Die droom van ’n antieke Babiloniese koning werp lig op eindtydse profesieë van die Bybel wat nou in Europa en die Midde-Ooste gestalte aanneem!


In die antieke koninkryk van Babel was die geleerdes en besweerders diep in die moeilikheid. Koning Nebukadnésar het ’n skrikwekkende droom gehad en wou die betekenis daarvan weet. In sy vrees, frustrasie en woede, het hy beveel dat al sy towenaars en sieners onthoof moes word indien hulle hom nie beide die drome en die betekenis kon vertel nie. Hy het gesê: “Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word” (Daniël 2:5). Nebukadnésar het geweet hoe om mense te motiveer!

Onbekwaam om aan die koning se opdrag te voldoen, het die sieners geantwoord: “Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie. Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie” (verse 10-11). Nebukadnésar het gereageer deur te begin met die slagting.

Daniël maak sy verskyning

Daar was ’n jong Jood in gevangenskap vir wie God geseën het met die vermoë om drome uit te lê en profetiese visioene te ontvang. God het die droom en sy betekenis aan hierdie jong profeet, Daniël, bekendgemaak.

Daniël is as jong man gevange geneem nadat die Babiloniërs die koninkryk van Juda verslaan het, om en by rondom die jaar 604 v.C. God het veroorsaak dat Daniël een van die mees gerespekteerde amptenare onder beide Babiloniese en Medo-Persiese heerskappy in Babel geword het as gevolg van sy uitlegging van Nebukadnésar se droom en ander aangeleenthede wat gevolg het. Daniël se historiese tydgenoot, Esegiël, verwys drie keer na hom as ’n man wat bekend was vir sy wysheid en geregtigheid (Esegiël 14:14, 20; 28:3). Jesus Christus het ook na hom verwys as “die profeet Daniël” (Mattheüs 24:15).

Daniël het die koning meegedeel dat hy gedroom het van ’n groot standbeeld, wat die Babiloniese regeringstelsel uitbeeld soos dit sou ontwikkel deur opeenvolgende ryke in die toekomstige geskiedenis (Daniël 2).

Daniël het ’n reeks ryke voorspel, nog voordat hulle bestaan het! Daniël het Nebukadnésar se koninkryk spesifiek geïdentifiseer as die standbeeld se kop van goud. Daarna het hy die standbeeld se bors en arms van silwer beskryf as ’n latere koninkryk wat ons ken as die Medo-Persiese Ryk. Hy beskryf vervolgens ’n maag en bobene van brons – die Griekse Ryk. Dan beskryf hy bene en voete van yster, die oostelike en westelike “bene” van die Romeinse Ryk (waarvan die hoofstede Konstantinopel en Rome was).

Daniel het ook een treffende detail in die koning se droom uitgewys. Die voete en tone van die standbeeld – wat die ryk uitbeeld net voor die Messias se wederkoms, wat bestaan uit tien tone verteenwoordigend van tien konings – sal gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei wees.

Daniël verduidelik: “En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was – dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is – ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie. Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:41-44).

Baie van Daniël se profesie is waar bewys deur gebeure wat lank gelede plaasgevind het. Die Babiloniërs is tot ’n val gebring deur die Medo-Persiese Ryk. Dan, onder Alexander die Grote, verslaan die Griekse Ryk die Medo-Perse. Later het die “Yster Ryk” van Rome die Grieke oorweldig, asook alle ander volke, insluitend Makkabese Juda, net soos Daniël voorspel het. Die “bene” is vervul in 395 n.C. toe die Oos-Romeinse Ryk, algemeen bekend as Byzantium, weggebreek het van Rome en sy hoofstad in Konstantinopel (vandag bekend as Istanbul) gevestig het.

Die verhaal van die tone

Wie is dan “die tone van die voete ... deels van yster en deels van klei”? Geskiedenis het nog nie die vervulling van hierdie profesie aanskou nie. Die Bybel onthul dat hulle konings of regerings aan die einde van hierdie tydvak sal wees, wat deel sal wees van ’n groot en finale herlewing van die Romeinse Ryk. Twee besondere eienskappe sal hulle identifiseer: Daar sal tien van hulle wees, en net soos yster sterk en klei bros is, sal “’n gedeelte van die koninkryk ... hard en ’n gedeelte ... bros wees.”

