wat God die Skepper gevestig het nie. Nee, God het eerder aan die mens 6,000 jaar gegee onder die invloed van Satan, die duiwel, om sy eie gang te gaan, om sy eie idees te probeer en om moeilike lesse deur menslike lyding te begin leer. Die Apostel Paulus skryf: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3-4).

Later was die Apostel Johannes geïnspireer om te skryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Op. 12:9). Was Johannes reg? Is die “hele wêreld” werklik mislei? Natuurlik weet ’n waarlik “misleide” persoon nie dat hy mislei is nie. Andersins sou hy nie mislei gewees het nie!

Onthou Jesus se stelling aan Sy dissipels: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Joh. 14:30). Net soos die Apostel Johannes geskryf het aan die ware Christene van Sy tyd: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh. 5:19).

As die hele wêreld dus “verblind” is, soos Paulus skryf en die hele wêreld mislei is, soos die Apostel Johannes skryf, verduidelik dit sekerlik waarom biljoene mense nog nooit die ware Evangelie gehoor het nie! Sal ’n regverdige God hulle dan net in die graf los of hulle in ’n ewigbrandende vuur verbrand?

Natuurlik nie!

Verstaan asseblief dat dit net ’n kwessie is, van wanneer God verkies om elke individu te “roep” tot werklike kennis van die Waarheid en ’n werklike geleentheid tot redding. Almal sal uiteindelik geroep word. Let daarop, toe van die Heidene vir die eerste keer geroep is, het die Apostel Petrus gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Hand. 10:34-35). Paulus het ook gesê: “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie” (Rom. 2:11).

Dit is waarom Jesus in gelykenisse gepraat het teenoor almal behalwe Sy persoonlike dissipels: “En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie” (Mark 4:11-12). Die Bybelse waarheid is direk die teenoorgestelde van wat die meeste van ons in die Sondagskool of kerk geleer het - dat Jesus in gelykenisse gepraat het, sodat “almal kon verstaan”. Inteendeel, die teenoorgestelde is waar! Jesus het in gelykenisse gepraat sodat die algemene publiek nie sou verstaan nie! Jesus het nie probeer om in daardie tyd die wêreld te bekeer nie.

Ons sien dus dat God nie “probeer” om nou - in hierdie tyd - die wêreld te “probeer” bekeer nie; andersins sou Hy dit gedoen het! Een van God se name is “El Shaddai”, God die Almagtige. Niks kan God dus daarvan weerhou om die wêreld te bekeer, indien dit Sy werklike bedoeling is nie!

Wat God NOU bereik

Die Apostel Petrus was geïnspireer om vir ons te sê: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:8-9).

Sien u?

God is nie “haastig” met die uitvoering van Sy groot doel nie. Op Sy tyd - nie ons s’n nie - wil God hê dat “almal” tot bekering moet kom. Hy dui aan dat Sy plan oor duisende jare bereik sal word! Onthou weer eens dat God nie nou probeer om die wêreld te red nie. Hy veroordeel egter nie almal wat mislei is deur Satan, die duiwel, die “god van hierdie wêreld” vir wie God die Skepper toegelaat het om in hierdie tyd die wêreld te beïnvloed en regeer nie.

Onthou hoe God die bose stede van Sodom en Gomorra “veroordeel” het deur hulle “tot as te verbrand” en hulle “as ’n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Pet. 2:6). Wanneer ’n mens egter verstaan, besef jy gou dat daardie seksperverte verblind was vir die waarheid en die ware God nie geken het nie. Hoe sal God dus uiteindelik te werk gaan met daardie verblinde mense wat nooit ’n ware kans tot redding gehad het nie?

In Matteus 11 verduidelik Jesus hoe die stede in Sy tyd geweier het om die Waarheid te hoor: “Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle” (verse 21-22). Jesus het toe ’n merkwaardige stelling gemaak: “Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag” (vers 24). Daar kom dus ’n “oordeelsdag” wanneer dit “verdraagliker” sal wees vir Sodom en Gomorra as vir die stede in Jesus se tyd. Jesus erken hier duidelik dat daardie ou stede nie ’n werklike geleentheid tot redding gehad het nie. Die Waarheid is nooit aan hulle aangebied nie. Hulle het geen kans gehad nie!

