Herdenkings wat net elke 1,700 jaar gevier word kom nie baie gereeld voor nie. Aan die begin van die laat lente [Noordelike halfrond] en vroeë somer van 2025, het die Christendom so ’n geleentheid gevier, met die fokus op die klein Turkse dorpie Iznik aan die oewer van die meer, wat in antieke tye bekend gestaan het as Nicea. Die Raad van Nicea het in Mei tot Julie 325 plaasgevind en word algemeen beskou as die eerste “Christelike” ekumeniese raad wat onder die beskerming van die Romeinse keiser Konstantyn byeengekom het met die doel om geskille oor leerstellings en praktyke op te los.

’n Aantal feestelike geleenthede is beplan. Die kern daarvan is die welbekende stelling, wat 1,700 jaar tevore deur die raad gemaak is, Die Niceense geloofsbelydenis, wat as een van die belangrikste leerstellings van die sogenaamde Christendom beskou word. Om die waarheid van die Niceense geloofsbelydenis te ontken, is vir baie mense dieselfde om as valse Christene bestempel te word – gelykstaande aan die ontkenning van Jesus Christus Self.

In die woorde van bemarkingsmateriaal vir ’n viering in Istanbul, word die Niceense geloofsbelydenis “as die algemeen erkende en indrukwekkende uitdrukking van die Christelike geloof, wat die kern van die Evangelie wat deur ons bely word, onderskryf”. Jane Williams, die McDonald-professor in Christelike Teologie aan St Mellitus Kollege, teken aan: “Daar is nie baie 1,700 jaar oue dokumente wat elke week hardop voorgelees word en deur miljoene mense regoor die wêreld uit die kop geken word nie. Die Niceense geloofsbelydenis is een daarvan”.

Die Niceense geloofsbelydenis en ander besluite wat by die Raad van Nicea geneem is, het ’n kragtige uitwerking gehad op die geloof wat Christus se Naam gedurende die volgende 17 eeue sou dra. Vandag beskou baie mense steeds die gevolgtrekkings van daardie eerste ekumeniese raad as fundamenteel van wat dit beteken om ’n Christen te wees.

In werklikheid toon God se Woord egter dat die Raad van Nicea en die geloofsbelydenis iets heeltemal verskillend is. Dit kan verrykend wees – vir diegene wat op soek is na die Christelikheid wat deur Jesus Christus Self gevestig is – om ’n kort ondersoek van die Raad van Nicea te doen in die lig van die Skrif en geskiedenis.

 

Onder toesig van die keiser

Volgens die verhaal wat oor die algemeen vertel word, was die doel van die Raad van Nicea om die geloof te verenig deur met verskillende idees te deel oor die aard van Jesus Christus asook om geskille oor die viering van Paasfees te besleg.

Die raad wat in 325 n.C. byeengeroep was, het nie onder die gesag van ’n godsdienstige leier plaasgevind nie, maar onder die gesag van die Romeinse keiser Konstantyn. Trouens, Konstantyn se invloed kan oral gevind word. Dit was Konstantyn wat die raad aanvanklik bymekaargeroep het – oënskynlik om die verdeelde geloof te herstel en stabiliteit in sy ryk te bewerkstellig. Hy het ook die enorme kostes betaal wat daaraan verbonde was vir die sameroeping van honderde biskoppe en verteenwoordigers van streke so uiteenlopend soos Egipte, Griekeland, Noord-Afrika en Persië.

Die antieke geskiedskrywer Eusebius van Cesaréa wie die Raad van Nicea bygewoon het en ’n groot aanhanger van die keiser was, merk op dat Konstantyn nie bloot ’n passiewe ondersteuner was nie, maar ook ’n ereposisie in die konferensie beklee het en die verrigtinge ingewy het met ’n toespraak wat vrede en eenheid beklemtoon het. Nadat die besluite geneem is, die gevolgtrekkings gevestig en die geloofsbelydenis voltooi is, was dit keiser Konstantyn wat die resultate afgedwing het. Biskoppe wat nie die Niceense geloofsbelydenis wou bely nie, is verban en uit hulle kerklike posisies verwyder. Die werke van diegene wat nie saamgestem het nie, is verbrand. Dit is nie toevallig dat ikone en ander uitbeeldings van die Raad van Nicea ’n verslane ketter op die grond aan Konstantyn se voete vertoon nie.