Die apostel Johannes het in ’n visioen ander duidelike besonderhede gesien aangaande eindtydse sleutelgebeure. “... en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien” (Openbaring 17:3-6).

Net soos die nasie van Israel in die Bybel uitgebeeld word as ’n vrou, en die Kerk – geestelike Israel – uitgebeeld word as die kuis bruid van Christus, beeld die hoer van Openbaring 17, ’n groot vals kerk uit wat aktief sal wees in die laaste dae van hierdie tydvak. Sy sal ’n lewensbelangrike rol speel in die finale herlewing van die groot Babiloniese stelsel wat Nebukadnésar as ’n standbeeld gesien het.

Johannes is ook meegedeel: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (verse 12-14).

Die “vrou” ry op ’n groot politieke moondheid wat “tien horings” het – tien ondergeskikte regerings. Die tien tone van Daniël 2 en die tien horings van Openbaring 17 verteenwoordig dieselfde tien regerings wat aktief sal wees in dieselfde tydperk.

Sekere onlangse geskiedenis

Rome was die laaste setel van hierdie antieke ryk, wat verskeie kere herleef het. Vandag is Rome deel van ’n Europese Unie wat groot woelinge ondergaan wat sy bestaan in sy huidige vorm in gevaar mag stel. Sedert die Europese Unie gestig is, het 17 nasies ’n gemeenskaplike geldeenheid aanvaar, maar nie ’n verenigde fiskale beleid nie. Tot ’n groot mate kan elke nasie spandeer, belasting hef en geld leen net soos dit hul pas. Dit was egter onvermydelik dat in so ’n unie, die sterker industriële ekonomieë soos Duitsland en Frankryk, die swakker ekonomieë soos Spanje, Portugal en Griekeland sou oorheers. Industriële Duitsland het ’n toegevoegde waarde, uitvoer-georiënteerde ekonomie, terwyl die nasies in die suide van Europa meer geneig is tot landbou en derhalwe baie minder waarde per man-uur gewerk, toevoeg.

Om sake te vererger, is die regerings van Portugal, Ierland, Italië, Griekeland en Spanje (waarna gesamentlik verwys word as die PIIGS nasies), betrokke by roekelose maatskaplike spandering, wat gelei het tot onvolhoubare tekorte. Vir ’n tyd lank was hulle in staat om die obligasie-markte te gebruik om hul tekorte te dek teen kunsmatige lae rentekoerse, en het so die waarneembare krag van die EU en die euro uitgebuit. Eintlik het die ekonomies-brose Griekeland op Duitsland se kragtige baadjiepante gery in die obligasie-markte. Die EU-lande het egter nooit mekaar se effekte gewaarborg nie, en namate die totale skuldlas van die PIIGS nasies gestyg het tot onvolhoubare vlakke, het kopers van effekte meer huiwerig geword om aan hulle te leen, en rentekoerse verhoog wanneer hulle wel geleen het.

Die Europese banke het baie van hierdie riskante soewereine skuld gehou, en die vooruitsig van ’n massiewe wanbetaling deur Griekeland of ander EU-lande stuur skokgolwe deur die Europese bankwese. Indien Griekeland se effekte in waarde daal – of in geheel afgeskryf moet word – sal die verlies gedek moet word deur die banke se kapitaalbasis, wat hulle toekomstige vermoë om geld uit te leen kortwiek. ’n Hele aantal groot Europese banke, insluitend Societe Generale en Credit Agricole van Frankryk, se kredietgraderings is afgegradeer en het tans ’n “negatiewe vooruitsig”.