God het die Apostel Paulus geïnspireer om die volgende van die Heidene in Efese te sê: “Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Ef. 2:11-12). Die absolute waarheid is dat God die meeste mense “toegelaat” het om hulle eie gang onder Satan se invloed vir die laaste 6,000 jaar te gaan. Die Almagtige God het nie eens probeer om hulle te “red” nie; andersins sou hulle gered gewees het! Hy het ’n “oordeelsdag” beplan - nie ’n “dag van verdoemenis” nie - sodat daardie biljoene mense ’n werklike geleentheid tot redding sal kry en dan “geoordeel” sal word volgens wat hulle doen, in daardie tyd wat hulle oë werklik vir die Waarheid “geopen” word!

Hoe sal hulle gered word? God se geïnspireerde Woord is baie duidelik deur te sê dat die enigste weg tot ewige lewe deur Jesus Christus is! Jesus self het gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower ... Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie” (Joh. 10:1, 7-8). Jesus verdoem hier baie duidelik enige “ander weg” tot ewige lewe! God alleen kan vir ons ewige lewe gee. Hy stel die voorwaardes - nie misleide mense wat sentimentele gedagtes het oor vals “Christendom”, Hindoïsme, Boedisme, Islam, “Nuwe Era”-teorië of enige ander idee of teorië van mense nie!

Die Apostel Petrus was geïnspireer om dit uitdruklik te stel: “Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:10-12).

Die Wit Troon Oordeel

Ons het vroeër gelees dat op die geprofeteerde “oordeelsdag” dit “meer draaglik” sal wees vir die Sodomiete, as vir die mense van Jesus se tyd wat Hom persoonlik verwerp het. Die geïnspireerde evangelie van Lukas voeg besonderhede by Matteus se weergawe. In Lukas10:13-14 sê Jesus Christus: “Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir julle”.

Die duidelike aanduiding is dat, aangesien antieke Tirus, Sidon en Sodom nie ’n werklike geleentheid gehad het om die Waarheid te leer nie, hulle nie verantwoordelik gehou sal word aangesien hulle verblind was nie. In werklikheid stel Jesus dit dat Hy weet dat hulle hulle “sou bekeer het” (vers 13) indien hulle Jesus se groot werke gesien het.

Aangesien God nie ’n aansiener des persoons is nie, mag u wonder: wanneer en hoe sal hierdie antieke heidenstede en die ander biljoene ewe verblinde mense, ’n werklike geleentheid gegun word om God se doel in die lewe te verstaan en om redding te bekom? Praat die Bybel ooit van so ’n tyd?

Ja, definitief! Die boek Openbaring gee die tydsverloop van profetiese gebeure duideliker aan as enige ander Bybelboek. Openbaring 19:11-21 beskryf Christus se terugkeer in volle glorie, as Koning van konings (verse 14-16). Ná die vernietiging van die leërmagte van die komende Europese diktator wat “die Dier” genoem word, werp Christus hom en die komende vals godsdiensleier in die “Poel van Vuur” (vers 20).

God beskryf dan ’n magtige engel wat aarde toe kom: “En hy het die draak gegryp - die ou slang wat die duiwel en die Satan is - en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei [mislei] totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word” (Op. 20:2-3). Let wel, hierdie verse sê ook vir ons dat Satan die nasies van hierdie wêreld mislei het!

Nadat Satan gebind is, begin die heerlike milleniale heerskappy van Christus op aarde. Met verwysing na daardie tyd, wys Openbaring 20 dat die ware heiliges “geleef en as konings geregeer [het] saam met Christus die duisend jaar lank” (vers 4). Dan word daar vir ons gesê: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (vers 6).

Ware Christene wat werklik deur God “geroep” is, verstaan Sy doel. Hulle weet dat hulle nou “met opleiding” besig is om konings en priesters te word in Christus se komende regering op aarde - dat hulle selfs oor engele sal heers (1 Kor. 6:1-3)! Die komende milleniale regering van Christus en die heiliges (Dan. 7:26-27) sal ’n fantastiese geleentheid wees om die menigte verwarde mense op aarde te help, te bemoedig en te leer aangaande God se ware weë.

