Israel en sy bure is by die middelpunt van die eeue-oue konflik wat lank gelede reeds in die Bybel voorspel is – konflikte wat sal toeneem teen die einde van hierdie tydperk en wat sal lei tot die Wederkoms van Jesus Christus!

Sal ons ooit vrede in Israel en die omliggende Arabiese lande sien? Bybelse profesie toon hoe die gebeure in daardie streek die toekoms van die ganse wêreld sal bepaal.


Na meer as ’n dekade van militêre betrokkenheid in Irak, is Amerikaanse leiers geskok met die vinnige opgang van die ISIS-beweging (“Islamitiese staat in Irak en Sirië”), wat eeue-oue grense wat deur die Britte bepaal is, verwerp en probeer om regoor ’n oorloggeteisterde oorblyfsel van die ou Ottomaanse Ryk ’n Moslemstaat, wat deur die Shariah-wet regeer word, te vestig.

ISIS-ondersteuners word daarvan beskuldig dat hulle Palestyne werf om hulle saak te bevorder, om hierdie gekwelde streek nog verder te destabiliseer en moontlik ook die huidige regering van Jordanië in gevaar te stel. Israelse leiers raak al hoe meer bekommerd dat die konflik die Palestynse Owerheid ’n broeikas van terroriste-aktiwiteite sal maak en ’n groter bedreiging as ooit vir vrede in Israel kan word. Terwyl die troepe van die Israelse Weermag (IWM) toeslaan op terroriste-selle wat aktief uit die Gazastrook is, is daar bloedvergieting aan beide kante.

Vroeg in Augustus, na ’n bietjie meer as drie weke van daadwerklike pogings van die IWM om Gaza-gebaseerde aanvalle teen Israel te stop, was die geskatte dodetal meer as ’n duisend Palestyne; dit sluit baie burgerlikes tussen wie die terroriste werk in, sowel as ’n paar dosyn Israeli’s, meestal IWM troepe. Amptenare in beheer van die Verenigde Nasies se humanitêre programme, noem die Gaza-situasie “aaklig”.

Hoeveel meer bloed sal nog vergiet word voordat hierdie konflik opgelos is? Hoeveel meer regerings sal opgang maak en weer val? Inderdaad, sal daar ooit ’n tyd aanbreek wanneer die Midde-Ooste blywende vrede sal bereik?

Die goeie nuus is dat u Bybel van ’n tyd praat wanneer daar vrede sal heers, nie net in die Midde-Ooste nie, maar oor die hele planeet Aarde. Daardie tyd sal slegs aanbreek na ’n tydperk van intense oorlog en lyding, soos ons wêreld nog nooit gesien het nie. Indien ons weet na watter profetiese tekens om na op te let, kan ons hoop en vertroue in God se beloofde toekoms van vrede hê, selfs terwyl ons nog verskriklike gevegte en verwoesting ervaar. Wat is ’n paar van daardie tekens?

Eerste teken: Militêre bondgenootskappe oos van die Eufraatrivier

Onthou u die Iran-Irak Oorlog? Dit het van 1980 tot 1988 geduur en meer as ’n miljoen mense is gedood. Die Eufraatrivier het ’n prominente rol in daardie konflik gespeel en u Bybel toon dat dit weer die middelpunt sal wees in geprofeteerde eindtydse gebeure.

Die Eufraatrivier vloei uit Turkye deur Sirië en Irak na die Persiese Golf. Die nasie van Iran lê direk aan die oostekant van Irak. Tydens die geprofeteerde Dag van die Here, sal ’n groot leër van 200 miljoen soldate weswaarts oor die Eufraatrivier beweeg, die Midde-Ooste in.

In die boek Openbaring lees ons van ’n magtige weermag uit die Ooste, wat miljarde mense sal doodmaak. Die apostel Johannes beskryf dit as die sesde-basuin plaag. Let op waar hierdie groot mag sal versamel: “En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat” (Openbaring 9:13-14).

Johannes gaan voort: “Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:15-18).

Dit beskryf ’n wêreldoorlog waarin miljarde mense sal sterf, wanneer ’n leër van 200 miljoen soldate weswaarts oor die Eufraatrivier sal optrek en ’n derde van die planeet se bevolking vernietig! Dit is waarom Jesus Christus aan ons gesê het dat, tensy daardie dae verkort word, geen vlees lewend gered sou word nie (Mattheüs 24:21-22).

Watter wêreldmoondhede is oos van die Eufraat? Kyk na ’n kaart en u sal nasies wat Iran, Indië, China en Rusland insluit vind. Maak seker dat u daardie nasies se militêre ontwikkelings en internasionale bondgenootskappe dophou.