Sommige mense in Europa het gepraat van ’n finansiële “hulppakket” vir Griekeland, maar enige sodanige vrygewigheid sou hoofsaaklik ’n hulppakket aan die banke wees. Die EU se Sentrale Bank het begin om die wankelrige situasie te ondersteun, maar ernstige kommer oor ’n groot bankkrisis bly steeds bestaan. So ’n krisis kan die EU in ’n resessie dompel en selfs die wesentlike bestaan van die Europese Unie in die gevaar stel. Die EU is afhanklik van monetêre eenheid, en indien die euro in duie stort, sal die EU – ten minste in sy huidige vorm – waarskynlik tot ’n einde kom.

Die stres toets

Baie van die EU se leiers is van mening dat die beste manier om hul huidige probleem op te los, is om lede se begrotings en fiskale beleid saam te snoer onder die beheer van ’n federale liggaam. “Tensy die Europeërs instem ‘tot ’n algehele ekonomiese en monetêre unie ... met ’n fiskale unie, met ’n sterk staatsbestuur, met ’n besef dat sommige politieke besluite algemeen aanvaar moet word deur diegene wat die gemeenskaplike geldeenheid deel, sal ons nie slaag nie’, aldus Joaquin Almunia, ’n vise-president van die EU-kommissie, die naaste ding aan ’n sentrale regering in die Unie” (“Experts: Europe needs more perfect Union”, Associated Press, 3 September 2011).

Ander voorstelle behels die herfinansiering van die probleem-skuld met effekte wat in een of ander vorm deur die EU-state gewaarborg word. Duitsland was nie entoesiasties oor sodanige voorstelle nie, aangesien Duitsland op die ou end vir die gelag sal moet betaal, sonder dat die onderliggende probleem van die PIIGS nasies se gebrek aan fiskale selfbeheersing aangespreek word. Dit is duidelik dat, ten einde die finansiële hulp wat hulle nodig het, te ontvang, Europa se ekonomieë wat in die moeilikheid is, noodwendig ’n groot deel van hul soewereiniteit oor hul begrotings sal moet prysgee – en dit is Duitsland wat in die “bestuurder se sitplek” sal wees, as voorwaarde vir die krediet.

“Valerie Pecresse, woordvoerder vir die Franse regering, het gesê ... ‘Euro-effekte is vir ons die einde van ’n proses van konsolidasie in die eurosone, omrede deling in die skuld ook die samevoeging van ons begrotingsbeleide vereis’” (ibid.). Die term “samevoeging van begrotingsbeleide”, is ’n diplomatiese manier om te sê: “Sentrale beheer oor die EU-lande se uitgawes”. Sommige mense, soos die voormalige Duitse Premier Gerhard Schroeder en voormalige Belgiese Premier Guy Verhofstadt, het uitdruklik aangedring op ’n werklike “Verenigde State van Europa” – ’n ontwikkeling wat die Wêreld van Môre-tydskrif en sy voorgangers lankal reeds, vir meer as ’n halwe eeu, uit Bybelprofesie voorspel het!

Is die spanning op die Europese Unie en die euro-geldeenheid te veel vir hierdie relatief nuwe instellings om te dra? Sommige kommentators – Euro-skeptici – is van mening dat die Europese Unie binnekort uitmekaar sal spat en so ook die euro as ’n gemeenskaplike geldeenheid sal vernietig. Sal die Europeërs – wat reeds so ver gekom het met so ’n groot opoffering – hul droom van ’n federale Europa prysgee? Vir minstens die mees toegewyde kern van EU-ondersteuners, is dit ondenkbaar.

Daar is ook ’n ander sienswyse – dat die spanning wat lyk of dit nou die EU uitmekaar gaan skeur, eintlik Europese konsolidasie sal verseker. Hoe kan dit wees? Hoe groter die spanning wat die EU uitmekaar wou skeur hoe sterker is die federale bande wat nodig is om die EU bymekaar te hou. Sommige mense glo dat, sonder die smeltkroes van die huidige krisis, die Europeërs nie die bande van ’n ware federale Europa kan smee nie. Volgens hierdie siening, indien die Europeërs daartoe verbind bly om vorentoe te beweeg in plaas van agtertoe, sal die strome van die geskiedenis hulle meesleur tot ’n ware federale “Verenigde State van Europa”. Dit mag dus ’n groot krisis en ’n groot leier verg om ’n groot oplossing teweeg te bring!

