Baie mense dink aan die Koninkryk van God as iets abstrak, maar u Bybel openbaar dat dit ’n werklike wêreld-regerende regering sal wees wat deur Jesus Christus gelei sal word, en waarin vandag se Christene ’n wonderlike rol sal speel!


Miljoene belydende Christene is vertel dat hulle “op sal vaar na die hemel” met niks om te doen nie, behalwe om vir alle ewigheid na God se gesig te staar.

Wat sê die Bybel? 
Dit is noodsaaklik om te besef dat die Bybel die enigste onfeilbare gids is van wat werklik in die toekoms gaan gebeur. Verskeie menslike profete en voorspellers het allerhande soorte idees en raaiskote – die meeste van hulle is verkeerd. Die geïnspireerde openbaring van God sê aan ons – dikwels tot in besonderhede – wat gaan gebeur. Die Heilige Bybel openbaar nie slegs net die toekoms nie, maar ook die groot doel wat hier op aarde uitgewerk word.

Die apostel Petrus was geïnspireer om aan ons te sê: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Petrus 1:19).

Hy herinner ons verder “want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21). Dus het God, deur die Heilige Gees, direk die profesieë in die Bybel geïnspireer.

Die Skrif maak dit baie duidelik dat Jesus Christus – wat nou aan die regterhand van God sit – weer sal kom om oor die mense op aarde as Koning van die konings, te heers: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid!” (Openbaring 11:15). Ons word gesê om na te dink en te mediteer oor wat God besig is om te doen: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kolossense 3:1-4). Soos hierdie verse dit stel, wil u saam met Christus in heerlikheid verskyn met Sy wederkoms? Indien wel, behoort u en ek te glo wat God aan ons in Sy geïnspireerde woord sê. Ons behoort gewillig te wees om te doen wat God ons beveel om te doen. Indien ons egter voortgaan om die leuens en wanvoorstellings van hoofstroom Christelikheid te glo dat ons “hemel toe sal gaan” en indien ons handel volgens hul misleidende leringe oor die hele weg tot redding, dan sal ons eenvoudig net “nie daar wees” wanneer Christus sal kom om Sy regering op hierdie aarde te vestig nie!

Stel u die WERKLIKHEID van Christus se Regering voor!

God se geïnspireerde openbaring sê aan ons dat “ … Hy Hom mag [sal] stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21). Vers na vers in u Bybel bevestig dat God Sy regering, Sy wet en Sy lewensweg op hierdie ganse aarde gaan herstel.

Ons lees: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:16-17). In ons verbeelding kan ons ons die glorie van Christus se wederkoms as Koning van konings voorstel – die groot uitroep van die aartsengel se stem wat die aankoms van die soewereine Heerser van die Aarde aankondig, en die magtige geskal van die Laaste Basuin! Wanneer Christus weer kom, sê bogenoemde vers dat ons “altyd by die Here sal wees”. Waar sal dit dus wees?

Die geïnspireerde “gebed van die heiliges” sê baie duidelik dat Christus die ware heiliges “konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10) – nie bo in die hemel nie! Openbaring 20:6 beskryf die beloning van God se ware heiliges om by Christus se heersende Koninkryk aan te sluit met die eerste opstanding: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Terwyl Hy in die eerste persoon praat, sê Jesus Christus aan ons: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Aan daardie werklike Christene wat hulself, asook die wêreld en Satan oorwin, sal ontsagwekkende verantwoordelikhede gegee word onder Jesus Christus, om oor die nasies te regeer en die miserabele probleme van hierdie wêreld se samelewing uit te stryk. Sal ons direk onder Jesus Christus regeer? Het die lewende Christus dalk alreeds ’n plan in gedagte – ’n hele regeringstruktuur wat Hy en die Vader in die Wêreld van Môre sal implementeer?