Tweede teken: Groter eenheid tussen Israel se jarelange vyande

In Junie 1967 het Israel geveg in wat bekend geword het as die “Sesdaagse Oorlog”. Israel het te staan gekom teen die gekombineerde magte van Egipte, Sirië en Jordanië en hulle het die Sinaï-skiereiland, die Golan Hoogtes, die Wes-Bank en Oos-Jerusalem verower. Hierdie oorwinning het Israel toegang gegee tot Jerusalem se antieke heilige plekke. Dit sluit die Westelike Muur (ook bekend as die “Klaagmuur”) op die Tempelberg in. Aan die einde van die oorlog het Israel aangebied om die Wes-Bank terug te gee na Palestynse beheer, indien hulle Israel se algehele eienaarskap van Jerusalem sou aanvaar. Gamal Abdel Nasser, Egipte se president van daardie tyd, het by sy Arabiese bure aangesluit en Israel se land-vir-vrede aanbod geweier.

Sewe jaar later, op 6 Oktober 1973, moes Israel homself weer verdedig in wat bekend geword het as die “Yom Kippur Oorlog”. Omdat dit begin het op die Versoendag van daardie jaar, het Israel aanvalle afgeweer uit Egipte en Sirië. Uiteindelik het Israel, Egipte en Sirië ingestem tot ’n Verenigde Nasies skietstilstand-plan om daardie konflik te beëindig.

Sedertdien was daar af en toe militêre aanvalle, sowel as die jarelange intifada (Arabies vir “afskud”) waarin Palestynse weerstand somstyds bloedig uitgebeeld word, teen wat hulle beskou het as onregverdige Israelse oorheersing. Gevegte en bloedvergieting het ook onder die strydende Palestynse faksies voortgeduur; op ’n stadium het die Palestynse Owerheid se president, Mahmoud Abbas, sy nasie beskryf as “op die rand van ’n burgeroorlog” as gevolg van die gevegte tussen sy Fatah-organisasie en die Islamitiese militante groep Hamas – dieselfde groepe wat vroeër verlede jaar in 2014 groot stappe geneem het om versoening te demonstreer deur middel van hulle ooreenkoms toe hulle ’n “eenheids”-regering gevorm het. Sal hierdie eenheid voortduur, of sal eeue-oue voorbeelde van konflik weer na vore tree? Wat ook al die korttermyn antwoord, die geskiedenis bewys dat selfs terwyl intra-Arabiese konflikte voortgaan, strydende Midde-Oosterse nasies nie sal huiwer om kragte saam te snoer om teen Israel te veg nie.

In die noorde bly die nie-Arabiese nasie van Iran ’n bedreiging, terwyl massiewe saamtrekke regoor die land Palestyne in Gaza en elders aanhits om teen Israel te veg “tot die bitter einde”. Iran gaan ook voort met sy strewe om kernwapens te ontwikkel.

Suid van Iran gaan tradisionele geskille tussen Arabiere en Moslems voort, maar studente van Bybelse profesie weet om bedag te wees op die groeiende eenheid onder hierdie magte teen hulle gemeenskaplike vyand, Israel. Terwyl sommige kenners verkeerdelik fokus op Iran as Israel se vernaamste vyand en die belangrikste ontwrigter van die streek, openbaar u Bybel dat dit ’n “koning van die Suide” sal wees wat verskeie Arabiese nasies sal verenig en ’n magsblok sal vorm, so dreigend dat die geprofeteerde “Koning van die Noorde” sy militêre bedrywighede rondom Jerusalem sal verskerp (Daniel 11:40-45). Dit sal ’n verskriklike botsing meebring wat ons wêreld sal skud, maar Bybelstudente sal in staat wees om te erken dat hierdie ook ’n teken is soos geprofeteer, dat Jesus Christus binnekort sal terugkeer.

Derde teken: Internasionale pogings om Jerusalem te beheer

Vir jare lank het Jerusalem se belangrikheid vir drie groot wêreldgodsdienste, Jerusalem se administrasie ’n fokuspunt van internasionale omstredenheid gemaak. Hoewel Israel sedert 1967 beheer uitoefen oor Oos- sowel as Wes-Jerusalem, wil baie ander regerings sien dat Jerusalem internasionaal geadministreer word. Die oorspronklike 1947-Verenigde Nasies Verdelingsplan vir Palestina (VN se Algemene Vergadering Resolusie 181) het voorgestel dat Jerusalem behandel word as ’n corpus separatum – ’n internasionaal geadministreerde sone – en alhoewel hierdie status nooit in werking getree het nie, hoop baie mense nog dat iets soortgelyks bereik sal kan word. In 1984 het Pous Johannes Paulus II in sy apostoliese brief Redemptoris Anno geskryf hy hoop dat ’n “spesiale internasionale gewaarborgde status” aan Jerusalem gegee sal word. Wie mag daardie status waarborg? In 1975 het die VS staatsekretaris, Henry Kissinger, voorgestel dat Jerusalem ’n internasionale stad word met beheer oor die heilige plekke en die godsdienstige administrasie word aan die Rooms-Katolieke pous gegee.

