In sy heel eerste perskonferensie na die November 2004 verkiesing, het Amerika se president, George W. Bush gesê: “Indien ons belangstel om ons land op die langtermyn te beskerm, is die beste manier om dit te doen deur vryheid en demokrasie te bevorder.” By daardie perskonferensie van 8 November 2004 het Bush gepraat daarvan om, tesame met die Britse premier, Tony Blair, hul “visie van die verspreiding van vryheid regdeur die groter Midde-Ooste” na te jaag.

Die meeste Amerikaners en miljoene ander mense in die Westerse wêreld, blyk tevrede te wees met hierdie benadering. Trouens, baie mense glo dat Amerikaanse kiesers aan president Bush – wat die meeste stemme ooit vir President ontvang het en die eerste President is wat verkies is met die meerderheid van die volkstem sedert 1988 – ten minste 'n beperkte “mandaat” gegee het om sy hoofdoelwitte na te jaag om terrorisme te oorwin, onderwys te verbeter, die bestaansbe-veiligingsprogram solvent te hou en 'n poging aan te wend om “vryheid en demokrasie” in die Midde-Ooste en om die wêreld te bevorder.

Hierdie is alles waardige doelwitte en dit sou moeilik wees om nie te hoop dat president Bush dit wel bereik nie. Almal van ons wil op stuk van sake vrede op aarde, finansiële sekuriteit vir die bejaardes en goeie onderwys vir jongmense hê.

Is dit egter realisties om te glo dat president Bush al sy doelwitte sal bereik? Is dit realisties om te dink dat miljoene mense in die Midde-Ooste – waarvan baie Moslems is wat nie vertroud is met demokrasie nie – 'n demokratiese regeringsvorm sal aanleer en met sukses kan toepas? Met Amerika se ewiggroeiende reusagtige nasionale skuld, hoe kan ons ons verbeel dat “alles in die haak sal wees” met nie net bestaansbevei-liging nie, maar die hele Amerikaanse ekonomie – dat dit die ryk leefstyl waaraan Amerikaners gewoond geraak het, sal kan onderhou?

Wie is besig om vir wie om die bos te lei?
Amerika is trouens, deels weens demokrasie, besig om oor die volgende dekade op 'n finansiële katastrofe af te stuur, tensy groot veranderings plaasvind! Soos die USA Today op 'n voorbladberig in Oktober 2004 uitwys: “Amerikaanse belastingbetalers het 'n verskuilde skuld van ten minste $53 biljoen in staatsobligasies, meestal van Medicare, bestaansbeveiliging en staatskuld. Hierdie skuld kom neer op $473 456 per huishouding, wat die $84 454 se persoonlike skuld per huishouding vir huislenings, motorskuld en ander lenings heeltemal oorskadu. Die federale regering sou belasting dadelik moes verdubbel of voordele halveer om sy beloftes van gesondheidsorg en pensioenvoordele vir afgetredenes in die dekades wat voorlê, gestand te doen. Beide hoof politieke partye en die presidensiële kandidate het versuim om die probleem te konfronteer uit vrees dat hulle die kiesers sou kwaad maak” (4 Oktober 2004).

Soos die bogenoemde artikel dit stel, die “vrees dat hulle die kiesers sou kwaad maak”, het verseker dat nie een van die kandidate in die 2004 presidensiële veldtog openlik oor die kwessie van Amerika se geweldige skuldlas gepraat het nie. So is die kiesers “in die duister gehou”. Die kiesers is nie eens ingelig dat 'n reusagtige finansiële “ysberg” op pad is om “Oorlogskip Amerika” te tref – en dit  moontlik selfs te  sink nie!

Waarom nie?
Want, in ons hedendaagse “demokrasieë” (hetsy suiwer demokrasieë of verteenwoordigende republieke), moet die politici wat vir openbare ampte staan, baie selektief  wees oor watter feite hul na die kiesers deurgee. Oor die algemeen vertel hulle die publiek net wat die mense wil hoor – of dit nou waar is al dan nie. Indien die politici die publiek met te veel realiteite konfronteer, is dit so goed soos politieke selfmoord! Daarby is die suksesvolle politici gewoonlik diegene wat die meeste beloof: “Ek sal jul belasting inkort en steeds groter voordele gee.”