Wat gebeur dan met die biljoene “verblinde” mense wat voor die Mellinium sterf, wat nooit die ware God en Sy Plan geken het nie? Besef tog dat dit baie miljoene belydende Christene insluit, wat nou leef en nooit werklik bekeer het nie! Dit sluit miljoene jong mense wat nooit lank genoeg geleef het om te verstaan, werklik berou te hê en in genade te groei in God se kennis nie, in. Dit sluit miljoene welmenende maar swak mense met al hulle probleme in, wat hulleself “Christene” mag noem maar wat nooit werklik verstaan het en hulle aan God oorgegee het nie.

Na die beskrywing van ’n relatiewe kort tydjie wat Satan weer uit sy gevangenis losgelaat word en weer eens gou ’n menigte mense mislei (Op. 20:7-10), begin God se Woord aan ons vertel van die Groot Wit Troon Oordeel-periode. Kyk eers vir ’n oomblik terug na vers 5. Hier, ingevoeg as ’n terloopse opmerking, na die beskrywing van die duisendjaar regering van die heiliges, sê God se Woord: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie”.

Die “ander” dode? Ja! Die biljoene mense van die verlede wat nooit tot redding “geroep” was nie en daarom noodwendig nie enige kans gehad het om in die eerste opstanding te wees nie.

Kyk in Openbaring 20:11-12: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke”.

’n Tyd van werklike BEGRIP

Hier vind ons ’n beskrywing van moontlik die wonderlikste gebeurtenis in die menslike geskiedenis, ’n tyd wanneer alle mense - onbekendes, gewildes en ongewildes - werklik sal verstaan waarom hulle gebore is! Hierdie mense wat voorheen dood was, word gesien waar hulle “voor God staan” - duidelik in ’n opstanding. Dan word die “boeke” geopen. Die woord “boeke” is hier vertaal vanaf die Griekse woord biblion, dieselfde woord vertaal as “Bybel” - wat beteken die boeke van die Bybel!

Uiteindelik, sal die boeke van die Bybel vir al hierdie voorheen verblinde mense van oor die eeue heen - insluitend dié van ons tyd - se begrip vir hulle “oopgemaak” word. Die sluier wat in die verlede daaroor was, sal dan vernietig word! Uiteindelik sal daardie mense hulle eerste ware geleentheid kry om God te ken en om te besluit of hulle hul wil bekeer en die ware Christus as Here en Verlosser aanvaar, of om hulle eie gang te gaan.

Openbaring beskryf dan die opening van ’n ander boek - die Boek van die Lewe. Paulus beskryf die heiliges as hulle wie se name in die “Boek van die Lewe” geskryf is (Fil. 4:3). Openbaring 21:27 beskryf die Nuwe Jerusalem, bewoon deur “net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam”.

Die geleentheid tot ewige lewe word uiteindelik aangebied aan daardie menigte mense “groot en klein”. Hulle word opgewek tot fisiese lewe, moontlik vir ’n tydperk van 100 jaar - lank genoeg vir ’n behoorlike geleentheid om te leer en te groei, om getoets en beproef te word ten opsigte van hulle bereidwilligheid om die ewige lewe volgens die weg van God te leef (Jes. 65:20). Hulle sal geroep word en ’n geleentheid gebied word om die Bybel te bestudeer en te verstaan. Dan - slégs dan - sê God dat hierdie opgewekte mense “geoordeel [is] na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Op. 20:12). Uiteindelik, na ’n werklike kans om die waarheid te ken en daarop te reageer, word hierdie mense geoordeel volgens hulle reaksie op en hulle gehoorsaamheid aan die leringe van die boeke van die Bybel. Jakobus was geïnspireer om vir ons te sê: “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood” (Jak. 2:17).

Moet geen fout maak nie: indien hierdie biljoene voorheen verblinde individue geoordeel word slegs volgens die werke van hulle vorige lewens - baie van hulle as diewe, prostitute, diktators en vals profete - sal hulle almal sekerlik vergaan in die Vuurpoel! In hulle vorige lewens het hulle nie die enigste naam wat gegee is onder die hemel, waardeur ons verlos moet word, aangeneem nie. Hulle het nie werklik van hulle verkeerde weë “bekeer” (Hand. 2:38) en hulle lewens aan Christus oorgegee en Hom toegelaat om - deur die Heilige Gees - hulle te vorm en te maak en om hulle te help om “toe [te] neem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” nie (2 Pet. 3:18).