Die profeet Abraham word die “vader” van die getroue gelowiges genoem (Romeine 4:1, 11-12, 16). Hy, saam met Isak en Jakob, sal die hoogste ampte beklee – moontlik soortgelyk aan kabinetsministers of sleuteladviseurs – in Christus se toekomstige regering (Mattheüs 8:11). Ander uitstaande dienaars van God uit antieke tye sal ook senior poste beklee. In die “visioen” van die toekomstige Koninkryk van God (Mattheüs 17:1-9) word beide Moses en Elia getoon as sleutelfigure in die toekomstige Koninkryk.

God beskryf Koning Dawid van antieke Israel as “’n man na my hart wat al my welbehae sal doen” (Handelinge 13:22). Wat sal Dawid doen in Christus se wêreldoorheersende regering? Baie Skrifgedeeltes gee die antwoord! Hosea sê aan ons, in ’n profesie vir die “laaste dae”, dat: “... die kinders van Israel sal ’n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hosea 3:4-5).

God sê ook aan ons dat nadat die tienstammige “Huis van Israel” en die Huis van Juda (die stamme van Juda en Benjamin) van hul toekomstige ballingskap teruggekeer het: “En op dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die Here hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (Jeremia 30:8-9). Esegiël 34:23-24 en Esegiël 37:24-25 beskryf Dawid as die toekomstige koning oor die stamme van Israel – met die Jode en die Israeliete uiteindelik weer herenig as een nasie (verse 19-22). Daar sal nie meer enige “anti-Semitisme” wees nie, wanneer al die stamme van Israel uiteindelik besef dat hulle ware broers is!

Direk onder Koning Dawid, as heersers oor elke individuele stam of nasie van Israel, sal die Twaalf Apostels dien. Jesus Self het aan hulle belowe: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Mattheüs 19:28).

HEERSKAPPY aan ware heiliges gegee

Wat sou ons moontlik doen, indien u en ek ons werklik aan God oorgee en Christus ons in Sy toekomstige regering gebruik? In die geïnspireerde “Gelykenis van die ponde” [minas, wat ’n geldeenheid was] (Lukas 19:11-19), is aan die getroue dienaars van God heerskappy oor stede gegee in Christus se regering: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17).

“Maar” mag sommige liberale geleerdes opmerk, “dit was slegs ’n gelykenis. U dink tog sekerlik nie dat Christus gepraat het van toekomstige werklike heerskappy oor regtestede hier op aarde nie, of hoe?”

Ja! Ek praat sekerlik daarvan!
Selfs die apostel Paulus – wat nie in gelykenisse gepraat het nie – het dit duidelik gestel: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3).

Sien u nou? Vir bykans 2,000 jaar het verskeie geleerdes, monnike, biskoppe en teoloë desperaat probeer om die volgehoue leringe van die Skrif, dat daar ’n letterlikeregering hier op aarde gevestig sal word onder die direkte leierskap van Christus en die herrese heiliges, “te verwater”! Nogtans het die vroeëre Christene dit almal verstaan en hierdie geïnspireerde waarheid geglo. Toe hy oor die oortuigings van die vroeëre Kerk geskryf het, het die befaamde historikus Edward Gibbon in hoofstuk 15 van sy monumentale werk, The Decline and Fall of the Roman Empire, geskryf:

“Die antieke en populêre leerstelling van die Millennium was nou verweef met die wederkoms van Christus. Net soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, is hulle voortbestaan in hul huidige staat, volgens ’n tradisie wat toegeskryf word aan die profeet Elia, vasgestel op ses duisend jaar. In ooreenstemming hiermee, word afgelei dat hierdie lang periode van arbeid en stryd, wat nou bykans verstreke is, opgevolg sal word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar; en dat Christus met die seëvierende groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik uit die dood opgewek is, op aarde sal regeer totdat die tyd aanbreek vir die laaste en algemene opstanding”.

Terug in die boek Daniël, openbaar die Almagtige God wat sal gebeur teen die eindtyd: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27). Soos ons ook gesien het, stel Petrus dit dat God van Christus se toekomstige heerskappy op die aarde en die “tye van die wederoprigting van alle dinge” gepraat het by monde van al Sy heilige profete, sedert die wêreld begin het (Handelinge 3:21).

