Het u al ooit na u lewe en wêreldgebeure gekyk en gewonder: “Wat gaan wérklik aan? Wat beteken dit alles?” Honderde verskillende godsdiensgroepe onderrig verskillende idees, tog maak hulle aanspraak daarop dat hulle in dieselfde God glo. Nasies en volke voer oorlog teen mekaar, tog wil die meeste mense net in vrede gelaat word. Miljoene mense is op soek na geld en ledige uurtjies, net om te vind dat hierdie doelwitte onbevredigend is. Ons bestee ’n leeftyd in die strewe na roem en materiële besittings, net om te sterf, vergeet te word en vir andere om ons skatte deur te bring. Baie mense wonder oor die betekenis van die lewe, maar vind nooit die antwoord nie.

Is daar ’n rede waarom die lewe leeg en verwarrend voorkom? Indien daar ’n God is, weet Hy wat aangaan – gee Hy enigsins om? Het God ’n plan of doel wat Hy hier op aarde bewerk, of is ons alleen in die heelal, eindeloos aan die ontwikkel soos ons die stryd om oorlewing van die sterkste gadeslaan? Die Bybel het die antwoorde op hierdie ingewikkelde vrae en die Kerk van God verkondig hierdie antwoorde al vir dekades! Deur die millennia egter, is hierdie vrae, soos vandag, uitgedaag en bespot deur individue wat ’n ander evangelie verkondig. U moet die waarheid ken wat in die Skrif onthul word.

Agtergrond aangeleenthede

Vir dekades verkondig die Kerk van God deur literatuur, radio-uitsendings en televisieprogramme die feit dat God ’n groot plan en doel op hierdie aarde bewerk. Ons het na ’n 7000-jaar plan verwys wat vir hierdie planeet uitgewerk word. Ons het openlik verklaar dat die Heilige Dae God se plan van verlossing vir die mensdom uitbeeld. Waar het die Kerk hierdie idees gekry? Is daar bewyse om sulke verkondigings te staaf? Kan u hierdie leerstellings vir uself bewys?

Sommige afvalliges het onlangs verklaar: “Daar is geen plan nie.” Hulle onderrig dat die Heilige Dae nie meer vereiste vieringe vir Christene is nie en het gesê dat die Kerk van God foutiewe leerstellings as evangelie verkondig het. Pleks daarvan onderrig hulle dat ons skeppend kan wees in ons benadering van godsdiens, solank ons net die Here “liefhet.” Baie mense het hierdie idees aanvaar sonder om die argumente noukeurig te bestudeer of te vra waarom sulke aansprake gemaak word.

Daar moet op gelet word dat Protestante en Rooms-Katolieke teoloë oor die algemeen nie van ’n “plan van God” praat nie. Hulle praat eerder van “leer ken die Here” of “glo in Jesus” of “word gered” of “neem aan” dat God u liefhet en Jesus vir u gesterf het. Maar hul benadering beantwoord baie vrae glad nie. Waarom blyk die lewe vir baie mense so leeg te wees? Waarom laat God toe dat slegte dinge gebeur? Sogenaamde “hoofstroom” teoloë het geen bevredigende antwoorde vir hierdie vrae nie.

Die meeste belydende Christene glo dat daar nie meer van Christene verwag word om die Bybelse Heilige Dae te onderhou nie. Hulle beskou dit as “legalistiese” praktyke wat sogenaamd deur die Nuwe Verbond afgeskaf is. Pleks daarvan, word hul uitgenooi om Kersfees ter viering van Christus se geboorte te vier en Paasfees ter nagedagtenis aan Sy opstanding, hoewel hierdie feeste hul oorsprong in antieke heidense godsdienste gehad het en duidelik deur die Bybel afgekeur word (sien Deuteronomium 12:29–32; Jeremia 10:1–5)! Indien ’n mens se doelwit aanvaarding in die hoofstroom belydende Christendom is, maak dit sin om Bybelse waarhede wat deur die Kerk van God verkondig word, te verwerp en gewilde idees rondom leerstellings te bevorder. Tog het die hoofstroom Christendom die plan van God uit die oog verloor en ’n begrip van die betekenis van die Heilige Dae verloor omdat hulle opgehou het om God se beveelde Heilige Dae te onderhou. Dit sal ook met enigiemand gebeur wat verkies om dieselfde pad te volg.

