Hoe het Christelikheid heel eerste na Europa se westelike eilande gekom? Wat het met die ware evangelie gebeur? Waarom maak daardie geskiedenis deesdae saak?


Min mense verstaan die verstommende godsdiensdrama wat oor die eeue heen in Brittanje, Ierland, Skotland en Wallis afgespeel het. Sleutelgedeeltes van die verhaal is verlore, vergete of verdoesel. Die koms van ware Christelikheid na Europa se westelike eilande is egter ’n merkwaardige verhaal wat vir óns vandag lewensnoodsaaklike lesse inhou.

Die ware geskiedenis van Christelikheid in Europa se westelike eilande werp ook lig op ’n dodelike ernstige stryd wat na ’n klimaks toe beweeg en nie slegs mense behels nie, maar ook kragtige geestelike magte. Wanneer u uitvind wat gebeur het, kan u begin verstaan waarheen huidige gebeure lei – gebeure wat bestem is om die hele wêreld in die nabye toekoms te raak. Indien ons die lesse van die verlede ignoreer, sal ons moderne geslagte ontsettende gevolge moet dra!

Bewerings en aannames

Wanneer ons die geskiedenis van vroeë Christelikheid in Europa se westelike eilande begin navors, is een van die eerste ontdekkings wat ons maak, dat moderne geleerdes se tipiese aannames nie strook met die duidelike aangetekende geskiedenis soos dit in die Bybel en in sekulêre bronne bewaar is nie. Richard Fletcher, ’n historikus aan die Universiteit van York, is tiperend in sy mistastende aanname dat “die indruk wat deur Lukas geskep word [in die boek Handelinge] van ’n ordelike en beheerde verspreiding ... misleidend is ... dit is redelik duidelik dat Christelikheid vinnig en wanordelik na die ooste en weste versprei het, sonder duidelike strategie of leierskap” (The Conversion of Europe, bl. 14). Die Katolieke teoloë, John Walsh en Thomas Bradley, skryf: “Christelikheid het Ierland waarskynlik in die vierde en vyfde eeue binnegekom deur ’n stadige en onbeplande infiltrasie” (The Story of the Irish Church, bl.1). Hierdie aannames deur Fletcher, Walsh en Bradley ignoreer die duidelike feite opgeteken in die Bybel en in die geskiedenis.

Die Bybel openbaar dat God nie op ’n wispelturige en lukrake wyse werk nie. Die apostel Paulus skryf: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (1 Korintiërs 14:33). Jesus het twaalf dissipels geroep en opgelei om die evangelie te versprei (Lukas 6:12-16). Hulle moes eerstens na die “verlore skape van die huis van Israel” gaan en later na die heidene (Mattheüs 10:5-6, 18). Paulus is na die heidene en die kinders van Israel gestuur terwyl Petrus primêr na die Jode gestuur is – dié in Judea en ook die in “verstrooiing” (Handelinge 9:15; Galasiërs 2:7-8). Toe Filippus in Samaria gepreek het, het hy sy aktiwiteite gekoördineer met die hoofkwartierkerk in Jerusalem (Handelinge 8:5-14). Die apostel Paulus het dieselfde patroon gevolg (Galasiërs 1:18-19; 2:1-2). Die boek Handelinge toon dat God die verspreiding van die evangelie gelei het op ’n bonatuurlike wyse (Handelinge 10; 13:1-2; 16:6-10) en dat Hy die strategie en leierskap daargestel het wat die verspreiding van vroeëre Christelikheid beheer het.

Die apostel Paulus het later predikers en leraars na spesifieke gebiede gestuur: Tichikus na Efese, Crescens na Galasië en Titus na Dalmasië en Kreta (Efesiërs 6:21-22; 2 Timotheüs 4:10; Titus 1:5). Dit strook met wat in latere geskiedenis opgeteken is aangaande die Apostels se georganiseerde bewegings. Die vroeëre kerk se historikus, Eusebius, skryf: “Thomas ... is gekies vir Parthië, Andreas vir Skithië, Johannes vir Asië” (Ecclesiastical History, Bk. 3, hfst.1). Cressy, ’n Oxfordgegradueerde en Benediktynse monnik in die 17de eeu, skryf dat die Apostels lootjies getrek het om die wêreldstreke te verdeel waar hulle die evangelie moes verkondig (Church History of Brittany, vol. 4, Bk. 1, hfst. 6). Gefragmenteerde brokke kerkgeskiedenis mag lei tot die verkeerde aanname dat Christelikheid op ’n chaotiese wyse versprei het, maar die volledige annale van die Bybel en die geskiedenis onthul iets heel anders.