Ons het ook gesien dat Christus en die Vader ’n spesifieke regeringstruktuur beplan het, met bepaalde verantwoordelikhede omskryf vir Abraham, Moses, Dawid, die Apostels en ander ware heiliges van God. Ons, die “gewone” heiliges – indien ons toelaat dat Christus ons lewens regeer – sal ook verantwoordelike posisies gegee word om oor individuele stede te regeer of om moontlik spesifieke afdelings in Christus se regering te beklee – wat vanuit die nuwe wêreldhoofstad, Jerusalem sal regeer. Wat ’nopwindende lewe wag binnekort op ons in Christus se komende Koninkryk!

Christus se Glorieryke Koninkryk

God se woord gee aan ons ’n gedetailleerde beskrywing van Christus se wederkoms en die vroeë jare van Sy Koninkryk: “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sagaria 14:1-4). Dan openbaar God: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (vers 9). Dus, Christus en die heiliges sal op die aarde wees – nie bo in die hemel nie!

Direk ná Christus se wederkoms sal Hy al die nasies wat teen Jerusalem geveg het, straf (verse 12-13). Daarna sal “die rykdom van al die nasies rondom ... ingesamel word: goud en silwer en klere – ’n groot hoeveelheid” (vers 14). Dus, soos ons binnekort sal sien, sal God die fisiese volke van Israel en Juda met ontsaglike rykdom seën, wanneer hulle hul bekeer het en teruggebring is na die land van Israel, na hul nasionale slawerny.

Wat dan?
Die meeste hoofstroom Christene het niks gehoor van wat God hierna openbaar nie, omrede hulle nooit geleer was van die Sabbat en die godsdienstige feesdae wat God vir die hele mensdom ingestel het deur alle tye nie. Lees nou wat volgende gebeur na Christus se wederkoms: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (verse 16-17).

Die wêreld se belydende Christene is geleer dat God se Sabbatte en Feesdae “Joods” is – en dus nie onderhou behoort te word nie. Die lewende Christus sal hierdie volke skuddeur letterlik hul watervoorsiening af te sny en uiteindelik “plae” oor hul te stuur indien hulle hardkoppig weier om op te gaan “om die huttefees te vier” (vers 18).

Egiptenare, Chinese, Amerikaners – almal sal leer om hierdie inspirerende Fees van God (en al God se Feeste!) wat die duisendjarige heerskappy van Christus en die gevolglike groot “herfsoes” van siele uitbeeld, te onderhou, wanneer God se waarheid die aarde deurtrek het. Die eerste keer toe God hierdie feeste aan antieke Israel gegee het, was die herfsfees die “fees van die insameling” genoem (Eksodus 23:16). Jesus en die Apostels het hierdie fees onderhou (Johannes 7:1-14), asook al God se ander feeste. Binnekort sal God dit van die hele wêreld vereis om hierdie feeste te onderhou, wat Sy groot plan uitbeeld. Skryf asseblief en vra vir ons baie insiggewende boekie,Die Heilige Dae – God se meesterplan, indien u graag meer wil leer oor hierdie uiters belangrike onderwerp.

Dit mag tans vir ons moeilik wees om ons die opwinding en vreugde van ontelbare duisende mense in te dink wat van oral oor die wêreld sal optrek na Jerusalem om God se Feeste te onderhou. Want, hulle sal weet Christus, die Koning, sal letterlik in persoon daar wees – nie slegs in die Gees nie. Hulle sal optrek om hulle te verheug in God se seëninge in die Wêreld van Môre en om die Koning van die konings te aanbid!