Dit is “demokrasie aan die werk.”
Uit 'n geskiedkundige oogpunt is die “speletjie” egter bykans iets van die verlede. Soos Eugene Steurele, 'n hoogs gerespekteerde ekonoom aan die Urban Institute in Washington, DC, dit stel: “Dit is 'n uitdaagspeletjie en niemand gee pad nie, hoewel ons weet die botsing gaan plaasvind” (ibid.).

Top ekonome en finansiële deskundiges stem saam oor die dreigende katastrofe wat veroorsaak is deur ons toenemende finansiële skuldlas. In die laaste paar dekades het die fiskale beleid van beide Demokratiese en Republikeinse administrasies – van president Lyndon Johnson en sy “Groot Samelewing” tot by die huidige president Bush – bygedra tot die risiko dat die VSA binnekort algehele bankrotskap in die gesig sal staar. Die Amerikaanse volk het sekerlik daartoe bygedra, want die mense wil al hoe meer hê. Mense wil stem – in ons “demokratiese stelsel” – vir die politikus wat die meeste “goed” beloof, al versuim hy heeltemal om die publiek in te lig hoe hy beplan om daarvoor te betaal.

Ons moet uit die geskiedenis LEER

In sy insiggewende boek, America, the Broke, verduidelik ekonoom Gerald J. Swanson: “Die geskiedenis leer dat alle groot nasies vroeër of later tot niet gaan. Volgens die agtiende-eeuse geskiedkundige, Alexander Tytler, is die gemiddelde lewensduur van leidende beskawings net 200 jaar. Indien dit waar is, leef die Verenigde State, teen 200-plus jaar, moontlik op geleende tyd. Ja, ons is steeds die wêreld se onbetwiste supermoondheid, maar ons verspil die ekonomiese krag wat ons oorheersing onderskraag. In 'n baie kort tydperk kan ons van supermoondheid in superkragteloos verander. Tytler het die verduideliking vir ons huidige verknorsing voorsien. Hy skryf: ''n Demokrasie is altyd tydelik van aard. Dit kan bloot nie as 'n blywende regeringsvorm bestaan nie, want, vroeër of later, ‘ontdek kiesers dat hulle vir hulself kosbare geskenke uit die staatskis kan losstem’. Tytler maak die opmerking, ‘die meerderheid stem altyd vir die kandidate wat die meeste voordele uit die staatskis beloof, met die gevolg dat elke demokrasie altyd sal verbrokkel weens losse fiskale beleid' ... Alexander Tytler, wie se idees vandag ongelukkig verontagsaam word, het nog 'n waarneming gemaak wat oordenking regverdig. Sedert die Atheense Republiek twee millennia gelede, skryf hy, het alle demokrasieë deur dieselfde stadiums gegaan: 'Van slawerny na geestelike geloof; van geestelike geloof na groot moed; van moed na vryheid; van vryheid na oorvloed; van oorvloed na selfsug; van selfsug na selfvoldoening; van selfvoldoening na onverskilligheid; van onverskilligheid na afhanklikheid; van afhanklikheid weer terug na slawerny.'”

Het alle demokrasieë deur hierdie stadiums gegaan? Die meeste mense is nie bewus hiervan nie. Die meeste mense skenk baie min aandag aan die geskiedenis, want ons wil “pret” hê en ons wil dit nou hê!

“Maar werklik,” sal die meeste mense sê, “ondanks al hierdie potensiële probleme, is demokrasie nie die beste en veiligste regeringsvorm nie?”

Demokrasie het homself beslis bewys as 'n beter regeringsvorm as kommunisme of facsistiese diktatorskap. Soos sir Winston Churchill gesê het toe hy die Britse Laerhuis toegespreek het: “Niemand gee voor dat demokrasie volmaak of alwys is nie. Daar is inderdaad gesê dat demokrasie die ergste vorm van regering is, behalwe vir al daardie ander vorme wat van tyd tot tyd probeer is” (11 November 1947).