Bewyse geïgnoreer

Moderne sekulêre leraars dra ongelukkig dikwels ’n baie verkeerde indruk van dít wat bekend kan wees aangaande die reise van die Apostels en van die aankoms van Christelikheid in Europa se westelike eilande oor. Clemens, die vierde biskop van die Roomse kerk, skryf in die laat eerste eeu dat die apostel Paulus “nadat hy in die ooste en weste gepreek het ... regverdigheid aan die hele wêreld geleer het en na die verste uithoek van die weste gekom het” (Epistle to the Corinthians, hfst. 5, in Ante-Nicene Fathers, vol. 9, bl. 231). Sommige mense dink dat Clemens se uitdrukking “verste uithoek van die weste” na Rome verwys, terwyl andere dink dat dit na Spanje of Brittanje verwys. Nogtans toon enige kaart van die Romeinse Ryk in die eerste eeu aan dat die Britse Eilande ­– nie Rome of Spanje nie – die westelike uithoeke verteenwoordig het. Gildas,’n Britse monnik in die sesde eeu, het opgemerk dat “die Britse eiland byna aan die einde van die wêreld lê, na die weste en noordweste” (The Ruin of Britain, Bk. 3, hfst. 1, Winterbottom, red., bl. 16).

Tertullianus, biskop van Carthago in die tweede eeu, skryf: “Die streke van Brittanje wat nooit deur die Romeine binnegedring is nie [suidwestelike Engeland, Wallis en Skotland] het die godsdiens van Christus ontvang” (Def. Fidei. bl. 179). Eusebius, biskop van Cesarea in die vroeë 300s, teken aan dat “die Apostels oor die oseaan gegaan het na die Eilande wat die Britse Eilande genoem word” (Demonstratio Evangelica, Bk. 3, hfst. 5). Eusebius het toegang gehad tot ’n noemenswaardige biblioteek by Cesarea, wat oor bronne beskik het wat sedertdien verlore geraak het. Teodoret, biskop van Ciprus in Sirië (circa 430 n.C.) konstateer: “Paulus, vrygelaat uit sy eerste gevangenskap in Rome, het die Evangelie aan die Britte en andere in die Weste verkondig ... en aan die Kimriete [die Wallisers]” (D.Civ. Gracae Off., Bk.9). Ongeveer 300 n.C. het Dorotheous, die biskop van Tirus, gesê: “Aristobúlus, vir wie Paulus gegroet het, [Romeine 16:10] was biskop van Brittanje” en dat Simon Selotes ook na Brittanje gekom het (Synopsis de Apostol., Synops. 9, 23). Gildas sê dat die koms van Christelikheid na Brittanje “heel eerste geskied het, soos ons weet, in die laaste jare van keiser Tiberius [14-37 n.C.]” (The Ruin of Britain, bl. 18). Dit beteken Christelikheid het in Brittanje arriveer, nie later nie as 37 n.C. – minder as ’n eeu na Christus se kruisiging. Gildas het ook die Britte as God se “hedendaagse Israel” uitgeken (ibid. bl. 28).

Geleerdes in vorige eeue het hierdie vroeëre verslae aanvaar as betroubare weergawes van die geskiedenis. James Ussher, aartsbiskop van Ierland en een van die grootste geleerdes van die 17de eeu, het heelwat bewyse voorgelê dat Jakobus, Simon Selotes, Simon Petrus, die apostel Paulus en andere Christelikheid in die eerste eeu na Europa se westelike eilande gebring het (The Whole Works of James Ussher, vol. 5, hfst. 1, Erlington). ’n Engelse Jesuïet en Oxfordstudent, Robert Parsons, het in sy 17de eeu se werk, The Three Conversions of England, aangevoer dat die Apostels eers Christelikheid na die eiland gebring het en dat die “Christelike godsdiens in Brittanje begin het binne vyftig jaar na Christus se Hemelvaart” (bl. 14). Moderne geleerdes ignoreer hierdie bewyse wanneer hulle beweer dat die verspreiding van Christelikheid na Europa se westelike eilande “geen naspoorbare bewyse nagelaat het nie” en dat dit “vir ewig verlore is”.

Feite teenoor fabels

Wat het egter van die ware evangelie geword wat die Apostels in die eerste eeu na Europa se westelike eilande gebring het? Hoe strook bogenoemde verslae met die algemeen aanvaarde tradisies dat Patrick die Iere in die vyfde eeu bekeer het en dat Augustinus Christelikheid in die sewende eeu na Engeland gebring het?