Die feit dat die Romeinse keiser soveel invloed oor die godsdiens, wat Jesus se Naam dra, sou hê, behoort ons nie te verbaas nie – selfs vandag word die grootste organisasie ter wêreld wat die vaandel van daardie godsdiens opeis, die “Rooms-Katolieke” kerk genoem.

 

Die Niceense geloofsbelydenis

Twee van die kwessies wat die Raad van Nicea wou aanspreek, was prominent. Die eerste kwessie het betrekking op Jesus Christus se natuur en Sy verhouding tot God die Vader. Daar was baie fyn nuanses van meningsverskille, maar die vernaamste was of Christus ’n geskape wese is, nie ewig saam met die Vader nie óf ten volle Goddelik en ewig, van dieselfde wese as die Vader.

Arius, ’n presbiter van Alexandria was aan die kant van diegene wat geargumenteer het dat “Christus geskape is” en hierdie standpunt word dikwels “Arianisme” genoem. Die besprekings, passies en persoonlikhede wat by hierdie debat betrokke was, voorsien interessante leesstof, maar die belangrikste waarneming vir ons doeleindes is dat die raad tot die gevolgtrekking gekom het dat die Seun van God nie geskape is nie – Hy sowel as die Vader is albei ewig en van dieselfde wese.

Hierdie gevolgtrekking is uitgedruk in wat die Niceense geloofsbelydenis genoem is. Alhoewel daar ’n mate van meningsverskil is oor die oorspronklike Niceense geloofsbelydenis soos wat in 325 n.C. ooreengekom is, stem die meeste geleerdes saam dat die volgende ’n akkurate voorstelling is:

Ek glo in God, die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde en in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun – onse Here, wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het, wat op die derde dag opgestaan het uit die dode, wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God die Almagtige Vader vanwaar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n Heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en ’n ewige lewe. Amen.

Daar kan baie dinge oor hierdie geloofsbelydenis gesê word, maar vir nou behoort ons bloot daarop te let dat dit ’n verwerping is van die ketterse idee dat die Seun van God ’n geskape wese is. Ons behoort ook daarop te let, dat vir diegene wat glo dat die Drie-eenheidsleer reeds sedert die begin van die Christendom bestaan, daar in die geloofsbelydenis verbasend mín oor die Heilige Gees gesê word. Dit is egter ’n onderwerp vir ’n volgende keer!

 

Pasga versus Paasfees

Die geloofsbelydenis was nie die enigste resultaat van die raad nie. In die drie eeue sedert Jesus Christus Sy Kerk gestig het, het geskille ontstaan oor belangrike oortuigings en praktyke en in Nicea het hulle probeer om een kwessie van kritieke belang te besleg.

Baie gemeentes in die ooste het voortgegaan om die Pasga op die veertiende dag van Nisan, die eerste maand van die Hebreeuse kalender, te hou. Hulle het deur dit te doen, die voorbeeld gevolg van Jesus Christus, die Twaalf Apostels self en die eerste-eeuse dissipels van die Twaalf Apostels. Die tradisie in Rome was egter anders. Eerder as om ’n herdenking van Christus se kruisiging te onderhou, het Romeinse gemeentes ’n tradisie ontwikkel om Sy opstanding te vier en hulle het dit op ’n vasgestelde dag van die week, Sondag, gedoen – anders as die veertiende dag van Nisan, wat op verskillende dae van die week kon plaasvind.