Is dít die tone?

Nasies gee selde hul soewereiniteit vrywillig prys – dit word gewoonlik met geweld afgeneem. Nogtans, indien die EU bly voortbestaan en ekonomiese rampspoed vermy, glo baie mense dat dit nodig sal wees vir die lidlande om hulle mag en gesag oor te gee aan ’n sentrale Europese regering.

Waarnemers wat die politieke situasie in Europa verstaan, is dit eens dat Duitsland die belangrikste finansiële mag sal moet wees om vir so ’n reëling te betaal, en dus daarop sal aandring om die dominante rol te speel. Duitsland sal in ’n posisie wees om aan te dring op ’n heronderhandeling van die huidige politieke struktuur van die EU, en om toesig te hou oor die oplegging van veel groter sentrale politieke en ekonomiese beheer oor lidstate, sodat swak state beter beheer of selfs uit die Unie verwyder kan word. Hoe dit ook al sy, min mense verwag nou dat die huidige opset van ’n 27-nasie EU en ’n 17-nasie Eurosone, sal voortbestaan. Lees “’n Nuwe Europa Verrys!” elders in hierdie uitgawe, vir ’n Britse perspektief op hierdie ontwikkelings.

Dink terug aan die tone van die voete in Nebukadnésar se droom. God het in ’n visioen aan die apostel Johannes geopenbaar dat, teen die einde van hierdie huidige tydvak, daar ’n herlewing van die Romeinse Ryk sal wees, wat sal bestaan uit tien nasies of konings wat “hulle mag en gesag sal gee” aan die voortsetting van die antieke Babiloniese stelsel. Hierdie tien nasies sal gedeeltelik swak en gedeeltelik sterk wees, soos tone van yster en klei. Sien ons dalk die totstandkoming van daardie tone?

Ons moet ook onthou dat ekonomiese gebeure nie afsonderlik van geopolitieke ontwikkelinge plaasvind nie. Selfs terwyl hulle ’n finansiële krisis moet konfronteer, sien Europeërs ’n herlewing van radikale Islam aan hulle suide, en ondervind hulle die gevolge daarvan selfs in hulle eie nasies. Baie mense buite Europa dink nie daaraan dat, so onlangs as 1683, Moslemse militêre magte al by die hekke van Wenen was nie. Deesdae groei Islam regdeur Europa, veral as gevolg van immigrasie, en baie prominente stemme (insluitend dié van Pous Benedictus XVI) dring by Europeërs aan om hul erfenis as Rooms-Katolieke terug te eis en die verspreiding van sekularisme en Islam teen te staan. Sal ’n sterk sentrale leier Europa verenig teen die verspreiding van Islam?

Kyk net!

In Sy “Olyfberg Profesie” maak Jesus Christus melding van wat Hy eeue vroeër deur Daniël profeteer het: “En wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien ...” (Markus 13:14) Christus herinner ons daaraan dat, in die eindtyd, Christene in staat sal wees om gebeure in die wêreld en hul betekenis, in die konteks van Bybelprofesie, te identifiseer. “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur” (verse 28-29).

Hy sê verder: “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ’n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (verse 32-37).

Die boek Daniël onthul Nebukadnésar se droom, wat aan ons duisende jare van vervulde profesie toon en die verhoog voorberei vir wat gaan kom in die jare wat binnekort voorlê. Nie lank van nou af nie, sal ons die geprofeteerde tien tone “wat deels sterk en deels bros” is, sien. Dit is egter nie die einde van die storie nie. Ons lees: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Die tone van yster en klei sal plek maak vir die geprofeteerde Koninkryk van God. Die mensdom se patroon van Babiloniese heerskappy sal vir ewig vervang word deur die volmaakte regering van Jesus Christus. Mag God daardie dag bespoedig!