Sir Winston het beslis geweet dat hedendaagse demokrasie 'n relatief nuwe verskynsel is, aangesien nasies om die wêreld vir duisende jare daarsonder klaargekom het. Baie suksesvolle nasies en ryke het vir honderde jare bestaan sonder om demokrasie te beoefen, maar miljoene jonger Amerikaners, Britte, Kanadese en Suid-Afrikaners aanvaar moontlik bloot dat 'n nasie demokrasie moet beoefen ten einde welvarend en sterk te wees. In ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika, word deeglik verduidelik dat diegene wat van Amerikaanse en Britse afkoms is, welvarend en magtig geword het omdat die Almagtige God hulle spesifiek geseën het in hierdie laaste dae, om Sy belofte aan die patriarg Abraham na te kom. Versoek gerus hierdie insiggewende boekie en bestudeer dit indien u dit nie reeds gedoen het nie. Dit sal heeltemal gratis op versoek aan u gestuur word.

Die Amerikaanse eksperiment

Die Amerikaanse “eksperiment met demokrasie” – soos dit vir baie jare genoem is – was hoofsaaklik suksesvol danksy hierdie wonderlike belofte van nasionale grootsheid wat God nagekom het. 'n Bykomende rede vir Amerika se sukses, was egter ook die stigtersvaders, wat beskryf is as die mees ongewone groep mans, uniek gekwalifiseer om die soort regering wat Amerika nou het, daar te stel en voort te sit. George Washington, John Adams, Thomas Jefferson, Alexander Hamilton, Benjamin Franklin en baie ander van die oorspronklike Amerikaanse leiers was baie intelligent, hoogs opgelei en deeglik bekend met die Engelse gemenereg en die beginsels waarop Amerikaanse demokrasie gebou is.

Daarom, in teenstelling met byvoorbeeld die massas onopgevoede mense in die Midde-Ooste wat nooit enige ondervinding gehad het met hierdie instellings nie, kon hierdie manne 'n soort regering daarstel wat ons nou het en dit suksesvol maak. Baie van Amerika se eie vroeë leiers het duidelik verstaan dat nie sommer enige mense enige plek 'n demokrasie suksesvol kon maak nie. Trouens, John Adams, die tweede president van die VSA, het gesê: “Ons het geen regering wat bewapen is met die mag om mee te ding met menslike passies nie; onbeteuel deur moraliteit en ware godsdiens. Amerika se Grondwet is slegs gemaak vir 'n morele en godsdienstige nasie. Dit is heeltemal ontoereikend vir die regering van enige ander nasie.”

Wat behels 'n “morele en godsdienstige nasie”? Miljoene Moslems in die Midde-Ooste voel dat “Amerikaanse demokrasie” vieslike films, tydskrifte en musiek geproduseer het en dit nou na ander lande uitvoer om ongeoorloofde seks en geweld te verheerlik, die gesinstruktuur en ander instellings af te breek en selfs God te laster.

Dit is moeilik om daarmee te stry!

Hoewel demokrasie op die oog af vir mense gee wat die meerderheid wil hê, blyk dit dikwels in praktyk dat slegs 'n klein uitverkore groepie mense eintlik die regering beheer. George Will is een van die hoogs gerespekteerde kolomskrywers en nuusontleders in Amerika wat geskryf het oor sy vrese dat Amerika 'n “regter-krasie” word – dat aktivis-regters die wetgewers se mag wegneem om wette te skryf en daarenteen uitspraak lewer oor wette wat op hul eie politieke oortuigings gegrond is. Dit het in onlangse tye herhaaldelik voorgekom, selfs tot die groot konsternasie van president Bush en ander leiers.

Skrywer Gene Edward Veith lewer kommentaar oor dieselfde aangeleentheid: “Dit benadeel konserwatiefgesindes wesenlik. Liberale regters kan wette uitgooi waarvan hulle nie hou nie, terwyl hulle daarop kan aandring dat mense die wette waarvan hulle wel hou, tot die letter gehoorsaam. Dit lewer die konserwatiewe regters, wat uit beginsel alle wette volg, aan hulle genade uit. Hierdie regterlike wurggreep lei tot ’n grondwetlike krisis. Wanneer howe wette maak – en nie die mense of hul verkose verteenwoordigers nie – het ons van demokrasie na paarmansregering oorgegaan. Wanneer die howe nie meer deur die Grondwet gebonde is nie, is hul mag ongebonde” (World, 11 September 2004).