Hierdie argument is die Quartodeciman-kontroversie genoem – na aanleiding van die Latynse woord quartodecima – wat “veertiende” beteken. Daar is ook aangeteken oor hierdie beduidende konflik in die geskiedenis. Alhoewel geleerdes oor die besonderhede debatteer, is die resultaat van die raad se uitspraak duidelik: Nie net sou die Romeinse praktyk om Paasfees op ’n Sondag te hou die reël van geloof dwarsdeur die Ryk word nie, maar die datum daarvan sou bepaal word deur ’n nuwe Romeinse kalenderberekening, wat die Hebreeuse kalender wat voorheen gebruik is, verwerp het.

Volgens die voorheen genoemde Eusebius van Cesaréa, is die laaste oorblyfsels van wat Konstantyn “die verfoeilike Joodse skare” genoem het, uiteindelik deur die biskoppe in Nicea opsygeskuif. Almal wat Christus se voorbeeld van die onderhouding van die Pasga op 14 Nisan wou volg, is tot banvloek verklaar, dit wil sê, vervloek en uit die kerk geban.

 

Verenig – maar nie Bybels nie

Die resultaat van Nicea was ’n meer verenigde kerk. ’n Meer ordelike kerk. ’n Meer Roomse kerk, nie ’n meer Bybelse kerk nie.

Arius was verseker verkeerd – sy standpunt was onbybelse kettery. Die eenvoudige sin van die meesterlike verklaring in Johannes 1:1 is die ware sin: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Alle dinge het deur Hom ontstaan (vers 3), en Hy het Homself nie gemaak nie!

Daar kan nog meer gesê word, maar wat die belangrikste is, is nie wat Nicea reggekry het nie, maar wat hulle verkeerd gedoen het. Baie waarnemers het byvoorbeeld opgemerk dat die Skrif nie die Niceense geloofsbelydenis ondersteun wat te kenne gee dat die Seun op een of ander wyse ewig uit die Vader verwek is nie en wat ontken dat die Seun God is op dieselfde wyse as wat die Vader is. Die Skrif beskryf Jesus se verwekking as ’n daad wat in ’n oomblik van tyd plaasgevind het (byvoorbeeld Handelinge 13:33) – spesifiek in die skoot van Maria (Matthéüs 1:20).

In Johannes 1, waar Jesus Christus se voor-menslike lewe beskryf word, noem die Bybel Hom nie “die Seun” nie, maar eerder “die Woord” – in Grieks, die Logos. Hy was die Goddelike Woordvoerder van die Godheid, wat gedien het as die God van die Ou Testament – die “Rots” wat Israel gevolg het (1 Korinthiërs 10:4). Hy het die Seun geword deur Sy verwekking in Maria se skoot, terwyl die ander lid van die Godheid, die Vader geword het. Die Skrif se eenvoud op hierdie punt weerspreek die idees wat aanleiding gegee het tot Nicea, wat in die voorafgaande eeue, korrup geraak het deur heidense filosofieë wat probeer het om die eenvoudige waarhede van God se Woord te versoen met die abstrakte idees en konsepte van die Grieke.

 

Die praktyk van Christus en die Apostels word as ’n vloek verklaar

Wat betref die raad se vloek op die praktyk van die onderhouding van die Pasga op die veertiende dag van die Hebreeuse maand Nisan. Dit kom ooreen met die Skrif dat hierdie sogenaamde “vervloekte” praktyk dié van die Twaalf Apostels self was, om nie eens van hulle Verlosser te praat nie. Die Skrif maak dit duidelik dat Jesus Christus en Sy dissipels die Pasga (Lukas 22:11) op 14 Nisan onderhou het – die dag toe Israel ontslae geraak het van alle suurdeeg vir die Dae van Ongesuurde Brode (Levítikus 23:5-6). Dit was “in die nag waarin Hy verraai is” (1 Korinthiërs 11:23), voordat Hy gedurende die dagliggedeelte van die Pasga gesterf het (Jode het dae van sonsondergang tot sonsondergang gereken, nie middernag tot middernag nie).