Ou Testamentiese teksverse onthul ’n plan

Bevat die Bybel egter bewyse dat God ’n plan op hierdie aarde bewerk? Baie teksverse in die Bybel maak dit absoluut duidelik dat Hy dít wel doen! Toe God met Abraham begin werk het, maak Hy ’n interessante stelling: “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?” (Genesis 18:17–19). Die onmiddellike konteks was die komende straf van die goddelose Sodom en Gomorra. Die boek Genesis dui egter aan dat God aan Abraham die seën bekend gemaak het wat Hy aan Abraham se nakomelinge sou verleen danksy Abraham se gehoorsaamheid. God het beplan om Abraham die vader van ’n menigte van nasies te maak (Genesis 17:5), om sy nakomelinge ’n seën vir die mensdom te laat wees (Genesis 18:18), en om hulle soos die sand aan die seestrand te vermenigvuldig en besit van die poorte van hul vyande te gee (Genesis 22:15–18). Die Skrif onthul dat God deur Abraham en sy nakomelinge ’n plan en doel uitgewerk het.

Die profeet Jesaja is geïnspireer om die besonderhede van God se plan om Satan se invloed, die oorsaak van hierdie wêreld se euwels, te vernietig en die trotse nasie van Assirië dienswillig te maak (sien Jesaja 14:12–25). God sê vir Jesaja: “Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde … want die Here van die leërskare het dit besluit” (Jesaja 14:26–27). Jesaja teken bykomende besonderhede oor God se plan vir Sy uitverkore volk Israel aan: “Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend” (Jesaja 41:8). Die Kerk van God is nie die enigste wat verkondig dat God die Israelitiese nasies vir ’n spesiale doel uitverkies het nie. Winston Churchill het eenmaal gesê: “Dit is voorwaar ’n blinde siel wat nie kan sien nie dat hier ’n groot doel hier onder uitgewerk word, waarvan ons [die Britse afstammelinge en Amerikaanse nasies] geëer is om getroue diensknegte te wees.”

God het die toekomstige aspekte van Sy plan in breë trekke aan Daniël onthul. Daniël teken aan “daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar … aan die einde van die dae … in die dae van dié konings [gesimboliseer deur die tien tone van die beeld] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie” (Daniël 2:28, 44–45; sien ook Daniël 7; 9; 11). Die onthulling van bepaalde profetiese gebeure sou doelloos wees tensy God ’n plan gehad het. Profesie onthul dat God inderdaad ’n plan het wat Hy hier op aarde uitwerk.

Nuwe Testamentiese teksverse onthul ’n plan

Terwyl sommige mense wat bely dat hulle in Christus glo, ontken dat God ’n plan het, dui die Skrif en Christus se eie woorde op iets heel anders. Mattheus teken aan dat Jesus in hierdie wêreld gekom het en “Sy volk van hul sondes sal verlos” (Mattheus 1:21). Voor Sy kruisiging, maak Jesus die stelling “Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom” (Johannes 12:27). As ’n seun van 12 sê Jesus aan Sy ouers: “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49). Jesus het geweet dat Hy vir ’n doel na hierdie aarde gekom het. Hy het ’n werk gehad om te doen en ’n plan om te volg. Jesus sê vir Sy dissipels: “My voedsel [sending, doel] is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om Sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Voordat Hy aan die kruis gesterf het, bid Jesus tot God: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring” (Johannes 17:4). Jesus het Sy sending voltooi. Hy het Sy deel in God se plan vervul. Hy het die evangelie van die komende koninkryk van God verkondig (Markus 1:14–15), die dissipels geroep en opgelei (Mattheus 10:1–26) en vir ons sondes gesterf. Hy het die volgende fase van God se plan deur die Heilige Gees vanuit die hemel ingelei deur die Nuwe Testamentiese Kerk te stig (Handelinge 2).

Die apostels het duidelik verstaan dat God ’n plan en doel hier op aarde uitgewerk het wat vir die meeste mense in die wêreld verskuil is. Paulus skryf “Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid … wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie … maar God het dit [hierdie dinge] aan ons deur sy Gees geopenbaar” (1 Korintiërs 2:7–10). Die “verborgenheid” waarvan Paulus skryf is die begrip van die doel van die lewe, die plan van verlossing, die evangelie van die koninkryk van God en die begrip van profesie, wat alles vir die meeste mense, selfs vir die meeste belydende Christene, vandag nog verborge bly.