Sal internasionale beheer oor Jerusalem bereik word? Die Bybel onthul dat ’n skokkende wending van gebeure sal plaasvind, waardeur Jerusalem nie deur Israel nie, maar deur ander regeringsmagte beheer sal word. Die apostel Johannes skryf: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Ja, Jerusalem (“die heilige stad”) sal vir 42 maande voor Jesus Christus se Wederkoms, deur heidense nasies beheer word! ’n Groot wêreldmoondheid, bekend as die “Dier” in die boek Openbaring, sal die Midde-Ooste verower en beheer van Jerusalem oorneem vir die drie-en-’n-half jaar voor die Wederkoms van Jesus Christus! Gedurende daardie tyd sal twee profete van God met kragtig getuig en die heidense magte wat dan die Midde-Ooste sal oorheers, teenstaan (Openbaring 11:3-14).

Vierde teken: Diere-offers word herstel in Jerusalem

Indien u die boeke Daniël en Mattheüs in u Bybel gelees het, is u moontlik verward oor die betekenis van die geheimsinnige “gruwel van die verwoesting”. Wat is dit en wat sal dit beteken in die eindtydse profesie? Laat ons eerstens na Jesus se eie woorde kyk: Hy het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheüs 24:15-16).

Dit is duidelik ’n belangrike teken om te verstaan. Dit dui die tyd aan vir God se mense om weg te vlug, om die finale drie-en-’n-half-jaar lange opeenvolgende vernietigende eindtydse profetiese rampe te ontvlug.

Die Griekse heerser, Antiochus Epiphanes het in 167 v.C. ’n bevel uitgereik wat die Jode verbied het om offers in die tempel te bring. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31). Antiochus het nie net die daaglikse offers afgeskaf nie; hy het ook ’n standbeeld van Jupiter Olympus in die tempel opgerig en almal aangesê om dit te aanbid.

Hierdie gebeurtenis, wat ook in Daniël 8 beskryf word, is ’n versinnebeelding van ’n eindtydse mylpaal. “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). Ja, 1,290 dae voor Jesus Christus se Wederkoms sal diere-offers weer afgeskaf word! Jesus waarsku ons as Christene om op te let vir ’n eindtydse gruwel van verwoesting! Net soos Antiochus Epiphanes die tempel in 167 v.C. ontheilig het en die offerande afgeskaf het, so sal ’n goddelose owerheid Joodse offers in die toekoms afskaf! In werklikheid waarsku die apostel Paulus ons teen ’n groot valse profeet wat in die heilige plek sal staan. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

’n Groot valse profeet sal groot wonderwerke verrig en miljoene mense mislei. Hy sal die aanbidding van homself aanmoedig en aanspraak maak op die mantel van godheid. Hierdie groot valse profeet sal ongelooflike wonderwerke verrig, selfs vuur uit die hemel laat neerdaal en hy sal miljoene mense regoor die wêreld mislei (Openbaring 13:13-14)! Ons moet nogtans nie mislei word deur hierdie tekens en wonders nie! Die Skrif sê aan ons: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Daar is egter ’n vangplek. Die Jode het sedert 70 n.C., toe die Romeine die tempel in Jerusalem vernietig het, nie diere geoffer nie. Om die eindtydse offers te kon beëindig, moes hulle tog eers heringestel gewees het! Wanneer diere-offers weer in Jerusalem ingestel word, sal u weet dat die profesieë waarvan Jesus gepraat het, vinnig op pad is na ’n geweldige botsing wat klimaktiese afmetings sal aanneem!

Hou dus die verwikkelings in Israel dop wat tot die herinstelling van diere-offers sal lei. Dit mag of mag nie die herbouing van ’n volskaalse tempelgebou beteken nie. Let op na wat gebeur het toe die Jode teruggekeer het uit die Babiloniese ballingskap rondom 536 v.C. Hulle het ’n heilige plek gehad, maar nog nie ’n tempel nie. Die boek Esra beskryf hulle aankoms by die “huis van die Here” voordat hulle ’n tempel gehad het waarin offers gebring kon word (Esra 3:8). Later, in die verse wat volg, lees ons van die tempel se fondasie wat gelê word.