Jesus Christus was ons Pasga, geoffer vir ons (1 Korinthiërs 5:7) en die tydsberekening van gebeure maak die verband duidelik. Jesus en Sy dissipels het die ou Pasga gehou en Jesus het toe nuwe simbole van brood en wyn ingestel as ’n herdenking van Sy kruisiging (1 Korinthiërs 11:23-25). Hieroor is daar geen ruimte vir twyfel nie.

Die geskiedenis teken aan dat getroue dissipels en die Twaalf Apostels probeer het om hierdie praktyk en voorbeeld voort te sit, maar dit het hulle in konflik gebring met korrupte Romeinse invloede. Dink aan Polycarpus van Smirna, ’n dissipel van die apostel Johannes wat, volgens sy student Irenaeus, “altyd die dinge onderrig het wat hy by die apostels geleer het en wat die Kerk oorgelewer het”. Deur die Christelike Pasga op 14 Nisan te hou, het daar konflik ontstaan tussen Polycarpus en Anicetus – die biskop van Rome wie later aangewys is as “Pous Anicetus”, wat Jesus se gebruike wou vervang met ’n Sondag-Paasfeesviering, soos verkies deur sy Romeinse leraars.

So, teen die einde van die tweede eeu, het Polycrates van Éfese die Romeinse biskop Victor – later “Pous Victor” – gekonfronteer in verband met Rome se afwyking van Christus se leerstellings. Volgens Eusebius het Polycrates geskryf dat “ons die presiese dag nougeset onderhou, sonder om by te voeg of weg te neem”, wat in sy woorde beteken “die dag waarop die mense die suurdeeg weggooi” – of die Pasga wat op 14 Nisan gehou word (Levítikus 23:5-6). Nadat hy verskeie van die Twaalf Apostels, sowel as Polycarpus en ander getroue ouderlinge van die vroeë Kerk, se name genoem het, het Polycrates vir Victor gesê: “Hulle het almal die Pasga op die veertiende dag van die maand gehou, in ooreenstemming met die Evangelie, sonder om ooit daarvan af te wyk, maar by die reël van die geloof gehou”. Hy het ook vir die Rooms-Katolieke biskop gesê dat “dié wat groter is as ek, gesê het: ‘Ons behoort God meer as mense gehoorsaam te wees’”.

Soos opgemerk in Polycrates se brief in Alexander Roberts en James Donaldson se klassieke The Ante-Nicene Fathers (Vol. VIII): “Dit is sekerlik merkwaardig dat niemand getwyfel het dat dit [die Pasga, versus Paasfees] deur ’n Christelike en Apostoliese verordening onderhou is nie”.

Hierdie praktyk, om Christus en die Apostels se voorbeeld te volg, het weggeval ten gunste van die Romeinse gebruik. Na die Raad van Nicea is enigiemand wat probeer het om die Pasga te onderhou soos Christus en Sy eerste volgelinge dit gehou het, as vervloek verklaar en uit die gemeente geban.

Deur hierdie keuse te maak, het die Raad van Nicea die kalender wat God deur Sy uitverkore volk oorgelewer het (Romeine 3:1-2) verwerp ten gunste van ’n heidense Romeinse stelsel wat bedoel was om “tye en wet te verander” (Daniël 7:25).

 

Afvalligheid het vroeg in die eerste eeu begin

Hoe kan dit wees? Die Raad van Nicea het skaars twee eeue na die dood van Johannes, die laaste van die Twaalf Apostels, plaasgevind. Is dit werklik moontlik dat “Christelike” leiers in die Romeinse Ryk reeds so diep in afvalligheid verval het dat die eenvoudige leerstellings van die Bybel so korrup kon wees – dat die praktyke van beide die Verlosser self en Sy vroegste volgelinge so heeltemal opsygesit kon word ten gunste van Griekse filosofie en Romeinse tradisies?