In sy sendbrief aan die kerk in Efese, verduidelik Paulus dat God “soos Hy ons in Hom [Jesus Christus] uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld … ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem” (Efesiërs 1:4–5). Paulus het bedoel dat God ’n vooropgestelde plan het wat die roeping insluit van sommige mense om eers opgelei te word as leiers in Sy komende koninkryk, wat dan op hulle beurt ander sal oplei soos die koninkryk uitbrei om die hele aarde te vul (sien Jesaja 2:2–4; 11:9). Hoewel God se plan vir die meeste mense verborge is, skryf Paulus tog dat dit “na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het” is (Efesiërs 1:9–12). Hoewel die plan van God vir hierdie wêreld verskuil is, is hierdie kosbare waarheid gegee aan die “gemeente” om “bekend gemaak [te] kan word, volgens die ewige voorneme” wat God deur Jesus Christus bereik het (Efesiërs 3:8–11). Die Bybel dui aan dat God selfs misleide individue en nasies gebruik om dele van Sy plan uit te voer. Die tien konings wat hul mag aan die eindtyd dier gee, sal teen ’n groot vals godsdiens draai en dit vernietig “want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer” (Openbaring 17:12–17).

Die Skrif toon duidelik aan dat God ’n plan en ’n doel het wat Hy hier op aarde uitwerk. Die Kerk van God onderrig dit vir dekades al. Diegene wat volhou dat daar “geen plan of doel” is nie, is doodeenvoudig verkeerd en spreek nie volgens die woord van God nie (Jesaja 8:20). Soos bewys uit die Bybel verkondig hulle leuens wat mense mislei.

’n 7000-jaar plan?

Deur die jare heen het die Kerk van God verduidelik dat God ’n 7000-jaar plan het. Hoewel dit nie spesifiek in die Bybel geskryf word nie, word dit deur die geskiedenis en Bybelse ooreenkomstigheid verstaan. In die eerste twee hoofstukke van Genesis lees ons dat God die aarde en alle dinge gedurende die “skeppingsweek” in ses dae geskep het – en op die sewende dag gerus het. In sy aanhaling van Psalm 90:4, tref die apostel Petrus die ooreenkoms dat “een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8). Die apostel Paulus tref ’n geestelike ooreenkoms deur God se rus op die sewende dag van die skeppingsweek met ons rus op die Sabbat en die uiteindelike rus vir die Christene gedurende die Millennium te vergelyk (Hebreërs 4:1–11). Gedurende die millenniale rus sal die heiliges saam met Christus regeer vir 1000 jaar, wanneer die koninkryk van God op aarde gevestig word (Openbaring 20:4–6). Die implikasie van hierdie ooreenkoms is dat God se plan vir die mens 6000 jaar toegeken het om hierdie aarde te probeer regeer, gevolg deur die 1000 jaar regering van Christus en die heiliges.

Die idee van ’n 7000 jaar plan is glad nie die uitsluitlike eiendom van die Kerk van God nie. Die geskiedkundige Edward Gibbon vertel: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium is nou gekoppel aan die tweede koms van Christus. Soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, is hul duurte in hul huidige staat, volgens die tradisie toegeskryf aan die profeet Elia, vasgestel op sesduisend jaar. Dienooreenkomstig word daar afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en stryd [ons huidige tyd], wat nou byna verstreke is, gevolg sal word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar; en dat Christus, tesame met die triomfantlike groep heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik opgewek is, op aarde sal regeer tot die tyd aanbreek vir die laaste en algemene opstanding” (Decline and Fall of the Roman Empire, hoofstuk 15).

