Kan u die bose mag om u uitken – en dit oorwin?


Niemand kan ontken dat miljoene mense vandag geboei word deur die okkulte nie. Jong mense in besonder stroom na “vermaak” soos Stephenie Meyer se Twilight novelles. Drie verfilmings van daardie novelles is al vrygestel; een daarvan – The Twilight Saga: Eclipse – het meer as $72 miljoen ge-in met die openingsdag in Junie 2010, meer as enige ander rolprent in die Amerikaanse geskiedenis.

Hedendaagse vermaak hemel voortdurend “nie-dooie” vampiere, spitsvondige en kreatiewe hekse, demoniese privaatspeurders en ander figure op wat optree in ’n skaduwêreld tussen God en Satan, lewe en dood. Die soort van “death metal” musiek tesame met ophemeling van grusame geweld, bring dikwels openlike lof aan die duiwel.

Wie en wat is die duiwel egter? Aan die een kant beskou baie intellektueles dit as primitief en uit die mode om te erken dat bose geestelike wesens bestaan. Aan die ander kant bly dit ’n onderwerp wat miljoene mense fassineer. Indien daar wel ’n duiwel is, behoort ons sekerlik te weet hoe om hom uit te ken en hoe om sy boosaardige invloed te oorwin.

U Bybel verduidelik waarom daar so baie moeilikhede en boosheid in die wêreld is. Ons lees in Openbaring 12:9: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp”.

Hier beskryf u Bybel ’n magtige geestelike wese wat duiwel en Satan genoem word, as “die groot draak” en “die ou slang”. Ons leer ook ’n verstommende waarheid wat baie min mense vandag glo – dat hy die hele wêreld verlei [mislei].

Waarom is daar ’n duiwel? God het nie ’n duiwel geskape nie, maar Hy het wel engelewesens met ’n vrye morele keuse geskape. Hy het drie gerubs of aartsengele geskape – Lucifer, Mígael en Gabriël (in Judas 9 word Migael ’n aartsengel genoem) – en elkeen van hulle het vermoedelik ’n derde van die engele gelei. Een van hierdie drie, Lucifer, het God se teenstander geword (die bewoording “Satan” kom van die Hebreeus vir “teenstander”) en was neergewerp na die aarde saam met ’n derde van die engele. “En ’n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi” (Openbaring 12:3-4). In die Bybel is sterre dikwels simbolies van engele (vergelyk Openbaring 1:20).

Wie is die duiwel? Party van u mag dit skokkend vind, maar u Bybel beskryf Satan as “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4). Hy swerf rond op die aarde en “soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Tipe en antitipe (teenbeeld)

Deur tipe en antitipe te gebruik, beskryf die boek Esegiël in hoofstuk 28 Lucifer se oorspronklike verantwoordelikhede en sy daaropvolgende ondergang. Hier is die koning van Tirus die tipe, en die gerub wat Satan geword het, die antitipe. “Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here Here: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ’n heilige berg; ’n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien” (Esegiël 28:12-17).

Die verantwoordelikheid oor die aarde was aan Lucifer gegee lank voordat mense geskape is. Dit het hom vrygestaan om gehoorsaam of ongehoorsaam te wees, net soos mense die mag het om te kies tussen reg of verkeerd. Lucifer het egter in opstand gekom – hy het geweier om die wil en regering van God uit te voer. Die eerste mens – Adam – was daarna die geleentheid gebied om Satan as die heerser van hierdie wêreld te vervang. Adam en Eva het tóg geswig voor die versoeking en gesondig. Net soos Adam en Eva, het elke mens, uitgesonderd Jesus Christus – Emmánuel, God in die vlees – gesondig. Die Skrif herinner ons daaraan, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23).

God die Vader het ’n tweede Adam gestuur, Jesus Christus, om die duiwel te weerstaan en hom te oorwin. Die Skrif sê aan ons dat ná ’n vas van 40 dae, Jesus fisies uitgeput was, maar Hy het nog steeds die duiwel beveg met die Skrif. Nadat Hy geweier het om Satan te gehoorsaam, beveel Jesus hom uiteindelik: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheüs 4:10).

Jesus het bewys dat Hy nie sou swig voor die duiwel nie. Jesus was in alle opsigte versoek, net soos ons, maar sonder sonde (verwys Hebreërs 4:15). Hy het bewys dat Hy oor die karakter en geregtigheid beskik om oor die aarde te heers. Wanneer Jesus na die aarde terugkeer as Koning van die konings, sal Hy Satan vervang as die heerser van hierdie wêreld en hom vir ’n duisend jaar verban, maar tot dan sal Satan voortgaan om die hele wêreld te mislei. Kan hy u ook mislei?