Agtenswaardige geleerdes maak verrassende erkennings aangaande hierdie punte. Ierse Katolieke historici vertel dat “St. Patrick tradisioneel die krediet kry dat hy die hele Ierse ras uit heidendom bekeer het in die kort tydperk tussen 432 en 461 ... ons moet egter erken dat daar sekerlik Christene in Ierland was voor Patrick se aankoms ... en dat dié heilige slegs in ’n gedeelte van die eiland gewerk het [die noorde]” (Walsh and Bradley, bl.1). Die Ierse skrywer, Liam de Paor, skryf dat “Ierland nie deur een man [Patrick] bekeer is nie ... dit mag wees dat Christelikheid die westelike land [Brittanje] en die suidelike Ierse see bykans onafhanklik van die Roomse stelsel bereik het op ’n baie vroeëre datum ... eeue voor Patrick” (Paor, bll. 21, 23). Daar is oorlewerings dat die apostel Jakobus die evangelie in Ierland verkondig het voordat hy na Jerusalem teruggekeer het, waar hy ’n marteldood gesterf het (sien MacManus, The Story of the Irish Race, bl. 103). Baie geskiedkundige bronne bevestig inderdaad dat die apostels ware Christelikheid na Ierland gebring het, vier eeue voor Patrick se besoek. Die storie dat Patrick die eerste persoon was om Christelikheid na Ierland te bring, is ’n verdigsel!

Oorlewerings aangaande Augustinus lyk ook baie anders wanneer ons die besonderhede van die geskiedenis ken. Beda, ’n Angel-Saksiese monnik wat in die 700s in noordoos Engeland gewoon het, het – wat die primêre bronboek van hierdie periode genoem word, geskryf – The Ecclesiastical History of the English Nation. Beda was ’n hoogsgerespekteerde geleerde, maar hy was ook ’n “Middeleeuse storiedokter” genoem, omdat hy geneig was om “stories reg te dokter” deur dinge te verswyg of te verdraai wat nie ingepas het by die storie wat hy vertel het nie. As ’n Sakser, het hy die Saksers opgehemel en die Britte verkleineer. Hy was ook ’n entoesiastiese ondersteuner van Rooms-Katolisisme. Hy skryf niks oor die Apostels wat na Engeland en Ierland gekom het nie, maar maak melding daarvan dat Christene reeds voor Augustinus in vroeëre Brittanje was en fokus eerder op Augustinus asof hy die “bringer van die ware geloof” na die Britse nasie was.

Wanneer ons egter Beda se verhaal noukeurig lees, raak dit duidelik dat die Britse biskoppe wat alreeds op die eiland gewerk het, niks met Augustinus of die godsdiens wat hy verteenwoordig het, te doen wou hê nie! Hulle wou nie die Rooms-Katolieke herdenking van Paasfees of hulle metode van doop aanvaar nie en ook nie die idee dat Rome aan Augustinus magtiging kon verleen om Aartsbiskop van Engeland te word nie. Augustinus het aan die Britse biskoppe gesê: “Julle tree in baie opsigte op in stryd met ons gewoonte, of eerder die gewoontes van die universele kerk” (Beda, Bk. 2, hfst. 2). Beda beskryf wat hy noem die “foute van die Britte” en meld dat die “Skotte in geen opsig in hulle gedrag van die Britte verskil nie” (ibid., hfst. 4). Toe hy verduidelik waarom die Skotse biskoppe, tydens ’n konfrontasie in Witby in 664 n.C., geweier het om die Roomse Paasfees te aanvaar, het Beda geskryf dat hierdie biskoppe ’n ou gebruik handhaaf – “dieselfde as wat die Heilige Johannes, die Evangelis, die dissipel van onse Here, tesame met al die kerke waaroor hy aangestel is, volgens berigte gehou het” (ibid., hfst. 25).

Beda se verklaring openbaar dat die Skotse biskoppe eintlik die Bybelse Pasga onderhou het (aan die begin van 14 Nisan, kort na sononder) en die Dae van Ongesuurde Brode (sien Levitikus 23:4-8). Beda het die Skotte se beroep op Bybelse praktyk en apostoliese tradisie teengestaan met ’n verwysing na die toenmalige gewoontes van die Roomse Kerk en hulle belaglik gemaak as “die Pikte en die Britte, wat dwaaslik in hierdie twee afgeleë eilande van die wêreld ... die res van die heelal teengaan” (ibid., Bk. 2, hfst. 25). Tog het hierdie selfde stryd al eeue tevore in Klein-Asië gewoed toe ’n Roomse biskop die volgelinge van Johannes (genaamd Quartodecimane) uit die kerk geban het omdat hulle die Pasga op 14 Nisan gehou het in die plek van die Roomse Paasfees. Na die konfrontasie by Witby het die oorblyfsels van apostoliese Christelikheid teruggetrek na Skotland, Wallis en suidwes Engeland terwyl die Saksers en uiteindelik meer Britte Rooms-Katolisisme begin aanhang het. In Europa se westelike eilande is die oorspronklike leerstellings van Christelikheid opsy geskuif deur ’n ander evangelie, afkomstig uit Rome.

