Kanada en die ander nasies van Britse afkoms is geseën met oorvloed wat ons nie as vanselfsprekend behoort te aanvaar nie.

Honderd jaar gelede het ’n aansienlike meerderheid van Kanada se bevolking in landbougebiede gewoon. Deesdae, net soos ’n groot deel van die Weste, vind ons dat ten minste 90 persent van ons samelewing verstedelik is. Relatief min mense verstaan gevolglik hoeveel werk nodig is om voedsel te produseer en hulle het dus ook nie ’n begrip van die belangrikheid van daardie werk nie. Landboubehoeftes het ’n baie lae prioriteit vir kiesers sowel as politici geword.

Die geskiedenis toon egter dat mislukkings in landbouproduksie gelei het tot die omverwerping van baie regerings. Die mislukkings van oeste van die laat 1780’s in Frankryk word byvoorbeeld beskou as ’n dryfveer agter die Franse Revolusie. Die produksie van vrugte en groente, melk en kaas, vee en pluimvee en veral graan, is werklik die kern van ’n nasie se welvaart en sekuriteit.

Oor die afgelope eeu het die Engelssprekende samelewing ’n surplus voedselproduksie beleef, selfs gedurende tye van oorlog. Waarskynlik is dit ’n belangrike faktor in die voortbestaan van die rykdom, mag en invloed van daardie volke – tog was dit nie altyd die geval nie.

 

Nuwe wêreld, nuwe koring

Gedurende die vroeë 1800’s was die groot vlaktes van Wes-Kanada en die noorde van die Verenigde State geëvalueer vir hulle potensiaal in landbouproduksie, veral met betrekking tot graan. In streke van die land wat nou bekend staan as Saskatchewan, Manitoba en die Dakotas, was daar op daardie stadium gereelde misoeste as gevolg van hewige somerstorms, hael en algemene vroeë ryp.

Met die aankoms van nuwe setlaars uit Europa na die noordelike vlaktes, het hulle hul kosbaarste besitting begin plant – goeie saad van koring. Dit was die geval met een van die heel eerste pogings met landbou op die groot vlaktes: Die Red River nedersetting, wat in 1812 gestig is deur Lord Selkirk en sy koloniste van die Skotse hooglande. Die koloniste het baie keer uiters moeilike omstandighede verduur, soos vroeë ryp wat gelei het tot verskeie misoeste tussen 1812 en 1820.

Regdeur daardie streek het boere ’n aantal variëteite van saad gebruik wat alles van Europese oorsprong was. Die tyd wat dit die saad geneem het om volwassenheid te bereik, het dit wel geskik gemaak vir die Europese klimaat, maar het ’n probleem in die korter somers van Kanada geskep, spesifiek op die noordelike vlaktes. In daardie dae kon ’n misoes hongersnood en verhongering beteken. ’n Oplossing was nodig.

David Fife, ’n boer in Peterborough County, Bo-Kanada (vandag Ontario) wie tussen 1842 en 1848 arriveer het, ontwikkel ’n variëteit van donkerrooi koring wat as Red Fife bekend geraak het. As gevolg van die gewas se vroeë volwassenheid en uitstekende maal- en bakkwaliteit, het dit teen 1876 die dominante variëteit in Kanada en die meeste van die Verenigde State geword. Terwyl dit nie meer op groot skaal verbou word nie, is Red Fife steeds in aanvraag tussen baasbakkers vanweë, wat broodkenners beskou, sy voortreflike geur en bak-eienskappe.

Terwyl Red Fife ’n verbetering was, was daar steeds ’n behoefte aan ’n hoë-gehalte variëteit van koring met ’n korter groeiseisoen. Die bestaande variëteite wat vroeg ryp geword het, het laer opbrengste en swak eienskappe volgens meulenaars gehad voordat dr. William Saunders die voorkoms van landbou in Kanada en die Amerikaanse Noordweste radikaal verander het. In 1886 het Ottawa vir Saunders aangestel om die nuwe Dominion Experimental Farms te bestuur. Sy seuns, maar veral Charles Edward Saunders, het ondersteunende navorsers geword.