Die Heilige Dae

Beeld die Bybelse Heilige Dae God se plan uit, soos die Kerk van God onderrig? Presies wat is die waarheid? Wanneer ons vlugtig na elk van die Heilige Dae kyk, sal ons sien wat die Skrif onthul. Die Heilige Dae word in Levitikus 23 beskryf. Hulle word nie as “Mosaïese gebruike” of “Joodse tradisies” beskryf nie, maar as “die feestye van die Here” (Levitikus 23:2). Dit word “’n heilige vierdag” (beveelde samekomste) genoem, bedoel vir samekomste wat “’n ewige insetting” sou wees – nie tydelike vieringe totdat Christus kom nie (Levitikus 23:14, 21, 31, 41). Op die Pasga moes ’n vleklose lam geslag word en God sou die volk van Israel van die sondige land Egipte verlos (Eksodus 12:1–14). Die lam simboliseer Christus se dood vir ons sondes (Johannes 1:29; 1 Petrus 1:19). Johannes onthul dat die offerdood van Jesus beplan was sedert die begin van die skepping (Openbaring 13:8). Die Pasga moet vir ewig onderhou word ter nagedagtenis aan daardie ontsagwekkende opoffering.

Die Dae van Ongesuurde Brode word jaarliks gevier deur vir sewe dae suurdeeg uit ons diëte en huise te plaas (Levitikus 23:6). Suurdeeg is ’n sinnebeeld van sonde, wat selfs die vroeë Nuwe Testamentiese kerk verstaan het uit die lewens van Christene verwyder moet word (1 Korintiërs 5:1–8). Dit is waarom Jesus en die Apostels van die nodigheid om te bekeer en sonde te oorwin, gepreek het (Markus 1:14–15; Handelinge 2:38). Bekering en oorwinning van ons neiging tot sonde is ’n wesenlike deel van God se plan van verlossing vir die mens. Viering van die Dae van Ongesuurde Brode hou ons in gedagte van hierdie uitdaging. Ons sal nie net gered word deur te glo dat Jesus uit die maagd gebore is, gesterf het en opgestaan het nie. Ons moet groei en verander namate ons leer om die gebooie van God te gehoorsaam (Johannes 14:15). Die mening dat Jesus alles vir ons gedoen het, is doodeenvoudig nie waar nie. Die idee van geloof sonder werke word aantreklik wanneer ons die betekenis van die Heilige Dae – veral van die Dae van Ongesuurde Brode – uit die oog verloor, maar dit is ’n foutiewe konsep (sien Jakobus 2:14–26).

Die Pinksterfees word ook die “fees van eerstelinge” genoem (Eksodus 23:16; 34:22). Christene wat in hierdie tyd voor die vestiging van die koninkryk van God geroep word, staan bekend as “eerstelinge” (Jakobus 1:18; Openbaring 14:4). Hulle behels die klein oes wat God insamel om leraars en leiers in die komende koninkryk te wees. Op Pinksterdag is die Heilige Gees gegee en die Nuwe Testamentiese kerk gestig (Handelinge 2). Die Heilige Gees is aan diegene gegee wat God se opdragte gehoorsaam. Indien die dissipels versuim het om Jesus se opdragte te volg, en nie die gebod onderhou het om die Pinksterdag te vier nie, sou die betekenisvolle gebeure van daardie dag nie kon plaasvind nie. Pinkster is die herdenking van die uitstorting van die Heilige Gees – die krag wat God aan ons beskikbaar maak om ons te help om te oorwin.

Die Fees van Trompetgeskal sluit die blaas van basuine in, maar die Ou Testament gee geen rede en verduidelik nie die betekenis van hierdie praktyk nie (Levitikus 23:24). Die boek Openbaring verskaf die besonderhede wat kortkom. Voor Christus se wederkoms, sal sewe basuine geblaas word om die aardskuddende gebeure aan te kondig wat Sy koms voorafgaan (sien Openbaring 8, 9). Jesus Christus sal met die sewende basuin terugkeer (Openbaring 11:15–19). Die beveelde jaarlikse viering van hierdie fees is bedoel om ons gedagtig aan hierdie belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die heelal – Jesus se wederkoms na hierdie aarde – te hou. Wanneer hierdie fees verwerp of geïgnoreer word, word belangrike besonderhede rondom hierdie ontsagwekkende gebeurtenis verskuil en vergete gelaat.