Die punt is dat offers gebring moet word op ’n “heilige plek”, maar ons het in Esra gesien dat offers daagliks gebring kon word, selfs sonder ’n fisiese gebou wat as ’n tempel bekend staan! Huidiglik word slegs Moslems toegelaat om op die Tempelberg te aanbid; die heiligste plek tans onder beheer van die Joodse godsdienstige owerhede is die Wesmuur (of “Klaagmuur”). Offers sal op die een of ander manier hervat word, hoewel dit nog onbekend is waar en hoe dit sal plaasvind. Wees op die uitkyk vir ’n groot nasionale krisis in Israel om hierdie gebeurtenis te bespoedig!

Vyfde teken: ’n Europese supermoondheid in beheer van Jerusalem

Ons het vroeër geleer van die geprofeteerde “koning van die Noorde”, ’n supermoondheid noord van Jerusalem. Daardie supermoondheid word in Bybelse profesie geïdentifiseer as ’n herlewing van die ou Romeinse Ryk en, voor Christus se Wederkoms, sal sy magte beheer oorneem van Jerusalem. Die profeet Daniël beskryf ook die opkoms van ’n mededingende mag, gelei deur ’n leier suid van Jerusalem, wat teen daardie noordelike moondheid sal druk uitoefen. Let op: “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie” (Daniël 11:40-42).

Die koning van die Noorde sal in die “Pragtige Land” ingaan, waar die moderne staat Israel geleë is. Bybelgeleerdes identifiseer Ammon (wat saam met Edom en Moab uit die koning se hand sal ontsnap) as moderne Jordanië sodat baie mense sal glo dat Jordanië ’n bondgenoot van die Europese moondheid sal wees. Wie sal deel wees van hierdie bondgenootskap teen Israel? Let op na Psalm 83. Assirië (hedendaagse Duitsland) sal ’n alliansie lei wat Moab, Ammon en Edom insluit. Kyk na die kaarte in u Bybel om hulle historiese liggings te vind en as u dit nie alreeds gedoen het nie, skryf vir ’n gratis eksemplaar van ons insiggewende artikel, Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich? om meer te leer van Duitsland se rol as die hedendaagse Assirië.

Wat vertel die Skrif aan ons van die koning van die Noorde? Ons het gesien dat hy ook bekend staan as die “Dier”, maar wie is die Dier? Kyk na hierdie kantlyn aantekening in die Douay-Rheims (New Catholic Edition) van die Bybel, wat kommentaar lewer oor die Dier van Openbaring 17:11. “Dit lyk of die dier waarvan hier gepraat word, die Romeinse Ryk kan wees, soos in hoofstuk 13”. Met ander woorde, die dier van Openbaring 17 sowel as die dier van Openbaring 13 verteenwoordig die Romeinse Ryk. Hierdie Katolieke Bybel verklaar ook Openbaring 13:1 as volg: “Die beeld van die eerste dier is gebaseer op die sewende hoofstuk van Daniël. Hierdie dier beeld die koninkryke van die wêreld uit, koninkryke wat gevestig is op passie en selfsug, wat in elke tydperk vyandig teenoor Christus is en daarna streef om die dienaars van God te onderdruk. Imperiale Rome verteenwoordig hierdie moondheid”.

Ja, die “Dier” is ’n herlewing van die ou Romeinse Ryk. Indien u wêreldgebeure dophou, het u dalk gesien dat die Europese Unie besig is om die politieke, militêre en ekonomiese kenmerke van die ryk wat in die Skrif beskryf word, te ontwikkel. U kan in Openbaring 18 lees van die ekonomiese mag van hierdie ryk.

Namate ons die Groot Verdrukking nader, sal ware Christene toenemend vervolg word. Jesus leer ons nogtans hoe om te reageer wanneer godsdienstige vervolging toeneem. “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry. En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:19-20).

Ons is nou in die geprofeteerde tydperk bekend as die eindtyd. Ons behoort voorbereid te wees vir die Wederkoms. Christus sal Koning oor die hele aarde wees en sal heers vanuit die nuwe wêreldhoofstad, Jerusalem. “En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (Sagaria 14:8-9).

Dank God dat hierdie wonderlike wêreldregering onder Jesus Christus binnekort sal kom. Mag ons met ons hele hart bid: “... laat U koninkryk kom”!