’n Engel van die lig?

God het antieke Israel gewaarsku om die okkulte te verwerp, asook alle valse aanbidding wat Hy nie self ingestel het nie: “As jy kom in die land wat die Here jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan – wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ’n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die Here jou God hulle voor jou uit. Opreg moet jy wees met die Here jou God. Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die Here jou God het jou nie so iets toegelaat nie” (Deuteronomium 18:9-14).

Dit is skokkend, maar ten spyte van God se duidelike waarskuwing, sien ons elke jaar met Halloween dat miljoene ouers hul kinders aanmoedig om hulle aan te trek as demone, hekse en ander vreemde okkultiese figure, wat ’n grap maak van die okkulte en ’n bespotting van God se opdrag om sodanige praktyke te vermy!

Terwyl baie miljoene mense “meedoen” aan die okkulte, aanbid slegs ’n relatiewe paar mense openlik en bewustelik ’n wese wat hul beskou as die “bose”, of neem deel aan okkultiese godsdiens wat Satan openlik aanbid, of sy demone, of enige verskynsel van boosheid. Dit is nie ongehoord, selfs in ons “moderne” tyd, vir hekse en towenaars om dodelike rituele te bedryf nie – in uiterste gevalle selfs tot die omvang van menslike offers. Andere bedryf weer wat hul beskou as “onskuldige” vorms van okkultisme of die heidendom – volgens beraming is in slegs Amerika alleen, so veel as 300,000 mense wat beoefenaars is van “Wicca” – ’n vorm van veelgodige natuuraanbidding, wat selfs erken is as ’n gewettigde godsdiens deur die Amerikaanse Leër se Kapelaankantoor, wat dan ook pastorale dienste aan militêre Wiccans bied.

Hoe algemeen is Satan-aanbidding dan? Die meeste mense wat Satan aanbid besef nie eens dat hulle hom aanbid nie! Die apostel Paulus verduidelik hierdie sataniese slinkse plan, en wys daarop dat Satan nie altyd sal voorkom as ’n slang of ’n draak nie, maar dat hy homself sal voordoen as ’n engel van die lig! “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:13-15).

Ja, die apostel Paulus het gewaarsku dat Satan sy eie dienaars het wat lyk asof hulle dienaars van geregtigheid is. Dit is waarom ons die lesers van die Wêreld van Môreuitdaag om ons nie te glo net omdat ons beweer dat dit die waarheid is nie. Ons dring by u almal aan om die waarheid in u eie Bybel te ontdek. Onthou u die mense in Berea in Handelinge 17:11? Lukas skryf hulle het “elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was”. Ons behoort almal dieselfde te doen!

Hoe kan u ’n dienaar van Satan uitken? ’n Dienaar van Satan mag opreg wees, hoewel opreg mislei. ’n Dienaar wat woorde spreek wat teenstrydig met die woorde van Jesus Christus en God die Vader is, is sekerlik nie ’n ware dienaar van Jesus Christus nie, maak nie saak hoe opreg hy mag wees nie. Neem as voorbeeld dat party dienaars preek dat Christene nie nodig het om daarna te streef om die Tien Gebooie te onderhou nie (wat Christene weet wel moontlik is deur die inwoning van die Heilige Gees). Hulle glo dat dit Christene vry staan om ongehoorsaam te wees aan hul Redder – in effek keur hulle opstand teen God goed, net soos Satan doen! Onthou, soos die apostel Petrus geskryf het: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van Godongehoorsaam is?” (1 Petrus 4:17).

Die apostel Paulus het ook diegene gewaarsku wat ongehoorsaam is aan God se waarheid: “... maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is – grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek” (Romeine 2:8-9). Die Bybel leer ons duidelik gehoorsaamheid – aan die waarheid, die evangelie, die Tien Gebooie en aan God se geregtigheid. Vervalste godsdiens is een van Satan se misleidings. Hy doen hom voor as ’n engel van die lig, maar lei miljoene mense weg van die ware lig van God se Woord.

Satan werk op ons swakhede

Die duiwel probeer ook altyd om ons menslike natuur uit te buit – wat ydelheid, selfsugtigheid, gierigheid, hebsug en begeerlikheid is! Daar is ’n bose invloed wat, soos die apostel Paulus dit noem “nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”. Paulus verduidelik dat, deur Christus, ons verlos kan word uit ons vorige deelname aan die begeerlikhede van ons menslike natuur. “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Efesiërs 2:1-3).