Oor ’n tydperk van ses jaar van deeglike en noukeurige kruistelings-eksperimente op die saad van koring van oor die hele wêreld, is ’n massiewe hoeveelheid inligting ingesamel. Karakter-eienskappe van natuurlike kruisteling, soos kleur, maal asook kwaliteite vir bak, stamsterkte en hoogte – alles in vergelyking met tyd van rypwording – kon geïdentifiseer word. Teen 1901, na 15 jaar van uitputtende werk, met inbegrip van die mislukking van verskeie grootskaalse aanplantings, het hulle 58 unieke variëteite geproduseer. Niemand het nogtans al die gewenste eienskappe gekombineer nie en baie waarnemers het gevoel dat hulle werk tevergeefs was en gestaak behoort te word. Saunders en sy seuns het egter tog volgehou.

Hulle deurbraak het in 1904 gekom toe ’n variëteit geproduseer is deur Red Fife (die manlike ouer/saad) met Hard Red Calcutta (die vroulike ouer/saad) te kruis. Die resultaat was koring wat al die eienskappe gehad het waarna oorspronklik gesoek is wat met ’n rypwordingstyd gespog het wat ten minste tien dae korter was – ’n absoluut noodsaaklike eienskap. Dit is die Marquis-koring genoem en is nou die voorouer van die meeste hedendaagse variëteite van koring.

Die eerste keer wat daar op groot skaal met Marquis-koring gesaai was, was in 1909. In 1913 was die eerste besending geregistreerde Marquis-saad in die V.S. afgelewer – ’n 100, 000 skepel/maatemmer. Sedert 1915 het Marquis-koring die dominante koring in Kanada en baie van die Verenigde State se noordelike vlaktes geword.

 

Koring vir die wêreld

Wat Saunders en sy seuns bereik het, het gelei tot ’n massiewe vermindering in die oeste wat weens vroeë ryp verloor is en het die noordelike vlaktes as een van die wêreld se groot broodmandjies gevestig, met die nuwe koringstam wat die streek ’n baie veiliger bron van deurlopende produksie van koring gemaak het.

Die tydigheid van Saunders se werk asook dié van sy mede wetenskaplikes – was veral duidelik met die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog in 1914. Die Kanadese grasvlaktes kon Brittanje en Frankryk van massiewe hoeveelhede van ’n hoë-gehalte stapelvoedsel voorsien. Trouens, geskiedkundiges wys graag daarop dat dit ’n belangrike bydraende faktor was tot die Geallieerdes se oorwinning in albei Wêreldoorloë. “Marques-koring het die oorlogspoging van nie net Kanada nie, maar ook dié van sy bondgenote, die V.K., Frankryk, België en Griekeland aansienlik verbeter” (George Fedak, “Marquis Wheat,” The Canadian Encyclopedia, 4 Maart 2015).

Die ontwikkeling van Marquis het gelei tot die voortgesette ontwikkeling van koringvariëteite wat droogte, siektes en ander bedreigings vir ’n wêreldwye voedselvoorraad die hoof kan bied. “Marquis het ’n permanente nalatenskap agtergelaat. Daar is getoon dat feitlik elke variëteit van koring wat gedurende die afgelope 100 jaar in Kanada geproduseer is, teruggevoer kan word na kruisings wat met Marquis gemaak is” (Canadian Encyclopedia). Voorwaar, dr Saunders en sy seuns behoort met dankbaarheid onthou te word vir hulle onskatbare bydrae.

Dit is ook goed om te onthou dat die hedendaagse afstammelinge van antieke Israel – waarvan Kanada deel is – beloof is dat hulle lande sou besit wat ongelooflike oorvloed van plante en diere sou produseer en dat hierdie seën van God onverpoosd sou voortduur indien hulle gehoorsaam is aan God se opdragte (Deuteronómium 28:1, 11-12). Dat hierdie geseënde lande voortgegaan het om oënskynlik onbeperkte hoeveelhede voedsame kos te produseer, is nie bloot toevallig nie en moet baie waardeer word eerder as om dit as vanselfsprekend te aanvaar. Selfs die pogings van toegewyde navorsers, landboukundiges en boere om so ’n oorvloed te produseer, is ’n groot bate wat aan hierdie mense toegeken is. Hierdie seëninge is nie uit partydigheid gegee nie; dit is bedoel om hierdie nasies se vervulling van ’n selfs groter doel te vergemaklik.

Om meer te wete te kom oor die redes vir hierdie vrygewige geskenk van God, gaan asseblief aanlyn na wvm.co.za om te lees of kontak die streekkantoor naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) om ’n gratis eksemplaar van ons inspirerende en onthullende studiegids aan te vra: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?