Inderdaad, God se Woord openbaar dat die korrupsie van die Kerk wat deur Jesus Christus gestig is, byna onmiddellik begin het, gedurende die lewens van die Twaalf Apostels en die Bybelse skrywers! Ons sien dit in Handelinge 15. Sommige mense het daarop aangedring dat nie-Joodse bekeerlinge Joods moes word voordat hulle werklik Christene kon word. Die Apostels en ouderlinge, met inbegrip van Paulus, het besluit dat so ’n vereiste ’n onredelike en onnodige juk was.

Van die begin af het kettery die Kerk duidelik geteister. God se Woord skets ’n prentjie van die stryd teen valse leerstellings en korrupte begrip. Die apostel Paulus het die Korinthiese broeders gewaarsku dat hulle te veel aanvaarding bied aan mense wat ’n “ander Jesus” verkondig en ’n “ander gees” en ’n “ander evangelie” bring (2 Korinthiërs 11:4). Paulus was ook gekant teen die bring van gnostiese ketterye in die geloof (1 Timótheüs 6:20), tesame met praktyke uit ander filosofieë (Kolossense 2:8), soos onbybelse voedselgebruike en die verbod op die huwelik (1 Timótheüs 4:3). Hy het sulke leerstelling “lering van duiwels” (vers 1) en sulke idees “gebooie en leringe van mense” (Kolossense 2:21-22) genoem. Paulus het gesien dat sommige mense maniere vind om hulle ou heidendom te dien (Galásiërs 4:8-9) onder verskillende name en met ’n nuwe lagie vernis van “Christendom”, maar nietemin heidendom.

Selfs Judas, een van Jesus Christus se eie halfbroers, het sy lesers aangespoor om “kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”, aangesien hy gesien het dit word vervang deur ’n valse stelsel van geloof en praktyk wat genade in ’n lisensie verander het om die Wette van God te ignoreer (Judas 3-4).

Christus het Sy Apostels gewaarsku dat valse leraars en valse profete binne hulle leeftyd sou voorkom in Sy eie naam (Matthéüs 24:4-5). Volgens die geïnspireerde verslag van God se Woord was die Kerk wat Hy gestig het teen die einde van die lewens van Jesus se eerste volgelinge beleër, afgetakel, geïnfiltreer, toenemend korrup en selfs in opstand teen met die hand uitgesoekte leraars wat die Here Self aangestel en opgelei het.

In die geskrifte van die laaste van die Twaalf Apostels sien ons die stand van sake aan die einde van die eerste eeu. Die bejaarde apostel Johannes het geskryf dat, terwyl ’n laaste antichris nog in die eindtye sou kom, Johannes se eie dag reeds gevul was met antichriste (1 Johannes 2:18). Johannes self was vermy deur die valse pastoor Diótrefes, wat ook diegene wat by Johannes aangesluit het, uit die kerk geban het (3 Johannes 9-10). Christus het tog Sy Kerk ’n “klein kuddetjie” genoem (Lukas 12:32) en sy lidmate verseker dat Hy steeds tot aan die einde van die tyd by hulle sou wees (Matthéüs 28:20). Hulle sou deur Hom beskerm word – nie deur die borgskap van die wêreld se grootste heidense ryk nie, aangesien dit bygedra het tot die geloof wat vroeër oorgelewer was.

 

’n Afgetakelde fondament

Die kerk wat in 325 n.C. met keiser Konstantyn in Nicea vergader het, was nie die Kerk wat deur Jesus Christus gestig is nie. Die versameling leiers wat in Nicea vergader het, het nie die klein kuddetjie verteenwoordig aan wie Christus Sy beloftes gegee het nie (Matthéüs 16:18), maar eerder ’n organisasie wat gerugsteun was deur die magtigste heerser in die wêreld, die erfgenaam van Rome self. Die ouderlinge en biskoppe in Nicea het nie ’n komende Koninkryk verteenwoordig wat “nie van hierdie wêreld” was nie (Johannes 18:36), maar eerder ’n organisasie wat deur die Keiser van Rome gelei is in ’n onheilige verbintenis met die magte van hierdie wêreld – ’n verbintenis wat in wêreldse mag sou toeneem soos die eeue verbygegaan het.