Hoe die waarheid verlore geraak het

Waarom het die waarheid aangaande die eerste aankoms van Christelikheid in Europa se westelike eilande – en die lot van die ware evangelie aldaar – verdoesel en vergete geraak? Waarom word so baie duidelike geskiedkundige annale opsy geskuif? Daar is verskeie redes. Die Bybel onthul dat ware Christelikheid in ’n stryd gewikkel is met bose magte: Satan, sy demone en wie hulle ook al kan beïnvloed (Efesiërs 6:10-12). Sekulêre historici en liberale teoloë neem hierdie geestelike dimensie nie ernstig op nie, hoewel dit in ’n groot mate verduidelik wat met die ware evangelie gebeur het. Satan, as God se teenstander (Jesaja 14:12-15) het gepoog om God se plan reg van die begin af te fnuik en te ontspoor. Satan was agter die pogings om Jesus dood te maak en Sy prediking te beëindig (Mattheüs 2:1-18; Mattheüs 26:1-5; Johannes 8:37-44; Johannes 13:2). Satan poog ook om ware Christelikheid te ondermyn deur die verspreiding van ketterse en subtiel-misleidende idees te bevorder (sien Handelinge 20:29-30; 2 Petrus 2:1-3).

Foutiewe menslike redenasies het ook ’n rol gespeel in die verdoeseling van die ware evangelie. Die Bybel verduidelik: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Oor die eeue heen het sommige mense gedink dit is maar reg om voormalige heidene toe te laat om hulle gunsteling godsdienstige praktyke te bly beoefen, solank hulle dit net in ’n ander gees doen, omdat dit hulle dan mag help om “Christenskap” te aanvaar. Dit is waarom die heidense vieringe van Kersfees, Paasfees, die heiliges se dae, asook aanbidding van hulle beelde en gebede vir die afgestorwenes, onderskryf was deur die Roomse kerk. Nogtans verdoem die Bybel in werklikheid hierdie praktyke (sien Eksodus 20:1-7; Deuteronomium 12:29-32; Jeremia 10:1-5). Aangesien sodanige gebruike in die kerk oorgeplant was, is ware Christenskap uiteindelik vervang deur heidense gebruike.

Menslike vooroordeel het ook ’n rol gespeel in die verdoeseling van die waarheid. Na die eerste eeu se Joodse opstand teen Romeinse gesag, het gebruike wat na Joods gelyk het – Sabbatonderhouding, die hou van die Bybelse Heilige Dae en die navolging van Bybelse dieetwette – onderwerpe van smaad en afsku geword, alhoewel dit deur Jesus, Sy dissipels en die vroeëre kerk onderhou was (sien Lukas 4:16; Handelinge 17:2; 18:21). Dit het eeue van vasberade pogings geverg om hierdie leerstellings uit te wis, soos ons sien uit die Quartodecimaanse omstredenheid in Klein-Asië en in Engeland. Baie geleerdes is vandag vinnig om Aartsbiskop Ussher se foutiewe berekening dat die aarde in 4004 v.C. geskape is, as ’n verskoning te gebruik om sy ander geskrifte af te kraak en in onguns te bring, insluitend sy deeglike geskiedenis wat bewyse voorgelê het van hoe die Apostels die evangelie in die eerste eeu na Europa se westelike eilande gebring het.

Daar is nog ’n rede waarom die waarheid aangaande die eerste aankoms van Christendom in die Weste en aangaande die ware Christenskap van die Apostels verbloem en vergete geraak het. Soos historikus Fletcher dit so slim stel: “... die geskiedenis word deur die oorwinnaars geskryf” (Fletcher, bl. 75). Hy verduidelik dat in die teologiese dispute wat oor die eeue heen gewoed het, individue of groepe wat aan die verloorkant geëindig het – hetsy reg of verkeerd – “sistematies beswadder en hulle geskrifte uitgesnuffel en vernietig is” (ibid.) – presies wat in Brittanje en Ierland gebeur het. Die Britse biskoppe wat Augustinus en die leerstellings van die Katolieke Kerk teengestaan het, is bestempel as “verraderlike mense” en honderde is vermoor (Beda, Bk. 2, hfst. 2). Beda se bevooroordeelde geskiedenis is vandag oral beskikbaar in Engels maar Ussher se teks – wat lank erken was as die “mees akkurate weergawe” van die vestiging van Christelikheid in Brittanje – is, indien dit hoegenaamd opgespoor kan word, uitsluitlik in Latyn beskikbaar. Geen wonder dan dat fundamentele waarhede vergete geraak het nie.

