Gebeure is aan die beweeg, nou nog vinniger as ooit tevore, na die wederkoms van Jesus Christus toe. Hy sal spoedig hier op aarde wees as Koning van konings. Ons kan verheug wees! Nogtans, soos ons almal behoort te weet, sal dit verseker donkerder word net voor dagbreek.

Wanneer ons verstaan wat God se doel is in die manier waarop Hy met die nasies van hierdie wêreld handel, sal ons nie angstig of ontmoedig word nie, selfs al is daar hartseer en moedeloosheid oral om ons. Nadat Hy die verskriklike oorloë, hongersnood, pessiektes en groot aardbewings beskryf het wat ons eindtydse geslag gaan tref, het Jesus gesê: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).

Ons oë moet “na bo” kyk, na God en die lewende Jesus Christus aan Sy regterhand. Ons behoort te verstaan hoe en waarom Hulle wêreldgebeure so beplan en orkestreer om God se Koninkryk op planeet Aarde tot stand te kan bring. As Christene moet ons voortdurend “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18). Namate ons groei, sal ons meer en meer die gesindheid van Christus verkry (Filippense 2:5). Ons behoort toenemend in staat te wees om dinge vanuit die oogpunt van ons Saligmaker, wat aan die regterhand van die Vader sit, te sien. Die mensdom beskik nou oor wapens van massavernietiging wat menslike lewe van hierdie hele planeet kan uitwis. As dit nie vir God is nie, sal hierdie wapens gebruik word. Ons behoort almal saam met Koning Dawid van Israel tot God uit te roep: “Staan op, Here, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word! o Here, jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela” (Psalm 9:20-21).

Dit is ’n feit dat die regte “vrees” vir God – die diepgaande ontsag vir, respek teenoor en aanbidding van die groot Wese wat hemel en aarde geskape het en nou daaroor heers – ’n groot bron van wysheid, geloof en moed is. Soos aan ons gesê word in Spreuke 9:10: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand”. Soos Dawid geïnspireer was om te skryf: “So is die Here dan ’n rotsvesting vir die verdrukte, ’n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here!” (Psalm 9:10-11). Indien ons God se “naam” werklik ken – Sy enorme liefde, wysheid, mag en genade – sal ons gemoedsvrede hê wat onverstaanbaar sal wees vir vleeslike mense van hierdie wêreld. Selfs as ’n gevangene in kettings – gedurig in gevaar om geslaan of tereggestel te word – moedig die apostel Paulus aan: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:4-7).

Verbly julle?
Selfs terwyl in kettings en bewaak deur ’n Romeinse soldaat? Ja! Omdat God heeltemal “werklik” was vir die apostel Paulus. Soos Jesus in die vlees gedoen het, en soos al God se gelowige dienaars deur die eeue heen gedoen het, het Paulus soggens en saans tot God gebid, en God se Woord en Sy wil bestudeer en daaroor gemediteer. Hy het geestelike kommunikasie gehad met God, gewandel en gepraat met God en Hom die ware middelpunt van sy hele wese gemaak. Daarom het Paulus met elke jaar wat verloop het, meer en meer geleer hoe om na dinge te kyk vanuit God se oogpunt. Hy het geleer om God se wysheid en doel in te sien wanneer Hy dinge hier op aarde toelaat, en partykeer selfs orkestreer, sodat Sy algehele Plan vir die mensdom uitgewerk kan word.

Onthou, toe antieke Koning Nebukadnésar Juda binnegeval en verower het, dit geen toeval was nie. “Tyd en lotgeval” (Prediker 9:11) was nie betrokke nie. God het die mense van Juda herhaaldelik gewaarsku om hulle te bekeer en na Hom terug te keer. Hulle wou nie. Dus het God Koning Nebukadnésar as werktuig in Sy hande gebruik om Juda binne te val en te verower – om God se werktuig te wees om Juda te straf en te verootmoedig tot ware bekering! Let noukeurig op die boodskap wat God aan Juda gestuur het deur die profeet Jeremia: “Daarom, so sê die Here van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die Here, en Nebukadnésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ’n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope” (Jeremia 25:8-9).

Wanneer ons dus sien dat die buitelandse vyand begin om hedendaagse Amerika, Kanada en Brittanje binne te val en te verower, moet ons nie verskrik, verward of ontmoedig wees nie. Diegene van u wat die profetiese artikels in hierdie tydskrif gelees en waarlik verstaan het, besef ongetwyfeld nou dat die grote God spoedig gaan ingryp en ons mense kragtig gaan tugtig, tensy ons tot diepe bekering kom en ons wend na die ware weë van God!

Gedurende die grootste beproewings en toetse sal God se ware kinders nogtans verstaan: “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Hulle sal besef dat God beproewings en toetse oor ons bring vir ons eie beswil. Deur die ywerige bestudering van God se woord en meer en meer van God se “gesindheid” in te drink, sal God se mense in die jare wat voorlê besef dat God ingryp deur hierdie regstellende straf oor Sy mense te bring as gevolg van Sy groot liefde, en om sodoende lesse aan hulle te leer vir alle ewigheid – lesse wat hulle onwillig is om op enige ander wyse te leer. Ware Christene verstaan wel dat die grote God sê: “Want Ek, die Here, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie” (Maleagi 3:6).Vandag handel God met hedendaagse Israel – insluitend die Amerikaners en nasies van Britse afkoms – net soos Hy gedoen het met antieke Juda deur hulle in Babiloniese ballingskap te stuur.

Onthou wat God aan daardie Joodse gevangenes gesê het: “Want so sê die Here: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister” (Jeremia 29:10-12).

Namate die stormwolke saampak en die duisternis oor ons mense toesak, behoort ons te onthou wat Jeremia aan Juda gesê het, dat God aan ons “’n hoopvolle toekoms” wil gee. Ons behoort te weet dat wanneer ons mense uiteindelik na God draai “met hulle hele hart”, Hy hulle sal terugbring uit ballingskap en ons mense meer sal seën as wat hulle ooit geseën was.

God sê aan ons: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:31-34). Gedurende daardie tyd sal daar nie meer vals dienaars wees wat die mense sal leer dat God se heilige wet “aan die kruis gespyker” of “mee weggedoen” is nie. Alle mense sal uiteindelik leer om volgens al tien van die Tien Gebooie as lewenswyse te leef. Dan sal daar ware vrede en oorvloedige vreugde oor die hele aarde heers.

Soos Dawid geïnspireer was om aan ons te sê: “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:11-14). Wanneer ons ons aan hierdie grote God onderwerp as ons Vader en wanneer ons sover kom om Hom werklik te “ken” deur Jesus Christus wat in ons leef, dan sal ons in staat wees om na Hom te kyk en ten volle te verstaan dat die absolute Bron van alle liefde en goedheid werklik “in beheer” is. Namate ons groei in hierdie insig, dan werklik, sal “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7).