Met betrekking tot “paarmansregering” het 'n lid van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, Bernard Sanders (Onafhanklike-Vermont) geskryf: “Paarmansregering verwys nie net na die onregverdige verspreiding van rykdom nie, maar na die feit dat die besluite wat ons gewete vorm en ons lewens raak, gemaak word deur 'n baie klein en magtige groepie mense. Die massa-media (televisie, radio, koerante, tydskrifte, rolprent- en videomaatskappye) byvoorbeeld, word grootliks beheer deur 'n aantal multinasio-nale korporasies wat die nuus en programme wat ons sien, hoor en lees – en uiteindelik ook wat ons glo – bepaal. Terwyl geweld, skandale, verskrikking, sport en Rush Limbaugh baie aandag geniet, ontvang ons feitlik geen in-diepte ontleding van die probleme of oplossings wat die werkersklas in die gesig staar nie. Ekonomiese besluite wat die lewens van miljoene Amerikaanse gesinne verwoes, word deur 'n paar hoof uitvoerende beamptes gemaak. Terwyl hierdie korporatiewe leiers die verbrokkeling van 'moraliteit' en 'wet en orde' betreur, maak hulle winsgewende maatskappye toe, verminder lone en voordele, ontneem afgetrede werkers van hul pensioen en voer ons werksgeleenthede uit na Derdewêreld-lande. Amerikaanse werkers, wat dikwels dekades van hul lewens vir hierdie maatskappye opgeoffer het, het absoluut geen sê oor wat met hulle by die werk gebeur nie. Hulle is magteloos en vervangbaar, wat presies is waaroor paarmansregering gaan.”

So, weereens, wie lei vir wie om die bos?
Amerika loop nie net die gevaar om 'n “regter-krasie” te word weens die aktivis-regters wat ons algehele leefwyse verander nie, hulle word ook al hoe meer 'n “paarmansregering” as gevolg van die oorheersing van hul denkvermoë, maatskappye en baie fasette van hul lewens deur 'n baie klein en baie magtige groepie mense. Hoewel dit nie is wat die “stigtersvaders” in gedagte gehad het nie, is dit wat die VSA vinnig besig is om te word.

Waarom dan, kan ons ons enigsins indink dat 'n Amerikaanse soort regering op die oorwegend onopgeleide massas van die Midde-Ooste afgedwing moet word wat geen kennis hoegenaamd van hierdie soort regering of demokratiese instansies het nie en wat dikwels gekant is teen demokrasie weens baie sterk godsdienstige redes?

Demokrasie vir Moslemnasies?

Professor Bernard Lewis word wêreldwyd geag as een van die mees gerespekteerde geskiedkundiges en analiste van die Midde-Ooste en sy probleme. In sy bekroonde volume, The Crisis of Islam, beskryf hy die gevare verbonde daaraan om demokrasie op Moslems af te dwing en hoe Islamitiese fundamentaliste-regimes dikwels deur demokrasie en die stemproses aan bewind gekom het: “Soortgelyke probleme kom na vore in Egipte, Pakistan en in party ander Moslemlande waar die waarskynlikheid bestaan dat 'n waarlik vry en regverdige verkiesing 'n Islam-oorwinning tot gevolg sal hê. Hierin is die demokrate natuurlik benadeel. Hul ideologie vereis van hulle, selfs wanneer hulle aan bewind is, om vryheid en regte aan die Islamitiese opposisie te gee. Die Islamiete staan onder geen sodanige verpligting wanneer hulle aan bewind is nie. Inteendeel, hul beginsels vereis van hulle om dít te onderdruk wat hulle as goddelose en rewolusionêre aktiwiteite beskou. Vir Islamiete is demokrasie, wat aan die wil van die volk uiting gee, die pad na mag, maar dit is 'n eenrigtingpad, waarop daar geen omkeer is nie, geen verwerping van die soewereiniteit van God, soos deur Sy verkose verteenwoordigers [die Islamitiese godsdiensleiers] beoefen word nie” (bl. 111).