As die outeurs van skoonheid en goeie musiek, het God Koning Dawid en Koning Salomo en andere gelei om luisterryke kore te organiseer om lofliedere aan God te sing tydens spesiale geleenthede (1 Kronieke 15:16; 2 Kronieke 5:13-14). Kan u uself die wonderlike musiek voorstel wat sal saamval met God se Feeste en aanbidding van die lewende Christus te Jerusalem? Kan u uself die luisterryke optogte van hoogwaardigheidsbekleërs voorstel, van manne en vroue uit alle groepe van die samelewing wat na die Heilige Stad sal stroom – ontroer deur die geleentheid om hul Skepper te sien en Hom direk te kan aanbid? Baie mense sal pragtige geskenke saamneem vir Christus, die Koning. Byna almal sal waardevolle dinge saamneem om daarmee die “Here van die Leërskare” te aanbid, waar Hy in persoon op Sy troon in Jerusalem sal sit!

“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8) – dus sal daar ongetwyfeld baie geleenthede tydens Sy duisendjarige heerskappy wees, soos die een wat hierbo beskrywe is, wanneer daar hordes sangers en musikante sal wees wat in volmaakte eenheid sal sing, prys en God aanbid, soos geskrywe is, toe “is die huis, die huis van die HERE, vervul met ’n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul” (2 Kronieke 5:13-14).

Gehoorsaamheid bring SEëNINGE

Die profeet Jesaja sê aan ons: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).

God se groot geestelike wet – die Tien Gebooie – sal die grondslag wees van Christus se regering in die Wêreld van Môre. Deur die onderwysing en leiding van Christus en Sy opgewekte heiliges, sal die hele wêreld leer hoe om God lief te hê en Hom te aanbid en hoe om eerlikwaar hul naaste lief te hê en vir hulle om te gee. God se woord gee ’n beskrywing van daardie tyd: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9).

Jesaja was geïnspireer om die toneel te beskryf wanneer duisende Israeliete teruggebring sal word uit slawerny en selfs baie van hulle kinders aan hulle terugbesorg sal word: “Slaan jou oë rondom op en kyk – hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, en die skatte van die nasies kom na jou toe aan” (Jesaja 60:4-5). Kyk nou na die fisiese seëninge wat uitgestort sal word op die herversamelde Israel en Juda: “Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die HERE jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het. En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in My toorn het Ek jou geslaan, maar in My welbehae het Ek My oor jou ontferm. En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog” (Jesaja 60:9-11).

Dit sal wees soos toe God aan Job “dubbeld” soveel teruggegee het as wat Hy van hom weggeneem het (Job 42:10). Waarlik, die bedorwe en arrogante volke van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme” van Israel is vandag te vinde onder die Amerikaners en die volke van Britse afkoms en die vredeliewende nasies van noordwestelike Europa. Vra verseker ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? aan en bestudeer dit, indien u nog nie hierdie basiese waarheid verstaan nie.

Tensy ’n ongehoorde nasionale berou tot bekering plaasvind, sal ons volke verootmoedig, getugtig en in nasionale slawerny weggevoer word! Dan, wanneer ons begin om ons “les te leer”, sal God ons volke terugneem na die land van Israel en hulle seën op ’n werklik ontsaglike manier.

Daarna, soos ons gesien het, sal die Wet uitgaan van Jerusalem. Die hele wêreld sal God se ware weëleer ken – vrede en vreugde sal einde ten laaste die hele aarde oordek! Uiteindelik sal die “nuwe verbond” verstaan en uitgeleef word deur beide die “Huis van Israel” en die “Huis van Juda” (Jeremia 31:31). God sê immers: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (vers 33).

Wanneer Satan verban sal word aan die begin van Christus se heerskappy (Openbaring 20:1-3) en die nasies terugkeer na die grense wat God lank gelede vir hulle vasgestel het (Handelinge 17:26-27), sal die volke gou oor hul vyandigheid teenoor God en Sy geestelike wetkom. Daar sal dan uitgaande vrede oor die hele aarde wees. ’n “Innerlike vrede” – die “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7), sal dan op die meeste mense neerdaal op ’n wyse soos wat dit nog nooit ondervind was in die hele menslike geskiedenis nie.

God se weë is goed. Die seëninge van Christus se komende glorieryke Koninkryk sal werklik skouspelagtig wees. Mag God die dag verhaas!