Ons behoort in staat te wees om ons swakhede en neigings om te sondig in ons menslike natuur te identifiseer. Dit is waarom ons ’n lewende Verlosser nodig het om ons te verlos van ons sondes van die verlede en aan ons die vermoë te skenk om die invloed van die wêreld, van Satan en van ons eie menslike natuur, te oorwin!

Sommige Christene worstel teen hul onbeheerbare woede. Sommige wat te na gekom is, laat toe dat hul gevoelens oorgaan in bitterheid, hatigheid, toornigheid, vyandigheid en haat. Ons behoort kwaad te wees vir boosheid en die weë van Satan, maar mag nooit ’n ander mens haat nie. Ons behoort mense se slegte dade en houdings te verag, maar ons behoort selfs ons vyande lief te hê, soos Jesus ons in Mattheüs 5:44 geleer het.

Wees gewaarsku, Satan kan u beheer indien u nie u woede beheer nie. “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efesiërs 4:26-27). Onbeheerste woede kan lei tot sataniese verbittering en enigeen wat voortdurend verteer word deur woede, sal uiteindelik eindig in die poel van vuur. Moet nie toelaat dat Satan sy sin kry met u nie. Leer om in vrede met ander mense te leef. Ons lees: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:14-15).

Selfs Christene beleef soms moeilike tye en stres as gevolg van die seer en misbruik van die verlede. Hulle mag gevolglik nalatig raak en toelaat dat ’n wortel van bitterheid in hulle posvat. Hulle wil vashou aan die pyn van die verlede en hul selfs verlustig in ’n soort van hoop vir wraak. Wat sê God egter? “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). God sal uiteindelik regverdige oordeel en straf uitdeel aan alle onboetvaardige sondaars. Christene behoort egter te leer om te vergewe! In Sy “raamwerk” van hoe om te bid, het Jesus ons geleer om vir God te vra: “... en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mattheüs 6:12). Bid u op daardie manier? Bid vir u vyande. Leer om te vergeet en te vergewe. U sal Satan dan dwarsboom en u sal nie toegee aan sy gesindheid van kwaadwilligheid en wraak nie!

Satan se lot en Christene se oorwinning!

Ons het ’n paar van die duiwel se plannetjies bekyk en hoe om sy misleidings te vermy. Besef dat Satan se lot alreeds beklink is. Tydens die laaste oordeel sal al die bose mense in die poel van vuur vernietig word. Satan en sy demone sal ook in die poel van vuur gewerp word. “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Mattheüs 25:41).

Ons sien uit na die tyd wanneer al die boosheid verban sal wees van die aarde af. Ons bid: “... laat u koninkryk kom”! Tot dan sal Satan en sy demone voortgaan om ons aan te val en om wie hulle ook al kan, te mislei. Wat kan u doen om hierdie bose mag te oorwin? Christene behoort die invloed van die wêreld, die mag van Satan en sy demone en hul eie menslike natuur te oorwin.

Eerstens benodig ons ’n noue verhouding met God die Vader en Jesus Christus. God sal ons teen boosheid beskerm. Die “raamwerk”-gebed leer ons om van God te vra: “... en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Mattheüs 6:13).

God sal u beskerm en verlos van die bose indien u Hom smeek om verlossing – indien u in woord en daad die Koninkryk van God kies en die koninkryk van Satan verwerp. Soos Hy die apostel Jakobus geïnspireer het om te skryf: “Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:6-8).

God het hierdie beloftes gemaak. Dit is nie nodig dat u toegee aan versoekings of gevoelens van terneergedruktheid of wanhoop nie. Weerstaan die duiwel! God sal aan u die krag gee. Gaan op u knieë en bid tot u Vader in die hemel. Bestudeer die Bybel – God se geïnspireerde woord – en gehoorsaam die opdragte daarin. Toe Jesus gekonfronteer was deur Satan se versoekings, het Hy die duiwel beveg deur die Skrif aan te haal. Jesus het hierdie geestelike wapens gebruik. U behoort dit ook te doen!

Die apostel Paulus sê ons moet ten volle geestelik gewapen wees. “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efesiërs 6:10-13).

Wie is die duiwel? Hy is nóg ’n denkbeeldige figuur, nóg ’n strokiesprentkarakter in ’n rooi gewaad, met horings en ’n stert. Hy is nie ’n kreatuur waarmee mens “pret kan hê” op Halloween nie. Die duiwel is u vyand en wil u graag vernietig. U kan hom ook oorwin indien u gebruik maak van die swaard van die Gees – die Woord van God – en indien uleef volgens daardie Woord. Die apostel Johannes het geskryf: “Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het” (1 Johannes 2:14). U kan gemoedsvrede hê. Handel volgens die woorde van u Bybel en met die hulp van u Verlosser kan u ook vir Satan oorwin!