Baie godsdienstige Moslems sien die einste praktyk van demokrasie as 'n aksie waarin jy jou rug op God keer. Daarom is hulle dikwels gewelddadig daarteen gekant en sal tot die dood baklei om die voortgesette beoefening van enige vorm van ware demokrasie stop te sit, hoewel hulle “demokrasie” – die stemproses – vir 'n kort wyle sal benut, mits dit hulle toelaat om die bestaande regime omver te werp en in die plek daarvan 'n Islamitiese republiek daar te stel wat dan 'n heeltemal ondemokratiese en diktatoriale regime word!

In die lig van die probleme wat met demokrasie gepaard gaan, is daar 'n beter weg? Is daar 'n beter regeringsvorm wat ware en blywende vrede, voorspoed en welstand vir die bewoners van hierdie aarde sal bring?

Ja!
Dit is op stuk van sake waaroor die “Evangelie” van Jesus Christus gaan! Jesus het nie net na hierdie aarde gekom om as ons Verlosser te sterf nie, maar ook om die Goeie Nuus van die komende Regering van God te bring wat binnekort op hierdie aarde gevestig gaan word en vrede en vreugde vir alle mense sal bring! “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die  evangelie” (Markus 1:14-15).

Die eerskomende Regering van God

Die woord “koninkryk” beteken regering en hoewel dit vreeslik deur die meeste belydende leraars van Jesus Christus afgeskeep word, was een van die primêre dinge waarop Jesus se boodskap klem gelê het, die komende Regering van God. Wanneer die apostel Petrus die Evangelie gepreek het, het hy gepraat van “en [dat] Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21).

Jesus vertel die Apostels: “En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30). Daar sal dus aan die Apostels trone gegee word waarop hulle sal sit en in die Wêreld van Môre oor die twaalf nasies van Israel regeer. Hulle sal Jesus Christus bystaan met die regering en die uitvoer van regverdige oordeel, want na die “sewende basuin” weerklink het, “[het] die koninkryke van die wêreld ... die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

In Openbaring 19:16 sien ons dat een van Jesus se titels, “Die Koning van die konings en die Here van die here” is. Jesus sal dus die Koning van die ander konings wees wat onder Hom sal regeer en Hom sal help om die sake van die ganse aarde te bestuur. Soos Daniël geïnspireer is om vir ons te sê: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).

In die gelykenis van die ponde, beskryf Jesus hoe die “oorwinnaars” in die komende Regering van God gesag oor stede sal ontvang. Aan die dienskneg wie se pond tien ponde geword het, is gesê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (Lukas 19:16-19). Die ware heiliges van Jesus Christus, wat Sy leringe verstaan en bereid is om dit waarlik te gehoorsaam, is nou besig om “opgelei” te word om konings en priesters te word in Sy komende Koninkryk. Soos Jesus Sy volgelinge beloof: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27).

Die apostel Paulus is geïnspireer om te beskryf hoe ware Christene hulle nou moet gereed maak om Christus by te staan om hierdie aarde te regeer. Lees asseblief hierdie opdrag in 1 Korintiërs 6:1-5 in die Nuwe Testament noukeurig: “Durf iemand van julle wat 'n saak teen 'n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie? Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge? As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word. Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?”

Let daarop dat Christene in God se Kerk behoort te leer om te “oordeel” tussen verskillende probleme wat tussen hulle opduik en hulle nie daartoe wend om 'n broer na 'n wêreldse hof toe te sleep nie. Dan herinner Paulus ons dat “die heiliges die wêreld sal oordeel” en daarom moet hulle leer om die menslike probleme en argumente wat tussen ons kan opduik, te beoordeel.

Regdeur hierdie skrifgedeelte, vertel Paulus die Christene duidelik dat dit hul toekomstige verantwoordelikheid is om die wêreld en selfs die “engele” (vers 3) te oordeel. Waarom word belydende Christene nie geleer dat dit hul ware doelwit is nie? Die ware toekoms van die ware Christen is om Christus by te staan om hierdie aarde te regeer – nie om hemel toe te sweef met niks om te doen nie!

