Het u al ooit aan uself gedink as minder intelligent as ander mense? Het ander kinders by die skool u “dom” genoem? Hoe het dit u laat voel met betrekking tot u vermoë om te leer en as ’n goeie student beskou te word? Het daardie gevoelens u tot in volwassenheid bygebly?
Ek ken iemand wat in graad een “teruggehou” is en vir die res van sy skoolloopbaan met die stigma geleef het dat hy akademies “stadig” is. Ja, hy het gesukkel met klasse wat op lees en skryf gefokus het. Ek verseker u dat hy nie dom was nie. Hy het bogemiddelde kunstige vaardighede gehad en hy is steeds een van die kreatiefste mense wat ek ken. Hy was ook ’n uitstekende atleet wie uitgeblink het as agterspeler in voetbal en een van die skool se vinnigste hardlopers op die veld geword het.
Dalk ken u iemand soos hierdie of dalk is dit soortgelyk aan u eie storie. Baie mense, word as “dom” of “stadig” bestempel en word as minderwaardiger as ander “beter” studente beskou, bloot omdat hulle nie in sekere vakke op skool uitblink nie.
Is hulle regtig “dommer”? Is hulle in werklikheid minderwaardig?
Is dit dalk egter nét dat die meeste tradisionele stelsels van onderwys op ’n spesifieke benadering tot lees, skryf en rekenkunde fokus? Wat van daardie studente wie se natuurlike vermoëns hulle nie leen tot sukses op dáárdie spesifieke gebied nie? Wie en wat is werklik “dom”? Die Skrif sê vir ons “die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:6). Hy het dit dalk nie aan elkeen van ons gegee op die maniere wat ons skole se onderwysers verwag het nie.
’n Breër siening
Dr. Kathy Koch is ’n opvoedkundige asook ’n skrywer en motiveringspreker wie glo dat almal slim is. Sy onderrig ook dat ’n nuwe begrip van “slim” nodig is. Hier is iets wat sy geskryf het in ’n boek met die titel, 8 Great Smarts: Discover and Nurture Your Child’s Intelligences: “Terwyl ek graad-twee leerders onderrig het, was dit vir my pynlik om te besef dat sommige kinders hulleself toe al reeds as óf ‘slim’ óf ‘nie slim’ geklassifiseer het. Hulle ouers het ook bygedra tot hierdie siening van die klassifikasie en dit is waarskynlik waar hulle kinders daaraan gekom het. Ek sou baie daarvan gehou het om die taal van intelligensie te hê ... Dit sou verhoudings, akademie, ons jaar en hulle toekoms binne ’n ander raamwerk geplaas het” (2016, bll. 16-17).
Dr. Koch wys daarop dat een van die tragedies om as “dom” bestempel te word, is dat mense die etiket kan glo en hulleself op belangrike maniere as minderwaardig kan beskou. Selfs as volwassenes bly baie mense minderwaardig voel omdat hulle die boodskap op skool gekry het dat hulle akademies nie die mas kon opkom nie, ten spyte van die feit dat hierdie boodskap gegrond was op ’n stelsel wat geneig is om diegene wat goed doen, binne ’n beperkte stel kriteria te beloon – hoofsaaklik in taal- en wiskundige vaardighede.
Hoewel hierdie vaardighede belangrik is, is dit slegs twee van die agt areas van intelligensie wat dr. Koch en ook baie ander mense glo waaroor alle mense beskik. Die ontdekking en ontwikkeling van die ander ses, kan mense help om sélf te ontdek dat hulle nié dom is nie, al het hulle nie goed gevaar in sekere vakke nie.
Agt soorte vaardighede
Dr Howard Gardner, ’n professor in opvoedkunde aan die Harvard Universiteit, word gekrediteer met die ontwikkeling van die teorie van veelvuldige intelligensie. In 1983 het hy die boek Multiple Intelligences geskryf, wat die verskillende vaardighede en die betekenis van elkeen beskryf. Die opvoedkundige, Thomas Armstrong, Ph.D., het sedertdien die oorspronklike etikette vereenvoudig om dit makliker te maak om te verstaan. Hier is elkeen met ’n kort beskrywing:
Taal vaardighede: Dit is om in woorde te dink en te geniet om te lees, te skryf, stories te vertel, dit te gebruik vir oorredingsvermoë, te vermaak of te onderrig.
Logika vaardighede: Dit beskryf mense wat die vermoë demonstreer om te redeneer, te kategoriseer en die oorsaak en gevolg met betrekking tot verhoudings te verstaan. Hulle het ’n natuurlike aanleg vir wiskunde, wetenskap, statistiek, raaisels en om vrae te vra.
