Vraag: “Waar kom u aan die idee dat die mensdom 6,000 jaar van selfregering gegee is, om gevolg te word deur ’n 1,000 jaar heerskappy deur Jesus Christus?”

Antwoord: Die eerste twee hoofstukke van Genesis toon dat God die aarde in ’n tydperk van ses dae herskep en die voorsate van alle huidige lewe geskape het. Hy het toe op die sewende dag, Sabbat, gerus. So het ’n weeklikse siklus begin waarin die mens vir ses dae moes werk en op die Sabbat moes rus (Eksodus 20:9-11). In Hebreërs 4:3-11 verduidelik die apostel Paulus: Die sewende-dag Sabbat beeld die wonderlike tydperk van vrede en rus uit, wat op hierdie huidige tydperk van menslike aktiwiteite sal volg. God het die apostel Johannes geïnspireer om te skryf dat hierdie toekomstige tydperk, wat sal begin met Christus se wederkoms om Sy Koninkryk te vestig, ’n duisend jaar sal duur (Openbaring 20:1-4) – ’n tydperk dikwels eenvoudig, die Millennium, genoem.

Net soos die sewende dag ’n duisendjarige tydperk in God se plan verteenwoordig, volg dit dat die voorafgaande ses dae van die week ook duisendjarige tydperke verteenwoordig. Die apostel Petrus lig hierdie beginsel uit wanneer hy die verwagting van Christus se wederkoms bespreek: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8).

Hierdie begrip was welbekend aan die Jode in Petrus se tyd. Omtrent 200 jaar voor Christus, het Rabbi Elias geskryf: “Die wêreld het ses duisend jaar verduur: Twee duisend voor die wet, twee duisend onder die wet en twee duisend onder die Messias”. Die befaamde historikus, Edward Gibbon skryf dat “die tradisie toegeskryf was aan die profeet Elia” (Decline and Fall of the Roman Empire, bl. 403). Die Ensiklopedie van die Joodse Geloof (“Millennium”, Adama Books, 1986, bl. 263), vermeld dat die tannaim – rabbi’s van Christus se tyd – hierdie vertolking baseer op Psalm 90, wat deur Moses geskryf is: “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak” (vers 4). Die tannaim het gesê dat net soos daar ses dae in die skepping was, sal die wêreld vir ses duisend jaar voortduur. Die sewende “wêrelddag” sal 1,000 jaar van die Messias se heerskappy wees (Sanhedrin 97a; Avodah Zarah 9a).

Volgens Gibbon was die 7,000 jaar plan van God “deeglik ingeskerp” in die vroeëre Kerk. Die “kerkvader” Irenaeus was opgelei deur Policarp, (’n dissipel van die apostel Johannes). Irenaeus het ongelukkig afgewyk van apostoliese leerstellings, maar hy het blykbaar ’n deel van die Waarheid behou. In Against Heresies (ca. 150 n.C.) praat hy van ’n oortuiging van die vroeëre Kerk: “Dit is ’n relaas van die dinge wat voorheen geskape is, net soos dit ook ’n profesie is van die dinge wat moet kom. Want die Dag van die Here is ’n duisend jaar; en in ses dae is die dinge van die skepping voltooi; dit is derhalwe duidelik dat hulle tot ’n einde sal kom na ses duisend jaar”.

Om verder die algemeenheid van die oortuiging dat die Millennium 6,000 jaar na die skepping van Adam sal begin te illustreer, sal ons baie meer geskrifte van vroeë rabbi’s en “kerkvaders” ondersoek: Rabbi Ketina, Lactantius, Victorinus, Hippotylus, Justin die Martelaar en Methodius, onder andere. Hoewel daar nie altyd op hierdie mans gesteun kan word vir Bybelse waarhede nie, bevestig hulle nietemin hoe wydverspreid hierdie begrip in die vroeëre eeue na Christus se dood was. Dit was eintlik die gerespekteerde siening van die meeste belydende Christengeleerdes deur al die eeue heen, tot vandag toe.

As ’n laaste Skriftuurlike bewys: God het aan Adam gesê dat op die “dag” as hy van die verbode vrug eet, hy sekerlik sal sterf (Genesis 2:17). Nogtans het Adam geleef totdat hy 930 jaar oud was (Genesis 5:5)! Hoe is dit moontlik? Een manier is net soos Methodius en ander vroeëre kerkkommentators verduidelik: Aangesien een dag vir God soos ’n duisend jaar is, moes Adam sterf voor die einde van die eerste duisendjarige dag – en hy het.

Wat is die doel van hierdie 6,000 jaar van menslike selfregering? God laat mense nou toe om, deur middel van menslike lyding wat volg wanneer hulle teen God draai, die lesse te skryf wat hulle noodwendig moet leer. Gedurende die Millennium sal mense vir ’n duisend jaar lank in staat wees om die vrede en eensgesindheid wat sal heers wanneer volgens God se lewensweg geleef word, te kan opweeg teen die voorafgaande 6,000 jaar van oorloë en struweling. Uiteindelik, tydens die tyd van die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11-13) sal alle mense wat nie voorheen deur God geroep is nie, in staat wees om die verskil te ondervind tussen hoe dit is om volgens die mens se manier te leef en om volgens God se manier te leef. Om meer oor God se plan vir die mensdom te leer, vra asseblief u gratis kopie van ons boekie, The World Ahead: What Will It Be Like?, aan.