Maak dit vandag saak?

Ons kan belangrike lesse leer uit die epiese stryd wat in Europa se westelike eilande plaasgevind het. Ware Christelikheid het vir ’n rede weswaarts versprei. Die Apostels het na die eilande in die see gereis omdat Jesus hulle opdrag gegee het om na die “verlore skape van die huis van Israel” te gaan (Mattheüs 10:6). Die Angel-Saksiese-Keltiese volke is Israeliete wat oor baie eeue van hulle ou tuisland in die Midde-Ooste migreer het na hierdie eilande waar hulle spesifieke seëninge, wat aan hulle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob belowe is, geërf het (vir meer oor hierdie noodsaaklike sleutel tot profesie, vra asseblief ons gratis boekie aan: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?).

Saam met daardie seëninge het egter Godgegewe verantwoordelikhede en waarskuwings gegaan! God het die Israeliete gekies om as voorbeelde te dien van ’n manier van leef wat ander nasies sou raaksien en wou navolg (Deuteronomium 4:1-10). Die Israeliete moes hulle kinders God se manier van leef leer en moes nie enige van Sy opdragte kompromitteer nie. Hulle is gewaarsku om God nie te vergeet nie, ook nie Sy wette en opdragte nie, anders sou hulle ernstige gevolge moes dra (Deuteronomium 4:15-28). Nogtans het die moderne afstammelinge van antieke Israel grotendeels die waarheid vergeet en verkies om in fabels te glo (2 Timotheüs 4:4). In onlangse dekades was sekulêre geleerdes geneig om dít wat in die geskiedenis opgeteken is, en wat die Bybel onthul, te verontagsaam. Hulle verdoesel eerder die waarheid van die geskiedenis en bevorder misleidende idees oor hoe Christelikheid na Europa se westelike eilande gekom het (2 Petrus 2:1-3; 3:1-9). As gevolg daarvan ken die volke van Engeland, Ierland, Skotland en Wallis eenvoudig nie meer die waarheid aangaande hulle eie identiteit en hulle eie geskiedenis nie!

Bedorwe deur heidense idees, en afgesny van ’n deeglike Bybelse grondslag, is dit geen wonder dat georganiseerde godsdiens in Brittanje en Ierland – soos in baie ander Israelitiese lande – sukkel en kwyn nie. Die meeste mense het vandag die ware God vergeet – of ken Hom nie eens nie – en wend hulle tot plaasvervangers in die okkulte of die “kultus van die self.” Veral die Britte het hulle sin vir hulle Godgegewe roeping verloor en jaag persoonlike plesier na. Eerder as om God se waarheid te beskerm en dit aan die wêreld te verkondig, handhaaf die Verenigde State en Brittanje die korrupte waardes van geweld, hebsug en losbandige seks en voer dit uit deur middel van die media en persoonlike voorbeeld. Deur dit te doen, vervul hulle Moses se ou profesieë: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronomium 31:29).

Tensy ons ons huidige koers drasties verander, sal ons die gevolge van ons hedonistiese gedrag dra. God het lank gelede die volke van Israel gewaarsku: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie ... dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking [terreur] oor julle beskik ... Ek sal my aangesig teen julle rig ... Ek sal julle trotse mag verbreek ... Ek sal ’n swaard oor julle bring ... Ek sal julle onder die volke verstrooi ... waarheen [Ek] die Here julle sal verdrywe ... aan die einde van die dae” (Levitikus 26:14-33; Deuteronomium. 4:23-30).

Hierdie profesieë is selfs nog meer ernstig omdat dit tweeledig is. Dit was nie slegs van toepassing op antieke Israel nie; dit is ook van toepassing op die hedendaagse afstammelinge van antieke Israel – wat hoofsaaklik aangetref word onder die volke van die wêreld wat van Britse afkoms is.

Die lesse van die geskiedenis en die profesieë van die Bybel is nie slegs besonderhede oor die verlede nie; dit is uiters tersaaklik in vandag se tye. Voordat dit te laat is, behoort ons weer te ontdek wat verlore, verdoesel en vergete is. Jesus Christus het die evangelie van die Koninkryk van God kom verkondig. Vir ons eie beswil en vir die beswil van ons nasies, behoort ons gehoorsaam te wees aan Sy opdrag: “... bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).