Die Versoendag behels ’n seremonie met twee bokke. Die een wat as sondoffer vir die mense se sondes geoffer word, beeld Jesus Christus se offer uit (Levitikus 16:9–19). Die ander bok, die asásel genoem, dra die sondes van die nasie en is na die woestyn verban deur ’n geskikte man (Levitikus 16:21–22). Joodse tradisie noem die asásel die “vors van gevalle engele” (Satan; sien Esegiël 28:13–19). Die Versoendag is ’n voortdurende herinnering dat Satan – die ware oorsaak van hierdie wêreld se probleme (Efesiërs 2:2; 2 Korintiërs 4:4) – uiteindelik verban sal word (Jesaja 14:16–17; Esegiël 28:19; Openbaring 20:1–3). Dit is ’n baie belangrike deel van God se plan om die oorsaak van boosheid uit die weg te ruim.

Die Loofhuttefees wat volg op die uitbeelding van die wederkoms van Jesus Christus en die binding van Satan, beeld ’n tyd van vreugde uit; ’n tyd van vrede en voorspoed (Levitikus 23:33–40; Deuteronomium 16:13–15), wanneer die heiliges vir 1000 jaar saam met Christus sal regeer (Openbaring 20:4). Dit val saam met die tyd vir die herfsoes en word ook die “fees van die insameling” genoem (Eksodus 23:16; 34:22). Hierdie is die geprofeteerde tyd in God se plan wanneer die wet uit Jerusalem aan die hele wêreld verkondig sal word (Jesaja 2:2–4), wanneer nasies die weg na vrede sal leer, stede herbou sal word (Jesaja 61:4), siektes genees en die omgewing herstel sal word (Jesaja 35:5–7). Alle nasies sal geleer word om hierdie groot fees te onderhou (Sagaria 14:16–21). Dit verbaas dus nie dat Jesus Sy eie dissipels aangespoor het om die Fees volgens Sy voorbeeld te hou nie (Johannes 7:1–14). Die Loofhuttefees bied ’n jaarlikse voorsmaak van en herinnering aan hierdie opwindende tyd, sodat dit nie vergeet word nie.

Die laaste dag van die Fees is ’n aparte vierdag (sien Levitikus 23:39; Johannes 7:37) wat die hoogtepunt van God se plan van verlossing vir die mensdom uitbeeld. ’n Begrip van Openbaring 20 dui aan dat na die 1000 jaar tydperk, ’n groot oordeel sal plaasvind (Openbaring 20:11–12) waartydens almal wat ooit geleef het maar nie die geleentheid gehad het om God te ken nie, opgewek sal word (Openbaring 20:5). In Sy grote genade, beplan God dat alle mense die geleentheid op verlossing moet hê (2 Petrus 3:9). Diegene wat geleef het, maar nie geroep is nie of nie ’n geleentheid gehad het om die evangelie te hoor of verstaan nie, sal hul geleentheid gedurende hierdie tydperk kry. Dit sal nie ’n opstanding tot onmiddellike verdoemenis of beloning wees nie, maar sal ’n tydperk (moontlik 100 jaar – sien Jesaja 65:20) behels waarin die waarheid geleer kan word en die keuse uitgeoefen kan word om dit te onderhou, al dan nie. In God se plan is oordeel nie ’n arbitrêre vonnis nie, maar ’n proses (1 Petrus 4:17) wat die aanleer van regte keuses uitoefen behels (Deuteronomium 30:15–20). Die Laaste Oordeel is ’n jaarlikse herinnering dat diegene wat nie nou geroep word nie, nie verlore is nie! Dit is ’n merkwaardige bepaling van God se plan wat Sy genade en regverdigheid onthul.

Hoewel kritici mag volhou dat die Heilige Dae nie meer onderhou hoef te word nie en daar geen groot “plan van God” of doel op aarde uitgewerk word nie, dui die Skrif en gesonde verstand anders aan! Die lewe kom selfs vir die meeste belydende Christene leeg en verwarrend voor, omdat die hoofstroom Christendom opgehou het om die Heilige Dae te onderhou en sodoende God se groot plan uit die oog verloor het. Dit is waarom baie mense tevergeefs na die betekenis van die lewe soek en dit nooit vind nie. Indien u verstand geopen is om hierdie kosbare waarheid te verstaan, moet u dit nie deur u vingers laat glip nie. Moenie mislei word deur slim redenasies nie. Bewys dít wat u as die waarheid ken. Maak seker dat u verstaan wat die Bybel duidelik onderrig. Laat God u gebruik om hierdie wonderlike evangelie aan die wêreld te verkondig. Dít is hoekom u toegelaat is om God se grote plan te sien en die doel van die menselewe te verstaan.