Visuele vaardighede: Mense wat visueel dink en dit geniet om kuns te skep, te ontwerp, kunswerk te doen, fotografie te beoefen asook om speelgoed te bou, neig na hierdie vaardigheid.
Musikale vaardighede: Hierdie persone is bewus van ritmes en melodieë, het aanleg in musiek, sang of het ’n musikale oor. Dit beskryf hierdie tipe vaardigheid.
Liggaamlike vaardighede: Dit is om liggaamlike bewegings te kontroleer deur fisiese aktiwiteite soos sport of dans, maar ook naaldwerk of skrynwerk.
Natuur vaardighede: Indien u aangetrokke is tot die buitelewe en ’n sterk belangstelling het in diere, plante, klippe, sterre, kampeer, voetslaan en ander fasette van die natuur, het u waarskynlik hierdie tipe vaardigheid.
Medemens vaardighede: Diegene wat mense verstaan en in staat is om te onderskei en op te tree volgens die buie, bedoelings en begeertes van ander mense is medemenslik vaardig. Hulle geniet dit om saam met mense te werk, mense te leer ken en hulle maak dikwels goeie leiers.
Persoonlike vaardighede: ’n Persoon wat daarvan hou om te reflekteer en natuurlike goeie selfbegrip het, pas by hierdie tipe vaardighede. Hulle is geneig om gemaklike mense te wees deur hulleselfself te wees en is geneig om onafhanklik, doelgerig en self-gedissiplineerd te wees.
Deur ons begrip uit te brei van wat dit beteken om slim te wees, word dit makliker om te verstaan dat dit nie is of ons “slim” of “dom” is nie – die regte vraag om te vra is: “In watter opsigte is ek vaardig?” Wanneer ons dan die maniere verstaan waarop ons vaardig is, kan ons daardie vermoëns gebruik om sukses te behaal.
Ontwikkel u vaardighede
Wanneer ons rondkyk, sal ons sien dat die wêreld gevul is met suksesvolle mense wat uitblink in verskeie vaardighede wat nie in tradisionele klaskamers beloon word nie. Sommige belangrike bydraers tot die samelewing, soos Thomas Edison en Albert Einstein, het gesukkel in spesifieke gebiede op skool, maar het sigbaar gefloreer toe hulle ander aspekte van hulle eie intellek ten volle kon ontwikkel.
Deur Gardner se navorsing het hy vasgestel dat almal gebore word met die potensiaal om ál agt hierdie vorms vaardighede te ontwikkel en dat elkeen hiervan sal ontwikkel wanneer daar geleenthede is om daardie spesifieke soort vaardigheid te gebruik. Hoe kan u hierdie vaardigheid vind en geleenthede identifiseer om dit verder te ontwikkel? Dit is van onskatbare waarde indien u hierdie stap neem terwyl u ’n student op skool is, maar dit is nooit te laat om u vaardighede te identifiseer en u lewe te verryk nie.
Let eerstens op wat u van nature van hou om te doen. Hou u daarvan om te lees? Indien wel, is u waarskynlik “taalkundig aangelê”. U kan egter ook “logies slim” wees indien u eerder speurverhale of misterieuse verhale verkies. Hou u daarvan om skaatsplank te ry of om te ski? Selfs indien u nie die basketbalspan se punte-aantekenaar is nie, kan dit aandui dat u “liggaamlik-slim” is en kan ontwikkel om suksesvol te wees deur daardie aanleg te gebruik.
Wees op die uitkyk vir geleenthede om die vaardighede wat u reeds het verder te verbeter terwyl u moeite doen om aktiwiteite aan te pak wat daardie vermoëns ontwikkel wat vir u minder natuurlik is. Byvoorbeeld, indien u baie min aanleg op die gebied van musikale vaardighede het, gebruik u ander vaardighede om uself bloot te stel aan maniere om daardie vaardigheid te ontwikkel – miskien deur musiekgeskiedenis te bestudeer of selfs ’n instrument te leer speel. Terwyl u dit doen, sal u nie net nuwe vaardighede ontwikkel nie – u sal ook meer selfvertroue kry om ander nuwe uitdagings aan te pak – vry van vrese dat u “dom” is en nie kan ontwikkel nie.
Ons het almal Godgegewe talente en vermoëns wat ons behoort te ontwikkel wanneer die geleenthede hulle voordoen – soos Jesus Christus in die gelykenis van die talente verduidelik het (Matthéüs 25:14-30). Selfs al het u nog nie geïdentifiseer oor watter vaardighede u beskik nie, kan u seker wees dat dit wel daar is en wag om ontdek te word. Wanneer u dit eers ontdek het en ’n punt daarvan maak om dit te ontwikkel, sal u sélf die waarheid ervaar dat u nié dom is nie.