Die Raad van Nicea, wat meer as 200 jaar na die lewens van Christus se aanvanklike volgelinge vergader het, was reeds ver gevorder op die pad van afvalligheid en om kompromië aan te gaan wat in die dae van die Twaalf Apostels begin het. Nie dat hulle nie gewaarsku was nie.

Die vieringe, seremonies en seminare wat regoor die wêreld gehou is ter viering van 2025 se herdenking van die Raad van Nicea, sal ongetwyfeld eis dat die raad en sy beroemde geloofsbelydenis ’n fundamentele element van Christelikheid verteenwoordig. Hulle sal verkeerd wees. Die raad wat in 325 n.C. onder die toesig van die Romeinse Keiser vergader het, was eenvoudig net nog ’n poging om die fondament wat Jesus Christus Self gelê het, af te takel en die afvalligheid te versterk wat selfs gedurende die lewens van die Apostels, twee eeue tevore, begin het.

Die Raad van Nicea was inderdaad fundamenteel in die vestiging van die “Christendom” wat ons vandag rondom ons sien. Dit het egter geen rol gespeel in die vestiging van die Christelikheid van Christus nie. Trouens, dit is waarskynlik dat nie eens een verteenwoordiger van die ware Kerk wat Christus persoonlik gestig het, teenwoordig was nie!

 

Die “klein kuddetjie” bly nogtans voortbestaan

Christus se ware Kerk het egter oorleef. Daardie Kerk was nie en is nie, die heidense vervalste “Christendom” wat deur die Keiser van Rome aangeneem is nie. Daar was reeds teen die ware Kerk gediskrimineer, hulle is belaster, geïnoreer, en gemarginaliseer en vervolg vir meer as twee eeue voor die Raad van Nicea. Die “klein kuddetjie” handhaaf steeds vandag die ware geloof van Jesus Christus.

Hoe weet ons dit? Die Seun van God het self belowe dat dit sou voortduur en volhard – dat die poorte van die dood dit nooit sou oorweldig nie (Matthéüs 16:18). Alhoewel net ’n “klein kuddetjie”, sou Hy met hulle wees – ondersteun, dit onderhou en voed – totdat dit gereed sou wees vir Sy Wederkoms. Daardie Kerk is opdrag gegee om die Evangelie van die Koninkryk van God aan die hele wêreld te verkondig voor Christus se Wederkoms (Matthéüs 24:14).

Indien u belangstel om verder as Nicea te gaan – om nie die antieke, afgodsaanbiddende en afvallige kerk te ontdek wat die raad in 325 n.C. wou verstewig nie, maar liewer die een ware Kerk wat Jesus Christus lank tevore gestig het wil ontdek – lees asseblief die artikel “Die Kerk agter die Wêreld van Môre” elders in hierdie uitgawe. Indien u dit nog nie gelees het nie, lees asseblief ons gratis studiegidse Waar is God se ware Kerk vandag?, God se Kerk deur die eeue, Satan se Vervalste Christendom asook Hervestig die oorspronklike Christenskap. Al ons materiaal is gratis op aanvraag – net soos Jesus Christus beveel het dat dit behoort te wees (Matthéüs 10:8).

Wees intussen bewus van waarna God die Vader op soek is. Sy Seun vertel vir ons in Johannes 4:23: “... daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom sou aanbid.” Moenie toelaat dat prestige, mag en rykdom u beïndruk nie. Moenie toelaat dat raaiselagtighede en seremonie die helderheid van God se woord vertroebel nie. Moenie tevrede wees met “Kerkvaders” se verduidelikings bo die eenvoudige leerstellings van die Bybel nie. Die Kerk wat deur Jesus Christus gestig is, kan gevind word nog vóór die Raad van Nicea en dit kan vandag gevind word.