VRAAG: Ek het in my Bybel gekyk vir bewyse van die “Goeie Vrydag” wat my kerk onderhou, maar ek kan dit nie vind nie. Wat sien ek nie raak nie?

 

ANTWOORD: U moet geprys word omdat u die Skrif noukeurig lees! Die Bybel openbaar wat Jesus Christus op die Vrydag voor Sy opstanding gedoen het, maar die waarheid is nie wat die meeste belydende Christene vandag glo nie!

Ons weet uit die Skrif dat Christus ’n volle drie dae en nagte in die graf was – 72 ure lank. Hy moes dit doen ten einde die Bybelse teken van Jona te vervul, soos Hy aan die skrifgeleerdes en die Fariseërs bekend gemaak het. “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheüs 12:39-40).

Hierdie feit op sigself bewys dat die algemeen aanvaarde Goeie Vrydag tot Paassondag kronologies nie korrek kan wees nie, aangesien ’n kruisiging op Vrydagmiddag vir Jesus tot Maandagmiddag in die graf sou moes hou.

Wat sê die Skrif, wanneer is Christus opgewek? Let op hierdie beskrywing: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2).

Haar besoek op die “eerste dag van die week” beteken dat Maria Magdalena in die nagtelike ure ná die Sabbat – voor die son op die Sondag opgekom het na Christus se graf gegaan het – en gevind het dat Jesus nie in die graf is nie. Indien u dus 72 uur terug sou tel, is daar geen manier waarop Jesus op die Vrydag gekruisig kon gewees het nie!

Die Skrif openbaar dat Jesus omstreeks 03:00 nm. gesterf het (Mattheüs 27:46-50). Die Evangelie van Johannes gee aan ons nog ’n belangrike besonderheid oor wat onmiddellik na Sy dood gebeur het. Ons lees: “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:31).

Die “Voorbereidingsdag” is die dag voor die Sabbat, wanneer take van alledaagse werksaamhede verrig is in afwagting op die komende Sabbatsrus. Ons het tog reeds gesien dat Vrydag nie die dag van Christus se dood kon wees nie, aangesien Hy reeds 72 uur dood moes gewees het voor die einde van die sewende dag van die week! Is dit ’n oënskynlike teenstrydigheid in die Bybel? Nee! Let op die beskrywing dat die Sabbat wat sou kom, ’n “groot dag” sou wees. Dit is ’n verwysing na een van die “jaarlikse Sabbatte” (Levitikus 23:6-36). Christus is in die ure onmiddellik voor die Eerste Dag van Ongesuurde Brode gekruisig (vers 6).

Ons weet dus uit die Skrif dat Jesus Christus kort voor sononder begrawe is, voordat die Eerste Dag van Ongesuurde Brode begin het. Ons weet dat Hy 72 uur later, voor die eerste dag van die week begin het, opgestaan het. Dit beteken dat Hy aan die einde van die weeklikse sewende-dag Sabbat opgestaan het. Hy moes dus op ’n Woensdag gekruisig gewees het, nie op “Goeie Vrydag” soos so baie mense nou glo nie. Op “Goeie Vrydag” was Jesus dood in die graf, ter vervulling van die profesie.

Kerke wat aan die Goeie Vrydag en Paassondag tradisies vashou, ontken nie net die duidelike woorde van die Skrif nie, maar ook die enigste teken wat Jesus gegee het as bewys dat Hy die Messias is. Indien u ’n Messias aanbid wat op die Sondag na net 36 uur in die graf opgestaan het, aanbid u nie die ware Jesus Christus van die Bybel nie, maar eerder ’n valse uitvindsel wat deur mense uitgedink is en wat die aandag van God en Sy Waarheid wil wegneem. Om meer te leer oor baie valse leerstellings wat in die naam van “Christelikheid” aangemoedig word, vra asseblief u gratis kopie van ons boekie, Satan se Vervalste Christendom, aan.