Die WARE toekomstige regering

Die apostel Johannes vertel ons in God se geïnspireerde woord: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6). In Openbaring 5:9-10 lees ons ook die “lied van die heiliges” wat Christus prys en sê: “Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”

Dit word regdeur die ganse Bybel baie duidelik gemaak dat daar geen “demokrasie” en geen “stemmery” in Christus se regering sal wees nie, want soos ons in Hebreërs 13:8 lees: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

As die “Rots van Israel” (1 Korintiërs 10:4) het Christus Moses gelei om leiers onder hom aan te stel om die ganse nasie van Israel te regeer: “Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien” (Eksodus 18:21). Dit was beslis regdeur die hele geskiedenis van antieke Israel toegepas.

Toe Samuel aangesê is om 'n koning te kies om Saul (wat homself gediskwalifiseer het) te vervang, was hy in die versoeking om een van Dawid se ouer broers aan te stel wat ’n beter indruk geskep het, maar Christus verduidelik waarom dit verkeerd was: “Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan” (1 Samuel 16:7).

In ons demokratiese stelsel, lei 'n klein groepie in die binnekring gewoonlik die situasie sodat die publiek net vertel word van 'n paar potensiële benoemings vir 'n amp. Dan word die verkiesingsveldtogte vir die benoemdes van elke party met nougesetheid uitgevoer en uiteindelik word die publiek toegelaat om vir iemand te stem wat “aanvaarbaar” is vir daardie binnekring. Wanneer hulle byvoorbeeld uiteindelik stem vir een van die presidensiële kandidate, weet die man op straat baie min oor die ware vermoëns, persoonlike gewoontes en sondes, probleme of selfs die ware sterk punte van die persoon waarvoor hulle stem. Hoeveel Amerikaners sou vir John F. Kennedy gestem het as hulle selfs net ’n beduidenis van ’n idee gehad het tot watter mate hy na bewering rondgeloop het en dat die name van duisende dooie mense wat in die begraafplase van Chicago en Wes-Texas lê, deur verkiesingsbedrog gebruik is om Kennedy in sy amp te kry?

Dit is natuurlik goed geboekstaaf dat elke politieke party op die een of ander stadium soortgelyke politieke kullery pleeg, maar die punt is dat die gemiddelde kieser dikwels baie min weet van die kandidaat waarvoor hy of sy stem. Die party se binnekring maak seker dat die “slegte dinge” nie tot later bekend word nie!

Hoeveel beter sal dit nie wees in die Wêreld van Môre nie, wanneer Jesus Christus – wat die harte van mense ken – leiers kies wat onder Sy leiding as Koning van konings sal funksioneer! Want, Jesus Christus is die einste God en Hy het volmaakte wysheid, algehele mag en oneindige liefde. Hy het groot empatie met elke mens en sal algehele spontane besorgdheid uitoefen vir ons beswil. “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:11-14).

Die geïnspireerde woord van God vertel ons: “Maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak” (Jesaja 11:4) en: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (vers 9). Daar sal dus geen oorlog meer wees nie en God se kennis – God se benadering tot alle dinge – sal die ganse aarde vul.

In nog 'n profesie vir die “laaste dae” (Miga 4:1), sê God vir ons: “Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek” (vers 4). God se woord beskryf duidelik 'n tyd van voorspoed wanneer elke gesin sy eie eiendom sal besit; wanneer God die weer en die gewasse sal seën en mense 'n leefwyse sal leer wat op God se wet van liefde geskoei is. God beskryf dat Sy mense vooruitstrewend en gelukkig sal wees wanneer Hy hulle uit die eerskomende Groot Verdrukking verlos: “In plaas van julle skande ontvang julle 'n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land 'n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet” (Jesaja 61:7).

Die huidige “politiekery” en stemmery vir leiers wat ons nie werklik ken of verstaan nie, sal binnekort tot 'n einde kom. Hoewel demokrasie een van die beste mens-uitgedinkte regeringsvorms is, is dit hoegenaamd nie die “ding vir die toekoms” nie. Ons moet almal waarlik God se vorm van regering leer en verstaan, want die ware heiliges van God sal binnekort geroep word om daardie regeringsvorm in die Wêreld van Môre toe te pas. Alle ware Christene – en alle mense met goeie bedoelings – moet leer om met begrip te bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus 6:10).