God het nie dubbele standaarde nie! Hierdie tallose biljoene individue verdien om ’n werklike kans te kry - om geoordeel te word volgens wat hulle doen nadat hulle God se Waarheid geleer het! Nogtans het talle teoloë en predikante (self mislei) probeer voorstel dat God tog baie van ons onberouvolle vriende en families en menigtes uit die verlede sal red, sonder dat hulle ooit tot werklike bekering gekom het en hulself waarlik aan die lewende Christus oorgegee het. Hierdie teoloë kan nie verder van die waarheid af wees nie!

Mag God u egter help om die waarheid te verstaan oor die “ongeredde” biljoene Boeddhiste, Sjintoiste, Moslems en ander van hierdie en vorige eras, wat nooit ’n ware geleentheid gehad het om Jesus Christus aan te neem nie en van al die ander biljoene mense van die hede en die verlede, wat slegs van ’n vals Christus geweet het (2 Kor. 11:4), maar wat hulle nooit werklik oorgegee het, sodat die Christus van die Bybel hulle lewens kon regeer nie!

Geen ander verduideliking van hierdie godsdienstige dilemma maak sin nie! Die antwoord was nog altyd in u eie Bybel. Hier word nie gepraat van ’n “tweede kans” nie. Onthou, ons praat slegs van ’n werklike geleentheid om die Waarheid te leer en dit te gehoorsaam, wat ’n getroue en regverdige God op Sy tyd aan hierdie menigte mense sal onthul.

Met enkele uitsonderings, verstaan slegs diegene in God se Kerk hierdie wonderlike waarheid! Soos God se woord aan ons sê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand” (Ps. 111:10). Mag God u help om te begin verstaan aangaande die groot doel wat God hier op die Aarde uitwerk. Dan sal u beter verstaan waarom belydende “Christene” dikwels lieg, kul, steel, owerspel pleeg en duisende mekaar uitmoor in verskeie oorloë tussen belydende Christen nasies in Europa en elders, asook waarom selfs die mees moderne kerkgangers bitter min kennis van die Bybel het, ten spyte van Jesus se opdrag: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4).

Die reine waarheid is dat God die meeste mense nie nou “roep” tot werklike begrip en redding nie. Tensy hulle willens en wetens God verwerp (Heb. 10:26-27) - sal hulle ’n werklike geleentheid kry om te verstaan, om werklik berou te hê oor hulle sondes en om waarlik “bekeer” te word in die Groot Wit Troon Oordeel.

Indien u selfs nog meer inligting en Bybelse bewyse wil hê aangaande hierdie lewensbelangrike onderwerp, kontak ons asseblief en versoek u gratis eksemplaar van ons ten volle gedokumenteerde boekie, Is hierdie die enigste dag van redding? Indien u belang stel, versoek ’n meegaande boekie - Hervestig die Christenskap van die Apostels - wat u sal help om te verstaan hoe en waarom die belydende Christendom die spoor byster geraak het en waaroor ware Christenskap gaan.

Die Ewige God sê aan ons in Sy woord: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jes. 55:8-9). God werk dikwels Sy weë uit op ’n manier waarop mense nie sou nie. Soos ons gesien het, maak die Bybel dit baie duidelik dat God nie in hierdie tyd alle mense desperaat probeer “red” nie. Na Christus se duisendjaar-regering op Aarde tydens die Millenium - sal ’n wonderbaarlike gebeurtenis plaasvind wanneer almal wat ooit geleef en gesterf het, sonder om God se doel en die volle Waarheid te verstaan, uit die dode opgewek word en ’n werklike geleentheid gegee word om hulle lewens aan God oor te gee en sodoende te kwalifiseer om volle kinders van God en lede van Sy ewige Koninkryk te word. Dit is voorwaar Goeie Nuus vir almal van ons wat geliefdes het wat geleef en gesterf het, sonder om ooit God en Sy groot doel te verstaan.